’n Venster van idees

thomas-sowell

Die ekonoom en denker Thomas Sowell verwys in sy boek ‘Intellectuals and Society’ krities na intellektueles wat hy as die “ideewerkers” beskryf. Foto: Tsowell.com

Deur Johan Nortjé

Die verweerde verkiesingsplakkaat naby Margate se hoofstrand moedig ons aan om vir die ANC te stem en as ons inkoop op die idee, sal ons lewens blykbaar ’n 180˚-omwenteling maak. Ingeval ons huiwerig is oor dié goeie nuus, pronk ’n foto van voormalige president Jacob Zuma met sy beste Colgate-glimlag en lyk soos iemand wat so pas gehoor het dat sy lening by die bank goedgekeur is. Die verkeerslig skakel oor na groen en die RunX kruip teen die helling op. Gelukkig loop alles nog reg. Nugter alleen weet hoe, met meer as 350 000 km op die klok en die paneelbord se liggies wat pleit vir een laaste diens.

“Hoe oud dink jy is daai plakkaat? Is daar nie een of ander wetgewing wat sê jy moet die bleddie goed afhaal na ’n verkiesing nie?” sê my vriend terwyl hy van rat verwissel.

Ek vermoed daar is. Hoewel die Ray Nkonyeni-munisipaliteit onlangs goue status vir bestuur verwerf het, is daar beweerde onreëlmatige uitgawes van R35 miljoen, tesame met verouderde infrastruktuur. Ek glo nie die munisipale bestuur en die Verkiesingskommissie is op mekaar se speed dial nie.

Aan die linkerkant van die pad loop die Nkhongwenirivier wat in Margate se see instroom. Dié naam beteken “plek van smeking”, glo omdat reisigers van ouds die inwoners moes smeek vir gasvryheid. Dinge het natuurlik verander, met paint by numbers-vakansiewoonstelle wat vir kilometers langs die kus staan en wie se eienaars nie omgee of jy van Boksburg of Bavaria af kom nie, solank jy net met rande betaal.

Ek skakel die radio aan. Die Spektrumspan van RSG 100-104 FM gesels oor die hoofnuus van die dag – ’n uitgelekte dokument van die Thabo Mbeki-stigting, waarin die oudpresident die ANC se projek van onteiening sonder vergoeding kritiseer.

“Jy weet die idee van onteiening sonder vergoeding is al vir ’n geruime tyd in wording, maar die regering moes eers mense gewoond maak aan die idee. Dis soos transformasie. ’n Paar jaar gelede was die woord nie eens deel van die publieke woordeskat nie, nou bied besighede al slypskole daaroor aan.”

Hy het ’n punt gehad. ’n Soektog van die woord “transformasie” in die Grondwet, lewer niks op nie.

“Jy praat eintlik van die balance of forces, doen jy nie?”

“Nee, eintlik praat ek van die Overton-venster.”

Die ekonoom en denker Thomas Sowell verwys in sy boek Intellectuals and Society krities na intellektueles wat hy as die “ideewerkers” beskryf. As hulle ’n idee formuleer oor hoe ’n samelewing veronderstel is om te lyk en die samelewing dan daarvolgens wil herrangskik, word hulle selde aanspreeklik gehou vir die onvoorsiene gevolge indien hierdie idee beleid of wetgewing word.

overton-se-model

Grafika: Verskaf.

Alhoewel Sowell ’n raamwerk geskets het van die wyse waarop intellektueles histories beleid en openbare mening probeer beïnvloed, was dit Joseph Overton se model wat die raamwerk ingekleur het. Dit was uiteindelik Overton wat ’n verduideliking aangebied het vir hoe idees vanaf die publieke diskoers tot wetgewing beweeg. Die mate waarin die publiek se mening oor die aanvaarbaarheid van sekere kwessies met die verloop van tyd kan verander, het Overton veral gefassineer.

Sy model, bekend as die Overton-venster, maak gebruik van die beginsel van die sogenaamde “venster van moontlikheid”. Hiervolgens kan sosiale kwessies of idees binne die “venster van moontlikheid” val en dan as polities aanvaarbaar beskou word vir implementering. Indien die kwessie buite die venster val, sal dit nie in die huidige stadium vir implementering as lewensvatbaar geag kan word nie. (Daar kan egter deur middel van beïnvloeding mettertyd ’n verskuiwing in mening kom, wat sal beteken dat ’n idee wat oorspronklik as ondenkbaar of verregaande geag is, wel later as aanvaarbaar beskou word.)

Overton se basiese model omskryf regeringsinmenging, maar kan ook van toepassing gemaak word op byvoorbeeld die plaaslike debat oor grondbesit. Hiervolgens is dit redelik om te argumenteer dat die saadjie van onteiening sonder vergoeding reeds lank vooraf deur subtiele uitsprake van regeringsamptenare geplant is. Daar kan aangevoer word dat dit gedoen is lank voordat die regering en sy ideewerkers die radikaler standpunt gemaak het dat die projek sal plaasvind deur die wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

Inderdaad, terwyl die publiek wat eiendomsbesit hoog ag, tans ywerig klou aan die hoop dat eiendomsregte beskerm sal word, het die ANC en ander radikale partye se amptelike meningvormers die standpunt oor grondbesit en grondhervorming in die afgelope aantal maande geleidelik, maar waarneembaar, verskuif. Die groter “aanvaarbaarheid” van regeringsinmenging is by heelwat Suid-Afrikaners gekweek: ’n klassieke voorbeeld van ’n suksesvolle proses om die Overton-venster van verregaande tot aanvaarbaar te skuif.

Dit is geensins toeval nie dat die regering hierdie verskuiwing verder kon vat deur die publiek sag te maak vir die “middeweg” en skynbaar meer gerusstellende idee van byvoorbeeld grondhervorming en onteiening van tans “onbenutte” landbougrond. So verval die oorspronklike konsensus dat enige vorm van onteiening eens op ’n tyd onregverdigbaar was. Aangesien die aanvaarbare konsensus nou verskuif is, sal dit mettertyd, behoed ons, beleid kan word.

Laastens herinner Joseph Lehman, ’n kollega van Overton, ons om in gedagte te hou dat die narratief nie soseer deur politici geskuif word nie, maar eerder deur die publiek, deurdat hulle besluit watter narratief vir hulle aanvaarbaar is. Voorts sal Suid-Afrikaners moet waak teen idees waarmee hulle gemanipuleer kan word.

Dit is laatskemer toe ons by die woonstel se parkeerplek intrek. My gedagtes dwaal terug na die openbare verhore oor onteiening en mense wat hul hoop op ’n valse belofte plaas. Die narratief het geskuif en is hier om te bly.

  • Johan Nortjé is ’n navorser by die AfriForum Navorsingsinstituut.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Charles ·

Dankie Johan!

Tipiese Marxistiese taktiek- skuif van doelpale- nl. tesis (gronddiefstal) – antitese (nee- dit kan darem nie gedoen word nie-maar die “skuldiges” moet BOET en herverdeling moet plaasvind om die kwansuise (self-veroorsaakte) ongelykheid uit die weg te ruim – SINTESE (wesenlike negativering en aantasting van privaat eiendomsreg en narratief oorheersing en breinspoeling van die massas deur aan te voer die wegkalwing van die beginsels vervat in Artikel 25 is ONVERMYDELIK, TOELAATBAAR EN WENSLIK)

Gelukkig is ons te wakker; en ken ons die toertjie, en sal ons dit hand-en-tand beveg deur standpunt IN TE NEEM en nie af te wyk daarvan nie!!

Eish ·

Die agbare staatspresident se paddapot kooksessie akademies verwoord…
Dankie vir n artikel wat inlig.
Dit is eenvoudig hartverskeurend om so slagpale toe gelei te word… jy weet goed wat gebeur daar en daar is weinig salf te smeer ten einde die situasie vry te spring…
Aktivisme in hoogste versnelling, al opsie oor vir ons minderheid!

John ·

In die 1970’s het ‘n hogere in die ANC aan ‘n joernalis gese sy mense gaan niks aan die witmense doen om beheer oor alles te verkry nie, hulle gaan net meer en meer word… en dit het werk. En steeds word hulle meer en meer en gebruik hierdie eenvoudige resep vir die bereiking van al hul doelwitte. Die plan werk soos ‘n bom… ‘n tuisgemaakte bom… Maar soos dit met alle eenvoudige resepte gaan, begin die voorraad ophoop. En as al die koekieblikke vol is met niemand om dit te koop nie, kom die muf en verval en die muise en die ashoop…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.