‘n Waarde-basis vir die land

Die meeste politieke gebeure die afgelope paar weke kan ongelukkig terug-gevoer word na negatiewe waardes.

Al die uitsprake van ANC Jeugliga-leier, Julius Malema het ʼn negatiewe ondertoon. Dis retoriek van geweld en onverdraagsaamheid. Dit versterk die wanopvatting dat jy net sommer goed kan vat en dit dan probeer vergoeilik aan die hand van die een of ander historiese vergryp. Dit skep ʼn gees van gebrek aan verantwoordelikheid – dat jy in die proses van die sogenaamde regverdige einddoel intussen kan afbreek. So word ʼn kultuur van militantheid, disrespek en rasse-konflik uitgebou.

Malema gee voor om vir die armes te praat, maar intussen sit hyself heel warmpies daarin. En die Valke, die Ontvanger en die openbare Beskermer ondersoek bewerings dat hy geld maak uit politieke voetwerk en tenders of kommissie kry  sonder enige inherente bewys van vaardigheid of meriete. Weereens die beginsel dat jy ‘n reg het dat dinge jou toekom sonder dat jy sweet daarvoor ingesit het.

Sy rassistiese uitsprake en die van omroeper Darren Scott wys weereens net hoe maklik dit is om terug te val op ou stereotipes. Laat ek ʼn bietjie afwyk en gou weer terugverwys na my vorige artikel oor rassisme. Die jongste gebeure bewys net weereens die noodsaak dat alle burgers aktief moet werk aan die verdrywing van die rassisme-spook. Die jongste genetika-kennis bewys hoe klein die verskil tussen alle mense op aarde is – en daarmee saam die feit dat alle mense eintlik maar vanaf so 80 000 jaar gelede uit Afrika gekom het. Die punt is dat kleur of ras hoegenaamd geen relevansie het in ons almal se mensheid nie. Die verskille wat ons het in terme van kultuur en taal, het niks met kleur te doen nie. Tog sal iemand soos Darren waaragtig nog gaan rassistiese skelwoorde kwytraak.

Leon Wessels het eenkeer gesê hy is nie dapper genoeg om daarop aanspraak te maak dat hy nie ʼn rassis is nie. Ons is almal gekneus deur apartheid. Diep in elke Suid-Afrikaanse burger sit daar ʼn stukkie bagasie van die verlede. Dit is ʼn daaglikse stryd om daardie onding in jou te beveg, net soos die kwaad, dat dit nie na die oppervlakte borrel nie. In Scott se geval het die drank sy skanse vermurwe. Rassisme is in wese die uitdrukking van negatiewe waardes – soos disrespek van jou medemens, ontkenning van die gelykheid van die mensheid en om jouself verhewe bo ander te ag.

Ons het ʼn wonderlike skikking in ‘94 gehad. Wêreldwyd word dit vandag nog gesien as ʼn besonderse oorgang. Kyk wat gebeur nou in Libië, steeds  in Irak, die geweld in Afghanistan, Jemen, Sirië, Palestina, Israel, Noord-Ierland… die drama wat daar was en steeds is in Tunisië en Egipte. Ons is die meeste van daardie geweld en bloedvergieting gespaar.

ʼn Groot verantwoordelikheid rus op ons almal om die politieke sukses om te skakel in ekonomiese sukses. En weereens lê die grootste verantwoordelikheid weer veral by die blanke Afrikaanssprekende – die mense wat noodwendig groot voordeel getrek het uit apartheid. Dis mense wat goeie onderwys gekry het, vaardighede ontwikkel het en hulself in die produktiewe ekonomie gevestig het. Dis nie ʼn verwyt en toesnouing soos Malema sou doen nie – dis eenvoudig maar net die waarheid.

Wat eintlik moes gebeur het in ‘94 was dat ons met ʼn program moes begin het om almal te verenig – gebou op beginsels. In effek waardes. Dis die soort goed waaroor elke Sondag in die kerk gepreek word – om ons op die nou pad te hou. Maar waaroor gaan die boodskappe vanaf die preekstoel? Dit gaan tog om waardes – die innerlike kompas in elke mens om in goeie oordeel self te besluit wat is reg of verkeerd en dan daarvolgens te leef. Net so kan dit vir die samelewing geld, vir ʼn land.

Prof. Robert Putnam

Niemand leef in isolasie nie, ons leef saam, vir mekaar en met mekaar. Nasies wat suksesvol is, het basiese waardes en etiek. Prof. Robert Putnum van Harvard praat van die krag van die burgerlike gemeenskap. Die veranderde tegnologiese wêreld het ironies ʼn era van persoonlike sosiale diskonneksie gebring terwyl mense elektronies wêreldwyd verbind. Waar die burgerlike samelewing wel sterk en betrokke is by mekaar is, is demokrasie sterker en die ekonomie beter. Dit is sosiale kapitaal – die netwerke van individue wat sosiale netwerke word – mense wat mekaar ondersteun en vertrou. Dis die uitbouing van die maatskaplike vesel van die samelewing.

Ons grondwet is besonders. Dit waarborg die regte van elkeen en gee elke individu wye magte. Een enkele persoon kan ʼn besluit van die regering uitdaag as ongrondwetlik en wen. En dit het al verskeie kere gebeur. Daar is ook ander vorme van druk soos betogings, maar veral Afrikaanse mense raak nie daarby betrokke nie. Dit begin effens verander met die optrede van Solidariteit en Afriforum. En al verpes die regering sulke organisasies, is dit jou reg as burger om op te staan – solank jy binne die wet bly.

Die grondwet lê waardes neer waarop ons almal kan aanspraak maak en op kan trots wees – soos regverdigheid, respek, menswaardigheid, meelewing met ander, gelykheid, vryheid van spraak, beweging, assosiasie, geloof, oortuiging, oriëntasie ensovoorts. Dit is die dinge wat die onderbou is van die sosiale kapitaal wat ons nodig het om die harde kapitaal beter te laat werk vir almal.

Dis veral ʼn uitdaging om die sosiale kapitaal te bou in ʼn diverse samelewing. Putnum praat van “bridging and bonding”. Hoe die ingesteldheid juis in sulke samelewings noodsaaklik is om brûe na mekaar te bou en nader aan mekaar te kom as mense. Natuurlik is dit moeilik. Prof Dan Bar-On van die Ben Gurion-universiteit in Israel, wat bemiddeling tussen die nageslagte van die perpetreerders en slagoffers van Nazi-konsentrasiekampe probeer doen het, het gesê dat ʼn mens minstens begrip moet probeer vestig, al blyk versoening onbereikbaar te wees. Dit help as die oorspronklike rede vir konflik verwyder is en as daar nie verskille bestaan in terme van klas, ras, kultuur, rykdom en geletterheid nie. En dis juis die dinge wat almal hier teenwoordig is.

Die oplossing is dus om gesamentlik bande te bou gegrond op waardes. Die instansie Heartstart met Adriaan Groenewald aan die spits, het pas ʼn ondersoek oor waardes in die land afgehandel. Die negatiewe uitkoms is nogal skokkend. Dit word genoem die vlak van entropie – negatiewe waardes. Dis die negatiewe dinge wat mense glo algemeen vaardig is in die samelewing. En die peiling toon die vlak daarvan is 62%. Dis baie hoog. Dit dui op ʼn samelewing wat uitmekaar kan spat – wat selfs tot burger-oorlog en die val van die regering kan lei. En dis die hoogste onder wittes – 71%.

Dit verteenwoordig negatiewe waardes soos:

  • Korrupsie
  • Misdaad/geweld
  • Blamering van ander
  • Vermorsing van bronne
  • Werkloosheid
  • Armoede
  • Konflik/aggressie
  • Onsekerheid
  • Burokrasie

Maar die baie positiewe en werklik goeie vooruitsig in die studie is dat mense van alle kleure en kulture basies aan dieselfde waardes glo. Dit is positiewe waardes:

  • Verantwoordbaarheid
  • Eerlikheid
  • Respek
  • Omgee
  • Verantwoordelikheid
  • Integriteit
  • Regverdigheid

Dis interessant dat die vyf kern-waardes wat deur die Institute for Global Ethics ge-identifiseer is as die gemene belangrikste waardes internasionaal almal ook verskyn in die waarde-lys wat Suid-Afrikaners spontaan genoem het (hoewel in ander volgordes).

Die kern-waardes is:

  • Compassion/caring/medemenslikheid
  • Respek
  • Regverdigheid
  • Eerlikheid/betroubaarheid, vertroue
  • Verantwoordelikheid
  • Ander aansluitende waardes is:
  • Geduld
  • Verdraagsaamheid
  • Leergierigheid
  • Hulpvaardigheid
  • Orde, vrede, stabiliteit

Hierdie kern-waardes skep ʼn besonderse platform as kompas in die samelewing. Dis nie net mooi praatjies nie. Dit is waardes wat ten grondslag lê van sosiale kapitaal. Dit wesenlike boustene vir ekonomiese sukses. Dis vanselfsprekend moeilik om ʼn sinvolle ekonomie te bou as korrupsie en oneerlikheid hoogty vier. Dit verryk enkeles en verarm die meerderheid. Dit skrik beleggers af, want dit maak hul beleggings duurder en die winste kleiner.

Al die positiewe waardes is op ʼn manier vervat in ons grondwet. Maar dit is nie so blatant uitgespel nie.

Dis nou tyd dat ons as Suid-Afrikaners ʼn sosiale kontrak met mekaar opstel gebou op die kernwaardes hierbo uitgespel. Daar was vroeër ʼn poging om deur die adjunk-president se kantoor en die “moral re-generation” inisiatief iets van so ʼn kontrak te vestig. Weinig het daarvan gekom en die handves wat opgestel is, is nie wyd bekend gemaak nie. Daar was geen openbare projek om dit te versprei en mense te motiveer nie.

Hopelik sal Trevor Manuel se Nasionale Beplanningskommissie weer aandag aan so ʼn inisiatief gee. Maar dan moet dit eenvoudig en basies wees en dit moet sterk bemark word dwarsoor die land. Daarmee kan ieder en ʼn elk help deur byvoorbeeld as gesin saam ʼn waardekontrak vir die huis op te stel. So ook in elke werkplek en instansie.

Mense maak die verskil om ʼn land suksesvol te maak.  Japan se bevolking is so drie maal meer as Suid-Afrika s’n. Hulle bly op sowat ʼn kwart van die grootte van Suid-Afrika. Hulle het geen natuurlike bronne nie. Tog is hulle ekonomie sowat 15 keer groter as ons s’n.

Hoe bitter en moeilik dit ook al mag klink: die huidige geslag volwassenes is die mense wat die offers sal moet bring sodat hierdie land ʼn sukses vir ons kinders kan wees. So was dit met Duitsland na die Tweede Wêreld-oorlog en met Japan.

Die moeilike taak lê nou voor vir elke volwassene om te help bou en mekaar werklik as burgers te aanvaar. Elkeen kan ʼn verskil maak.

Springbok-afrigter Pieter de Villiers het eenkeer gesê ons gaan haal goud so diep, maar die goud in mense lê so vlak. Dit kos maar net ʼn bietjie tyd en toewyding om by daardie goud in elkeen uit te kom.

ʼn Amerikaanse regskenner en filosoof Oliver Wendell Holmes het gesê: “What lies behind or in front are tiny matters compared to what lies within us.”

Dit sal ʼn lang en moeilike stryd wees om werklik vrede en voorspoed in die land te vestig op grond van ʼn waarde-kontrak. Maar dis dringend nodig om te begin. Al bereik ons saam of elkeen as individu nie noodwendig wat jy wil nie, die proses is belangrik. Daardie proses is die lewe. Dis sinvol om dit die moeite werd te maak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Freek Robinson

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is TV- en radio-aanbieder en algemene uitsaaimediakundige. Hy tree gereeld op as fasiliteerder of konferensievoorsitter en is tans aanbieder van die Afrikaanse eNuus op kykNET.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Louis du Plessis ·

Freek ~
 
1  Jou strewe dat ons as Suid-Afrikaners ‘n grondslag van gedeelde waardes sal ontwikkel, is lofwaardig.  Ook dat, in verskeie opsigte, die Duitse en Japanese volke vir ons as ‘n model kan dien.  Jy dui ook tereg aan dat die huidige grondwet bepaalde navolgenswaardige waardes identifiseer.  Ek stem saam.
 
2  Die suggestie dat die kantoor van die adjunkpresident – ek onthou op ‘n stadium sou daardie inisiatief selfs in die kantoor van die president gevestig word – ‘n “morele herlewing” moet lei, en jou ander suggestie dat die Nasionale Beplanningskommissie “hopelik” daaraan kan aandag gee, het egter my wenkbroue laat lig.  Lede van die ANC-regering wat pleit vir “morele beginsels” klink vir my soos Josef Stalin wat in die 1930s in Moskou vertel het hoe die Kommunistiese Party van die Sowjetunie met die beleid van “demokratiese sentralisme” elke burger se demokratiese regte beskerm, of soos Adolf Hitler wat in 1939 in Nuremberg, op die vooraand van sy gebiedsuitbreidingsoorloë, in die een na die ander toespraak belowe het “Ons wil niks anders hê nie as vrede” (Wir wollen nichts anders as Frieden).  Nee wat, die ANC-regering is ‘n meester in skynheiligheid:  omtrent elke “inisiatief” waarin hulle morele frases gebruik, is ‘n rookskerm vir die mees ongelooflike korrupsie – met my en jou belastinggeld.  Freek, die swaartepunt van morele leierskap lê elders:  in jou eie gemoed en in my eie gemoed. 
 
3  Jou omskrywing van waardes as “die innerlike kompas in elke mens om in goeie oordeel self te besluit wat is reg of verkeerd en dan daarvolgens te leef” is treffend.  Pragtig!  Dis in die kol!  Dit plaas die klem waar dit hoort:  in die indiwiduele gewete.  Die waardes wat jy onderskei, asook talle ander wat ons kan identifiseer, soos hardwerkendheid en taalhandhawing, selfbewyssyn en doelgerigtheid en liefde, kan vir elke indiwidu, ook elke indiwiduele Afrikaner, rigtinggewend wees.

4  Dankie vir ‘n moeilike maar belangrike tema, naamlik:  Watter lewensbeginsels behoort ons te volg?

Anoniem ·

Geen regering kan ‘n waardestelsel skep of bou nie.

Die gedagte dat regerings dit wel kan doen, is baie nou verbonde aan die modernistiese sienswyse, en soos ons reeds weet is die grootste euwels wat die mensdom nog getref het, Fascisme, Kommunisme en Apartheid, almal produkte van die modernisme.

Waardestelsels is oor die eeue egter wel die produk van ‘n moeisame leerproses wat ‘n jong oningewyde beleef in die instellings wat ook sorg vir kultuuroordrag.  Dit is die huisgesin, die skool en die kerk.

Dat mense oor ‘n innerlike kompas beskik wat die onderskeid tussen reg en verkeerd kan aandui is gewoon onsin.  Die bewys: al die tronke wat vol is oor die aarde heen.  Waarom sal my kompas of gewete my anders aanspreek as wat die kompas van pres. Zuma hom aanspreek?

Met stukkende gesinne, lee kerke en disfunksionele skole kan die presidensie maar morele waardes op hul maag skryf.

Die nuwe Suid-Afrika misluk beslis nie weens ‘n gebrek aan entoesiasme van Freek Robinson nie.  Dalk kan hy die voorbeeld stel en die eerste Afrikaner wees wat sy huis ruil vir een in Kayalitsha.

Propatria ·

Freek

Jy mag moontlik dink dat wonderlike skikking bereik was met die oorgang, ek dink jy gaan dit baie moeilik vind om die families van die meer as 50 000 vermoorde blankes en die miljoen plus wat die land uit is te oortuig. Die waarde van enige skiking le nie in die dag van ondertekening nie maar in die tydperk daarna, en ons leef huidiglik in die tydperk daarna, en ek dink nie dit reflekteer enige wonderlikheid nie, nie vir die Boer, die blanke of selfs die swartman nie.

Twede sou n teorie om mars te gaan bewoon en suurstof daar te vervaardig seker ook goed geklink het, maar dit is nie haalbaar nie, wat ek oordra is dat die realiteit en die teoretiese oplossins geskei word van mekaar.

Jou skrywe wys wel waarhede uit, maar ontbreek die roete wat gevolg sou moet word.

In teenstelling moet mens kennis gebruik, kennis is ondervinding, of jou eie of iemand anders sin, andersins is jy bloot n slimjan.
As ons nou kennis gebruik sien ons die volgende;
Bestuur is aan al die voormalige tuislande gegee, dit het die gevolg gehad dat al die negatiewes soos jy dit uiteen gesit het daar geseevier het, en ook in die res van Afrika na die opgawe van koloniale bestuur.
Kennis wys dus dat daar so groot verskil tussen rasse bestaan dat hulle nie in harmonie kan saamleef nie.

Wat is die resep vir goeie buurmanskap?………..n goeie heining

Ons almal ken die geskiedenis van Afrika, en ek werwerp die gedagte om Afrikane te wil verwestelik, gun hulle hulle eie tradisies, soos Zuma wat gese het dat dit kultuur is vir iemand om n bees te bring as geskenk as jy met die Zoeloe koning kom praat, – en hy het reg.
Die probleem is dat uit ons westerse basis sulke gedrag veroordeel en dit wys weereens dat ons nie assimileerbaar is binne een bestuur nie.

Om te probeer verhoed dat pole vorm is soos die mars gedagte, ons moet eerder werk na die punt om wedersydse respek te toon en die polarisasie georganiseerd te doen. Wanneer die punt van polarisasie goed bereik is, moet die land opgedeel word sodat elke etniese groep hulself kan bestuur en goeie heinings tussen die groepe oprig, dan het ons vrede.

Op so manier word elkeen se waardesisteem gerespekteer

Blafwoef ·

Dankie, dis ‘n puik artikel en baie insiggewend.  Waardes begin in elke individuele huishouding en dit is ook waar dit tans die meeste faal. Prof Jonathan Jansen se repliek op die voorstel dat etiek in skole ingestel word, was dat kinders en jongmense elke dag waardes leer: deur te kyk hoe ons politieke en ander leiers optree. Dis die voorbeeld wat hulle volg!
Ek ervaar dat baie blankes hulle tradisionele waardes prysgegee het.  Daar kan baie oorsake wees: oorlewingsdrang, smag na sukses, wat die drywer is vir te min aandag gee aan kinders, die feit dat die vorige bewind en alles wat daarmee gepaard gegaan het nou in sy geheel verwerplik geword het ten spyte van positiewe dinge soos waardes wat bevorder is.  Die swartman se waardes mag dieselfde as ons s’n klink, maar word dikwels op ‘n heel ander manier uitgeleef. (Kulturele verskille) Ek is jammer om te sê, maar tensy die media my doelbewus probeer mislei, het die swart politici weinig positiewe waardes.

Die vestiging van waardes kan nie van bo af geskied nie.  Die regering kan moontlik geld bewillig vir waardebewusmakingsprojekte, maar sal eers geloofwaardig wees as hulle begin met die doelbewuste uitleef daarvan.  Beginnende by die inskerp van dissipline by hulle werksmag (lees vakbonde) en hulle jeug.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.