’n Volk red homself

hh-armoede-luister

Argieffoto: Helpende Hand/Verskaf.

Die ekonomie en lewensomstandighede is sekerlik die grootste vraagstuk vir enige leier en tydsgewrig.

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa nóg ’n onbesielende staatsrede vol gemeenplase en niksseggende maatreëls vir swart armoede gelewer het, en die staat as oplossing vir werkloosheid en armoede voorgehou het, het ek begin nadink oor wat Afrikaners en hul politieke en sakeleiers in die 20ste eeu gesê en gedoen het.

Terwyl Ramaphosa sy bejammering en simpatie vir swart mense by elke geleentheid uitwys terwyl hul werklike omstandighede en toekoms toenemend bleek lyk, was daar ’n merkbare verskil in inhoud en inslag by die destydse Afrikaners en agtereenvolgende regerings. Die resultate is ook merkbaar verskillend.

Vir die grootste deel van die eerste helfte van die 20ste eeu was wit armoede ’n reuseprobleem en Afrikaners het weens verskeie terugslae, sosio-maatskaplike faktore en klimaatsfaktore soos droogtes disproporsioneel hieronder gely. Die sakesektor en staat is verreweg deur Engelssprekendes tot die 1950’s beheer al het Afrikaners in wese die land sedert 1924 regeer.

Kortom, Afrikaners het baie van dieselfde probleme wat swart mense vandag ervaar, behalwe dat Afrikaners nie oor naastenby soveel politieke mag beskik het nie.

Eerder as die futlose simpatie en staatsafhanklikheid wat deur ANC-leiers aan die land en veral die swart bevolking voorgehou word, het Afrikaner-leiers destyds ’n gans ander benadering gehad. Dit verras nie dat die reaksies hierop, en so ook die resultate, heeltemal uiteenlopend was. Die een was ‘n sukses en die ander een is (ten minste steeds) ’n mislukking.

Die historikus prof. Grietjie Verhoef skryf in 2016 as volg hieroor: “Die verandering in die ekonomiese lot van die Afrikanervolk in Suid-Afrika het van inspirerende en strategiese leierskap afgehang.”

Terselfdertyd, voer sy aan, het die gedagte ná die Anglo-Boereoorlog begin posvat dat dit die arm Afrikaners se verantwoordelikheid is om beheer van hul toestand te neem en sodoende hul selftrots, selfvertroue en onafhanklikheid te herstel.

In 1915 is De Nasionale Pers (Naspers) gestig om gehoor te gee aan Afrikanerstemme, en in 1918 is die versekeringsmaatskappye Santam en Sanlam gestig. In 1934 is Volkskas gestig. MS Louw, toenmalige algemene bestuurder van Sanlam, het in 1934 klem op ’n goed opgeleide werksmag en eie kapitaal gelê. WA Hofmeyr, voorsitter van Sanlam en stigterlid van De Nasionale Pers en ’n trotse nasionalis en Christen, het Sanlam as ’n “volkstaak” beskou. Volgens Louw moes Afrikaners self hul aandeel in die handel en nywerheid opeis omdat die regering dit nie vir hulle gaan doen nie.

In Desember 1938 het ds. JD Kestell voorspraak vir ’n aanhoudende reddingsdaad by Afrikaners gedoen. Hy het benadruk dat hulle saam moet werk en mekaar moet ondersteun om armoede te oorkom omdat enige bystand deur die staat by uitstek tydelik is.

Tydens die opening van die Ekonomiese Volkskongres in 1939, het hy aangevoer dat ’n volk homself moet red en dat hierdie reddingsdaad gedurig herhaal moet word. Daar moet ook ’n gesamentlike poging deur welgestelde en arm Afrikaners wees om alle vorme van afhanklikheid uit te wis en ekonomiese welvaart na te streef. Beleggings, harde werk, geloof, kapitalisme en ’n groeiende aptyt vir risiko is strykdeur beklemtoon. Anton Rupert is juis deur Kestell se boodskap geïnspireer om ’n sakeman te word en te help met hierdie opheffingsproses.

Teen 1950, toe die Tweede Ekonomiese Volkskongres gehou is, het Afrikaners se posisie en ingesteldheid al heelwat vordering getoon. Hulle het in verskeie sektore buite die landbou vastrapplek gekry en hul onderrig (veral in die handelsrigting en ingenieurswese) het merkbaar verbeter. Die probleem van wit armoede is teen die laat 1960’s as opgelos beskou.

In Johannesburg is die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) ook toe as teenvoeter vir die Engelse Universiteit van die Witwatersrand (Wits) geskep om Afrikaners aan die Rand beter met hul Engelse eweknieë in Johannesburg se korporatiewe sektor te laat meeding. Hierdie opheffingsproses is derhalwe deurgaans suksesvol deur middel van Afrikaans gedoen. Die Nasionale Party se bewind ná 1948 was bloot ’n fasiliteerder van wat reeds ekonomies aan die gang was onder Afrikaners.

Vandag is die werkloosheidsyfer nagenoeg 40% volgens die uitgebreide definisie en hoër as wat dit in 1994 was. Verreweg die meeste werkloses is swart en dit is ’n groeiende syfer. Beleggings droog op en sakevertroue is laag weens regeringsbeleide, swak produktiwiteit en duur arbeid. Toelaes het die permanente plek van behoorlike onderwys ingeneem.

Die probleem met die ANC en Ramaphosa se benadering is dat dit bevrediging sonder opoffering voorstaan en op staatsgerigte wensdenkery geskoei is. Werk en teenprestasies word nooit eens genoem nie. Kestell en ander Afrikaner-leiers s’n was onbeskaamd kapitalisties, maar met ’n sterk deernisvolle helpmekaar-komponent, Christelikheid (Protestants), gemeenskapsgeoriënteerdheid – inspirerend en gerig op almal se opoffering, ongeag lyding in die verlede.

Die Afrikaner se morele plig tot arbeidsaamheid en roeping het tot ekonomiese sukses gelei. Daar is nie kortpaaie nie en gunste (ofskoon welkom) is as toevallig beskou. Daarom is Kestell se woorde vandag nog waar: ’n Volk red homself.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael ·

Die anc het die minderheid wit tieners n guns gedoen met sy diskriminerende wette oor werk aansoek en indiemsneming want nou begin die wit kinders met eie onderneming en is hulle beter af as om vir die spoorweg,poskantoor of polisie te werk

Johan Venter ·

En ‘n volk se heil lê nie in die parlement nie, veral nie as jy misken word en as slaansak vir ander se tekortkoming gebruik word nie . Konsentreer eerder waarop jy ‘n verskil kan maak.

Henk ·

Foutloos is ons beslis nie, en ook nie noodwendig die slimste nie, maar ek is dankbaar daarvoor en trots daarop om myself Afrikaner te kan noem. Die deursettingsvermoë en ‘n-boer-maak-‘n-plan benadering en ingesteldheid selfs onder die ergste omstandighede, deur die genade en liefde van ons Heer alleen, is dinge wat my hart warm laat klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.