ʼn Saadjie het ʼn boom geword

Barend Uys. (Foto: Reint Dykema)

Op 6 April 1652 seil die eerste skepe onder leiding van Jan van Riebeeck Tafelbaai binne, hierdie jaar presies 370 jaar gelede.

Net soos ’n voëltjie wat ’n vruggie eet en die saadjie laat val en op die manier onbewustelik die potensiaal skep vir dié saadjie om te ontkiem en uiteindelik ’n boom te word, het die seelui en besigheidsmanne van die VOC ook onbewustelik ’n saadjie gesaai. Dit was nie die bedoeling van die VOC om ’n kolonie te vestig nie, nog minder om ’n nuwe volk te plant.

Net soos ’n mens nie uit ’n onbekende saadjie wat jy optel kan aflei presies hoe die boom sal lyk wat daaruit sal groei nie, was die volk wat sou kom ook nie herkenbaar in die saadjie wat gesaai is nie. Oor 370 jaar het die saadjie wat van vêr oor die see gekom het egter diep wortel geskiet in Afrika se ryk grond. Die wye, vry ruimtes van Afrika, haar vars lug en milde reën en bemesting uit die kweekhuis van die ou kontinent het alles bygedra tot dié nuwe boom se groei.

Die boom het egter nie opgekom op ’n kaal vlakte nie, maar tussen ander bome. Die klein boompie moes tussen die ander bome opbeur vir sy plek onder die son. Oor tyd het die boompie teen die takke van die ander bome geskuur, só is die boompie gevorm nie slegs deur die bodem waarin dit staan nie, maar ook deur die ander bome wat dieselfde bodem deel.

’n Jong boom wat opkom op die Afrika-savanne en streef om sy plek vol te staan beleef tye van voorspoedige groei, maar ook tye van droogte en verlies. So is dit ook die geval met die jong boom van Afrika – wildsbokke het van sy blare gevreet, ’n leeu het sy stam gekrap en ’n olifant het van sy takke afgeskeur. Woeste winde wat van vêr aangerol het en veldbrande het ook hul bydrae gemaak om die boom te buig en te vorm. Die letsels wat die boom dra dien as stille getuienis van die wedervaringe wat die boom gevorm het.

Só staan die jong boom, gevorm deur weer en wildernis, vandag steeds tussen die oudstes van Afrika en die res van die wêreld – steeds met takke uitgestrek na die hemel, steeds strewend om die kruin altyd hoër op te stoot.

Maar nou, na die ervaring van meer as drie en ’n halwe eeue, begin die jong boom leer om nie onnodig sy takke teen die bome rondom te laat skuur nie, kan die boom begin verstaan wat sy plek en rol op die Afrika-savanne is. Die boom staan vier en regop, maar altyd meer geanker en nederig, en wys.

Mense kan saad saai, maar dit is die Here wat dit laat groei – so is die wel en weë van dié boom ook in Sy almagtige hande. Mag die boom onthou om te drink uit Sy diep water sodat hy sy plek kan volstaan, tot Sy eer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lourens CFG ·

En hy sál staan, al probeer die verwoesters hom ontwortel deur sy wortels een vir een af te kap.
Hul kan nie die wortels wat in die Rots is bykom nie.

Hendrik ·

Baie goeie beeldspraak. Ek het ook verlede jaar n paar vrugtebome geplant. Dit het verbasend vinnig gegroei met lower groen blare maar om een of ander rede het gestop en staan tans doodstil. Nog steeds word dit getroetel maar verniet. Net enkele tekens van lewe. Dit wil voorkom of dit tans die geval is met die boom SA. Ek is tans in SA en en besef meer en meer die omdraai is byna onmoontlik. Dit le nie alleen in die hande van die blankes Solidariteit Afri forum ens nie. Natuurlik is daar die grootste waardering daarvoor. Dit is ook elke burger se verantwoordelikheid. Vir omcraai is n baie groot deel van die gematigde swart bevolking nodig. N Styl en baie swaar pad le steeds voor. Ek vind hier n baie groot deel van ons blanke bevolking besef nog nie die realiteit nie. Ek is n burger van Nam en dit word vir my meer belangriker dat ons Afrikaner dit nie moet toelaat dat politici n streep deur ons volkverband moet trek nie. N Draadheining kan nie ons volksverband nietig verklaar nie.

Rudolf ·

So is die wel en weë van dié boom ook in Sy almagtige hande, onder die wet wat die veilig hou om tot die insig te mag kom waar Dawid die wortels begrawe het…

Clifford ·

Baie waar, ons as volk het van God af weg beweeg, ons het ‘n jaloerse God en hy sal hierdie dinge wat ons vadag in die gesig staar net meer en meer laat vererger totdat ons besef ons enigste uitweg is deur Hom en niks anders nie.

Ons moet ons nader aan God.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.