Naamsveranderinge doen niks aan slaggate, rioolslyk

(Argieffoto)

In Februarie 2021, het Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur onverwags aangekondig dat Port Elizabeth voortaan ‘n nuwe naam – Gqeberha sou kry. Ander naamsveranderinge wat aangekondig is, is dat die stad Uitenhage na Kariega sal verander, terwyl die Port Elizabeth-lughawe nou bekend sal staan as Chief Dawid Stuurman Internasionale Lughawe. Die openbare kommentaar-proses hieroor is pas afgehandel.

In dieselfde tyd, en sonder opgaaf van redes, kondig die Stad Johannesburg aan dat die Stad die bekende baken in Sandton, William Nicol Rylaan, gaan verander na die Winnie Madikizela Mandela Drive. Kommentare hieroor kan nog tot 27 April 2021 ingedien word. (Kontak gerus ons kantoor vir besonderhede oor kommentaar)

Wie was William Nicol sou mense dalk kon vra? Dr. William Nicol (23 Maart 1887 – 22 Junie 1967) was NG predikant, teoloog, kultuurmens, opvoedkundige en administrateur van Transvaal en het ‘n groot rol in die ontwikkeling van die Afrikaner van die Witwatersrand gespeel. Minder bekend was dat hy die tweede voorsitter van die Afrikaner-Broederbond was vir die termyn Junie 1924 – 13 Maart 1925.

Vanuit ʼn Afrikaner-perspektief is dit dus belangrik dat ons ook op ʼn wyse erkenning moet gee aan ʼn Afrikaner-leier en die afrit na die ekonomiese hartland van Gauteng was die gepaste erkenning aan ʼn man wat diep spore getrap het in die proses en werkswyse wat die Afrikaner op vele terreine (waaronder onderwys, ekonomies en polities) bemagtig het. Deur dit alles was dit individue en organisasies wat in die laaste eeu deel was van Afrikaners se geskiedenis van opheffing, selfbemagtiging en selfdoen. Dit is dieselfde geskiedenis wat nou ongedaan gemaak word deur ʼn ongevoelige regering.

Suid-Afrika se geskiedenis en kulture word ryklik weerspieël in die rykdom van geografiese eiename, soos Ixopo, Nababeep, Mafikeng, Cookhouse en Klerksdorp. Hierin lê die erfenisse van diversiteit van ’n land en sy mense, sy eeue se geskiedenis en sy demografiese rykdom.

Soos enige ander geskiedenis, is die geskiedenis van Suid-Afrika natuurlik nie net ’n positiewe verhaal nie, en daarom sal ook hierdie seer en die onreg van die verlede in geografiese naamgewing vasgevang wees. Dat sodanige kwetsende herinneringe uit die pleknaamlys ter wille van versoening verwyder moet word, is nodig en aanvaarbaar. Dit is egter wanneer plek- of straatname verander word sonder duidelike oorweging dat naamsverandering direk in die pad van nasiebou staan en geen bydrae tot versoening in Suid-Afrika lewer nie.

Dit gebeur wanneer ‘n naam soos Kerkstraat in Pretoria eenvoudig verander word om die regering van die dag te pas vir politieke oorwegings en nie vir begrip vir geloof- kulturele, taal of groepverskeidenheid nie.

Om te probeer verstaan wat die riglyn sou wees vir die regering/ANC om name te wil verander, is ʼn skynbaar onbegonne taak. Op die departement van kuns en kultuur se webwerf word die praktiese stappe om name te verander, uiteengesit: “Geografiese name wat binne die jurisdiksie van die plaaslike regering val, sluit in strate, munisipale geboue en pleine, plaaslike parke en begraafplase en geboue in privaat besit. Geografiese name wat binne die bestek van die nasionale regering val, sluit in dorpe, voorstede, menslike nedersettings, poskantore, stasies, lughawens, hawens en snelweë, asook natuurlike landvorme soos berge, strome, riviere, baaie, punte, eilande, vleilande en nasionale parke.”

Die betrokke Wet waarbinne die Suid-Afrikaanse Raad vir Geografiese Name (SARGN) wel hul mandaat verkry (South African Geographical Names Council Act, 1998 (Act 118 of 1998) word dit gestel dat riglyne vir die SARGN opgestel moet word sowel as riglyne vir provinsiale en plaaslike regerings se geografiese namekomitees. Om dan te kyk wat die beweegrede sou wees vir die Nasionale Geografiese Plekname Raad SARGN om aanbevelings aan die minister te maak, is nie moontlik nie, want die instansie se webwerf funksioneer nie: http://sagns.dac.gov.za/ – die departement se webwerf is so onvolledig, dat mens nie eens behoorlik kan vasstel wie op die raad dien, waar hul kantore is of wat die kontakbesonderhede vir die instansie is nie.

Volgens bostaande Wet 118 van 1998 moet die raad skakel met nasionale en internasionale organisasies betreffende geografiese name en dan veral ook skakel met “kulturele-, historiese- en taalorganisasies”. Na die beste van ons wete bestaan die skakeling en interaksie nie. Dit was wyd verwelkom dat die nasionale regering in November 2007 aangekondig het om in 2008 met openbare verhore te poog om ’n nasionale konsensus oor die saak van die verandering van plekname te bereik. Ons dra egter nie kennis van enige konsultasie of gewaande nasionale konsensus oor die saak in die laaste veertien jaar nie.

In die Stad Kaapstad se Beleid vir die Herbenoeming van Strate, asook Benoeming en Herbenoeming van Openbare Plekke, Natuurgebiede en Raadsgeboue, Geriewe en Artefakte (soos in 2012 gewysig) word die kwessie van naamgewing en die belang van name soos volg omskryf:

  • Name is belangrike liggingsinstrumente en navigasiehulpmiddels vir ’n voorspelbare, bestuurbare en ordelike omgewing, en skep ’n “plekbesef”;
  • Name verteenwoordig die begin en einde van reise of bestemmings;
  • Name is plekbakens en fokuspunte deur simboliek, assosiëring en herinnering; en
  • Name het kragtige positiewe of negatiewe betekenisse vir mense, en bied geleenthede om eensgesindheid binne ’n gemeenskap te bevorder, of pyn en verdeling te vererger.

As die vertrekpunte is om name wat kwetsend of pynlik kan wees, te verander, dan is dit verstaanbaar en dan moet dit ondersteun word. Dit is egter merendeels nie die geval nie. Inteendeel.

In Suid-Afrika wil dit ook lyk asof die geskiedenis herskryf word. Mense, en veral voormalige vryheidsvegters, word links en regs benoem wat geen verbintenis het met ‘n dorp of straat nie, maar wat vir populistiese redes erkenning moet kry, met groot finansiële uitgawes daaraan verbonde. Asof Suid-Afrika nie ander dringende prioriteite het nie? Net so kan ʼn naam wat vir een groep moontlik kwetsend kan wees, nie vervang word met ʼn ander naam wat dalk weer vir ʼn ander groep problematies kan wees nie. Die geval van Winnie Madikizela Mandela is een so ʼn voorbeeld. Sy was self ʼn diep verdelende politieke figuur wat, hoewel sy ʼn aanhang het, sy ook bekend is vir haar ewe ongure en dikwels omstrede verlede.

Die wyse waarop naamsveranderinge nou deurgeforseer word, bring onwillekeurig die vergelyking met die ou Sowjet-era na vore. Die verandering van name was toe ook ’n gunstelingtydverdryf ná die kommunistiese oorname. Aanvanklik was dit daarop gerig om die verwysing na die tsaristiese periode te verwyder. Mettertyd het dit ook ’n wyse geword waarop leidende figure in die revolusie vereer is, onder meer, leiers in die bestel van daardie tyd. Die simboliek van dié ideologie was om diegene wat verloor het, in die politieke stryd te verguis en mettertyd uit die hoofstukke van die Sowjet-geskiedenis te skryf.

In Randburg is ons ʼn paar jaar gelede deur dié proses. Die Hans Strijdom-rylaan het Malibongwe-rylaan geword en die DF Malan-rylaan het Beyers Naude-rylaan geword. Eens trotse strate spog met nuwe name, maar ook veel meer: stukkende verkeersligte, sypaadjies wat vervalle is en slaggate wat die norm eerder as die uitsondering geword het.

Dit is asof die denke in die regerende party is dat die probleem gaan verdwyn as die naam verander word. Baie plattelandse dorpe wat die ekonomiese krag van hul omgewing was, het oor die jare van name verander, maar is vandag vervalle en slegs ʼn skadu van eens trotste vooruitstrewende dorpe. Ons stede begin dieselfde tendens reflekteer. Naamsveranderinge vir dorpe en stede en strate doen niks aan slaggate en rioolslyk nie. Inteendeel, struggle-leiers se name word polities gebruik en onbeskaamd gekoppel aan verval, vandalisering en vernietiging.

Die wyse waarop naamsverandering tans deur die ANC-beheerde dorpe en provinsies geïmplementeer en deurgeforseer word, bevorder nie eensgesindheid en versoening nie. Die persepsie is tereg ook dat, veral Afrikaners, vervreemd voel aangesien ons historiese aandeel aan die sukses van Suid-Afrika nie erken word nie. Die fokus op veral geskiedkundige Afrikaner-name met ‘n Afrikaanse grondslag ondersteun hierdie persepsie en is dit gebiedend noodsaaklik dat daar vanuit ‘n breë Suid-Afrikaanse oogpunt voldoende konsultasie en konsiderering vir die plaaslike geskiedenis moet plaasvind.

Waar Suid-Afrika – nou meer as ooit – ’n behoefte aan ware versoening het en met opregte dade woorde, aksies en gebare eensgesindheid moet bevorder, het oorhaastige naamsveranderinge die potensiaal om groter polarisering in gemeenskappe teweeg te bring.

Die realiteit is dat die huidige proses waarvolgens naamsveranderinge plaasvind, nie ʼn refleksie is van die land se leuse van eenheid deur verskeidenheid nie aangesien belangrike minderheidsgroeperings se opinies geheel en al genegeer word. Die proses blyk ook strydig te wees met Hoofstuk 2 van die Grondwet (die Handves van Menseregte, subafdeling 31a) waar gestipuleer word dat kulturele waardes van alle groeperings beskerm moet word. In der waarheid beteken dit dat eenheid bevorder moet word, maar dat verskeidenheid terselfdertyd erken moet word, iets wat tans in die naamsveranderingsproses oor die hoof gesien word.

Daar is praktiese en internasionale voorbeelde van hoe om met naamsveranderinge om te gaan. Een voorbeeld sou dubbele naamgewing wees.

Die dubbele benaming van dorpe, stede, woonbuurte, bergreekse, riviere, damme, landbakens (merke) en selfs snelweë is ʼn legitieme internasionale verskynsel wat wydverspreid voorkom en ook deur gemeenskappe en bevolkingsgroepe aanvaar word. In Wes-Europa kom die dubbele benaming van plekke voor in lande soos Italië, Oostenryk, Spanje en Frankryk. Dit kom ook algemeen voor in lande wat onderworpe was aan koloniale oorheersing en waar daar verskillende tradisionele betekenisse en waardes aan plekke gekoppel word. Die hoofoogmerk van dubbele benaming is kulturele aanvaarding, respek en aanvaarding van minderheidsregte en eensgesindheid tussen verdeelde gemeenskappe.

Deur met erkenning aan die verlede, respek vir diverse groepe en kulture se geskiedenis, en met groter begrip vir mense se onmiddellike behoeftes om te gaan, skep ʼn wen-wen situasie vir elkeen betrokke. Die proses van naamgewing soos dit tans deurgevoer word, skep slegs een wenner, naamlik die ANC in sy soeke na oorheersing –  die groot verloorders is die meerderheid mense wat vra vir basiese dienslewering, die skep en instandhouding van dienste en infrastruktuur en die vooruitgang van die ekonomieë van plaaslike regerings, distrikte, provinsies en natuurlik op ook nasionale vlak.

Die huidige werkswyse verswelg eenvoudig ons ryk verskeidenheid van minderhede en kulture, wat gereflekteer word in, onder meer, dorp- en straatname.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sandra ·

“Kommentare hieroor kan nog tot 27 April 2021”, is ‘n absolute mors van tyd en energie, want almal het protes aangeteken met Port Elizabeth se naamsverandering, maar daar was niks aan gedoen nie. So dit sal vir ewig in ons koppe Port Elizabeth bly al verander hulle al die naambordjies.

Marianna ·

Wanneer ‘n plek of straat of munisipaliteit se naam verander pas die plek en naam later by mekaar aan en dan het jy wat jy kry wat ons deesdae in soveel dorpe sien. Vuil, slaggate, gemors orals.

annie ·

Ek eis dat mense hul kop heen-en-weer skud wanneer hul Gqeberha sè. Op-en-af kan dalk ook veel beteken veral terwyl die ses-voet-na-onder gegrawe word. Dieper en groter is nodig maar met die see naby kan Turkye ook mega-vullis-ontruimers stuur wat die diep-see kan invaar vir die loopplank na diep benede. Soos die Oos-Kaap nou ruim voorsiening maak vir geldmors sal die skippies hulle dalk nie te veel kopseer besorg nie. Name verander juis om breinkrag en diep-sinnigheid ten toon te stel.

OW ·

Baie goeie skrywe.Die bewaar van geboue ouer as 50 jaar deur die Raad op gedenkwaardighede,lyk my bestaan ook nie meer nie.Geboue wat ek weet ouer as 50 jaar was is,is summier gesloop.Solank apartheid die sondebok bly sal hierdie tendens voortduur.Dit kom maar net weer neer op onbevoegtheid,van geen kennis van kuns en kultuur nie.

Kokerboom ·

Dankie vir artikel Jan Bosman. Ons is kwaad…baie kwaad!!! Die regime kan net afbreek, verander, verwoes en vernietig maar NIKS opbou en skep! Die begrippe “onderhoud en toekoms” bestaan NIE in hul verwysingsraamwerk! Dan het hul ook GEEN begrip of sin aan waarde ,skaarsheid van geld en koste van ONNOSELE politieke besluite!!!Ons is diep keelvol!!!

Stof ·

Is dit waar dat Mooinooi se naam verander is “Nqa sisi”?

OW ·

Ek sal nie verbaas wees as dit wel so is nie,Stof.Ek het so paar jaar gelede gelees dat SA se Afrika naam eintlik Azanië is.Hoe sal ons weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.