Naamsverandering in Suid-Afrika

Die MT Steyn-standbeeld. Foto: Rian Horn/UVS

“Hierdie man was ’n verraaier. Daarom is sy kop afgekap,” verduidelik die gids. As ’n afvaardiging van Suid-Afrikaanse parlementslede besoek ons die Britse parlement. Ons staan voor ’n skildery wat in een van die gange van die parlementsgebou hang.

Ek is berekend moedswillig en vra die gids: “As hy dan ’n verraaier was, waarom is die skildery nie verwyder nie?”

Die gids kyk my verbaas aan en antwoord: “Because it’s part of our history”.

My vraag en die antwoord was eintlik vir die ANC-parlementslede bedoel. Al die skilderye van vorige speakers en staatsmanne in die Suid-Afrikaanse parlement is enkele maande voor hierdie besoek in opdrag van die ANC verwyder en na die parlement se kelder geneem.

Voor die Britse parlement is ’n groot standbeeld van Oliver Cromwell. Cromwell het Charles I, die Britse koning laat onthoof, ’n republiek uitgeroep en op ’n tydstip selfs die parlement ontbind. Nogtans staan sy standbeeld voor die parlement wat hy ontbind het. Reg oorkant sy standbeeld is ’n borsbeeld van Charles I, wat hy laat onthoof het. Albei daar “because it’s part of our history”.

Toe die Nasionale Party in 1948 aan die bewind kom, was daar sterk aandrang dat die skilderye van die Britse konings uit die parlement verwyder moet word asook Afrikaner-“volksvyande” soos Rhodes, Jameson en Jan Smuts. Gelukkig het politieke volwassenheid geseëvier. Die skilderye het bly hang tot hulle in 1994 saam met al die ander skilderye deur die ANC verwyder is.

Dieselfde debatte woed steeds in Suid-Afrika.

Is dit nie moontlik om, soos Brittanje, ’n balans tussen die verlede en die hede te kry nie?

Ná onafhanklikheid is Leopoldville en Salisbury in Afrika se name verander na Kinshasa en Harare. Die riglyn was dat die mense na wie dit vernoem is, geen verbintenis met Afrika het nie en terug is na hul oorspronklike lande in Europa.

Met dit as argument kon jy verwag dat plekname soos Durban, wat na Sir Benjamin D’Urban, en Kimberley, wat na Lord Kimberley van Brittanje vernoem is, eerste ná 1994 verander sou word. As kolonialiste is hulle lankal terug na Brittanje met geen verdere verbintenis met Suid-Afrika nie. Dieselfde geld vir Victoria-Wes, King William’s Town, Queenstown en talle ander. Tog is daar nog nie aan hierdie name geraak nie terwyl hoofsaaklik Afrikaanse name verander is.

Daar is ’n groot verskil tussen die verandering van die naam Pampoenfontein en die naam Pretoria. Name soos Pretoria, Lydenburg en Pietersburg is gelaai met Afrikaner-geskiedenis en emosie. So is dit ook moeilik om te sien hoe name soos Warmbad en Nylstroom aanstoot kan gee. Die meeste Afrikaners sien hierdie naamsveranderings as ’n berekende klap in die gesig van die Afrikaner en sy geskiedenis.

In ’n veranderende land is dit onvermydelik dat sommige name uit die verlede vir ’n deel van die bevolking mag aanstoot gee. Waar so ’n naam wel sterk emosionele betekenis vir ’n ander deel van die bevolking het, behoort baie groter sensitiwiteit te geld en behoort die groep wat geraak word, ’n groot mate van seggenskap oor die besluite te hê.

Suid-Afrikaners het weens vele redes ʼn verdeelde verlede. Suid-Afrika, soos ons hom vandag ken, het eers in 1910 tot stand gekom toe die Afrikaner deur die Anglo-Boereoorlog gedwing is om deel van Britse Suid-Afrika te word. Dit het daartoe gelei dat ons verskillende helde het. Ons moet ook aanvaar dat alle historiese figure omstrede is. Ek kan goeie en slegte argumente noem vir die meeste historiese Afrikanerfigure en figure van alle ander groepe in Suid-Afrika.

Voorbeeld: Durban-lughawe is nou na Koning Shaka vernoem.

Koning Shaka sal vanweë sy wrede oorlogsverlede nie vandag met ʼn Nobel-vredesprys of ʼn menseregte-toekenning vereer word nie. Hy was egter die stigter van die Zoeloenasie en het so ʼn groot rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel. Ek respekteer dit en daarom is daar nie beswaar gemaak toe die lughawe na hom vernoem is nie.

Ek beskou President Steyn as een van die stigters van die Afrikanervolk. Hy is een van my helde as ʼn vryheidsvegter teen kolonialisme en teen Britse heerskappy oor sy mense. Ek verwag dat dieselfde respek wat Koning Shaka gekry het, ook President Steyn en sy standbeeld toekom. Tog besluit die Vrystaatse Universiteit om die standbeeld te verskuif.

Die boodskap wat ek en baie Afrikaners die afgelope weke gekry het, is: “Ons wil jul bydrae en belasting hê, maar jul erfenis, helde en kultuur is nie aanvaarbaar nie”. Watter ander boodskap stuur die verwydering van Steyn se standbeeld as dat wit en Afrikaanse studente nie by die Universiteit van die Vrystaat welkom is nie?

In Limpopo en Mpumalanga is die meeste groot dorpe se name ná 1994 verander. Daarteenoor het geen dorp in die Wes- of Noordkaap nog ʼn naamsverandering ondergaan nie.

’n Wes-Kaapse vriend vra my onlangs hoe ’n mens vanaf Pretoria na Messina ry. Hy moet ’n familietroue daar bywoon.

Ek verduidelik: “As jy Noord op die N1 ry kom jy eerste by Bela-Bela wat eers Warmbad was, daarna by Modimolle wat Nylstroom was en Potgietersrus wat nou Mokopane is. Ná Mokopane kry jy Polokwane wat Pietersburg was en daarna Makhado. Verby Makhado kry jy Musina wat eers Messina was.”

“Waar is dié Makhado?” vra hy.

“Tussen Polokwane en Musina” probeer ek hulpvaardig wees.

“Wat het van Louis Trichardt geword?” vra hy.

“Makhado is Louis Trichardt,” antwoord ek.

“Huh?” reageer hy en vra: “Kan ek dalk na Messina vlieg?”

So ’n gesprek mag humoristies wees, maar die implikasies vir die inwoners van dorpe wat so geraak word, is ingrypend.

Navorsing het bevind dat ’n naamsverandering ’n klein sakeonderneming ’n minimum van R60 000 sal kos. So ’n onderneming moet alle promosiemateriaal, briefhoofde, naamborde, advertensies op voertuie, drukwerk, ensovoorts verander. Die koste van kennisgewings aan alle kliente, aan alle verskaffers en die verandering van rekeninge is nie eens bereken nie. Vir ’n groot onderneming word hierdie bedrag op meer as R500 000 beraam.

Voeg hierby die koste om duisende padtekens, stadskaarte, atlasse, rekenaarnavigasieprogramme, ensovoorts te moet verander.

In talle van hierdie dorpe is die hoofstrate se name skaars ’n jaar later ook verander wat beteken dat dieselfde kostes weer aangegaan moes word.

Tussen 1996 en 2010 is meer as 850 sulke geografiese plekname verander.

In meeste van hierdie gevalle was dit ANC-raadslede wat skielik voor ’n verkiesing met kosmetiese naamsveranderinge hul ongelukkige ondersteuners probeer paai sodat hulle weer herkies kan word.

’n Internasionale riglyn is dat verandering net ter wille van verandering nie aanvaarbaar is nie.

Met ’n verkiesing op pad is Grahamstad se naam skielik vanjaar na Makhanda verander. Dit is die eerste prominente Engelse naam wat 24 jaar ná 1994 verander word. Port Elizabeth is blykbaar volgende aan die beurt.

Dat dit duidelik verkiesingstyd is, blyk uit Ismail Vadi, LUR vir vervoer in Gauteng, se aankondiging voor verlede week dat William Nicol-rylaan na Winnie Mandela-rylaan verander gaan word.

Die prys vir hierdie politiekery is baie duur ten opsigte van geld en duur in terme van gesindhede en toekomstige verhoudinge in Suid-Afrika.

Hoe lank ná 1994 gaan name stééds verander word met groot kostes vir nuwe padtekens en -kaarte? Soos met grondeise behoort daar ’n afsnydatum vir naamsveranderinge bepaal te word.

In ’n ingewikkelde land soos Suid-Afrika behoort daar as riglyn eerder na kompromieë gesoek te word as wat een groep sy wil op die ander afforseer.

In die gees van versoening ná 1994 is byvoorbeeld ooreengekom om nie lughawens na politici of prominente persone van enige kant te vernoem nie. So is DF Malan-lughawe na Kaapstad Internasionaal, Jan Smuts-lughawe na Johannesburg Internasionaal en JBM Hertzog-lughawe na Bloemfontein-lughawe verander.

Hierdie ooreenkomste is die laaste tien jaar blatant verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici en prominente persone, maar eensydig net na die ANC-kant toe. Die PAC het reeds gekla dat hul helde geïgnoreer word. Johannesburg het OR Tambo geword en Bloemfontein Braam Fischer.

In Brussel gaan hulle sover dat strate twee name het ten einde die Franse en Vlaamse bevolking te akkommodeer. Een van Brussel se hoofstrate is Wetstraat in Vlaams en Rûe de la Loi in Frans.

Vir goeie verhoudinge is aanvaarbare riglyne soos hierbo genoem nodig by die verandering van name. Dit is die enigste manier waardeur jy ’n situasie kan skep waar almal soos wenners voel en daar geen verloorders is nie. Onthou — daar is geen manier hoe jy nasiebou op mense kan afdwing nie. As dit nie ’n vrywillige proses van alle deelnemers is nie, slaag dit nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Verander alle straatname na ‘n nommer en rigting ruitverwysing toe….en nooi organisasies uit om “hulle helde” se name direk onder die “nommer en rigting” naambord te kom opsit……….teen R100 000,00 per jaar. Sodra jou geld op is, kry iemand anders ‘n beurt………maar dit bly nog steeds 43ste Straat, Noord….in watter woonbuurt ookal. Sal lekker baie geld vir die munisipaliteitsamptenare genereer om te “wan aan te wend”…..en ons sal gou sien hoe MIN mense omgee vir hulle “helde”!!

John ·

Was ons geagte skrywer nie vir jare in die parlement nie? Hoekom klim hy nou eers uit sy boks? Die VFPlus is tot nou toe so stil soos muise en net die stem van die ster op die punt van die kleurlose kersboom word soms gehoor. Die res van die manne moet soet wees want geen kompetisie word geduld nie. Moeder Goody-goody gaan hulle verbysteek in 2019. Weet die oom hoeveel arm Afrikaners in hierdie land wat nie eers kan bekostig om ‘n tandarts te spreek nie, maar ons moet nagte wakker le oor die name van plekke wat verander waaraan ons sweet blow all kan doen. AfriForum kan gerus ‘n opname doen by skole tov die armblanke-vraagstuk wat weereens met ons is. Die miljarde van gister sal nie een witkind bereik nie.

Gert ·

Die meerderheid Afrikaners stem al jare vir die DA, ‘n party wat uitgesproke pro-swart en anti-wit is, wat nie eens hulle kommunikasies in Afrikaans ook uitreik nie, en wat aktief betoog het teen Afrikaanse skole en Afrikaanse sekuriteitskomplekse. Die arme VF+ moet met 1% steun probeer weerstand bied teen die absolute vloedgolf anti-afrikaanse aksies vanuit alle oorde. Dan kom Afrikaners nog wat sekerlik ook nie VF+ stem nie, en val die VF+ hier aan omdat hulle nie genoeg doen nie???
Skande!!

Loeis ·

John, jou stelling is eenvoudig nie waar nie.

As jy VF+ gevolg het, sou jy geweet het dat VF+ nog al die jare as ‘n kleiner belange party hard baklei. Jy skuld die lesers ‘n verskoning.

As meer mense VF+ stem, sal hulle daardie party baie meer slaankrag gee, en sal jy nog ‘n grootter verskil sien.

Gees ·

Die gees van versoening – mag daardie gees opstaan en aan elke Suid-Afrikaner die reg en voorreg bied om tuis in sy geboorteland te leef.

Daardie gees is of diep begrawe of morsdood of bestaan gewoon nie.

piper ·

pres. steyn sou as hy nou kon loop , weggeloop het van UFS. die plek het so verander dat hy nie meer daar wil wees nie. die UFS is dit nie waardig om die standbeeld daar te he nie. so ook bv. pretoria is nie meer andries pretorius waardig nie.

B-man ·

Ek voel ook partykeer dat hulle maar die straatname kan verander, want dan sal die toestand van die pad en sy nuwe naam mooi bymekaar pas.

JohanII ·

Eks met julle…iemand sê anderdag dat Sasolburg so vuil is, ek antwoord dadelik amper instinktief: “hopenlik verander hul die naam binnekort”.

Tiaan ·

“Because its part of our history”. Dit lyk nie asof die ANC enige geskiedenis in Suid Afrika (behalwe apartheid) as deel van die Suid Afrikaanse geskiedenis beskou nie. Hulle tree op soos oorwinnaars vanaf buite die land se grense deur ‘n nuwe geskiedenis te skep (hul eie) en die blankes (veral) van hierdie land se geskiedenis te verwerp.

ertjie ·

En saam met die naamsveranderinge verval die dorpe self ook. Nogals ironies ne. Dalk beter so, ons wil tog elkgeval nie ons name aan hierdie kanker assosieer nie.

Loeis ·

Die ANC (en ‘n klomp ander) gryp gereeld na apartheid, maar wil alles wat vêrder voor 1994 gebeur het, se bestaan ontken.

Jerry ·

Gert, ek kan nie anders as om met jou saam te stem dat die meerderheid Afrikaners vir die DA stem, ten spyte van die VF se volgehoue pogings om vir Afrikaans te veg. Dit se mos nou vir mense dat die DA iets reg doen vir mense se belange en die VF en hulle frontorganisasies nie! Dit is tereg die realiteit waarmee ons te doen het en waar die minderheid in ontkenning van staan, die dat die minderheid ook geneig is om so kwaad te raak met alles wat vir hulle verkeerd loop en alles heeldag en aldag wil ondermyn en boikot. Die meerderheid sien regdeur die planne van sakeverryking ten koste van ander mede burgers en ook die regse onderrokke wat uithang! Dit is te laat in die nag vir die VF en hulle frontorganisasies om n ommekeer te maak en nou sit hulle met hulle hande in die wolwe se hare! Dit is die nare realiteit, soos Steve altyd gese het, dis hoe dit is!

Gert ·

Die meerderheid stem vir die DA omdat hulle geval het vir Helen Zille se leuen dat ‘n stem vir ‘n klein party ‘n gemorsde stem is, of alternatiewelik omdat hulle absoluut oningelig is en nie nuus kyk nie.
Hulle stem hulle eie toekoms weg.

Gerhard ·

Wanneer gaan die bg. ophou? Die antwoord is, nooit nie. Solank as wat blankes iets het wat gevat kan word sal dit gevat word. Die enigste manier om dit te stop is ‘n fisiese staatkundige grens tussen jou en die Kaders.

dr. Sakkie van der Merwe ·

Dankie Gert vir die waarheid. Een keuse in die land Segregeer of integreer en gaan tot niet.

MTSteyn ·

Oulike kommentare van VF+ ondersteuners; meeste daarvan seker naby aan korrek.

Ek onthou daardie vuurvreter vrou, Helen Suzman, daardie solo politikus wat as enkeling almal ‘n verskriklike moeilike tyd (vir meer as ‘n dekade!!!) in die parlement gegee het. Vanuit haar het die DA uiteindelik ontstaan; naas die oorle’ NP seker die party wat die meeste Afrikaner stemme op hom trek.

Suzman het getoon dat die geveg nie op getalle berus nie, maar op dit wat binne die vegter is!

Het die Afrikaner vegters vir sy saak, veral in die parlement? Nee.

Danie ·

Dit is / was dalk nie groot nuus nie, maar Louis Trichardt is nogsteeds Louis Trichardt. Die naamsverandering het nie deur gegaan nie, Makhado is ‘n klein gehuggie so +/- 40km noord, vanaf Louis Trichardt oppad na Musina. Tensy die stadsraad ‘n haas uit die hoed kan pluk, is daar ook nie meer geld oor vir die naamsverandering nie…..

Jerry ·

Net soos wat ons MT Steyn moet hervestig, net so moet ons ons mense en geskiedenis hervestig. Hoe ons ookal teen die prikkels skop, dit is die realiteit, dit gebeur in elk geval nie net gedwonge, maar ook spontaan. Die volgende groot trek het begin!

Eben Roux ·

Ek het jare lank VF+ gestem. Maar nie meer nie.

Die tyd het gekom vir aksie. Ek kan nie sien dat die VF+ nog enigiets bereik het nie. Hulle baklei dalks vir regte maar daar is nie resultate nie.

Ek stem nou Front Nasionaal en ek hoop dat die eerste woorde uit ‘n verteenwoordige in die Parlement gaan wees: “Ons soek selfbeskikking vir Afrikaners en ander Blankes. Hoe gaan ons tewerk om dit te doen?”

Kry die bal aan die rol FN! Laat ons werk hiervan maak. Genoeg is genoeg.

Andrew ·

Gelukkig, as ‘n advertensie een van die nuwe name aandui as ‘n adres, koop ek eerder elders.
Selfs my ou GPS wil my ook nie eers daarnatoe neem nie.

Ouma ·

Hoekom gaan bou die ANC en die EFF nie hulle eie dorpe met hulle eie dorps en straat name en los ons dorpe en straat name uit soos dit was in die verlede. Wat van Soweto daar is baie strate wat hulle na wille keur kan verander soos hulle wil as hulle dan so graag wil geld mors op sulke nodige uitgawes se maar net!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.