Na aanleiding van genl. Chris van Zyl se toespraak*

*Die Groot Debat het ‘n paar mense genooi om kommentaar te lewer oor die onlangse FAK-bespreking oor die Malema-haatspraaksaak.

Terwyl die FAK-gespreksaand grootliks oor die Malema-haatspraaksaak gehandel het en baie waardevolle en prikkelende vertellinge deur onder meer Willie Spies en adv. Roelof du Plessis SC gelewer is, het ‘n nie-regtelike perspektief die erns van die saak tuis gebring. Genl. Chris van Zyl het die prentjie en waarheid van die wyer konteks van die saak geskets sonder om doekies om te draai. Hy het verskeie uitdagings bespreek waarmee die boeregemeenskap, en hoofsaaklik Afrikaner-boere, in hedendaagse Suid-Afrika te kampe het.

Terwyl die hele saak as een groep (alle wit Afrikaners) teenoor ‘n ander groep (die hele swart meerderheid) in die media en deur die ander deelnemers uitgebeeld is, het Van Zyl ‘n nugtere en realistiese blik op die daaglikse lyding van plaasboere in die land gebied. Waar die hele saak grotendeels in ‘n polariserende politieke- en hofgeveg ontaard het, het hy geen doekies omgedraai nie oor die feit dat moorde hier ter sprake is. Meeste mense – wit én swart – vergeet dat Afrikaner-boere hul voedselvoorsieners is en dat plaasmoorde en ander regeringsvergrype vir hierdie mense ‘n werklikheid is. Wat dit selfs meer treffend gemaak het is dat hy ‘n chronologiese roete gevolg het deur sy gewone werksweek te bespreek.

In ‘n opregte en direkte styl wat so kenmerkend van die Afrikaner is, het Van Zyl sonder enige notas sy toespraak afgeskop deur te vertel van die onlangse moorde op drie onskuldige mense op hul hoewe in Walkerville in die Vaaldriehoek. Sonder om in te veel detail in te gaan, het hy die grusaamheid van die misdaad bklemtoon deur daarop te wys dat twee volwassenes en ‘n 13-jarige seun geskiet en ook met pangas doodgekap is. Hoewel dit onbekend is of Malema se strydliedjie regstreeks tot hierdie gebeurtenis bygedra het, was hierdie storie nietemin ‘n ontgogelende herinnering aan die dodelike gevare vir die lewens van mense op die platteland en veral plase. Terwyl Du Plessis melding gemaak het van die impak wat die gewraakte lied op jong misdadigers se persepsies kan hê, het Van Zyl dit geïllustreer met ‘n baie onlangse voorbeeld uit sy werkswerk.

Daarna het hy gewys op die onderhandelinge tussen homself en TLU eendersyds en die departement van waterwese andersyds oor die gehalte en koste van water. Hy sê hulle is besig om met die regering oor laer watertariewe te beding nadat die prys van water vir besproeiing met 159% in ‘n jaar gestyg het. Daarbenewens, sê hy, het die gehalte van die water vir landbou-doeleindes so agteruitgegaan dat dit tegnies nie as bruikbare water beskou kan word nie. Hierdie probleme bly egter nie beperk tot die boeregemeenskap nie, maar word die hele land se probleme omdat dit die prys en beskikbaarheid van voedsel in die gedrang bring.

Sy afsluiting was selfs meer treffend en hy het kundig van die portrette in die Fort Schanskop-lokaal van oudstryders tydens die Boere-oorloë gebruik gemaak om sy toespraak op ‘n belangrike noot af te sluit. Hy het gesê daardie stryders het in hul epogs belangrike opofferings vir ‘n groter doel gemaak deur met hul lewens en hulpbronne onder moeilike omstandighede ‘n toekoms vir hul volk te verseker. Hierdie saak is sy en ander kontemporêre Afrikaners se bydra tot die jeug van vandag se voortbestaan in Suid-Afrika. Misdaad, regstellende aksie en amptelike diskriminasie is ‘n werklikheid vir alle Afrikaners in 2011. Met hierdie saak is ‘n politieke sowel as geregtelike presedent geskep vir die hede en toekoms en Van Zyl se bydrae was daarom ‘n waardige bydrae sonder vernis om die moeilike en lewensgevaarlike omstandighede in die boeregemeenskap weer te gee. Sy woorde het oortuig dat dit ‘n geregverdigde geveg is vir ‘n gemeenskap onder druk asook vir die hele land, en dat ‘n afsydigheid oor hierdie toedrag van sake nie langer ‘n opsie is nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.