Ná koronavirus is dit Weste teen China

Foto: Pixabay

Die beste beskrywing vir die post-Covid-19-tydperk is sekerlik dat alles wat 10 jaar sou neem om plaas te vind, nou binne ’n jaar gaan gebeur. Dit impliseer dat politieke, ekonomiese en sosiale probleme wat wêreldwyd 10 jaar sou neem om stadig sy volle gang te gaan, nou reeds met ons is.

Die koronaviruspandemie het uitstekend die wêreld se tekortkominge uitgewys en in die proses ’n versnelling van sluimerende krisisse veroorsaak. Die skrif was reeds aan die muur, maar die koronavirus sal veroorsaak dat veranderinge reeds oor ’n jaar of wat sigbaar gaan wees.

Versnelde krisisse

Die grootste enkele resultaat van die koronavirus is dat ons ’n tydperk binnegaan wat as ’n stryd tussen die Weste (veral die VSA) en China gesien kan word. Hierdie stryd is een wat handel oor tegnologiese heerskappy en -hegemonie.

Daar is natuurlik ander belangrike implikasies van die Covid-19-uitbreking waarvan ons hier in Suid-Afrika ook moet kennis neem. Dit sluit in:

  • Die ontwikkeling van sterk weerstand teen versnelde, onwettige immigrasie. Terwyl armoede in die ontwikkelende wêreld amper onbeheerbare vlakke gaan bereik, gaan Europa en die VSA onwettige immigrasie daadwerklik teenstaan. In ’n post-Covid-19-wêreld gaan werk skaars wees en immigrante gaan toenemend teenstand van inheemse bevolkings ervaar.
  • Die borrel het gebars en die skyn van finansiële vooruitgang, gebou op skuld en afgeleide markte (derivatives), het wêreldmarkte geskud, veral deur lae pryse vir kommoditeite soos olie en minerale. Maatskappye moet meer mededingend word omdat daar minder verbruikers is wat geld kan spandeer. Tegnologies-toonaangewende maatskappye gaan gedy in hierdie omstandighede.
  • Die era van globalisme is verby. Groot maatskappye het met onnatuurlike produksieprosesse en -kettings enorme rykdom geskep. So is oop wêreldhandel gebruik om werkers in arm lande uit te buit en die eindproduk in die ryk lande te verkoop teen enorme winste. In die proses het die Weste met ’n skok agtergekom hulle is totaal afhanklik van China vir medisyne en mediese toerusting. Met die koronavirus het waardekettings daarby eenvoudig in duie gestort.
  • Blokvorming deur ekonomiese unies (soos die EU) skep onnatuurlike oop grense, waarin die sterker ekonomieë eenvoudig die kleintjies oorheers en verarm. Oop grense het skouspelagtig misluk weens die koronavirus-inperkings en realpolitiek (eie belange) laat terugkeer.
  • Die Westerse lande, wat baie van die arm (veral Afrika) lande aan die gang hou met ontwikkelingshulp, ten spyte van baie van dié lande se endemiese korrupsie, gaan minder spandeer op sulke bloedsuierlande. Dit lei dalk ’n era in waarin die Weste se kollektiewe skuldgevoel weens kolonialisme tot ’n einde gaan kom. Korrupte lande sal óf meer gesentraliseer word (byvoorbeeld Zimbabwe met meer magte vir die staat) óf meer gedesentraliseer word (byvoorbeeld Somalië) met lokale bendes/groepe wat gebiede beheer en bevolkings onderwerp. Suid-Afrika gaan nie hierdie tendens vryspring nie.
  • Die snelle ekonomiese ontwikkeling van lande met reusebevolkings – soos China, Indië, Indonesië en ander – het ’n astronomiese klimaatkrisis vir die wêreld geskep. Die Covid-19-pandemie het egter uitgewys dat stilstaande wêreldekonomieë (soos bepleit deur die sogenaamde Green New Deal [GND]) menserampe veroorsaak en nie ingestel kan word nie.

Die VSA-China-stryd is met ons

Dit bring ons by die belangrikste impak van die koronaviruspandemie: die komende stryd tussen die VSA (Weste) en China, wat reeds lank sluimer. Die Weste se ideologiese oorsekerheid en verswakte selftrots het gelei tot ’n stelsel van ongebalanseerde wêreldhandel. Dit is veral deur die Chinese uitgebuit, wat ’n verstommende groei getoon het, gebou op goedkoop vervaardigde Chinese produkte. Dit word beraam dat China steeds tans 35% van alle produkte in die wêreld vervaardig. Daarmee saam het die Weste se hegemonie in duie begin stort en die Chinese het toenemend leiding geneem om hierdie gaping te vul.

Die twee supermoondhede, Amerika en China, stuur vervolgens af op ’n stryd wat herinner aan die Koue Oorlog tussen Amerika en die Sowjetunie. Daar is totaal verskillende wêrelduitkyke en ideologieë, spanning in bilaterale verhoudinge en die uitspeel van die konflik in ander dele van die wêreld.

Anders as die VSA-Sowjetunie stryd, is die VSA-China-stryd egter nie ’n militêre konflik nie (met die opbou van kernwapens). Daar is wel sterk elemente van ’n handelsoorlog, hoewel dit nie die oorheersende kenmerk van die VSA-China stryd is nie. Donald Trump is die eerste moderne Westerse president wat die Chinese se uitbuiting van internasionale handel deur die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) bevraagteken ten koste van die Weste. Nietemin gaan die nuwe stryd eerder oor die dominering van die ontwikkeling van die nuwe (oftewel vierde) industriële rewolusie (4IR).

Dis gaan oor tegnologie

Foto: (Chinatopix via AP, File)

Die slagordes is reeds opgestel. Die koronavirus het uitgewys dat die VSA se waardeketting so ontoereikend is dat hy nie lewensnoodsaaklike mediese toerusting self kan vervaardig nie. Groot Amerikaanse maatskappye kon nie produkte bekom weens die sluiting van fabrieke in China in Februarie nie. Die Chinese is sedertdien in ’n propaganda-oorlog teen die VSA gewikkel om verantwoordelikheid te ontwyk vir hul aandeel in die verspreiding van die koronavirus. Terselfdertyd is daar ernstige teenstand aan die opbou in die Weste teen China weens die skade en dood veroorsaak deur die koronavirus. Verwag gerus aansprake op kompensasie van China en disinvestering van duisende miljarde dollar deur die Weste uit China.

Druk op Westerse maatskappye om uit China te onttrek, gaan geweldig toeneem. Hulle sal egter probeer om hul winsmarges te beskerm deur eenvoudig fabrieke te probeer skuif na Indië, Bangladesj, Viëtnam en die Filippyne. Die groei van populisme en nasionalisme gaan egter hierdie herorganisasie stuit en maatskappye dwing om eerder goedere in hul land van oorsprong te vervaardig deur die gebruik van tegnologie.

Die stryd tussen die VSA en China om die tegnologiese voorsprong te bereik, gaan wêreldpolitiek oorheers. China, weens die laaste dekade se verhoogde soldy aan fabriekswerkers, se rol in die vervaardiging van goedkoop produkte is in elk geval verby. Die vierde industriële rewolusie (4IR) gaan veroorsaak dat die stryd om mededingend te bly, deur verhoogde outomatisering moet

Europa is hier reeds voor die VSA, maar beide is agter China; wat met reuse-staatsondersteunde maatskappye reeds ’n voorsprong in 5G-tegnologie opgebou het. Ironies het die Westerse politieke korrektheid en ruggraatlose regerings veroorsaak dat China hierdie tegnologie op ’n skinkbord gekry het en daarop verbeter het.

SA is China se handperd

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: GCIS

Soos in die VSA-Sowjet-era, gaan die VSA-China-stryd ook in ander lande afspeel. China het reeds ’n totale houvas op Afrika, en tot ’n mindere of meerdere mate op die Midde-Ooste, Suid-Amerika en selfs Oos-Europa. Dus gaan Chinese se tegnologie hier domineer in ruil vir grondstowwe en olie. Die Weste (VSA) is dus reeds op die agtervoet. Indien ’n polities-korrekte VSA-president dalk boonop later vanjaar vir Trump onttroon as president, gaan die VSA net verder agter raak en die stryd teen die Chinese verloor.

Die VSA kan nie juis veel op Europa staatmaak in sy stryd teen China nie. Met ’n Europese Unie wat fragmentasie in die gesig staar, het net Duitsland die tegnologiese vermoëns om ’n beduidende rol te speel om China te opponeer. Maar dan sal die swak betrekkinge tussen die VSA en Duitsland eers herstel moet word.

Suid-Afrika is duidelik ideologies nou onder die invloedsfeer van China. Pres. Ramaphosa maak geen geheim daarvan dat China Suid-Afrika se vernaamste handelsvennoot en ideologiese bondgenoot is nie. Ramaphosa se rampspoedige gevry na Westerse investering het buitendien net in skuldafgraderings geëindig. Die Covid-19-virus het die ANC-regime se bande met China versterk, ook met die na-aping van streng Chinese inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika tydens die uitbreking van die Covid-19. Die Chinese sal egter moet bontstaan, want soos die Weste toenemend uit Suid-Afrika onttrek weens endemiese korrupsie en ’n anti-Westerse houding, sal die Chinese bereid moet wees om Suid-Afika ekonomies te onderhou. Natuurlik in ruil vir Chinese oorheersing oor grondstowwe. Verwag dus dat Suid-Afrika se pro-Chinese politiek binnekort tot ’n pro-sosialistiese en “kyk-Oos” buitelandse beleid gaan lei, à la Mugabe.

In die res van die wêreld moet Europa (veral die ou Oos-Europa) besluit of hul toekomstige tegnologiese stelsels deur die VSA of China geïnstalleer gaan word. Die Brics-lande (Brasilië, Rusland, Indië, China en SA), wat ’n aanvanklike poging was deur China en Rusland om die VSA se beheer oor die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) teen te staan, is ook erg verdeel, aangesien daar tans pro-VSA-regerings in beheer is in Indië en Brasilië. Rusland sal moet kies aan watter kant van die Koue Oorlog hy gaan staan.

Die Weste is tans agter

President Donald Trump. (Foto: Evan Vucci, AP)

Die Weste is reeds erg verdeel en ekonomies in ʼn slegte posisie alhoewel die Covid-19-pandemie begin wyk. Dit sal ’n uitsonderlike poging en ’n ernstige herorganisasie verg om hul ekonomieë weer op die been te kry. Die skade wat die koronavirus aangerig het, was egter niks in vergelyking met globalisme en links-liberalisme nie, wat duidelik die Weste op die agtervoet geplaas het.

Om eerlik te wees, is dit moeilik om te sien hoe die Weste hul trots kan herwin met ’n ideologiese herontwaking van entrepreneurskap en individuele vryhede. Pres. Trump, as hy herverkies word, sal beslis die Chinese die stryd aansê en Amerikaanse maatskappye dwing om daarby in te val, maar hy is ’n verdelende figuur wat geen goeie verhoudinge met sy Europese eweknieë het nie.

Soos die ruimtewedloop in die VSA-Sowjet-stryd wedywering aangedui het, is die wedloop om ’n inenting teen die koronavirus te ontwikkel, die eerste wedloop van die nuwe VSA-China-stryd.

Die eintlike prys is watter lande óf die VSA óf China se tegnologiese model en produkte gaan aanvaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kattebol ·

Mag Trump die verkiesing wen sodat Amerika se ekonomie tog net kan herstel. SA is ‘n verlore saak.

Therese ·

Skitterende stuk!
Die wyse waarop bekende biljoener-sakelui met die hulp van vragte Chinese maskers die beeld van China in hul onderskeie lande poets, wys dat die geldmagnate nie sómmer die status quo sal prysgee nie.
Globalisme was darem net té winsgewend om sommer so bes te gee.

Maria ·

‘Die vierde industriële rewolusie (4IR) gaan veroorsaak dat die stryd om mededingend te bly, deur verhoogde outomatisering moet….’ is hier dalk n woord wat nog kortkom?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.