ʼn Suid-Afrikaanse lente?

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en William Bulwana, sekretaris van die ANC in die Vrystaat (Foto aan Maroela Media verskaf)

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, en William Bulwana, sekretaris van die ANC in die Vrystaat (Foto aan Maroela Media verskaf)

Talle akademici, denkers en kommentators is dit eens dat politieke, ekonomiese en sosiale toestande in Suid-Afrika besig is om drasties te versleg. Parallelle ten opsigte van ʼn Arabiese Lente word soms getref en ʼn stuk somberheid word nie net deel van ons politieke omgewing nie, maar ook van die alledaagse lewe van Suid-Afrikaners. Hierdie somberheid is veral prominent by Afrikaanssprekendes en herinner in sekere opsigte aan groter historiese krisismomente byvoorbeeld die Britse bewind se verengelsingsbeleid wat op die Groot Trek uitgeloop het; die Anglo Boereoorlog en die val van die Boere Republieke; asook die omstandighede wat tot die 1996-grondwet bygedra het. Bogenoemde was alles krisismomente van die een of ander aard en nou blyk dit boonop dat hef aan in 2016 nog voorlê. Die gevolg hiervan is dat ernstige vrae gevra word oor die suksesvolle toepassing van wat soms voorgehou as die “beste grondwet in die wêreld”. Gevolglik word die omgewing toenemend gekenmerk deur wat genoem kan word gebroke ekwilibrium met onsekerheid en uitsigloosheid as toekomsbeskouing.

Reeds in die negentigerjare het stemme begin opgaan vir wat genoem kan word ʼn opvolgskikking in die wete dat alle politieke, ekonomiese en politieke kwessies nie op een slag alles hanteer kan word nie en dat groei, ontwikkeling en verandering eintlik langtermynprosesse is. Bykans almal is dit vandag eens dat die status quo nie meer volhoubaar is nie en dat verandering in die een of ander vorm bykans onafwendbaar geword het. Die noodsaak vir verandering word gedryf deur omstandighede binne die regerende ANC en die drieledige alliansie (en veral die posisie van Jacob Zuma); ʼn verslegtende politieke ekonomie; staatkundige agteruitgang en verval; en talle sosiale dinamika wat verband hou met sake soos diensleweringsproteste, arbeidsgeweld en onstabiliteit, armoede en ongelykheid, xenofobie en vigilantisme. Uitkomste van hierdie verandering sluit in beperkte ekonomiese groei (en selfs vorme van disinvestering), patrone van politieke en sosiale onstabiliteit; korrupsie en nepotisme; opvolgdebatte en leierskaptwiste; sowel as diensleweringskrisisse – om net enkele prominente sake te beklemtoon. Midde-in hierdie snelveranderende omgewing het universiteite toenemend die teiken geword van wat prof. Nic Grove (registrateur van die Universiteit Pretoria) “straattransformasie” noem. Sodoende het die veranderingsproses ʼn dinamika van sy eie ontwikkel met reuse-implikasies vir dit wat as die suksesresep van die post-1994-bedeling voorgehou is.

In die bestek van minder as ʼn jaar het die relatief stabiele kampusomgewings oornag ontaard in slagvelde van rassekonflikte, intimidasie en geweld; asook die beskadiging van eiendom en die plundery van bates en infrastruktuur. Waar hierdie onstabiliteit in die verlede beperk was tot sekere kampusse en universiteite, het dit vinnig ʼn nasionale profiel ontwikkel en is die top-universiteite waaronder UK, UKZN, Wes-Kaap, Stellenbosch, Pretoria, Johannesburg, Wits, Noordwes en die Vrystaat direk hierby geïmpliseer. Verskeie insidente waar onder die aanranding van wit studente by Wits; die rugbyinsident op Shimlapark in Bloemfontein; die verdediging van die Totius-standbeeld op Potchefstroom; en rasgeoriënteerde voorvalle op Tukkies sowel as Stellenbosch; het duidelik gewys dat Afrikaanse studente nou ʼn streep in die grond getrek het en besluit het genoeg is genoeg.

Die rol van AfriForum en die groter Solidariteit Beweging was duidelik hier waarneembaar en die vermoë om steun suksesvol op kampusvlak te mobiliseer en te organiseer het as teenvoeter gedien vir patrone van onstabiliteit en selfs anargie op kampusse. Eskalerende kampus- en rassekonflik onder vlae van #RhodesMustFall; #FeesMustall; Afrikaans as onderrigtaal; en die uitkontraktering van dienswerkers het ʼn toekoms ingelei wat baie vêr verwyder was van dít wat Mandela en Tutu as die reënboognasie gekonseptualiseer het. Hoewel verskeie organisasies by kampusinsidente betrokke was, is dit veral die EFF wat baie sentraal gestaan het in die bereiking van rassepolarisasie en die bevordering van geweld. Naakte rassisme en die vernietiging van standbeelde en die afbrand van geboue was onder meer aan die orde van die dag. Wat as ʼn klein insident begin het (in samehang met ander faktore) het gedreig om ʼn land tot op die rand van ʼn afgrond te bring. Leierskap was nodig om hierdie krisis te hanteer en dit was duidelik dat die president van die land sowel as die minister van hoër onderwys nie vir hierdie taak opgewasse is nie of nie bereid was om hier sinvolle en strategiese leiding te gee nie.

In hierdie hoogs gepolariseerde omgewing het egter gebeur wat destyds in die laat tagtigerjare ook gebeur het naamlik ʼn politieke gesprek tussen politieke opponente. Solidariteit, die burgerregte-organisasie AfriForum en die ANC-alliansie het by die Universiteit van die Vrystaat bymekaar gekom oor laasgenoemde universiteit, maar ook om oor brandpunte in die groter Suid-Afrikaanse politiek, te praat. Die ANC was verteenwoordig deur COSATU, die SAKP, die Vroueliga en SANCO (Suid Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie). Hierdie gesprek (die tweede van sy soort) volg op ʼn historiese ooreenkoms van 28 Februarie ten opsigte van die herstel van ʼn vreedsame, stabiele en volhoubare akademiese program by die Universiteit van Pretoria. Uitkomste van eersgenoemde gesprek (by die Vrystaat-Universiteit) het gefokus op ʼn korttermynforum om sake by die Universiteit van die Vrystaat aan te spreek asook ʼn strategiese taakgroep wat aan ander sake aandag moet gee. Eensgesindheid is bereik ten opsigte van die nie-gebruik van geweld, die verwerping van rassisme, ʼn verbintenis tot Suid-Afrika, verdraagsaamheid en wedersydse respek. Albei partye wag tans vir mandate om hierdie proses vorentoe te neem. Meer van hierdie gesprekke op letterlik elke terrein van die groter samelewing blyk tans nodig te wees. Baie werk lê nog voor ons om van Suid-Afrika ʼn suksesvolle land te maak. Die gesprekke op universiteitsvlak mag heel moontlik een van die eerste swaeltjies wees wat dui op ʼn nuwe lente – hopelik nie ʼn Arabiese Lente nie.

Dat universiteite voor geweldige uitdagings staan, kan nie betwyfel word nie. Vir universiteite om suksesvol te wees, is politieke stabiliteit en finansiële volhoubaarheid van kernbelang ten einde akademiese gehalte te waarborg. Stabiliteit sowel as finansiële volhoubaarheid is tans grootliks afwesig binne die groter samelewing en staatkundige bestel. Universiteite is tans bloot verlengstukke van die groter samelewing en politieke bedeling. Tog lê die rigting van konstruktiewe verandering opgesluit in dialoog en gesprek en die definiëring van die middelgrond as grondslag om vorentoe te beweeg. Dit is wat tans gebeur met die gesprekke tussen AfriForum en die ANC. Kan hierdie klein gebeurtenis die weg vorentoe aandui? Indien wel is daar hoop en kan daar moontlik ʼn grondslag vir ʼn beter toekoms gelê word. Die hoop beskaam immers nooit!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

André Duvenhage

Meer oor die skrywer: André Duvenhage

André Duvenhage is politieke ontleder en professor in Politieke Wetenskap aan die Noordwes-Universiteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

anna ·

Wat in SA aan die gebeur is, is die begin van ‘n Burger Oorlog. Dit gaan nie oor Taal nie. Hierdie tipe opstande het in ww2 en in die ArabiesLente begin gebeur voordat alle hel losgebars het.
Daar is ook buitelandse invloed teenwoordig om swart teen wit op te stook en wat baie goed werk. Die kookpot gaan een van die dae oorkook. Hier is groot probleme aan die kom. Jammer om negatief te wees, . Ek glo die Here sal ons beskerm.

aletta ·

Dit gaan oor haat vir die blanke,oor wat hulle vermag het in die laaste paar honderd jaar en die afguns daaroor. Dit gaan lankal nie meer oor taal nie. Die een kampus wat afgebrand is bied niks in Afrikaans aan nie, maar hulle brand dit af. Dit gaan baie meer as dit en dit begin nou kookpunt bereik.

Maria van Dieweek ·

Daniel 2:21 Hy bepaal die gang van wereldgebeure, Hy sit konings af en stel konings aan;

Mag God ons bewaar in hierdie angswekkende tyd..

Henry ·

Dankie tog dat Afriforum en Solidariteit voortgaan om oplossings vir die krisisse by tradisionele Afrikaanse universiteite te soek. In die proses het hulle reeds daarin geslaag om gesprekke aan te knoop en selfs ooreenkomste te sluit, met opponerende groepe soos die ANC, SAKP, COSATU, ANC Jeugliga ens. Ooreenkomste wat tussen bg partye gesluit is, het reeds positiewe resultate op die Tukkie kampus opgelewer.

Pogings om die EFF by die gesprekke te betrek en ‘n soeke na oplossings te vind, ipv ‘n oor en weer geskellery, het ongelukkig op dowe ore te lande gekom. Vermoedelik sal die konfronterende houding en optredes van Malema se rooihemp brigade uiteindelik ook tot hul eie politieke nadeel strek en hul tot besinning dwing.

Ek wil graag glo dat alle lede van Afriforum en Solidariteit baie trots is op die suksesse wat reeds behaal is. Dat gesprekke/onderhandelinge ook op die ander kampusse – Kovsies, Maties en die Pukke – uiteindelik tot blywende vrede en die behoud van ons Afrikaner belange – in die wydste sin van die woord – sal lei.

Sluit aan en ondersteun die organisasies wat daadwerklik Afrikaners se welsyn in hierdie droewe land wil bevorder!!!

Phillip Fourie ·

Nou wonder ek net of daar miskien iets gedoen kan word ten opsigte van die plaasaanvalle? Met ‘n suster en swaer wat elke dag met die grootste gesukkel hulself, hul werkers en hul eiendom moet beskerm, verwag ek dat Afriforum en die ANC se onderonsie miskien daar ‘n uitweg kon bied.

Oupa ·

Solank die ganse mensdom weier om harde feite te erken, sal die sg. Arabiese Lente oral kop uitsteek, en sal sinistere magte dit wêreldwyd misbruik om hulle eie doelwitte te bevorder, maak nie saak aan watter kant van die politieke spektrum hulle staan nie. (selfs hierdie stelling is debatteerbaar: wat vir een mens “links” is, is vir ‘n ander “regs”.)

Een enkele voorbeeld van hierdie harde feite is dat die ganse Skepping op ongelykhede gebaseer is, en dat ongelykhede verskillende en uiteenlopende eise stel aan die omgewing waarbinne dit bestaan. Aluminium is nie dieselfde as yster of koper nie, ‘n moeras-plant kan nie in die woestyn staangemaak word nie, twee talente is nie gelyk aan vyf talente nie, en dit kan ook nie saamgevoeg en dan gelyk verdeel word nie. Vryheid, gelykheid en broederskap is van die grootste leuens wat nóg aan die mensdom opgedis is: niks in die Skepping is vry of gelyk nie, en nóg minder is alle mense “broers” van een of ander aard.

As hierdie en ander harde feite nie erken en bestuur word deur die mensdom in geheel, en die VERSKILLENDE rasse in Suid Afrika spesifiek nie, sal Arabiese Lente altyd ‘n opsie wees.

Interessant dat alle lewende vorme op aarde in spesifieke groepering georden en geklassifiseer word, tot op die fynste sub-spesie vlak. Behalwe H. sapiens wat uit “rasse” bestaan. Hoekom?

Jay ·

Oupa, Tien uit tien vir jou raak opsomming van die groter prentjie. Min mense verstaan dit omrede leuns so lank al en so dikwels herhaal word, dat die massa net saamdrentel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.