‘n Verkenning van Solidariteit se ekonomiese benadering

Vanuit die staanspoor word vakbonde normaalweg met intervensionisme en sosialisme verbind. Dít sou egter ‘n fout wees in die geval van die Vakbond Solidariteit.

Kyk maar na sy grondwet: Solidariteit “staan ‘n ekonomiese orde van vrye mededinging voor”. Met twee bykomende punte – die Christelike geloof en ‘n demokratiese bestel waarbinne minderheidsregte beskerm word – formuleer Solidariteit ‘n uitgangspunt wat van hom ‘n besonderse vakbond maak.

Wat kan dit beteken dat Solidariteit ‘n ekonomiese orde van vrye mededinging voorstaan? En hoe onderskei dit Solidariteit? Hiermee ʼn verkennende ontleding.

Omverwerping of rentmeesterskap

In die geskiedenis van die vakbondwese kan daar – ekonomies gesproke – breedweg onderskei word tussen die omverwerptradisie, oftewel die sosialistiese benadering met sy produksieklasseteorie, teenoor die rentmeesterskaptradisie, wat ʼn Christelike vertrekpunt neem. Dié twee tradisies verskil wesenlik.

Vanaf die 1800’s tot vandag, was die omverwerptradisie die heersende uitgangspunt. Ingevolge hierdie uitgangspunt is die mensdom in verskillende klasse verdeel afhangende van hul posisie in die produksieketting, soos ʼn werkersklas en ʼn eienaarsklas, en elke klas dink op sy eie, selfsugtige manier. Die eienaarsklas is daarop uit om die werkersklas uit te buit en in knegskap te hou. Die werksverhouding is dus een van voortdurende konflik en die knegte kan net wen as hulle die werkgewers omverwerp. Die uiteindelike ideaal in hierdie omverwerptradisie is dat ʼn sentrale regering, ná die verlangde omverwerping, voortaan die grootste deel van die onderlinge verhoudinge tussen mense en groepe moet reël. ʼn Mens kan dit vergelyk met die idee dat die ekonomie uit een groot maatskappy moet bestaan – een, groot sigbare hand met ʼn absolute monopolie oor alle produksiefaktore en dus produksie en verhandeling.

Te oordeel aan hoe hierdie vakbonde soms ondersteuning geniet benut hulle dalk ʼn gerieflike benadering om mense op te sweep, maar dis nietemin verkeerd. Niks is so nadelig vir ʼn werknemer as dat daar net één moontlike werkgewer in die hele wêreld is nie.

Alhoewel die Christelike vakbondtradisie ook ʼn belangrike rol in vakbondgeskiedenis vervul, het dit tot dusver merendeels in die skadu van die sosialistiese vakbondtradisie gestaan. In die lig hiervan is dit belangrik dat die vakbond Solidariteit duidelik aantoon dat sy ekonomiese beskouinge nie op dieselfde foutiewe vertrekpunte steun nie.

Die Christelike vakbondtradisie word gekenmerk deur die konsep van “rentmeesterskap.” Rentmeesterskap hou in dat mense verantwoordelik moet omgaan met hul talente, dit wil sê: met hul arbeid en eiendom op oordeelkundige wyse goeie dinge nastreef. Ingevolge hierdie benadering is mense nie vasgevang in onveranderlike klasse op grond van hul posisie in die produksieketting nie en word hul denkpatrone nie deur hul materiële stand regeer nie. Die behoorlike werk- en handelsverhouding is een van wedersydse voordeel.

Die Christelike vakbondtradisie erken rentmeesterskap as ʼn vereiste vir vervulling en vir ʼn voorspoedige en vreedsame samelewing – en dit geld vir werkgewers én werknemers.

‘n Ekonomiese orde van vrye mededinging

ʼn “Ekonomiese orde van vrye mededinging” is die verwesenliking van die rentmeesterskaptradisie in die handelswêreld. Die handelswêreld is daardie terrein in die samelewing waar mense hul eiendom en dienste aan mekaar aanbied – as’t ware ʼn mark – in ruil vir mekaar se eiendom en dienste, tot wedersydse voordeel. Die term kan beter verstaan word deur dit stuksgewys te benader.

Ekonomie verwys na die omvangryke verskynsel dat mense, asof op ʼn markplein, hul eiendom en dienste verruil vir ander mense se eiendom en dienste.

Die ekonomie is ʼn ruimte van diensbaarheid in ruil vir diensbaarheid. Die ekonomie is nie die enigste plek waar diensbaarheid plaasvind nie, maar wanneer dit as ʼn diensbaarheidsketting in ʼn handelsopset plaasvind, dan noem ʼn mens die verskynsel die ekonomie. In moderne ekonomieë kan hierdie diensbaarheidsketting ontsaglik kompleks en uitgerek raak, maar dit bly nietemin ʼn diensbaarheidsketting.

ʼn Ekonomiese orde verwys na die reëlmatighede van verhandeling tussen mense. Dit is ʼn orde gekenmerk deur verhandeling.

Die orde van verhandelingspatrone in ʼn moderne ekonomie is egter nie ʼn beplande orde soos die produksieprosesse binne maatskappye nie. ʼn Ekonomiese orde – “die mark” – het nie ʼn doel soos wat ʼn maatskappy ʼn doel het nie. Dit is die verskynsel dat derduisende mense – individueel en in groepsverband – selektief die handelswêreld betree op weg na die verwesenliking van hul verskillende oogmerke.

ʼn Ekonomiese orde is dus eerder die gevólg van doelwitte; dit is as’t ware die samekoms van die onderliggende doelwitte van deelnemers wat in hul onderlinge behoeftes probeer voorsien. Hierdie behoeftes is geensins beperk tot dit wat as eensaam of selfsugtig beskou kan word nie. Ook die uitlewing van deelsame behoeftes – soos aan ʼn skoner omgewing, lewenskragtiger gemeenskap en maatskaplike hulpverlening – inspireer ekonomiese gedrag.

Net omdat die ekonomie as verskynsel nie ʼn doel het nie, maar slegs manifesteer as die samekoms van onderliggende doelwitte, is dit egter nog nie wanordelik nie. Dit is eerder ʼn immerontwikkelende, sistematiese verskynsel wat so omvattend is dat geen mens dit vooraf kon beplan nie. Die ordelikheid van die ekonomie is daarom ook ten diepste daarvan afhanklik dat niemand dit probeer beheer soos wat ʼn mens ʼn maatskappy probeer bestuur nie. Sulke pogings ondermyn juis die ordelikheid.

Wat voorkom asof een onsigbare hand “die ekonomie” ordelik rig, is in werklikheid die gesamentlike werking van die ontelbaar veel werklike hande wat aanhoudend ekonomies handel. ʼn Ekonomie ontleen sy bestaan aan die onderlinge, doelgerigte handeling van mense.

Om van ʼn ekonomiese orde te praat, is die begrip “eienaarskap” onontbeerlik. Sonder eiendom kan daar nie ʼn ekonomiese orde – ʼn orde gekenmerk deur verhandeling – wees nie. Eienaarskap is ʼn boublok van rentmeesterskap. Dit is slegs wanneer mense rentmeesters van dinge is – en as hul eienaarskap deur ander gerespekteer word – dat hulle ook van daardie eiendom en dienste aan ander kan aanbied vir verhandeling.

Die begrip “eienaarskap” is daarom onontbeerlik vir die diensbaarheidsketting bekend as ʼn ekonomiese orde. Sonder eiendom is verhandeling nie moontlik nie en is die orde, oftewel die beskawingsvlak, wat ʼn samelewing kan bereik uiters beperk. Nie alles in die wêreld kan of is egter tot eiendom van spesifieke mense afgeperk nie. Hierdie dinge wat nie eiendom is nie, is nie deel van die verhandelingsruimte genaam die ekonomie nie.

ʼn Ekonomiese orde van vrye mededinging verwys na ʼn proses van vreedsame koördinasie rondom gedeelde doelwitte.

In die diensbaarheidsketting van die ekonomie gebeur dit voordurend dat sommige mense soortgelyke dinge wil doen of bekom: twee persone wil dieselfde ding verkoop, of twee persone wil dieselfde ding aankoop. Hoe word hierdie vraagstuk opgelos?

Onder vrye mededinging word konflikte vreedsaam opgelos. Dit beteken dat eienaars se beslisreg oor hul eiendom erken word, insluitende hul reg om dienste te lewer of te weerhou. Vir vrye mededinging is “ooreenkoms” dus onontbeerlik: alle partye wie se eiendom of dienste deel vorm van ʼn transaksie, moet ooreenkom om van hul eiendom afstand te doen (of om dienste te lewer) omdat hulle dit verkies om die ander partye se goedere en dienste in ruil daarvoor te ontvang.

As twee ondernemers albei ʼn sekere produk wil vervaardig, dan hang dit van die verbruiker af watter produk hy koop. As twee verbruikers weer dieselfde produk wil koop, dan hang dit weer van die verkoper af aan watter persoon hy dit wil verkoop. Vrye mededinging lei egter nooit tot ʼn perfekte toestand nie, maar dit is eerder ʼn altydverbeterende proses met die beperkte hulpbronne tot beskikking.

ʼn Vakbond soos Solidariteit is deel van ʼn vrye mededingingsproses ook wanneer die vakbond staak. ʼn Staking is niks anders as die weerhouding van ʼn persoon se arbeid nie – en ʼn legitieme staking is ook een wat die eiendom van die werkgewer respekteer. Net soos wat ondernemers nie hul produkte hoef te verkoop as hulle meen dat verbruikers nie genoeg betaal nie, net so hoef werknemers nie hul arbeid te lewer as hulle meen dat hulle nie genoeg daarvoor betaal word nie. Net soos wat werknemers hul arbeid onder hierdie omstandighede kan terughou, netso kan verbruikers hul geld terughou as hulle voel dat sekere produkte te veel kos. Net soos wat werknemers nie gedwing kan word om arbeid te verskaf as hulle nie ooreenkom dat hulle genoeg betaling ontvang nie, net so kan werkgewers nie gedwing word om betaling te verskaf as daar nie ʼn ooreenkoms met werknemers bereik kan word nie.

Dit is nietemin waar dat dit nie altyd duidelik is waar die grense van eiendom lê nie en dat nie alles wat waardevol kan wees maklik onderskei kan word as een of ander persoon se eiendom nie. Daarom is dit belangrik dat ʼn effektiewe regsprekende meganisme oor hierdie sake uitsluitsel kan gee. ʼn Regsprekende gesag wat ʼn ekonomiese orde van vrye mededinging ondersteun is een wat deeglike oorweging skenk aan die begrippe “eienaarskap” en “ooreenkoms.”

Die pryse wat verbruikers betaal verskaf die belangrike seine aan almal in die voorafgaande produksieproses oor wat verskillende verbruikers meer nuttig vind. Dit help mededingers om hul produkte te diversifiseer, te verbeter en hul pryse aan te pas, sodat verbruikers in die toekoms meer nuttige produkte en dienste teen bekostigbare pryse kan bekom, afhangende van hul verskillende behoeftes. Die voordeel van vrye mededinging is dat dit ʼn soort wedywering inhou waar daar nie net een wenner is nie. Elkeen van die partye tot ʼn ekonomiese ooreenkoms skat dit wat hy kry na meer waarde as dit wat hy prysgee.

In ʼn ekonomiese orde van vrye mededinging is daar altyd meerdere wenners, omdat niemand presies dieselfde behoefte as andere het nie.

Vrye mededinging of gewelddadige mededinging

In teenstelling met die Christelike rentmeesterskapsproses van vrye mededinging is daar in die sosialistiese omverwerptradisie ʼn voorkeur vir gewelddadige mededinging. In die omverwerptradisie moet die “knegte” die “meesters” onttroon deur eienaarskap te misken en ooreenkomste te ignoreer. Onder gewelddadige mededinging maak dit nie saak of albei partye tot ʼn transaksie die uitruiling wenslik vind nie – al wat saak maak is dat magtigste party sy sin kry.

In plaas van ʼn ekonomiese orde van vrye mededinging word ʼn bevelsorde van gewelddadige mededinging dus in plek gestel. Dit beteken dat mense nie meer rentmeesters oor hul eiendom kan wees nie en nie meer handel kan dryf deur ooreenkomste nie.

Die magtigste partye in die sosialistiese tradisie is uiteindelik diegene in beheer van die staat. Deur die miskenning van eienaarskap en ooreenkoms word die sosialistiese staat ʼn gewelddadige mededinger wat vrye mededingers koöpteer of uit die mark verdring. Onder gewelddadige mededinging word eiendom nie gerespekteer nie en ooreenkomste geringgeskat – ʼn vorm van diefstal.

Ook in skynbaar meer vrye mededingingstelsels kan gewelddadige mededinging voorkom. Soms bekom groot maatskappye ʼn monopolie oor sekere produkte – ‘n monopolie wat  dan deur die staat in stand gehou word teen vrye mededingers wat beter produkte en dienste probeer lewer.

Ten slotte

Solidariteit hou vas aan die rentmeesterskaptradisie. Dit beteken dat die vakbond ʼn ekonomiese orde van vrye mededinging voorstaan. Dit steun op die begrippe “eienaarskap” en “ooreenkoms.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Piet le Roux

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Louis du Plessis ·

Goeiemôre Piet ~
 
BESEF ONS HOE DIEP IS DIE DAM?
 
1  Jy skryf tereg “Sonder eiendom is verhandeling nie moontlik nie en is die orde, oftewel die beskawingsvlak, wat ʼn samelewing kan bereik uiters beperk.” en jy voer verder aan “ʼn Vakbond soos Solidariteit is deel van ʼn vrye mededingingsproses.”  Jy argumenteer by implikasie dat die ekonomiese benadering van Solidariteit sy kop uitsteek bo die water van eiendomsreg en die rentmeesterskaptradisie, waarin die beweging swem.
 
2  Jy bemark inderdaad ‘n diep westerse waarde van mededinging.  Besef ons altyd hóé diep is die waarde?  En wat gebeur met hulle wat op die wal bly staan?
 
3  As ons, in Matteus 25, kennis neem van Christus se gelykenis van die tien geldstukke waarvoor rentmeesterskap toevertrou word, begin ons in verwondering iets peil van die diepte van hierdie hierdie dam waarin jy subtiel suggereer ons moet induik en saam met Solidariteit ‘n goue medalje oor tien kilometer losswem.
 
Met agting

Paul ·

Dalk is ek net bietjie te stadig om die beeldspraak te snap, maar wat bedoel jy met die “diep dam”?

Louis du Plessis ·

Dag Paul ~
 
DIE UITDAGING VAN VRYE MEDEDINGING
 
1  Dankie vir ‘n betekenisvolle vraag.
 
2  Piet, meen ek, snap watter normatiewe dryfkrag daar opgesluit lê in Solidariteit se artikulering van vrye mededinging.  Dis soos om te swem in ‘n dam waarin jy nie kan staan nie.  Dis veeleisend.  Maar as jy kan vasbyt – tien kilometer swem – sal jy met ‘n goue medalje beloon word.  Soos Solidariteit se menige vleuels tans van krag tot krag gaan.
 
3  Wie is dit wat nie kán swem nie?  Dis diegene wat op die wal of in die water aan ander vashou en vasklou.  Diegene sonder ‘n sin vir indiwiduele verantwoordelikheid.  Diegene wat deurdrenk is met ‘n sosialistiese mentaliteit.  Soos die sowjetsamelewings gewys het voor hulle soos kaartehuise ineen gestort het.  Die Noord-Koreane is op pad soontoe.  Sulkes kan nie ekonomies swem nie; hulle verdrink.  Dis net die vasberade mededingers wat in ‘n diep dam kan oorleef.  Diepte sinspeel op die diepte van so ‘n uitdaging.
 
4  Christus het ook dié waarde in sy gelykenis van die tien geldstukke benadruk:  vir hom wat die rentmeesterskap ontwyk, is daar nie goeie nuus nie.  Hy word uitgewerp in die buitenste duisternis.  Dis amper nog erger as om te verdrink, want niemand sal ooit weer ‘n stukkie van hom opspoor nie.  Maar die mededinger wat woeker met sy talente, word ryklik beloon!
 
Beste groete

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.