ʼn Verwoestende fokus op die verlede

Deur Monica Mynhardt

Die afgelope tyd is drie aparte aankondigings van naamsveranderinge gemaak, almal ewe kommerwekkend.

Eerstens. Die lang omstrede naam van Grahamstad gaan na Makhanda verander. Tweedens. Die bekende William Nicolweg gaan verander word na Winnie Madikizela-Mandelaweg. Laastens. Alle koshuisname by die Universiteit van Pretoria wat as eksklusief bestempel is, is na meer sogenaamde inklusiewe name verander; Mopanie verander na byvoorbeeld Mopane.

Om die impak van hierdie naamsveranderinge volkome te verstaan, moet daar gekyk word na die geskiedenis, die aangevoerde redes vir veranderinge asook die werklike redes daarvoor.

Die werklike redes

Foto: Skermskoot/Google Maps

Eerstens. Die regering is in der waarheid besig om die geskiedenis waarvan hulle nie hou nie, weg te skryf. Hulle doen dit deur prominente “simbole” van apartheid en die voorafgaande onderdrukking, te verwyder. Dit alles in die naam van inklusiwiteit, versoening en vooruitstrewing. Ten spyte van hul woorde, is hul dade besig om die volle geskiedenis van hierdie land te dood.

Deur sekere gebeure, tydperke en figure net te verwyder, poog hulle om ʼn nuwe geskiedenis te skryf. Een waarin net die gebeure by wie se smart en gruwel hulle persoonlik kan baat of aanklank vind, blywend bly. Een waarin soveel van die ondenkbare laagtepunte en onmeetbare hoogtepunte en onvervangbare lesse bloot geïgnoreer word.

Dit is ʼn onbestrede feit dat ons geskiedenis vol onvergeefbare foute is. Die oplossing hiervoor is nie om dit te ignoreer nie, eerder om meer omsigtig met die geskiedenis om te gaan. Om soveel as moontlik te leer daaruit, ten einde ʼn beter toekoms as verlede te bou. Hierdie onverwyderbare dele in ons verlede gaan met geen hoeveelheid verandering of ontkenning verdwyn nie.

Hoewel die regering aanvoer dat hierdie veranderinge ʼn meer vreedsame en inklusiewe Suid-Afrika skep, is die resultaat eintlik die lynregte teendeel. In hierdie proses ontneem hulle Suid-Afrikaners die geleentheid om die omvattende, komplekse prentjie van ons geskiedenis te kan sien. Erger as dit, ontneem hulle ons van die geleentheid om die worstelinge van ander kulture te leer ken en verstaan, omdat daardie worstelinge bloot uit die geskiedenisboeke herbenoem word.

Foto: Skermskoot/Google Maps

 

Tweedens. Hierdie is meer ʼn onderliggende probleem as beweegrede. Dié probleem is dat die regering op geen vlak bevoeg is om ons land op so ʼn wyse te bestuur dat hy groei, genees of leer nie. Eerder as om werklik aan Suid-Afrika te bou en op ʼn uiters praktiese en sinvolle manier aandag aan ongeregtighede te probeer gee, is hulle nou besig met ʼn lugspieëling van versoening, inklusiwiteit en vooruitstrewing.

Hierdie illusie word onderhou met die doel om aandag af te trek van hul mislukkings en aandag te vestig op skynbare vooruitstrewing. Deur links en regs alles se name te verander, blyk dit te wees dat Suid-Afrika ʼn gunstiger en meer inklusiewe omgewing vir alle burgers is. Die teendeel is egter waar. Die regering se skreiende mislukkings verdoem komende geslagte tot armoede en desperaatheid, selfs al is dit in ʼn stad met ʼn nuwe naam.

Daar is absoluut niks verkeerd met die beginsel dat prominente figure gehuldig word deur prominente dinge na hulle te vernoem nie. Die probleem is egter dat die regering die land op só ʼn wyse bestuur ons stagneer en selfs agteruitboer. Daar is byna geen nuwe monumentale ontwikkelings waarop hierdie huldiging uitgeoefen kan word nie. Gevolglik: naamsverandering. Deur koshuisname se spelling basies te verander en dit te bestempel as groei, is verregaande.

Eerder as om die verlede te aanvaar, word dit geïgnoreer. Eerder as om die land te ontwikkel, herbenoem hulle alles. Eerder as om te fokus op die dringende behoefte aan infrastruktuur, herbenoem hulle bloot dit wat reeds bestaan. Eerder as om ʼn tekort aan bekostigbare studentebehuising aan te spreek deur nuwe koshuise te bou, is hulle besig om aandag van die werklike probleem af te trek deur naamsveranderinge.

Indien hierdie norm van skynverandering deur ontkenning van die geskiedenis voortgaan, sal ons verdoem wees tot ʼn aansienlike grouer toekoms as verlede. Dan gaan William Nicol, John Graham en Magrietjie ons uitlag en herinner dat dié wat nie die geskiedenis onthou nie, gedoem is om dit te herhaal.

Die geskiedenis en aangevoerde redes

Nathi Mthethwa. Foto: Facebook

Grahamstad is vernoem na kolonel John Graham, ʼn Britse offisier in Suid-Afrika vanaf 1806. As spesiale kommissaris vir militêre en burgerlike aangeleenthede, is hy opdrag gegee om die Xhosa-stamme vreedsaam oor die Visrivier te laat trek en hulle van Britse grond te verwyder. Hierdie “verwydering” het in die Vierde Grensooglog ontstaan. Graham het met dawerende sukses vir die Britte die oorlog beëindig nadat hy die Xhosa-hoofman Ndlambe en naastenby 20 000 van sy volk uit die Suurveld verdryf het. As gevolg hiervan is die stad na hom vernoem en sou hy tereg bekendstaan as een van die wreedste Britse offisiers in ons geskiedenis.

In sy amptelike mediaverklaring op 29 Junie 2018 het die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, Grahamstad se naamsverandering verduidelik. Hierin noem hy dat hierdie verandering reeds deur die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) voorgestel is. Hulle het gemeen dat sulke veranderinge ʼn vorm van simboliese reparasie is wat die ongeregtighede van die verlede help genees. Ook dat die regering slegs ten volle verbonde is aan hierdie regstelling indien hulle name soos Grahamstad verander. Dit aangesien Graham, soos die geskiedenis toon, duidelik as wrede koloniale simbool van Britse onderdrukking bestempel kan word.

Dr. William Nicol was onder meer ʼn NG predikant, teoloog, en Transvaalse goewerneur. Hy het ʼn groot rol gespeel in die ontwikkeling van die Afrikaner-identiteit deur te veg vir die erkenning van Afrikaans en vir die stigting van Afrikaansmediumskole. Deur opvoeding in eie taal, het dit bygedra daartoe dat die minderwaardigheidsgevoel van die Afrikaner-volk teenoor die Engelse stadskultuur getaan het. Hy was ʼn vreedsame, innoverende, inspirerende man wat daarna gestreef het om Afrikaners te help emansipeer van die negatiewe oorblyfsels van hul eie onderdrukking deur die Britte deur aan sy taal en kultuur te bou – nie ten koste van ʼn ander nie, maar te bou, nietemin. Sy lewe lank het hy teen Britse onderdrukking baklei.

Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer in Gauteng ondersoek een van die geskutte taxis in Koedoespoort, Pretoria. Meer as 50 minibustaxi’s is tydens Operasie Fiela geskut.

Op 1 Oktober 2018 verduidelik die Gautengse LUR vir vervoer, Ismail Vadi, in ʼn toespraak die rede vir die naamsverandering van, onder meer, William Nicolweg. Hy verduidelik dat die regering se rol in die bevordering van ʼn inklusiewe identiteit onontbeerlik is. Dit is húl verantwoordelikheid om burgers bewus te maak van die helde wat ʼn rol gespeel het in die bevryding van ons land van apartheid. As provinsie wat ʼn beduidende rol gespeel het in die apartheidstryd en baken van politiese en ekonomiese vryheid, moet Gauteng ook hierdie politiese geskiedenis weerspieël. Hy noem uitdruklik dat hierdie naamsveranderinge nie daarop uit is om die verlede te verwyder nie, maar eerder ʼn alom-inklusiewe identiteit aan te moedig.

Die oorgrote meerderheid van die koshuise aan die Universiteit van Pretoria (UP) is vernoem na neutrale dinge soos bome, blomme of berge. Dit is onder meer name soos Mopanie, Maroela, Olympus en Magrietjie. Hoewel hierdie woorde onbetwisbaar neutraal is, is al die ouer koshuise se name in Afrikaans weens die Afrikaanse wortels van die UP. Die nuwer koshuise aan die Universiteit het egter almal Engelse of inheemse name.

Ná etlike jare se beroep op hierdie naamsveranderinge, is dit amptelik einde September vanjaar deurgevoer. Dit is op alle koshuise afgedwing, maar moet uitsluitlik deur die koshuise self befonds word. ʼn Omslagtige proses van beraadslaging het plaasgevind. In hulle amptelike verklaring op hul webtuiste voer die UP aan dat die verandering deel uitmaak van die breër transformatiewe oogmerke van die universiteit wat daarop uit is om ʼn meer multi-kulturele en inklusiewe omgewing op kampus te skep. So is die koshuisname na, onder meer, die volgende verander: Mopanie na Mopane, Kollege na College en Magrietjie na House Mags.

Drie naamsveranderings wat uitsluit, uitvee en ontken, vermom as ʼn poging om in te sluit en te groei.

Monica Mynhardt is ʼn tweedejaar-regstudent aan die Universiteit van Pretoria (UP) en voormalige voorsitter van die UP-debatsvereniging.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Hendrik ·

Soos ‘n ou op twitter se dat William Nicolweg word nou Firestoneweg

christa ·

dit wys net hoe kleingeestig is die ANC. Plaas hulle geld gebruik vir armes en skoolopleiding, nou mors hulle geld op snert. Hulle is soos klein kindertjies wat n stokkielekker soek. Vir my bly die ou straat name van toepassing. Ek praat nogsteeds van Michael Brink straat, Schoeman straat of Jan Smuts lughawe

Afrikaanse Knaap ·

Ek dink die ou wat die plek bou kan die naam kies.

wolla ·

Gebeur in alle lande waar regerings verander, dis maar soos dit gaan.

Pieter ·

Baie dankie vir hierdie artikel. As die ANC maar so ‘n jong mens soos Monica in hul geledere gehad het, was daar sommer baie minder probleme in die land. Ongelukkig is dit nie vir die ANC beskore nie, hulle het nog te veel mense uit die struggle era wat as kaders in poste beloon moet word.

ZAR ·

Ek stem nie saam nie, dis juis die jeug van die ANC wat meer haat in hul harte het, haat wat hulle aangeleer is.

Eish ·

Uitstekende artikel met n uitekende invalshoek wat nie skroom om kwistig om te gaan met die waarheid nie!
Die beste artikel van die week!
Welgedaan en sterkte met jou studies!

lewies ·

Gaan kyk in die “HAT” wat die beskrywing van “mentaliteit” is, alles word dat glashelder.

ZAR ·

Ek is dankbaar vir ons Afrikaner jeug wat deur die verdraaide feite en volwaardige leuens sien. Die ouer garde het nog oogklappe op, maar die jeug se patriotisme vir hul volk is ‘n vars briesie.

Pieter ·

ZAR, lees weer wat ek beduie het, ek het gesê as die ANC maar so ‘n jong mens soos Monica in hul geledere gehad het …… (sy met haar kennis en ingesteldheid, dan het ons nie hierdie probleme gehad nie) ….. maar dit is jou goeie reg dat jy verskil. Ek weet nie of jy gesien het wie die artikel geskryf het nie.

Ek sal dit graag weer vir jou wil uit spel, maar ek weet nie hoe nie.

ZAR ·

Pieter, ek het bedoel ek stem nie saam dat daar nog te veel struggle ouens daar is wat met poste beloon word nie. Ek voel dis juis hul nuwe jeug wat meer haat in hul harte het wat nou die poste begin oor vat. Ek stem saam, hulle sou Suid-Afrika kon omdraai met mense wat soos Monica dink. Askies as ek dit nie goed verduidelik het nie.

Casper Labuschagne ·

Dit moet so wees. Ten minste, vir die kommuniste moet dit so wees. Die koloniale geskiedenis moet absoluut uitgewis word. Nadat die Suid-Vietnamese regering in 1975 geval het, het die kommuniste nie net name verander nie, hulle het hele voorstede gesloop en herbou om die Franse koloniale argitektuur asook om die uitleg van strate geskoei op die Europese model uit te wis. Ten minste was hulle effens eerliker as die Afrika lande wat al vir ‘n halwe eeu in die ou koloniale geboue asook infrastruktuur sit en gal braak oor kolonialisme.

Casper Labuschagne ·

Kognitiewe dissonansie vir wit setlaars: Wanneer jy van die plaas af dorp toe ry en nou skielik nie die dorp of die koöperasie kan vind nie, want die naam van die dorp en die naam van die koöperasie se straat is verander sedert jy laas week in die dorp was.

dejager ·

Strikdasname word dit in ons huis genoem.Iemand wat onder die ou bedeling ń stertriem was word nou onder die huidige bedeling ń strikdas.

Herman ·

ANC is uiters kleinlik en die mense word nie eers geraadpleeg oor straatveranderinge nie. Ek het 69swart staff wat aan my rapporteer en almal verwys nog na die OU name as hulle van Pretoria se strate praat. Ek hulle is babas van die tagtigs..

Gustaf Pienaar ·

Gebalanseerde artikel. Net ‘n klein regstelling: dr. Nicol was nie “goewerneur” van die provinsie Transvaal nie. Tot met die grondwetlike verandering van 1994 het die vier provinsies – Transvaal, die Kaap, Vrystaat en Natal – administriewe hoofde gehad wat, paslik, as “adminstrateurs” bekend gestaan het. Hul status was min of meer gelyk aan dié van ‘n kabinetminister, en hulle is – natuurlik – deur die regering aangestel.

Frans C ·

As ek kyk na die gemors waarin sommige strate en geboue verander,dink ek soms dit is ‘n goeie ding dat name verander word,want ek is seker geen selfrespekterende mens sal sy naam aan sulke gemors verbonde wil hê nie.

Daarom word 2de handse motors nou ‘previously owned’ en bestaan slegte skuld nie eintlik meer nie,want jy word nou’ debt impaired’.Nooit te oud om iets nuut te leer nie!

Hello ·

Wat werklik kommerwekkend is, is dat die Afrikaner organisasies uitgesluit is uit gesprekke oor verandering. Dit begin meer en meer lyk asof die ANC en sy bondgenote die oorhand gekry het en nou doodeenvoudig en eensydig voort stoomroller! Dit begin lyk of die weerstandsdade van Afrikanerorganisasies nou lei tot strafmaatreelsreaksies teen alles wat Afrikaans is!

Paul ·

Juis! en dis al meer hulle en ons, dit pas hulle en hulle het nie ‘n saak nie.

Andrew ·

Die huidige regime moet ook maar skaam kry dat hulle nog niks tot stand kon bring nie, verander dus die naam en almal dink dis nuut geskep.

jaco ·

Eks bly daar word darem ook beskuldigings van rassisme en onderdrukking voor die Britte gegooi. Gewoonlik moet net wit Afrikaners onder daardie beskuldigings ly. Net vreemd dat hulle nog almal so graag Engels, die taal van die groot wêreldwye onderdrukker, praat.
Wat betref Dr Nicol: as deel van die Christelik-Nasionale lewens–en wêreldbeskouing wat sy Broederbond en Nasionale Party op ons wit mense af gedwing het, is, onder andere, nonsens aan ons in skole en die 3 Afrikaanse susterkerke afgedwing dat apartheid die wil van God is. Die stem van die 3 susterkerke was ook duidelik te hore in godsdiensonderrig in skole.

JAN ·

Mooi arrikel
Graham se naam weglating kan versoenend wees tussen Xhosa grensoorlog en ABO. Ons het absoluut seker ń. gemeenskaplike vyand.
Die Zulu Koning respekteer dieselfde beginsel tov Dingaan.
Hmm?
Helse bedrog is om die Boere slagoffers van Engelse Roof en volksmoord NIE te onderskei nie sedert Britse kolonialisaie 1802 .
Daar is dawerende stilte oor grootste grondroof ooit .. ABO!
Die Ingelse Rowers en Boere is NIE lotsgebonde nie of regsgebonde nie.
Die Swartes verstaan die verskil baie goed. Die Boere en hul swart vriende het ń Helse prys betaal vir ons tuiste eiendom. Die ABO!

JAN ·

Naskrif.
Die verlede is leersaam maar nie meer deel van my kinders se toekoms nie. Ek het reeds vir my nageslag ń nuwe toekoms geskep. Eerw. JAKE White: let it go- walk on. Laat staan en gaan aan. Wanneer die nagwa oor jou ry kan jy maar net OPSTAAN en jou AFSKUD.
Putin het dieselfde met moeite reggekry. Rusland in state opgedeel. Christendom herstel. Skoonheids tegnologie met vroulikheid. En HUMOR!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.