’n Somer van geweld in Duitsland

Sonsopkoms oor die geboue van die handelsdistrik in Frankfurt, Duitsland. (Foto: Michael Probst, AP)

‘n Veertigjarige man uit Eritrea het op 29 Julie op die stasieperron in Frankfurt, Duitsland ‘n vrou en haar kind voor die aankomende trein ingestamp. Die vrou kon ternouernood ontsnap. Die internasionale sneltrein het egter haar agtjarige kind getref en hy is aan sy beserings oorlede.

Die dader uit Eritrea het, volgens die polisie, geen band met die vrou of die kind nie. Hy het ook ’n mislukte poging aangewend om nog iemand voor die trein in te stamp. Sommige omstanders het gehelp sodat die polisie hom buite die stasie in hegtenis kon neem.

Onlangse geweldinsidente

Die ongewoon warm, tropiese somer in Duitsland is vol vakansiegangers en toeriste. Meestal is hulle besig om vreedsaam te ontspan. Hierdie somer het egter ook ʼn porsie nare geweldinsidente.

Twee weke gelede het ’n man van Kosovaarse afkoms, maar wat in Duitsland gebore is en ’n misdaadgeskiedenis het, ’n 34-jarige blonde vrou voor ‘n trein ingestamp. Die vrou, onbekend aan hom, is in die voorval oorlede en het haar man en ’n dogter van dertien nagelaat.

Sowat ’n week gelede is ’n jongman uit Eritrea in Wächtersbach deur ’n middeljarige man met ’n pistool geskiet. Die skieter is later met wonde dood in sy motor gevind; die man waarop hy geskiet het, het oorleef. Meer besonderhede ontbreek nog, maar antimigrasiemotiewe lyk tans moontlik.

Sosiale ontwrigting

By swembaddens in talle Duitse dorpe en stede faal die owerhede ook hierdie somer om groepe jongmans in bedwang te hou. Die jongmans, volgens die polisie meestal met ’n migrasieagtergrond, teister die badopsigters en veral vroulike swemmers.

Die jongmans beledig hulle, ontlas in die water of is aggressief. Swembaddens moes al tydelik gesluit word. Baie mense wat wou swem, onttrek liewer uit hierdie openbare ruimtes.

In Saarlouis het die burgemeester Peter Demmer aangedui dat die polisie ook nie in staat is om by openbare feeste sulke jeuggroepe te beheer nie. Die plaaslike polisievakbond het bevestig dat Demmer, ’n Sosiaal-Demokraat, sake reg inskat.

In Berlyn moes die polisie vanjaar reeds toegee dat hulle in sekere gebiede nie meer beheer het oor Arabiese familiebendes nie. Van die bendes kon ook al sommige van die polisie omkoop. Sedert middel-Junie probeer die polisie nou met harde maatreëls die vrees en respek inboesem wat hulle verloor het weens wisselvallige hulpbronne en politieke beleid.

Merkel se erfenis?

Presies vier jaar voor gister se moord het honderdduisende onwettige en wettige migrante uit die Midde-Ooste, Afrika en die Balkan ook met treine in Duitsland aangekom. Dit is duidelik dat die samelewing sedertdien sukkel met insidente wat dikwels aan massa-immigrasie en aan Duitse burgers met ’n migrante-agtergrond toegeskryf word.

Voorvalle van Islamitiese terrorisme word hieraan gekoppel, maar ook ʼn toename in misdaadinsidente. Hieronder val rooftogte, seksuele teistering (soos by die Oujaarsfees in 2015 in Keulen) verkragtings en moorde.

Die retoriek van polarisasie spat uit sosiale mediadebatte hieroor tussen pro- en antimigrasiegroepe. Die meeste inheemse burgers en burgers met ’n migrasieagtergrond is uiteraard nie by die insidente betrokke nie, maar kan nie die wyer polarisasie ontsnap nie.

Hierdie somer se insidente voed sosiale onstabiliteit in Duitsland verder. Hans-Georg Maassen, die oudhoof van die Bundesverfassungsschutz, oftewel binnelandse veiligheidsdiens, praat juis op 27 Julie hieroor in ’n onderhoud in die Nederlandse meningsblad Elsevier. Oor Bondskanselier Angela Merkel se besluit om die migrante in 2015 in Duitsland toe te laat, sê hy:

“Dit was teen die wet. Die afsprake van Dublin hieroor is negeer. As juris kon mens alleen jou kop skud. As dit gaan oor massale migrasie: ons het ’n reuseprobleem met integrasie. Baie nuwelinge wil nie integreer nie. Hulle gaan liewer op in salafistiese strukture buite die Duitse samelewing, of in Arabiese familiebendes. Dit word uiteindelik ’n aansienlike probleem vir die stabiliteit van ons samelewing.”

Politieke verskuiwings

Die somer se geweldinsidente val saam met die aanloop na verkiesings vir drie Oos-Duitse deelstate se parlemente. Die sterk opkomende Groen Party gebruik die ongewone somertemperature om hul boodskappe oor klimaatverandering te versterk.

Die regerende Christen-Demokratiese Unie (CDU) is intussen senuweeagtig. Dit lyk asof die party na dertig jaar se bewind in Sakse in September mag verloor teen die nasionalistiese party, Alternative für Deutschland (AfD).

Promigrasieaktiviste is periodiek betrokke by intimidasie of geweld teen kritiese politici. Op 6 Junie is die CDU-politikus dr. Walter Lübcke egter by sy huis doodgeskiet deur ’n man wat met antimigrasie-ekstremiste verbind word. Lübcke het genoem dat Duitsers wat verskil met Merkel se migrasiebeleid, maar die land moet verlaat.

Die CDU-leier Annegret Kramp-Karrenbauer probeer die AfD verantwoordelik hou vir die moord. Kramp-Karrenbauer gebruik dit ook as ’n rede waarom sy enige koalisie met die AfD uitsluit, al is die party in Oos-Duitse deelstate dikwels die tweede grootste of selfs grootste party in peilings.

Die oudveiligheidshoof Maassen meen dat die AfD-retoriek nie aan die Lübcke-moord gekoppel kan word nie. Volgens hom, en die WerteUnion-drukgroep binne die CDU waarmee hy assosieer, het die Merkel-CDU sy kernwaardes opgegee. Hy noem dat die AfD tans sowel verstandige en radikale mense bevat, maar dat mens nie ’n koalisie tussen die CDU en die AfD in die toekoms kan uitsluit nie.

Tuimeltrein oorheers

Daar is heelwat tekens van ʼn herskikking binne en buite die Duitse hoofstroompartye. Maassen en die drukgroep,  die AfD en die Groenes se opkoms, die Sosiaal-Demokrate se verdelings – dit is almal tekens.

Sowel inheemse Duitse burgers en gemeenskappe as burgers met ’n migrante-agtergrond het geregverdigde strewes en belange. Hopelik beweeg sake uiteindelik na ’n meer gebalanseerde hantering daarvan.

ʼn Tuimeltrein van polarisasie, geweldinsidente en radelose besluitnemers oorheers egter hierdie politieke somer in Duitsland.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee beklee die ere-leerstoel in veiligheidstudies by Akademia en is ʼn politieke ontleder in Nederland vir bedrywe in die Midde-Ooste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

James ·

Merkel en Obama se nalatenskappe.
Merkel het Duitsland vernietig en steeds sien sy dit nie raak nie, Wat ‘n ‘looser’!

sweis ·

Deporteer hulle terug waar hulle vandaan kom die rede hoekom hulle in Duitsland is omrede hulle hul eie lande so verniel het dat hulle moes aanbeweeg nou gaan hulle soos hiënas na n beter plek net om dit ook te stroop en te vernietig.

Danie Theron ·

Sweis ek dink die storie van die miere en die springkane is meer van toepassing!!!

Therese van Schalkwyk ·

Die feit dat dr. Matthee, ‘n “politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek”, hierdie oop en eerlike artikel die lig laat sien, spreek boekdele. Welgedaan en baie dankie.
Selfs nie eers ‘n gesaghebbende soos Hans-Georg Maassen sal kortsigtige, eendersdenkende meningsvormers kan oortuig dat Duitsland, sowel as die res van Wes-Europa, rééds op ‘n fiasko uitloop nie. Vir diesulkes is die agtjarige treinslagoffer en die geteisterde Duitse vrouens slegs die toevallige/gepaardgaande/noodwendige opofferings vir ‘n ‘multi-kulturele reënboog’ samelewing.
Om net te hóóp dat sake uiteindelik na ‘n meer gebalanseerde hantering van die kwessie sal beweeg, is nie naastenby genoeg nie. Veral nie vir potensiële slagoffers nie.

Bossie ·

Gaan Google Die Nuwe Wêreldorde. Dit is presies waarheen die wêreld oppad is. Dit pas Suid-Afrika, en die wêreld, soos ‘n handskoen.

Marie ·

Merkel is waarskynlik n ou Stasi agent en word van die begin gebruik om Duitsland te destabiliseer deur magte wat Duitsland wil kniehalter. Sy het n plaas in Paraguay waarheen sy sal gaan sodra Duitsland en die Duitsers gebreek is. Die slegte gewete van Duitsers oor die Holocaust veroorsaak dat baie inskiklik was met die gebeure in 2015 en n tipe
Wilkommenskultur ontstaan het. Die pendulum slaan egter weer terug en dan sal ons die Duitsers weer leer ken soos onder Hitler.

jaco ·

ek moes my HELE verlede, hede en selfs toekoms tot in die fynste besonderhede uitspel NET om n toeristevisum vir Duitsland te kry. En nadat en R2000 daarvoor betaal het en dit toe wel gekry het, is ek WEER oor omtrent alles van my lewe uitgevra by aankoms in Duitsland.
Nou wonder ek maar net: as die streng visumvereistes ‘n manier is om seker te maak dat ek NET in Duitsland gaan toer en nie onwettig daar gaan werk en onwettig maar net gaan bly en bly en bly nie, HOE kom hierdie onwettige en selfs wettige immigrante dan so maklik in Duitsland in?
Wat wettige immigrante betref: mens kry net werk en toestemming om in Duitsland te bly as jy ‘n werk kan doen wat amper niemand daar kan doen nie. Tog net vreemd as jy dan daar toer en sien wie verwyder die vuillisdromme, help paaie bou ens ens. NIE local Duitsers nie. So daars ook maar lekker dubbele standaarde. Net jammer die dubbele standaarde lei daartoe dat immigrante nou hulle eie mense voor treine instamp.

Johann Jordaan ·

Ons sit met dieselfde probleem met al wat ‘n soort is in SA.

Skoolgeld ·

Of hy nou bietjie of baie Afrika in hom het hy is net daar vir moeilikheid maak. Bedank gerus die Europese unie vir die hand waarmee hulle gevoer het nou vol byt merke sit. Selfs Oostenryk sit skielik met geweldmisdaad wat ongeken was 10 jaar terug. Jammer dat Polizei in Duitsland ook die smaak van omkoop geld geproe het. Dis eenvoudig die begin van ñ hartseer vehaal met ñ bitter einde!

susan ·

In Suid-Afrika emigreer almal die wêreld is deurmekaar waar jy ookal gaan. Kry maar vir julle.

Stephan de S ·

Dankie vir hd gebalanseerde uiteensitting v wat in Duitsland aan die gang is. Vele stof tot nadenke……mens wonder of daar ooit integrasie sal plaasvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.