’n Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030

dr-frans-cronje-sairr

Dr. Frans Cronjé. Foto: Youtube.com.

Deur Frans Cronje

Is jy bang oor wat oor die volgende dekade in Suid-Afrika sal gebeur? Jy behoort te wees. Te veel ontleders en ekonome het te dikwels die versekering gegee dat Suid-Afrika se ekonomie en demokrasie ten goede sal uitwerk. Dit is ’n onverantwoordelike ding om te doen.

Ek het op baie verhoë gestaan en gehoor hoe ekonome en ontleders gehore se vrae oor die toekoms van die land met gemeenplase en gerusstellings beantwoord, soos dat “ons nou ’n laagtepunt bereik het”, dat “die ekonomie volgende jaar vinniger sal groei”, dat “Pravin Gordhan nie afgedank sal word nie”, dat “eiendomsregte beveilig is”, dat “u op die howe en die Grondwet kan vertrou”, dat “ANC-strydrosse die party sal red”, en ’n menigte ander dinge.

Dié ontleders was in die meeste gevalle verkeerd.

In baie gevalle het ek daar gesit met ’n groot gevoel van ongemaklikheid met die wete dat die betrokke ontleder of ekonoom of fondsbestuurder heimlik nie naastenby so optimisties is nie. In baie gevalle weet ek dat die betrokke persone beduidende maatreëls getref het om hulself te verskans indien Suid-Afrika sou ineenstort.

Daar is verskeie voorbeelde van waar ons genooi word om as spreker op te tree, maar gevra word om die gehoor met ’n positiewe boodskap te los of optimisties te wees. Ek weet van gevalle waar maatskappye en ander organisasies stappe gedoen het om ons te verhoed om hul kliënte of aandeelhouers toe te spreek. In ander gevalle is ons spesifiek gevra om onderwerpe wat wissel van verbruikerskuldvlakke tot gewelddadige protesaksies te vermy. Ons wys natuurlik sulke uitnodigings van die hand.

frans-cronje-tydreisiger-SA-2030

Die voorblad van dr. Frans Cronje se jongste boek. Foto: Verskaf.

Die rede waarom ons gevra word om nie heeltemal eerlik te wees oor die uitdagings wat ons land in die gesig staar nie is dat baie maatskappye en organisasies heimlik bang is dat die omstandighede in die land baie erger is as wat die meeste mense weet. Hulle verkies om dié kennis vir hulself te hou terwyl hulle in die stilligheid planne beraam om die land te verlaat – terwyl hulle in die openbaar sê dat hulle volle vertroue het dat alles ten goede sal uitwerk.

Dit is ’n misbruik van openbare vertroue.

Wanneer ons genooi word om toesprake te lewer met die voorbehoud dat ons “positief” sal bly, antwoord ons dat deeglike strategiese en scenario-ontleding nooit “positief” of “negatief” is nie. Dit is akkuraat of onakkuraat. Indien jy akkurate strategiese insigte lewer, kan jy toekomstige skokke vooruit oorweeg en stappe doen om ergstegeval-scenario’s te vermy en bestegeval-uitkomste gunstig te benut nog lank voordat dit plaasvind. Indien die strategiese ontleding waarop jy staatmaak egter aangetas word deur druk om “positief” of polities korrek op te tree, stel jy jouself in op rampspoed.

Enige gesonde ontleding moet gelei word deur ’n realistiese interpretasie van die feite. Tans is dié feite soos volg:

  • Jacob Zuma se faksie van die ANC het beheer oorgeneem van bates en organisasies van die polisie, die leër en intelligensiedienste tot die kantoor van die openbare beskermer, direkteur van openbare vervolging, verkiesingskommissie, inkomstediens en die tesourie.
  • Hoewel daar interne ANC-teenkanting teen mnr. Zuma is, word dié opposisie dikwels gelei deur kommuniste, wat selfs groter skade aan die ekonomie kan aanrig – indien hulle mnr. Zuma sou verslaan – as wat mnr. Zuma en sy bondgenote reeds gedoen het.
  • Suid-Afrika se arbeidsmark-absorpsiekoers (wat meet watter gedeelte van mense van werkende ouderdom ’n werk het) is slegs 40%. Die ekonomiese groeikoers staan op onder 1% van BBP en die voorspelling is dat dit daar sal bly, maar moet tot meer as 5% van BBP styg en 20 jaar lank daar bly om die swart werkloosheidskoers te verminder na vlakke wat naastenby dié van wit mense is.
  • Protesoptrede styg skerp namate ekonomiese toestande versleg. Daar is nou byna tien gewelddadige teenregeringsbetogings elke dag. Onder druk begin die regering en mnr. Zuma beleggers en minderhede die skuld gee vir die ekonomiese ontbering wat deur die meerderheid van Suid-Afrikaners gely word.

In Suid-Afrika se guns is daar kompenserende magte in die media, die burgerlike samelewing, die howe, die politieke opposisie en die sakegemeenskap. Mnr. Zuma kan verslaan word deur ’n eenvoudige mosie van wantroue in die parlement of hy kan deur die uitvoerende komitee van die ANC herroep word of ANC-lede kan hom by die volgende leierskapskongres van die party uitstem.

Hy het egter maatreëls getref om sy magshouvas binne sowel as buite die ANC te versterk. ’n Ergstegeval-veronderstelling moet wees dat hy suksesvol sal wees in sy poging om aan mag vas te klou in die ANC sowel as die regering. Selfs indien hy verslaan word, kan ’n ewe slegte uitkoms wees dat die kommuniste in die party oorneem. In albei gevalle moet verwag word dat die staat daarop ingestel sal wees om meer outoritêr en populisties te word. Eiendomsregte sal afgetakel word. Beleggingsvlakke sal daal. Indien globale omstandighede dit toelaat, kan Suid-Afrika in ’n diepe resessie verval. Die geldeenheid kan baie waarde verloor en inflasie kan alle Suid-Afrikaners verarm.

Ons ontwikkel ook positiewe, opwaartse scenario’s vir die land wat volgens ons beskouing geloofwaardig is. Sulke beter scenario’s kan realiseer en sal Suid-Afrika na ’n punt kan neem waar dit teen die middel 2020’s ’n al meer stabiele en voorspoedige samelewing sal wees.

Volgens huidige tendense moet die basislyn-aanname egter wees dat politieke en ekonomiese omstandighede in die land steeds sal versleg. Slegs indien jy bereid is om van daardie basislyn af te werk sal jy in ’n posisie wees om suksesvol vir jou toekoms in Suid-Afrika te beplan.

Die voormalige Anglo American- uitvoerende beampte Bobby Godsell het onlangs die eertydse president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat, Jan Brand, aangehaal toe hy gesê het, “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen”. Deel van dié plig is om eerlik te wees oor die toestand waarin die land nou is.

  • Frans Cronje is ’n scenariobeplanner en HUB van die IRV. Hy het so pas ’n nuwe boek oor die toekoms van Suid-Afrika in Afrikaans gepubliseer met die titel ’n Tydsreisigersgids vir Suid-Afrika in 2030. Die boek beskryf wat oor die volgende dekade in Suid-Afrika sal gebeur. Clem Sunter beskryf die boek as “meesterlik”. Die boek is by Exclusive Books en alle goeie boekwinkels beskikbaar. Indien jy die scenario’s in die boek verstaan, sal niks in ’n toekomstige Suid-Afrika gebeur wat jou sal verras nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Avokado ·

Almal wil ryk word, maar niemand wil harder werk nie. Almal wil maer word, maar niemand wil minder eet nie. Almal wil slim wees, maar niemand wil geleer word nie. Almal wil eerlikheid he, maar niemand wil die waarheid hoor (of praat) nie.

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink alles sal reg kom as ons almal met onsself eerlik is oor wat ons plek in die samelewing is, en ten volle daaraan werk om ons posisie na die beste van ons vermoë te doen.
Ek gaan in my pos bly en my werk na die beste van my vermoë doen, ek gaan by ‘n buurtwag aansluit, en ek gaan plaaslike toeruste besienswaardighede geniet.
Ek kan nie meer of minder doen nie.

Gemsbok ·

Benewens bogenoemde het ek ook by die Orania Beweging angesluit. Deur geld in hul Groeifonds te belê (met ‘n stewige jaarlikse opbrengs) en skenkings aan hul Helpsaamfonds te maak (wat ook my inkomstebelasting verminder) help ek bou aan ‘n alternatief vir ons wat ons nie andersins sal hê nie, maar wat wel moontlik handig in die toekoms kan word.

apie ·

ek glo ons sien of hoor net van ‘n derde of minder van die korrupsie deur die regering. Die mag wat die polisie en weermag verleen aan Zuma is gevaarlik en dis maklik om die naarste scenarios in te dink soos armoede groei en onstabiliteit groter word. Praat met jou mense, veral jou kinders. Jy kan nie meer in die aand met n onklaar voertuig langs die pad gaan staan nie. Wees bedag in jou voertuig by verkeersligte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.