‘n Teenvoeter vir enige taktiek

HakaVroegoggend maak ek my tuis om te kyk hoe die Argentyne teen die wêreldkampioene sal vaar.

Na 80 minute van klipharde spel besef ek dat die Argentynse Pumas beslis nie die melkkoei in die kampioenskapsreeks sal wees nie. Geen span kan gerus wees en dink dit gaan ʼn maklike wedstryd teen die Pumas wees nie. Om halftyd met slegs een punt agter die gevreesde All Blacks te wees, is geen geringe prestasie nie.

Eers na ʼn geelkaart vir die Argentyne het die All Blacks daarin kon slaag om momentum op te bou en twee drieë te druk Die eindtelling van 21-5 laat dit lyk asof die All Blacks maklik gewen het, wat geensins die geval was nie.

Vir ʼn oomblik het ek gedink dat die gelykopuitslag van die vorige Saterdag se wedstryd tussen die Springbokke en die Argentyne tóg ʼn positiewe oomblik vir die Bokke was, want die wedstryd was voor ʼn fanatiese Argentynse skare gespeel.

Toe volg die tweede wedstryd van Saterdagoggend se kampioenskapsreeks.

“Teleurstellend” is die eerste gedagte wat by my opkom toe ek voor die rekenaar inskuif om oor die naweek se Springbok-rugby verslag te doen.

Laat ek dit onomwonde stel: Die taktiek wat Heyneke Meyer gebruik, was in 2009 suksesvol toe die Bulls die Chiefs met ʼn reuse telling op Loftus in die eindstryd van die Super 14 gewen het. Tóé was hoogskop en druk op die teenstanders ʼn wenresep. Ongelukkig kan daar vir enige taktiek ʼn teenvoeter uitgewerk word en dit is presies wat die ander internasionale spanne gedoen het. Om die balbesit met ʼn ongeërgdheid weg te skop sonder dat die nodige druk op die teenstander uitgeoefen word, is fataal. Dit kan menige rugbykenner getuig. (Tydens die skryf van die blog het ek nie die menings van die talle Sondagkoerante tot my beskikking nie, aangesien ek so diep in die Bosveld is dat Sondag se koerante eers Maandag beskikbaar is.)

Die Wallabies het onmiddellik met teenaanvalle gekom en die Springbokke ver teruggedryf.

Op skrumskakel was Ruan Pienaar ʼn verbetering, maar dit het geensins gehelp dat daar ook ʼn verbetering in Morné Steyn se spel was nie. Daar was geen ritme en vloeiendheid in die agterlyn nie. In die laaste tien minute is daar veranderinge agterlangs aangebring en, met Johan Goosen op losskakel, het daar ʼn oplewing gekom. Om egter te verwag dat ʼn debutant die kastaiings uit die vuur moet krap is te veel gevra. Wat egter opmerklik was, is dat daar onmiddellik meer ritme agterlangs was. Die bal is vinniger versprei en met Patrick Lambie op heelagter was daar meer opsies en dringendheid op die aanval

Daar wag ʼn klomp dinkwerk vir die afrigtingspan, want die voorspelers kon nie hulle stempel afdruk en die wedstryd oorheers nie. Agterlangs was hoogskop en storm blykbaar die enigste taktiek en dit het nie gewerk nie.

Saterdag wag die All Blacks en ek voorsien geen lig in die tonnel vir die Bokke nie.

Die Curriebeker lewer nog gereeld sy verrassings.

Die Sharks het nie verwag dat die stryd op Kimberley so fel sou wees nie. Griekwas het weer eens gewys dat hulle nie sonder handskoene op hulle tuisveld aangepak kan word nie.

Ongelukkig kan dieselfde nie van die Bulle en Loftus gesê word nie. Die Leeus het byna verspot maklik met die Bulle afgereken. Menige Blou Bul-ondersteuner is sekerlik al moedeloos – daarvan getuig die leë pawiljoene. Selfs die geroemde Bulls Babes kon nie entoesiasme vir die swak vertoning op die veld ontlok nie.
Die beste rugby vir die naweek was na my mening die wedstryd tussen die Sharks en die WP op Nuweland.

Goeie verdediging en goeie aanvalswerk is goed afgelos met goeie taktiese skopwerk. Die terugkeer van Heinrich Brussow het gewys dat ʼn baljagter onontbeerlik is vir vandag se vinnige spel. Hy was die doring in die vlees van die WP en die omgekeerde balbesit wat hy gewen het, het die platform van menige teenaanval geskep

Geluk aan al die wenspanne

Rugbygroete tot volgende week.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers, Rugby

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.