‘n Russiese waarheid, ‘n Westerse waarheid

Verkose Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin

Verkose Amerikaanse president Donald Trump en Rusland se president Wladimir Poetin

Dit was Sondag, Kersfeesdag, presies 25 jaar gelede dat een van die merkwaardigste beelde ooit in die geskiedenis op mense se televisieskerms vertoon is. Om twaalfuur die nag van 25 Desember 1991 kon ’n mens sien hoe die rooi vlag met die goue hamer en sekel, die vlag van die Sowjetunie, gestryk en vervang word deur die rooi, wit en blou van die nuwe Rusland.

Die Sowjetunie, die aartsvyand van die vrye Weste, het nie meer bestaan nie. Dié supermoondheid het uiteengeval in sy 15 deelrepublieke, waarvan die nuwe Rusland (76% van die USSR-oppervlakte) die grootste – en volkeregtelik die erfgenaam – was.

Die Koue Oorlog, wat die wêreld verskeie kere op die randjie van ’n allesverwoestende kernoorlog laat steier het, was verby. Die toekoms het vir die mensdom geglimlag.

Maar daardie glimlag is verby. Die wedersydse optimisme en welwillendheid van destyds is vervang met ’n nuwe grimmigheid tussen Rusland en die Weste.

Dis moontlik dat die bewindsoorname van Donald Trump in Amerika tot ’n hernieude ontspanning met Rusland kan lei, want sy en pres. Wladimir Poetin se eerste opmerkings oor mekaar is vleiend. Daarteenoor staan dat albei gesê het hulle wil hul kernarsenale juis uitbrei – iets wat vorentoe ’n baie gevaarlike bousteen kan word as sake nie reg bestuur word nie. Die tyd sal leer.

Ek het die voorreg gehad om as joernalis verskeie besoeke aan die Sowjetunie en die latere Rusland te bring. Ek kon min of meer volg hoe sake ontwikkel.

By my eerste besoek, in 1990 toe die USSR op sy laaste bene geloop het, was daar ’n vermoeidheid, ’n gelatenheid, te bespeur. ’n Paar jaar later kon ek ’n woede voel oor hoe die ekonomie en infrastruktuur ineenstort, ’n gevoel van vernedering oor die feit dat die Russe aan die verloorkant van die Koue Oorlog was.

En nóg later het nasionalistiese trots die oorhand begin kry, ’n gevoel dat Rusland onder Poetin se leiding weer uit die as van sy vernedering opstaan. Dat hy weer internasionale respek uitlok.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: As oortuigde demokraat is ek geen Poetin-ondersteuner nie. ’n Mens moet nooit vergeet dat hy sy politieke verstand as offisier in die KGB gekry het nie.

Vir my is die aanhaling wat Poetin die beste definieer, te vinde in die Britse historikus Simon Sebag Montefiore se onlangse boek oor die Romanof-dinastie. Poetin is in ’n onderhoud gevra wie Rusland se “grootste verraaiers” was. Sy antwoord was veelseggend:
“Die grootste misdadigers in ons geskiedenis was daardie swakkelinge wat hul mag op die vloer gesmyt het – Nikolaas II en Michail Gorbatsjof – wat toegelaat het dat die mag opgetel word deur histeriese, mal mense. Ek sal nóóít abdikeer nie.”

’n Analis kan egter nie hierby vassteek as hy die moderne Rusland behoorlik wil verklaar nie. Wat hier bowenal van belang is, is dat die Russe ’n uiters nasionalistiese volk is wie se trots steeds op – soos hulle dit ervaar – glorieryke oorwinning oor Adolf Hitler se barbaarse bendes dryf.

Terugkykend, so wys verskeie onlangse peilings, betreur die meeste Russe dan ook die uiteenval van die USSR. Dít was die tyd toe hulle in die wêreld gevrees en gerespekteer is, voordat die – weer eens, húl ervaring – dronklap nar Boris Jeltsin homself as ’n grap in die buitewêreld ontbloot het.

In die Russiese psige is daar tradisioneel drie Ruslande: Groot-Rusland (die huidige Russiese Federasie), Klein-Rusland (die Oekraïne), en Wit-Rusland (in Russies: Belarus). Dié drie word as deel van Rusland beskou. Dis dan ook geen wonder nie om in Poetin se uitsprake te lees dat hy die Oekraïne nie as ’n onafhanklike staat, met ’n soewereine reg, beskou nie.

Verlede week het Poetin herhaal dat hy die ineenstorting van die USSR ’n kwarteeu gelede as ’n “katastrofe” beskou. Hy het bygevoeg dat dit nie omgekeer kan word nie, maar hy probeer nou verskeie afgeskeie republieke weer saamvoeg in ’n samewerkingsverband soortgelyk as die Europese Unie (EU).

Volgens talle kenners is sy langtermyn- strategiese doel die herstel van die USSR. Maar dit lê nie om die draai nie.

Intussen kan die vraag met reg gestel word of die Weste se beleid teenoor Rusland ná 1991 bygedra het tot die aggressiewe nasionalistiese gevoelens waarop Poetin se politiek berus. Byvoorbeeld: Het die uitbreiding van Navo en die EU tot teenaan Rusland se grense nie die tradisionele Russiese gevoel van onveiligheid versterk nie?

Die beleid van talle agtereenvolgende Russiese regerings, reeds sedert die tsaristiese tyd, was immers om ’n breë verdedigingsgordel tussen hulle en die Weste te skep. Josef Stalin se brute onderwerping van die Sentraal- en Oos-Europese state ná 1945 moet immers minstens gedeeltelik in dié lig gesien word.

Dis heeltemal ’n geldige punt. Dit hét tot die Russiese onrustigheid bygedra.

Soos dit egter maar in die lewe met al sy ingewikkeldheid gaan, is daar ook ’n ander kant aan die munt. Die lande wat ná 1991 by Navo en die EU aangesluit het – die Baltiese state, Pole, Hongarye, Tsjeggië, Slowakye, Bulgarye, Roemenië – het dit op hul beurt uit vrees vir die Russiese beer gedoen. Immers, die herinnering aan die Russiese stewel op hul nek in die jare 1945 – 1990 is nog rou.

En dis immers soewereine state se reg om te besluit by welke internasionale klub hulle wil aansluit.

Dis die tragiek van die situasie. Hier het jy dríé waarhede, ’n Russiese waarheid, ’n Westerse waarheid, en een van die Sentraal-Europese moondhede. Al drie is waar.

Dit gee aanleiding tot groeiende agterdog aan albei kante. In sulke omstandighede laat leiers hulle deur hul eie agterdog en vooroordele lei, pleks van om die ander kant van binne uit te probeer verstaan.

’n Tipiese voorbeeld hiervan was in ons eie Grensoorlog te sien, toe die Suid-Afrikaanse regering en die Kubane mekaar die slegs moontlike motiewe en doelwitte toegedig het. Agterna kon gesien word dat die twee kante nie veel van mekaar begryp het nie, en dat hulle dus dikwels verkeerd op mekaar gereageer het.

Dit is tipies die soort misverstande wat – sonder dat iemand daarop uit was – tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 gelei het.

In beginsel is dit dus goed dat Trump en Poetin mekaar probeer vind. Persoonlik is ek skepties of dit gaan slaag; daarvoor is albei se persoonlikhede te aggressief.

Maar wie weet. Dalk werk dit veel beter as wat ek reken. As dit so is, sal ek die eerste wees om luidkeels te juig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Theuns ·

Dagse Dr. Leopold,
Ek lees jou artikel met waardering oor jou kennis en insigte in die wereld situasie. As jy sekere woorde, sinsnedes en leiers vervang dan klink dit of jy oor Suid Afrika skryf! Hier gaan die meerderheid daarop uit om die minderheid te vertrap. Wat is die moontlikheid dat jy die wereld media, regerings kan inlig oor die situasie in Suid Afrika? Ek is ook bewus daarvan dat jy nie net Nederlands magtig is nie maar ook Duits!
Beste Groete.
Theuns

Koos1 ·

Theuns, jy het die woorde (gedagtes) so uit my mond (kop) gehaal!

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, jong, ek is maar ‘n eenvoudige Boerseun. Niemand ken my eintlik hier nie en my mening dra geen gewig nie. Ek is bevrees niemand gaan na my luister nie. Maar dankie vir die mooi woorde.

Willem ·

‘n Baie insiggewende stuk, dankie. Ek kan nie help om vas te kyk teen die “Wladimir Poetin” nie. Hoe is dit korrekte Afrikaans? Praat ons van “Nettanjahoe” as ons na die figuur in Israel verwys? :) of “Donneld Tramp”?

Sune van Heerden ·

Dagsê Willem

Buitelandse eiename word in Afrikaans getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. In Engels word die naam, Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, byvoorbeeld as “Vladimir Putin” gespel, en in Afrikaans “Wladimir Poetin”, of Горбачёв word as “Gorbachev” of “Gorbachyov” gespel, en in Afrikaans “Gorbatsjof”.

Dieselfde geld dus nie vir Donald Trump nie. “Benjamin Netanyahu” is die korrekte skrywe in Afrikaans.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Jan ·

Ek vra om verskoning dat ek ook hier ‘n eiertjie lê betreffende die spelling. Tot nou baie onlangs het beide Maroela asook Netwerk24 altwee spellings gebruik, op Maroela ook nou die dag in ‘n skrywe van Flip Buys wat die spelling V Putin was, terwyl hulle in die verlede of Putin of Poetin gebruik het. Netwerk24 sien ek het so 7 dae gelede ook in ‘n artikel gemeld dat W Poetin nou die korrekte spelling is. Julle kan dit gerus gaan Google (Vladimir Putin Netwerk24 ens.) Dit is net interessant dat in hierdie geval verskillende spellings vir Afrikaans en Engels gebruik word, terwyl mense se name en vanne in die twee tale normaalweg dieselfde gespel word. Dit lyk my name van Rusland en die Oosblok is dalk die uitsondering.

Sune van Heerden ·

Dagsê Jan

Ons vra om verskoning indien daar ‘n “Vladimir Putin” soms op Maroela Media deurglip – dit is dan ‘n fout van die teksversorgers. Ek bring die saak weer onder hul aandag.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Flip Nöthling ·

Baie dankie, Suné. Jy verduidelik iets wat ek nie geweet het nie.

Ek neem aan dat jy die spelreels insluit wanneer jy na alfabet verwys. Die letters in ons alfabet is dieselfde as die Engelse alfabet maar ons het verskillende spellings.

Piet ·

Leopold as jy noem dat Poetin geskool is in die KGB en so sy denkwyse gevorm het, dan kan mens seker ook maar vra waar het die ANC sy politike denkwyse gevorm? Die groot afgod Mandela het dan sy opleiding in o.a. Oos Duitsland ontvang. Die eerste ding wat hy gedoen het was om belange met Taiwan te breek ten gunste van China en almal kan sien dat China reeds besig is om Afrika en die res van die wereld ekonomies te verower, en die traak my nie agtige afrikaan het niks om te wys van Afrika se rykdom nie. Vir die volgende 1000 jaar gaan hulle die blankes daarvoor blameer. Nogal eronies as mens kyk hoe dit gaan in Etiopie wat nog nooit ‘n kolonie was nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Piet, net vir die rekord: Nee, Mandela het nie opleiding in Oos-Duitsland ontvang nie. Hy was wel lid van die SA Kommunistiese Party, en selfs van die SAKP se Sentrale Komitee. Mandela het die vasteland van China eers in 1997 ten koste van Taiwan erken, drie jaar nadat hy president geword het. Maar wat die ANC betref, is jy heeltemal reg; die leiding van die beweging is sedert die jare sestig toenemend deur lede van die SAKP oorheers. Jy kan die erfenis hiervan nog steeds in die ANC se politieke kultuur waarneem.

Fanie ·

Briljante ontleding Leopold! Interessante feite, ewewigtige afleidings, diepsinnige ontleding, goed aangebied, met knap taalversorging.

Baie dankie aan die Maroela span wat dit vir ons moontlik maak om sulke gehalte stukke gratis in keurige Afrikaans te lees.

John ·

… Geniepsige kommentaar. Poetin en Trump is glo albei baie aggressief en Obama en Clinton so oulik, so liefdevol en tog so onskuldig… Die outeur is ook op die trein saam met Obama wat nou sy ware kleure wys en moedertjie Theresa van liewe, liewe Duitsland en ja, oom baby-sjoklits van die Oekraine wat in Kiev, die stad van Russiese prinse nesgemaak het, en omkoopgeld ontvang van Navo en hul siek oorlogsdrange. Dalk te veel 007-flieks gekyk? Miskien volg daar nou ‘n jaar genaamd, post-leuens. Mens hoop so…

Leopold Scholtz ·

Beste John, ek dink jy het dalk ‘n ander artikel gelees. Gaan lees myne, asseblief. Jy skryf dinge aan my toe wat nie eens naastenby in my gedagtes was nie. Voorspoedige Nuwejaar vir jou.

Johan II ·

Eks met jou John. Navo en hul bende is en was nog altyd die agressors. Ek wil voorspel daar is n goeie kaans dat hulle Trump gaan doodskiet.

Rupert Ashford ·

Dankie Leopold, jy was 20-30 jaar gelede toe mens nog Rapport kon lees een van die beter skrywers oor wereldsake en doen steeds nie sleg nie…;-) Rusland was nog altyd ‘n moeilike kalant en mens kan net hoop Trump kan Poetin op ‘n manier konstruktief “vind”. Hulle nasionalisme (en die Weste se “neersien” op hulle – al is dit soms in hulle eie psige) het al baie probleme veroorsaak. Jammer Poetin het so ‘n sterk kommunistiese agtergrond.

DewaldS ·

Goeie, ewewigtige ontleding van die situasie – baie dankie, Leopold.

Hillary Clinton en Obama en die hoofstroom-media in die VSA het Rusland op ‘n arrogante, kinder-agtige en hoogs gevaarlike manier hanteer. Ek glo Trump sal baie beter doen – die eerste stap in goeie verhoudinge is respek – dit voel op hierdie stadium of mens ‘n sug van verligting kan slaak dat volwassenes darem weer in beheer van die kern-arsenale is.

Flip Nöthling ·

Baie dankie. Goeie kommentaar, Professionele politieke joernalistiek – iets wat vandag redelik skaars is.

Ek is ‘n leek in hierdie sake maar ek dink die tyd sal maar moet leer wat die verhouding tussen Donald Trump en Wladimir Poetin gaan wees. Ons het ‘n goeie idee van Poetin se houding maar weet nog niks van Trump nie. Hy het nog nie voor sulke belangrike sake gestaan nie.

johann ·

Dankie vir nog ‘n stukkie gebalanseerde kommentaar! Voorspoed vir 2017!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.