’n Wenspan in ’n verloorland

Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Deur Connie Mulder

Tagtig minute in Yokohama was die verskil tussen net nog ’n Springbokspan en wêreldkampioene. Met ’n skittersege oor die Engelse Rose het Siya Kolisi se troepe hul plek oopgespeel in die geskiedenisboeke, maar ook in ons harte.

Suid-Afrika is nog altyd ’n land waar sport ’n spesiale plek inneem.

Tog, as jy die reaksie van verskeie kommentators gevolg het, was die Springbokke veel eerder by Kodesa (Konvensie vir ‘n Demokratiese Suid-Afrika)  as by die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Hierdie een ligpunt in ’n uiters donker jaar word opgehemel tot ’n wesenlike politiese skuif in die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit spreek dalk meer van die desperate wanhoop waarin Suid-Afrika verval het, dat ons die kleinste bietjie positiwiteit vasgryp en wil vergroot tot dit ons ganse gemoed vul.

Kom ons wees eerlik met mekaar – niemand glo regtig dat hierdie enkele rugbywedstryd die menigte politieke, ekonomiese en sosiale probleme van Suid-Afrika gaan oplos nie. Ons weet hierdie is nié die politieke oplossing nie – ons weet dit was ’n rugbywedstryd.

Tog was dit ook meer. Dit was iets goeds en moois in ’n land tans vol lelik en sleg. Gun ons tog net om vir ’n week of twee dit te vier. Geniet dit – ons as land verdien goeie nuus.

Met amper 30%-werkloosheid, feitlik geen ekonomiese groei nie en misdaad wat totaal buite beheer is, is Suid-Afrika nie tans ’n wenland nie. Aan die ander kant is die Springbokke ongetwyfeld ’n wenspan – hulle het die beker om dit te bewys.

Juis in dié kontras lê die geheim. Almal soek meer uit die wedstryd deur te gaan kyk in watter opsigte die Springbokke soos Suid-Afrika is, terwyl die Springbokke se sukses juis lê in die areas waar hulle van Suid-Afrika verskil.

Eerder as om vooropgestelde teorieë oor Suid-Afrika te probeer bevestig met die wêreldbeker-wen, moet mens gaan kyk na die goed wat die Springbokke gedoen het wat Suid-Afrika nié doen nie, en dan daaruit leer en eerlik wees oor wat in Suid-Afrika moet verander.

Eenheid

Die eerste gebied waar die Springbokke en Suid-Afrika verskil, is die siening oor eenheid. Suid-Afrikaanse burgers word nou al vir twee dekades oor die kop geslaan met ’n oproep tot eenheid – maar ongelukkig gedwonge eenheid. Ons hoor permanent hoe ons almal Suid-Afrikaans en slégs Suid-Afrikaans mag wees. Hoe alle ander identiteite skadelik is en hoe enigiets wat moontlik eksklusief is, summier gestop moet word.

Hier het die Springbokke wesenlik van Suid-Afrika verskil. Alhoewel al die rugbyspelers Suid-Afrikaans is en vir die Suid-Afrikaanse publiek gespeel het, is daar meer as genoeg ruimte gegun vir almal om hulself te wees. Siya Kolisi, byvoorbeeld, is trots op die feit dat hy ’n Xhosa-man van Zwide in die Oos-Kaap is. Hy vier sy agtergrond en verstaan dat hy ’n verantwoordelikheid teenoor die breër Suid-Afrika het, maar ook ’n spesifieke verantwoordelikheid teenoor sy spesifieke kultuurgemeenskap.

Selfs die bomb squad wat slegs uit plaasvervangers bestaan, toon ’n basiese besef dat mense op meer as een vlak kan identifiseer, en dat onderlinge verskille eerder oorhoofse eenheid versterk as verswak.

Die Springbokke was nie bang om eerlik met mekaar se kultuur, taal en ander verskille te handel nie – om ruimte vir mekaar te skep, nie net op die rugbyveld nie. Wanneer hierdie ruimte aan verskillende mense en groepe gegun word, wanneer mense veilig voel in hul onderskeie identiteite – hetsy as Xhosa, Afrikaner of plaasvervanger – dan verskyn ’n natuurlike eenheid, eerder as ’n kunsmatige gedwonge eenheid. Hierdie natuurlike eenheid wen Wêreldbekers.

As jy na die EFF en Zuma-politici luister, is Suid-Afrika in swart en wit kampe verdeel wat daagliks woedend en selfs met haat teenoor mekaar staan. Dit is ook die prentjie wat jy kry as jy Twitter lees. By die Springbokke, daarenteen, kom swart en wit oor alle grense heen goed met mekaar oor die weg. Die oorweldigende goeie verhoudinge tussen gewone mense is ook die prentjie wat jy kry as jy na die gejuig ná die uitslag en die reaksie van die skares op die Springbokke se triomftog deur die land kyk.

Die les daaruit – ignoreer die skynwerklikheid wat die politici skep, die Springbokke is meer verteenwoordigend van rasseverhoudinge in Suid-Afrika as enige hoeveelheid Twitter-gesprekke.

Meriete alleen

Rassie Erasmus is amptelik kwytgeskeld van kwotas of teikens met die kies van sy Wêreldbekerspan. Dit slegs drie jaar ná Fikile Mbalula, toe minister van sport, Suid-Afrikaanse sportbeheerliggame verbied het om internasionale sportbyeenkomste aan te bied weens gebrekkige transformasie. In 2019 met die Wêreldbeker op die spel, het die regering se mal sosiale ingenieurswese-kwotas tydelik teruggestaan vir meriete alleen.

Die gevolge hiervan is verreikend – geen swart speler in die span kan ’n kwotaspeler genoem word nie, want daar was geen kwotastelsel nie. Dit maak dat geen speler, swart of wit, twyfel oor die bevoegdheid van homself en sy spanmaats nie.

Skielik, sonder die regering se sosiale ingenieurswese-kwotas, ontstaan ’n situasie waar almal as gelykes kan saamwerk aan ’n groter doel. Die gevolge spreek vanself.

Om Suid-Afrika in ’n wenland te omskep moet ons, soos die Springbokke, ons minder oor die spanfoto bekommer en meer oor die telbord. Dit beteken dat die regering minder moet inmeng en eintlik stilletjies in die agtergrond moet verdwyn terwyl gewone Suid-Afrikaanse burgers die land laat werk.

Werk met wat jy het

Net meer as twee jaar gelede (September 2017) het die Springbokke, met grotendeels dieselfde spelers, 57-0 teen Nieu-Seeland verloor. Ná hierdie laagtepunt is daar eerlike introspeksie gedoen en Rassie Erasmus het aan die stuur van sake kom staan.

Die enkele grootste les wat ons moet leer uit die Springbokke se merkwaardige opgang tot wêreldkampioene is eenvoudig: werk met die span wat jy het, nie met die een waaroor jy droom nie. Rassie was eerlik en het ’n spelpatroon uitgewerk vir die span wat hy het, nie vir die een wat hy wil hê nie.

Daar was nie skouspelagtige agterlynbewegings nie, ook nie lynbreek op lynbreek wat lei tot 60 m drieë nie. Veel eerder het Rassie besef hy het die beste voorspelers ter wêreld en ’n hele plan daarrondom uitgewerk. Met die monsterpak wat die voortou gevat het, is die Engelse met brutale elegansie vermorsel – en lig ons die wêreldbeker.

Die ANC doen presies die teenoorgestelde met Suid-Afrika as land. Die ANC hou hardnekkig vol om wette te maak vir ’n Suid-Afrika waarvan hulle ideologies droom eerder as realistiese wette vir die werklikhede van Suid-Afrika. So implementeer die regering ’n Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ten spyte van alle aanduidings dat dit totaal onwerkbaar is in Suid-Afrika. So word daar voortgestorm met onteiening sonder vergoeding. In ’n land met 29%-werkloosheid implementeer hulle ’n minimumloon, want hulle droom van ’n enorme vervaardigingsekonomie waar Marx se idees sin maak en werkers beskerm moet word. Realisties is ons eerder ’n land waar ons meer werkers kort, ongeag hul vergoeding.

Rassie Erasmus en die Springbokke se eerlike en opregte selfondersoek, gevolg deur werkbare planne en dan die uitvoering van daardie planne, teenoor die ANC se eerlikheidsarmoede, is die grootste enkele aanklag teen Suid-Afrika.

Ja, die wêreldbeker los nie die beurtkragprobleem op nie, dit laat nie die ekonomie groei nie en dit gaan nie Suid-Afrika omdraai nie. Tog is dit ’n geleentheid, ’n gulde geleentheid wat ons kan gebruik vir eerlike introspeksie en dán eers verandering.

As jy aanvoer dat die Springbokke se oorwinning ons moet oproep om net met meer ywer dieselfde foute te maak as die afgelope twee dekades, sal Suid-Afrika nooit ’n wenland word nie en as verloorland van sportgeleentheid tot sportgeleentheid strompel vir kunsmatige hoop.

Gebruik hierdie geleentheid om daardie positiewe energie om te skakel in ’n tasbare verskil. Gaan skep die werklikheid wat die Springbokke geleef het – een waar verskillende gemeenskappe as gelykes met mekaar saamwerk ten einde ’n groter doel te bereik. Slegs dán kan ons dalk 2027 se wêreldbeker vier as net nog ’n hoogtepunt in ’n dekade van hoogtepunte.

  • Connie Mulder is die hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

8 Kommentare

Hendrik ·

Ons is tans so besig om te oorleef dat daar regtig nie nog energie is om met onwillige mense te sukkel nie. Ek kan niks doen om Eskom, of Rand Water, Polisie ens. te verander nie. Ons sorg vir ons eie water, krag, veiligheid, kinders se tersiere opvoeding, betaal belastings, kyk na die finaal wedstryd van wereldbeker, gaan kerk toe en ons doen wat ons nog altyd gedoen het. Ons kan nie verantwoordelikheid neem vir wat buite ons invloedsfeer gebeur nie. Dit is elke persoon en gemeenskap se taak om die beste te doen. Wat kan ek doen? Ek kan verder kyk en sorg dat ek ‘n voorraad skoon water, elektrisiteit en ‘n inkomste alternatief het. Want dit is seker op die oomblik die drukkende kwessies wat almal moedeloos het. Mediese sorg vir die toekoms, veiligheid en wat gaan gebeur met die riool in die stede as die water D-dag aanbreek in Gauteng. Die feit dat die land onverantwoordelik bestuur word kan ek niks aandoen nie en so word ‘n stadige parallele staat gebou uit noodsaak.

'n Eerlike vraag ·

Maar aan wie betaal mens belasting in so parallele staat, sekerlik nie albei nie?

Posduif ·

@Hendrik: “en so word ‘n stadige parallele staat gebou uit noodsaak” – Interessante waarneming en konsep!!! Ek vermoed die gedagte daaraan vervul die regerende party en sy Lesufi’s met ‘n ongekende ongemaklikheid want hulle weet hoeveel helderder daardie Lig gaan skyn!!

Taxpayer ·

Dankie daar is geen ander opsie nie. Hierdie uikoms is geensins maklik nie veral as daar deurlopend misdrywe in alle vorms is wat stokke in die speke van die wiel steek nie. Maar ons moet dit kan nie anders nie. Ons hoop die beskikbare element om SA te laat werk groei en maak dit moontlik dat daar n wenspan sal wees.

Marthinus Willemse ·

Een van die ANC se onrealistiese wette is die kredietwet. Dit is nie geskryf vir `n land vol armoediges nie. (Die skrywers daarvan leef in weelde.) Indië het kredietwette wat die armes help. Jy kan mikrolenings van bv R100 kry teen minimale rentekoerse. Hier by ons, kan jy nie soveel leen nie, en word baie gedwing om na “loan sharks” te gaan, wat hemelhoë rente daarop vra. (En Cash Crusaders en Cash Converters het die pandjieswinkel-mark vernietig – ter wille van hoë winste.)

Die VN se verslag oor armoede [http://hdr.undp.org/en/2019-MPI] wys dat Indië tussen 2006 en 2016, sowat 271 miljoen mense uit armoede opgehef het. Volgens die verslag is 1,3 miljard mense in 101 lande “multidimensionally poor”.

Die verslag wys ook dat 10 lande, met `n gesamentlike bevolking van 2 miljard mense, betekenisvolle armoedeverligting aan hulle burgers gelewer het. Die 10 lande is Bangladesj, Indië, Kambodja, die DRK, Ethiopië, Haiti, Nigerië, Pakistan, Peru en Vietnam.

Elsie ·

Maar net weereens ñ bewys van wat met goeie leierskap bereik kan word! Daarsonder gaan alles ten gronde!

Anoniem ·

Mnr Connie kan jy groot asb dit in Eng vertaal en vir ander mediahuise stuur?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.