’n Voorbeeld van ware leierskap en vrede

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Die afgelope dae se nuus is oorheers deur die vredesonderhandelinge tussen die president van die VSA, mnr. Donald Trump en die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen.

Die bykans ondenkbare het gebeur en volgens mnr. Trump word ʼn era van vrede ingelui met hierdie betekenisvolle verdrag. Wat hierdie ontmoeting betref, is die weg gebaan vir algehele kernontwapening by die Noord-Koreane en het Kim Jong-oen homself klaarblyklik inderdaad daartoe verbind.

Die VSA het in geen onsekere terme aangedui wat hulle verwagting is nie. “Amerika sal met niks minder tevrede wees nie as algehele verifieerbare en onomkeerbare verwydering van kernwapens op die Koreaanse skiereiland.” Tipiese Big Brother-taal.

Tereg vra Beeld of dié twee dieselfde ding onder hierdie woorde verstaan? Wensdenkery.

ʼn Paar maande gelede het hulle mekaar Little Rocket Man en seniel genoem en mekaar met vernietiging gedreig en gespog oor wie se kernknoppie die grootste is.

Beeld berig dat Noord- en Suid-Korea vir die eerste keer in ʼn dekade regstreeks met mekaar praat. (15 Junie, p17) Dit hou verband met die eensydige onderneming van mnr. Trump dat die gesamentlike gevegsoefeninge met Suid-Korea gestaak word. (Sien berig).

Gert Grobler is in Rapport van Sondag 17 Junie ook positief oor die verwikkelinge en plaas dit in ruimer perspektief (in “Weekliks” p8). Hy noem dit ʼn wen vir diplomasie.

Mag so wees, maar vergun my asb. my voorbehoud.

Vredesooreenkomste soos hierdie is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.

Nie met leiers soos dié wat tans die wêreldtoneel oorheers nie. Talle ander vredesverdrae en ooreenkomste soos die in die Midde-Ooste was kortstondig en futiel.

Voordat sulke ooreenkomste kan slaag, sal daar weer ʼn studie gemaak moet word van die selflose en nederige aard van leierskap wat gevra word lank voordat onderhandelinge aangeknoop word.

Ons is wêreldwyd vasgevang in ʼn gevaarlike magspel tussen heethoofde. Deur die eeue was dit die manier waarop leiers en onderhandelaars met mekaar omgegaan het terwyl gewone, onskuldige burgerlikes waaronder bejaardes, vroue en kinders die spit afbyt.

Die enigste wenners is die ego’s van selfgesentreerde mense. Wat oorbly is ruïnes, as ons dink aan Sirië as een voorbeeld. Die stukkende geboue is ʼn metafoor van die honderdduisende lewens wat niks minder en meer as kanonvoer is in ʼn betekenislose stryd tussen magsbehepte leiersfigure nie. Oor die mense wat ly en die prys betaal, lê die leiers nie een nag wakker nie.

Ek is teen oorlog, teen geweld, teen skeefgetrekte nasionalisme, teen politieke toutrekkery, teen valsheid, teen anargie en teen selfsug.

Waar vind ʼn mens dan ʼn voorbeeld van leierskap wat eg, onopgesmuk en sonder persoonlike agendas is? Leierskap wat die belang van mense op die hart dra, alle mense, sonder vooroordeel, agterdog en venyn? Waar vind ʼn mens ʼn leier wat selfloos, opofferend en nederig is? Waar vind ʼn mens ʼn leier wat voor aan die strydmagte te midde van persoonlike veiligheid die witvlag van verdraagsaamheid en liefde hys?

Dis die leierskap van Jesus, die Seun van God, Koning van die Konings en Here van die leërskare. Fil. 2: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

Vers 7. “maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8. het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

Wanneer leiers soos dié twee wat tans die politieke toneel oorheers, die simbool van ware, opofferende en selflose optrede word, kom daar hoop. Ja, dis idealisties. Ons leef te midde van ʼn gebroke bestel, terwyl die een homself ontledig, bewapen die ander homself.

Dit mag so wees, maar moet dan nie jou hoop volledig bou op enige ooreenkomste wat deur mensehand onderteken is nie. Vrede, vrede, maar daar is geen vrede nie.

Wie is die vredemakers dan?

Die middelgrond wat begin opstaan en sê ons is lank genoeg misbruik vir persoonlike en ander gewin. Ons sal onsself dit nie langer laat aandoen nie.

Ons sal ons kinders nie langer aanbied as kanonvoer nie. Dis tot hier en nie verder nie.

Daar is so ʼn middelgrond in Suid Afrika. Mense wat steeds glo dat vrede moontlik is.

Hulle stem is net stil. Hulle het slawe geword van leuens wat aan hulle opgedring word.

Sal die ware leiers asseblief opstaan? Die tienduisende mense wat Suid Afrika aan die gang hou, wat soggens vroeg opstaan en saans laat van die werk af terugkeer, wat werk vir voedsekerheid, wat ons beveilig, wat kinders opvoed, wat Sondae die banke van kerkgeboue vul en tot God roep, wat duisend kilometers aflê om saam te bid.

Kom uit jul skuilings en sê wat gesê moet word. “Genoeg is genoeg”.

Die vraag is hoe vestig God sy vrederyk op aarde?

Dit is hier waar die uitdaging lê dat kinders van die Here, die kerk, sal opstaan en die vredesvlag sal laat wapper deur vooroordeel en agterdog, vrees en woede, die verlede deur egte berou en die toekoms deur hoopvolle interaksie en naasbestaan, hulpverlening en omgee inhoud te laat kry.

Vrede deur God se kinders wat op grondvlak ʼn Jesus-gesindheid demonstreer.  Idealisties? Miskien, maar dis meer werd as die papier waarop wêreldse vredesverdrae geskryf staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Dit is hoekom die kerk hom uit politieke uitsprake moet hou en die Woord verkondig. Met dominees op die verkeeerde verhoog begin die nate van hul toga’s lostorring. Kyk waar trek die nonsjalante DA-leier nou al. Ons is steeds op die aarde, dominee, en iewers moet aardlinge, nie dominees nie, werk, eet en bly. Lieg en bedrieg is deel van die vieslike speletjie. Daar is geen middelgrond nie net in sprokies oor kabouters. Bly asb ver weg van die komende gronddebat… ver weg…

Sebastian ·

Jou geboortereg tot lewe, en jou geboortereg tot vervulling. Dit is die Skeppergegewe grondliggende regte waarmee iedereen geseën is.

Die bose eien dit self die valse reg toe om een of albei van hierdie regte te skend tot die voordeel dit self. In praktyk neem hierdie skendings die vorm aan van moord en diefstal, of meer breedvoerig gestel, die vorm van die sondes beskryf deur die Tien Gebooie.

Die bose probeer die Jesus-gevolg in hierdie verband kaap deur imposante misleidings van allerlei aard, oa ikoniese aanbidding en klem op sinnelose rituele.

Eer die Skepper van als bo alles, en gun jou medemense hul Godgegewe regte, en jy is op die regte pad.

V ·

Dankie Ds Pelzer vir die skrywe. Ek wil egter die volgende noem. Ek beskou my self as ‘n vredemaker soos Jesus in die bergpredikking sê. ‘n Mens moet ook onthou: vrede kom wanneer twee partye na die tafel kom en saamstem oor ‘n wedersydse (respek vir mekaar se belange) toekoms plan. ‘n Probleem kan nie opgelos word as een party nie erken word in die vredemaak proses nie. Ons word beveel om te vergewe deur Jesus. Maar as niemand om vergifnis vra, en ons nie erken word as ons om vergifnis kom vra nie, hoe kan die vredesproses vleis kry? Die regering sluit groepe uit, wanneer die kom by ‘n inklusiewe toekoms plan. Hoe vorentoe?

Ek voel persoonlik kan ek nie verder jammer sê vir dinge waaraan ek geen aandeel aan gehad het nie. Appartheid en die Huidige grond debat is ‘n weerligafleier vir die regerende elite se tekortkominge. Trouens ek dink hulle soek nie ‘n opbouende gesprek oor vrede nie, dis slegs ‘n rookskerm om hulle vrees vir ‘n neerlaag in die opkomende verkiesing te verbloem. ‘n Mens hoop nie die leunspul ontplof in hulle gesig nie?

Jerry ·

Ek stem saam met die skrywer dat elkeen van ons n leier in eie reg is en daarom doen ons elke dag wat eerstens in belang van ons geliefdes is en tot eer en verheerliking van ons Skepper. Volg Jesus se wee en goedheid volg jou en dit help jou om sin van alles te maak en om sodoende verstandig op te tree en te vlug wanneer daar gevlug moet word of om te bly wanneer daar gebly moet word. Jy herken die wortel van die kwaad as die ongehoorsaamheid van jou volk teenoor die wette en opdrag van jou God en jy bely en vat jou straf soos n man en jy verkoop jou grond en al jou besittings en jy versprei jouself na die uithoeke van die wereld. As jy nie Jesus se wee volg nie is dit onmoontlik om verstandig te kan optree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.