ʼn Reddingsboei vir universiteite

Marthinus-Visser-akademia-Medium.jpg

Marthinus Visser, uitvoerende hoof van Akademia. Foto: Verskaf.

Deur Marthinus Visser

Die afgelope week het gebeure op openbare universiteite se kampusse weer die voorblaaie gehaal. Die betogende studente lyk of hulle vanjaar met meer energie hul misnoeë in moontlik hoër klasgelde te kenne gee. ʼn Mens sou dit kon verwag nadat daar aan bykans al hul eise sedert verlede jaar voldoen is. Fooie vir 2016 is nie verhoog nie, standbeelde is verwyder en Afrikaans is uitgewerk. Intussen word AfriForum se dringende hofaansoek om die inwerkingstelling van Unisa se nuwe taalbeleid te keer, van die hand gewys. Dinge lyk nie goed vir Afrikaans by openbare universiteite nie.

Verandering het gekom om te bly. Die ouditeursfirma Ernst & Young het ʼn insiggewende studie gedoen oor die toekoms van universiteite in Australië, getiteld University of the future – A thousand year old industry on the cusp of profound change. Die deurlopende tema van die studie is dat daar groot veranderings aan die kom is vir die hoëronderwyssektor. Hierdie veranderinge sal, volgens hulle, aangedryf word deur vyf groot kragte, naamlik:

  1. Demokratisering van kennis en toegang

Universiteite is nie noodwendig meer die enigste skeppers en bewaarders van kennis nie. Die internet veroorsaak dat baie meer kennis vir baie meer mense beskikbaar word. Hierdie tendens sal die rol van universiteite in die toekoms wesenlik beïnvloed.

  1. Wedywering vir markaandeel en finansiering

In die meeste dele van die ontwikkelde wêreld het daar geweldig strawwe kompetisie ontstaan tussen universiteite om studente te trek, finansiering te bekom en hoog aangeslaan te word deur graderingsagentskappe. Hierdie kompetisie sal waarskynlik feller word te midde van regerings wat al minder geld vir universiteite kan bewillig.

  1. Digitale tegnologie

Digitale tegnologie het reeds industrieë soos die media, vermaaklikheid en kleinhandel op die kop gekeer. Die hoëronderwyssektor is volgende. Die wyse waarop kennis in die toekoms oorgedra sal word, gaan wesenlike veranderinge ondergaan.

  1. Globale beweeglikheid

Die wêreld word kleiner. Studente en dosente kan baie makliker as ooit tevore op ander plekke gaan studeer en werk. Dit gaan kompetisie tussen universiteite verder verhoog, maar ook vennootskappe tussen universiteite oor kontinente heen moontlik maak.

  1. Integrasie met die industrie

Universiteite sal baie “nader” aan die industrie moet werk om sodoende meer relevante opleiding te bied en navorsing te doen.

Die gebeure by ons eie universiteite moet ook teen die agtergrond van hierdie kragte van verandering vertolk word. ʼn Paar opmerkings in die verband:

Suid-Afrika sal nie hierdie veranderingskragte kan vryspring nie. Hoewel die huidige  onrus op ons kampusse hoofsaaklik polities van aard is, kan ʼn mens nie die uitroep na bekostigbaarheid ignoreer nie. In ʼn onlangse artikel in Forbes word die algehele studieskuld in Amerika op $1,2 triljoen geskat. Tweederdes van alle studente voltooi hul studie met studieskuld teen ʼn per capita-gemiddeld van $26 600. Die groot debat daar is tans of die opbrengs op ʼn graad goed genoeg is om sulke groot skuld aan te gaan. Hier in Suid-Afrika word die bekostigbaarheid van openbare universiteitstudie vir die middelklas bevraagteken. Die staat subsidieer universiteite breedweg tussen 40% en 50% van die algehele koste. Dit beteken dus dat indien ʼn graad die student R40 000 kos, die staat reeds tussen R32 000 en R40 000 bygedra het. Die totale koste vir daardie studiejaar is dus tussen R72 000 en R80 000 per jaar. Gegewe die ekonomiese en begrotingsuitdagings is die waarskynlikheid dat die staat sy bydrae gaan verhoog, baie skraal. Die teendeel is meer waarskynlik. Die staat gaan toenemend sy bydrae verklein wat beteken dat studente ʼn groter gedeelte van die algehele koste sal moet dra. Studente plaas tans baie druk op universiteite om minder te betaal en selfs gratis onderrig te verskaf. Dit raak ʼn onmoontlike situasie vir universiteite gegewe die ander veranderingskragte waarmee hulle reeds gekonfronteer word en wat feller sal word in die toekoms.

Finansiering van ʼn universiteit staan in direkte verband met die gehalte en omvang van die diens wat hy lewer. Namate beskikbare geld minder word, sal universiteite gedwing word om eerstens alle nie-akademiese aktiwiteite te heroorweeg. Sport, kultuur en vormingsgeleenthde vir studente sal afgeskaal moet word. Sou hierdie stappe die begroting nie laat klop nie, sal daar gesny moet word aan onderbefondste navorsingsprojekte. Die volgende slagoffer sal die kostedrywer van universiteite, naamlik salarisse, wees. Minder verhogings met meer verantwoordelikhede vir die leerkragte.

Op hierdie punt speel die veranderingskragte van kompetisie en globale beweeglikheid in op sulke universiteite. Ander universiteite – hetsy plaaslike privaat instellings of oorsese universiteite – staan gereed om (gefrustreerde) top-akademici op te raap. Sodra dit begin gebeur, begin die mededingendheid van hierdie universiteite verder onder druk kom wat uiteindelik uitspeel in die aantreklikheid daarvan vir die mark. Weens onderbefondsing tesame met ʼn grootskaalse breinkwyn kom navorsingsuitsette onder druk met die meegaande reaksie van graderingsagentskappe. Die vermoë van die universiteit om miljoene rande uit die industrie te mobiliseer vir navorsingsprojekte verskraal. Nie ʼn mooi prentjie nie.

ʼn Boom neem dekades om te groei en ‘n dag om afgekap te word.

ʼn Klein toegewing soos om nie klasgeld einde verlede jaar te verhoog nie of om Afrikaans op die brandstapel te plaas, het die “rewolusie” groot momentum gegee. Die groot verloorders van hierdie rewolusie sal die studente self wees. Laasgenoemde sal ʼn (moontlik gratis) kwalifikasie by ʼn universiteit ontvang wat ontmagtig is om wêreldgehalte-, mededingende en relevante opleiding te gee, wat totaal deur die staat gefinansier word en daarom eenhonderd persent belyn is met die ideeraamwerk wat die staat voorhou. ʼn Mens sidder bloot by die gedagte hieraan.

Sou ʼn mens begin dink oor oplossings vir die Afrikaanse gemeenskap is daar slegs twee realistiese oorwegings. Die eerste is om bestaande ruimtes vir Afrikaans op openbare universiteite te beskerm met alles in jou vermoë. Tesame hiermee moet saam gebou word aan ʼn eie alternatief waar die hoëronderwysbehoeftes van die Afrikaanse gemeenskap aangespreek kan word – en dis meer as net taal. ʼn Oplossing wat sinvol en verantwoordelik kan antwoord op die vyf groot veranderingskragte wat op pad is. ʼn Oplossing wat wêreldklasgehalte omarm, wat studente in hul menswees help ontwikkel en voorberei vir die volwasse werkslewe, maar ook ʼn oplossing waar Afrikaanse studente tuis voel en kan fokus op die wonderlike ontwikkelingsgeleenthede wat sodanige instelling bied.

  • In ʼn volgende artikel sal die gewenste reaksie op die kragte van verandering van nader beskou word.
  • Marthinus Visser is die uitvoerende hoof van Akademia.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

André Badenhorst ·

Baie dankie Marthinus vir ‘n uitstekende uiteensetting van die uitdagings.

Met di
toenemende digitalisering gaan die groot internasionaal-gerekende universiteite ‘n al hoe groter markaandeel verkry en die kleiner universiteite se integriteit in terme van akademiese uitsette al hoe meer bevraagteken word.

Dit gaan my verstand te bowe waarom hier ter plase so baie van die gemaak van die internasionale rangorde van universiteite. Die persepsie is dat jy net kan meeding as jy verengels. In die proses word die lokale aanbod verlaag soos duidelik geïllustreer deur die afskaling van inheemse tale. Dis juis hierdie aanbod wat werklik waarde gee aan ‘n plaaslike universiteit. Iets waarmee ‘n internasionale universiteit moeilik sal /wil meeding in die toekoms.

Dan is daar nog ‘n ander aspek, en dit het te doen met die vaardighede wat in die 21ste eeu vereis word. Die volwassewording van Kunsmatige Intelligensie vereis dat ons nie meer op tradisionele dissiplines sal kan fokus met ons aanbod nie. Ons sal toenemend interdissiplinêr te werk moet gaan met baie meer blootstelling in die praktyk tydens opleiding.

Dit dan my stuiwer in die armbeurs. Daar is nog ‘n klompie van hulle en ek sal baie graag wil deel wees van die pionierswerk wat nou gebeur.

Danie ·

Die Afrikaanse gemeenskap se politieke mag is so verklein dat ons feitlik geen seggenskap het in die bestuur van sake wat in landsbelang is nie en waarin ons as gemeenskap `n reuse bydrae sou kon lewer. Die vermoe van Afrika om die werklike betekenis van demokrasie in hul regeer styl toe te pas sal nog baie lank neem en die minderhede in Suid Afrika wat dit verstaan en wil uitleef is uiters beperk en sal moet slim wees om `n se te kan he. Ons is hoofsaaklik op ons eie aangewese en dus ook op die beplanning van ons eie toekoms en die van ons nageslagte. Ons as gemeenskap sal eenvoudig moet instansies soos Akedemia finansieel ondersteun en uitbou. Dit gaan baie van ons energie vereis, maar sonder dit is ons toekoms uiters onseker. Dit is een van die enigste maniere om ons en kinders se toekoms te kan verseker.

Roberto ·

Dit is belangrik vir Akademia om te verseker dat hul die toekoms volledig aangyp en verseker dat daar bekostigbare, Internet gedrewe opleiding ooral in Suid Afrika kan wees. Fokus op rigtings waarin daar tekorte is en waar die studente werk in kan kry. Daar moet gekyk word hoe meer mense betrokke gemaak kan word om inhoud te help bou binne gesette standaarde.

Johan ·

Die goedkoopste universiteit om meer te subsidieer is nie residentieel, een soos Unisa.
Dus laat studente wat nie studies kan bekostig nie daar studeer met ‘n staatsdiens beurs.
Laat dan d ander wat duurder is om aan d gang te hou op d huidige basis, met eskalerende studiegeld bly funksioneer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.