’n Vae bedrag vir die NGV, maar wat is die werklike koste?

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto: Pixabay/Pexels.com

Ná jare van syfers wat uit die duim gesuig is, ontwykende optrede en raaiskote deur mense in die regering en ander sektore van die samelewing, het die Afrikaanse Sondagblad Rapport onlangs berig dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, aangedui het dat die regering in die toekoms ’n bykomende R30 miljard per jaar gaan bestee aan die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV)-stelsel.

Die tesourie het onlangs skrikwekkende feite oor die stand van sake in die departement van gesondheid aan parlementslede verstrek. Sowat R600 miljoen wat vir voorbereiding vir die NGV bestem was, was teen die vierde kwartaal van verlede jaar nog nie bestee nie. Die eerste vraag wat beantwoord moet word, is hoe hulle beoog om ’n bykomende R30 miljard te bestee as hulle selfs nie eens ’n breukdeel van hierdie bedrag kan bestee nie.

Volgens Mkhize sal die geld bestee word aan voorgeboortesorg, chroniese medisyne en (vasgepende) tariewe vir dokters, wat verplig gaan word om ’n sekere aantal mense in ’n geografiese gebied te bedien. Ons het darem nou ’n vae idee van waaraan die geld bestee gaan word, al weet ons steeds nie hoe die toedeling gaan lyk nie en selfs of die jaarlikse R30 miljard korrek is en nie (ook) uit die duim gesuig is nie.

Die vraag is nou hoe en hoekom hierdie geld bestee gaan word, en leidrade hiervoor kan gekry word in wat Mkhize nié gesê het nie. Die regruk en bou van hospitale en die koop van nuwe toerusting is nie eens op die lys nie, of waarskynlik vir die minister nie belangrik genoeg om genoem te word nie. Om eerlik te wees, dit sal R30 miljard en nog baie meer kos om hierdie taak selfs net naastenby af te handel.

Die opleiding van dokters en verpleegkundiges – twee professies met ernstige personeeltekorte in Suid-Afrika – het ook nie Mkhize se lys gehaal nie. Die media berig ook dat die helfte van alle geregistreerde verpleegkundiges binne die volgende 15 jaar gaan aftree en dat daar nie naastenby genoeg jong verpleegkundiges is om hierdie groeiende gaping te vul nie. Die emigrasie van gesondheidswerkers na ontwikkelde lande as gevolg van die vraag na dienste vir ouerwordende bevolkings is nog ’n ernstige probleem wat al die afgelope twee dekades bestaan. Uitdagings – alles die gevolg van ’n toksiese mengsel van die regering se onbekwaamheid, burokrasie en swak beleid – met die akkreditering van gekwalifiseerde verpleegkundiges en om die privaat sektor toe te laat om personeel op te lei, is nog ’n oorsaak van hierdie tekort. Selfs die privaat sektor sukkel om vakatures te vul. ’n Mens kan dit ’n krisis noem.

In die lig van die genoemde en ongenoemde bestedingsprioriteite kan met veiligheid gesê word dat dit bloot die staat se bestaande bestedingsprioriteite weerspieël wat gesondheidsaangeleenthede betref. Daar is niks spesiaals nie. Dit is dienste en produkte wat gelewer moet word ongeag ’n plan om die NGV te implementeer. Wat tragies is, is hoe die huidige begrotings bestee en wanbestee word en dat hierdie dienste in talle gevalle klaaglik ontoereikend is om in die publiek se behoeftes te voorsien. As die huidige stand van openbare gesondheidsorg enigsins as ’n ernstige maatstaf kan dien, is ons baie ver van selfs naastenby iets wat soos universele gesondheidsorg van kwaliteit lyk.

Mkhize het ook genoem dat 30 bestuurders nou na die Verenigde Koninkryk, Japan, Frankryk en ander Europese lande gestuur word om te leer hoe universele gesondheidsorgstelsels werk. ’n Mens sou dink dit is lankal reeds gedoen, voordat die kabinet onlangs die NGV-wetsontwerp van 2018 goedgekeur het, wat ons blindelings gedompel het in iets waarvoor die land heeltemal onvoorbereid is.

En waarom nou hierdie lande, nadat die ANC sy ideologiese riglyne nog altyd uit Kuba, die Sowjetunie en, meer onlangs, Venezuela gekry het? Ryk Westerse lande – vir wie die ANC niks meer as minagting het nie – en Japan het nou blykbaar die toonbeeld geword waarop die NGV gemodelleer gaan word al verskil hierdie lande (en ook Kuba) se ekonomiese, demografiese en siekteprofiele heeltemal van dié van Suid-Afrika.

Mkhize, sy baas en hul party neem almal hul toevlug tot fantasie en wensdenkery by gebrek aan die wil om moeilike besluite te neem. Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel kan baie verbeter word deur dissipline by openbare instellings af te dwing, aanspreeklikheid te verhoog en die voet dwars te sit vir die militante sosialistiese vakbonde wat die stelsel en die publiek as bevoordeeldes daarvan ondermyn, en ook deur die privaat sektor in baie groter mate te betrek en te dereguleer. Dit is nie besonder moeilik nie, maar die ANC het klaarblyklik nie die morele eerlikheid of politieke wil om die besluite te neem wat saakmaak nie. Pleks daarvan kanaliseer hulle geld weg van ander bestedingsprioriteite of belas hulle ons tot die dood toe om hierdie hersenskim ’n werklikheid te maak.

Die NGV en die geld wat daaraan bestee word, is soos hoofpynpille (wat selfs lewensbedreigend kan wees) as die mees basiese en fundamentele kwessies nie reggestel word nie. Einde ten laaste is daar darem nou ’n newelagtige syfer aan die NGV geheg, maar die koste van versnelde emigrasie van gesondheidsberoepslui en belastingbetalers, verhoogde belasting, ’n genasionaliseerde privaat gesondheidsorgsektor en verdere regeringsonbevoegdheid moet nog bereken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
honourable member

Tragies om te dink n handjie vol van die tax betalers gaan weer die massas moet subsiseer vir gratis medies.

Liamari

Kan dokters regtig gedwing word om pasiente te behandel vir ‘n sekere fooi? Het elkeen tog nie die reg om self te besluit of hy eerder privaat wil praktiseer nie? Wat se die wet hieroor? Hoe kan hulle almal dwing om by die NVG by te dra? Daar moet seer sekerlik ‘n hele paar hofsake wees voor ek gedwing kan word om tot die staat se fonds by te dra? Dis dan mos nou nie meer ‘n demokrasie nie, ons is dan onder ‘n kommunistiese bestel as almal gedwing word om vir die staat te werk of aan die staat… Lees meer »

John

Nee mense, ons moet gee en gee, handevat, vredemakers en die minste wees, gee, gee en gee want die hele Afrika wag op die wonderwerk wat in SA bewerk is deur die ANC, onderskryf deur die NP-onderhandelaars en hul towenaar, M. Dinge (so ‘n mooi beskrywende woordjie) gaan beter gaan. 67 is die syfer… nulle moet nog net bykom, vir die oplos van alle probleme. Wag en sien… SA gaan die wèreld wys… die pad aandui… na die hoe en waar dinge (so mooi woord) behoorlik werk… Moet net nie in die tussentyd siek word nie… Hang solank ‘n sakkie… Lees meer »

Liamari

Kan medici regtig gedwing word om teen ‘n sekere tarief te werk en om oorlaai te word met die massas? Hoe beskerm die wet medici wat eerder privaat wil praktiseer? Hoe kan ons gedwing word om maandeliks by te dra tot die NGV? Dan is ons mos in ‘n kommunistiese bestel waar almal gedwing word om vir die staat te werk? EK weet van ‘n hele paar spesialiste wat aangedui het dat hulle glad nie meer sal werk nie. Hulle tree eerder af of emigreer. Dis ‘n ramp.

hercu

Die ANC het mag gekry en die regering het korrup geword! daar’s pasiënte wat op hospitaalvloere doodbloei terwyl verpleegsters ‘n tee breek vat!  SA het ‘n openbare padstelsel wat die beste in Afrika was, wat nou nie geskik is vir enige voertuig nie, en ons het voortdurend treine wat uitbrand; talle geboue, skole, universiteite en munisipale kantore word verbrand. Deur SA se kwota-stelsels het julle ons sport in die afgrond in; die regering is oorhandig met ‘n burgerlike lugvaartmaatskappy wat een van die oudste en beste was; ons het SABC, SAL, Denel, die Poskantoor, Eskom, SARS, Transnet, Iskor, alles funksioneel… Lees meer »