Nasiebou, baklei is ontvlugting – Orania nie

Die hernude debat oor die toekoms van die Afrikaner as kultuurgemeenskap is die afgelope tyd deur stemme van ekstremisme oorheers. Aan die een kant speel die laaste stuiptrekkings van die liberale nasiebou-idee steeds af. Hierdie groep sê dat Afrikanerskap iets van die verlede is en dat Afrikaners ʼn lewe van skuld vir hul verlede moet lei. Selfs verder links van hulle is ekstremiste wat geweld aanblaas deur Afrikaners as die oorsaak van elke probleem wat ʼn swart Suid-Afrikaner mag ervaar, uit te beeld. Aan die ander kant van die politieke spektrum is ʼn reaksionêre monster wat deur die opblaas van ʼn treinspoor in Soweto of die uitdeel van vuishoue die volk wil red.

As daar een nuwe konsensus is wat dringend bereik moet word is dit dat beide hierdie ekstreme ernstige bedreigings vir die toekoms van die Afrikaner inhou. Slegs persone wat sterk voel oor die toekoms van ʼn goedgedefinieerde Afrikanerkultuur kan in so ʼn konsensus betrek word.

'n Beeld op Orania.

Ek wil die standpunt maak dat ekstremisme in Afrikanerkringe gebruik word om maklike ontvlugting te bied. Mense aan beide die linkse en regse afgrond van ons ideologiese spektrum is geneig om ongeduldig met die debat oor Afrikaneridentiteit en sy voortbestaan te raak. Hul antwoord op hierdie vraagstuk is dus meestal reaksionêre voorstelle van die onderdrukking en selfs verwerping van identiteit (linkerkant) en ʼn oordrewe retoriek wat uiteindelik op konflik en selfs geweld uitloop (regterkant).

Daar is natuurlik ook diegene wat glo dat die toekoms van Afrikanerskap nie bedreig word nie. Interessant bevind hierdie mense hulself ook meestal aan die ekstreme kante van die politieke spektrum.

Indien jy egter glo dat die Afrikaner se kultuur, tradisies en gedeelde identiteit, soos hoofsaaklik deur ons geskiedenis en ons herkoms ontwikkel, bedreig word en sou jy hierdie bedreiging op ʼn pro-aktiewe en volhoubare wyse, soos voorgeskryf deur ons konserwatiewe identiteit, wou stuit, dan vra dit vir ʼn herbesinning oor die oorsake van die bedreiging en ʼn sterk skoot logika vir die ontwikkeling van moontlike oplossings.

Die probleem van die ekstreme is juis dat dit onrealisties is en nie op die logika gefokus is nie, maar wel op idealistiese idees wat deur ideologiese suiwerheid voorafgegaan word.

In praktyk weet ons almal van die slegte dinge in die land en die groot impak wat die transformasie van ons samelewing sedert 1994 op die Afrikaner gehad het. Grondhervorming, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, verengelsing, die aanslag op Afrikaanse onderrig op skole en universiteite, die forsering van ʼn skuldgevoel onder Afrikaners oor hul eie geskiedenis en die verlies aan politieke, sosiale, kulturele en ander samebindende aktiwiteite wat identiteitsoordrag en –onderhoud verseker, is aan ons almal bekend.

Die resultaat van al hierdie transformerende aktiwiteite kan egter in een begrip naamlik vervreemding saamgevat word. Die Afrikaner is waarskynlik vandag meer as nog ooit vantevore in sy geskiedenis vervreemd van sy eie identiteit soos bepaal deur ʼn verbintenis aan taal, kultuur, tradisies, ʼn gedeelde verlede, spesifieke instellings en aktiwiteite en ʼn bewussyn van eenheid.

Weereens is die geraasmakers aan die periferie van Afrikaner-ideologie glad nie met die vervreemdingsdenke gemaklik nie. Die linkses voel dat juis iets selfs meer ekstreem as vervreemding naamlik ʼn verwerping van identiteit moet plaasvind. Die regses glo dat velkleur die drywer van alle motiewe is en dat die Afrikaner se oorlewingstryd ʼn noodgedwonge rassekonflik is en moet wees.

Beide hierdie ekstreme gedagtelyne is afhanklik van ʼn fokus op ras en oordrewe retoriek wat voortdurend aan rassisme grens en gereeld blatant rassisties is.

Daar is ʼn onrusbarende toename in swart rassisme wat juis gebaseer is op die onverskrokke houding dat Afrikaners geen plek meer in Suid-Afrika oor het nie. Baie wit liberaliste en selfs Afrikaner-liberaliste sluit hierby aan, hoewel meestal meer gematig, deur voor te stel dat die juk van die verlede eenvoudig so swaar weeg dat die opsê van Afrikanerskap die antwoord is.

Aan die regterkant van die politieke spektrum is daar ook ʼn toename in rassisme wat konstant direk verbind kan word met die diepe, hoewel meestal onbewuste, behoefte van Afrikaners om ʼn uitlaatklep vir die smorende effek van vervreemding te vind. Afrikaners wat nie emigreer nie of nie heeltemal hul identiteit verwerp nie ontaard gedurig in rassiste van variërende aard.

Rassisme moet verwerp word. Rassisme aan beide die linkerkant en regterkant van die politieke spektrum bedreig die toekoms van die Afrikaner. Uitsprake aan die linkerkant wat Afrikaners as boewe uitmaak wakker geweld aan en is in baie gevalle selfs erger as die rassistiese retoriek aan die regterkant wat nog net in enkele gevalle van geweld oorgespoel het. Jy kan maar net na plaasmoorde kyk om dit te besef.

Die vraag is nou: Hoe reageer Afrikaners hierop? As jy wil emigreer moet jy emigreer. As jy jou identiteit wil verwerp kan en mag jy dit ook doen, maar as jy jou identiteit wil behou en aktief wil betrokke wees by die uitbou en oordrag daarvan sonder om ʼn revolusie wat met geweld gepaardgaan te wil lei, dan moet daar na ander opsies gekyk word.

Sonder om te poog om die hele motivering vir Afrikanerselfbeskikking soos wat reeds sedert die 1970’s deur talle konserwatiewe Afrikaner-instellings gepropageer is, te herhaal is dit belangrik om in die soeke na ʼn oplossing vir die onsekerheid oor die Afrikaner se toekoms die volgende in ag te neem:

• Demografiese werklikhede en veral die groot verspreiding van Afrikaners regoor Suid-Afrika en dan ook die klein minderheid wat hy uitmaak selfs in die gebiede waar die hoogste konsentrasies van Afrikaners hulself bevind.
• Die vereistes vir die behoud van ʼn kultuurgemeenskap soos vrye beoefening van kultuuraktiwiteite en tradisies, beheer oor instellings soos skole, universiteite, monumente, museums en media.
• Die realiteite van die huidige Suid-Afrika met spesifieke verwysing na politieke beleid gedryf deur transformasie, die geweldige werkloosheid en armoede onder swart Suid-Afrikaners en ook toenemend onder ʼn wit werklose klas, misdaad en veral geweldsmisdaad gedryf deur rassistiese retoriek van die Malema’s wat deesdae orals opduik.

Wat probeer ek dus sê? My argument is dat selfbeskikking die antwoord op ekstremisme en die oplossing vir die bedreiging wat Afrikanerskap in die gesigstaar, is.

In Orania is vervreemding onder Afrikaners, wat natuurlik die volle bevolking uitmaak, baie laer as onder meeste Afrikaners wat hulself elders bevind. Wanneer jy selfbeskikking gebaseer op konserwatiewe logika en moderne beginsels van gelykheid en geregtigheid uitleef is daar bykans geen rede om die reaksionêre gedagtes wat ekstremiste omhels jou eie te maak nie.

Daar is egter ʼn verskil tussen die daaglikse praktiese uitleef van selfbeskikking en toenemende gevalle waar selfbeskikking opsigself ʼn reaksionêre kleur kry deurdat dit nie deel van ʼn pro-aktiewe poging wat op welbedagte beginsels gebaseer is, is nie, maar slegs ʼn reaksie op vervreemding is.

Dit is hier waar Orania anders is. Nog lank voor 1994 het die grondleggers van Orania gebaseer op die regte beginsels pro-aktiewe stappe begin neem om ʼn antwoord op ekstremisme en ʼn oplossing vir vervreemding en die potensiële uitknikkering van Afrikanerskap, te bied. Oraniërs sien nie selfbeskikking as ʼn reaksie op hul omstandighede nie, maar eerder as ʼn logiese poging om binne die raamwerk van universele beginsels wat gelykheid en minderheidsregte voorstaan en gekoppel aan ʼn verstaan van die Afrika-logika, ʼn oplossing aan te bied en dit al reeds vir twintig jaar doen.

In ʼn land waar Afrikaners deur die ekstremisme van links en die bedreigings van misdaad, grondhervorming, regstellende aksie en die totale transformasiepoging van sy eie identiteit as houers van eie grond, eie instellings en ʼn gedeelde kultuur, vervreem word, bied Orania ʼn alternatief.

Wie sou kon dink dat ʼn plek wat voortdurend verkeerdelik as rassisties uitgebeeld word juis die antwoord op ekstremisme en rassisme kan wees?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Louis du Plessis ·

Jaco ~

1   Wat ‘n plesier om te lees hoe Orania selfbeskikking vir Afrikaners nie grond op, wat jy tereg noem, “ideologiese suiwerheid” of “ekstremisme” nie, maar wel grond op die uitvoerbaarheid van verstandige, rasionele en logiese treë. 

2   Met hierdie nadenkende benadering, toegepas deur konkrete stappe wat skouer aan die wiel sit, stel jy en Carel Boshoff en Renus Steyn en soveel ander van julle vir ons ‘n praktiese, navolgenswaardige voorbeeld.

Anoniem ·

Geagte mnr. Kleynhans

Dankie vir u bydrae wat Orania se plek as’t ware in die midde van gematigde, hoofstroom-Afrikanerdenke aandui.

Persoonlik het ek egter drie verbadhoudende kwelvrae waarteen ek bogenoemde stelling wil toets:

1) Indien Orania in die middel van die gedagtewêreld van Afrikaners hoort (in teenstelling met ekstremistiese randgedagtes), waarom is die steun vir Orania vanuit Afrikanergeledere (insluitend die geledere van hul meningsvormers) so beperk?

2) Waarom behoort Orania relevant te wees vir die gewone mense-op-die-straat?  Hoe kan Orania, so ver verwyder van hul daaglikse stryd om brood vir die tafel, vir hul iets beteken?

3) Waarom heers daar soveel openlike vyandigheid jeens Orania in Afrikanergeledere?  Verteenwoordig Orania dalk ‘n bedreiging vir Afrikaners in Suid-Afrika?

Wat is u mening oor bogenoemde?  Weerlê die gebrek aan steun en oorvloed aan teenkanting vir Orania nie dalk u argument in u bydrae nie?

Anoniem ·

Ebert. Wat ‘n stel lywige vrae!

Vraag 1: Ek dink die rede hiervoor lê juis opgesluit in die gevolge van die 1994-omwenteling en die gevolglike vervreemding. Afrikaners is vandag grotendeels apaties en/of polities korrek in ‘n poging om in Suid-Afrika (veral ekonomies) te oorleef. Niemand wil as die skuldenaar van misdade teen die mensdom gebrandmerk word nie en daarom leef Afrikaners in vrees dat hul steun vir ‘n nuwe (en natuurlik totaal ander) Afrikanerprojek as ‘n teruggryp na die verlede gesien kan word. Ons uitdaging is om genoeg mense uit daardie denke te kry – veral meningsvormers!

Vraag 2: ‘n Baie suksesvolle Afrikaner wat oorweeg om Orania toe te trek sê onlangs vir my: Ek is bereid om heelwat op te gee vir sederheid – sekerheid oor identiteit, ekonomiese stabiliteit, veiligheid, ens. Ek dink dus dat een van die grootste probleme vir Afrikaners in die huidige Suid-Afrika juis die onsekerheid oor ‘n toekoms vir hulself en hul nageslagte is. Hoewel Orania minder bied in vergoeding, grootte van huise, aantal winkelsentrums tot hul beskikking, ens oor die kort termyn bied Orania oor die langtermyn sekerheid van deel wees van ‘n gemeenskap, deel wees van ‘n identiteit en ekononiese sekerheid en veiligheid.

Vraag 3: Orania is ‘n bedreiging vir die status quo en in ‘n omgewing waarbinne mense oor soveel dinge onseker is, bied hul huis of plaas vir hul ‘n mate van sekerheid. Afrikaners het in ‘n mate hul trekkergees verloor en verruil vir die sekerheid van geografiese stabiliteit.

Ek dink jy identifiseer hier van die grootste uitdagings wat ons sal moet oorkom.

Hannodb ·

Ebert.

Ek dink die antwoord op jou vraag is dat meeste mense net nie toekomsgerig leef nie. Veral in ons moderne tyd waarin alles vinnig gebeur, soek mense kits oplossings. Kyk maar wat is die grootste kritiek wat mense lewer: “Daar is nie infrastruktuur nie, die plek is te klein, ens ens ens”. Dis alles kritiek wat vaskyk in hoe Orania vandag lyk, eerder as om die toekomstige potensiaal daarvan in ag te neem.

Orania is gebou deur die visie en die deursettingsvermoeë van ‘n klein groepie pioniers (Ek voel steeds dat Orania ‘n gedenkplaat moet oprig om hierdie eerste mense te vereer) Meeste mense daarbuite het nie ‘n pioniersgees nie, en staar hulle blind teen die huidige. Tog, soos wat Orania sy skeptici verkeerd bewys, en die lys van suksesse al langer word, begin dit al meer mense se aandag trek. Soos ek in my brief in Beeld gesê het, dit is die geheim: Mense word getrek deur sukses. Soos wat Orania uitbrei, so kan ons verwag dat die steun daarvoor al groter sal word. 

Die Engelse het ‘n spreuk wat sê: “If you keep doing the same thing, you’ll keep getting the same results”. Gewoonlik dui dit daarop dat ‘n persoon sal bly misluk as hy dieselfde ding doen. In die geval van Orania voorspel hierdie spreuk dat dit onafwendbaar is dat Orania ‘n al meer prominente rol in Afrikaners se denke sal speel, en ek glo Orania is bestem om uiteindelik alle vryheidsgesinde Afrikaners agter hom te verenig.

Wat nog meer is, ek glo – dalk naief – dat ons nou nie meer ver daarvan af is nie. Kleinfontein se getalle – sover ek weet – staan nog op 200 terwyl Orania vinnig oppad is na sy eerste 1000. Ek kan ook nie onthou dat hulle ooit hulle grondgebied in die laaste 10 jaar uitgebrei het nie. Die demografiese realiteite in Gauteng, asook gebrekkige advertensie, maak dat Kleinfontein in die lang termyn sal uitval. Alhoewel ek die gedagte van die VVK steun, glo ek dat niemand oor 5 jaar die organisasie gaan onthou nie. Hopelik sal die mislukking van die VVK se volkstaatpoging mense meer skepties maak, en ‘n behoefte kweek vir meer konkrete oplossings. Orania met sy 8000 hektaar (and counting!) is daardie oplossing.

Jessica ·

“..soos voorgeskryf deur ons konserwatiewe identiteit..” (!)  Ai tog Jaco, jy verraai
jou ouderdom met hierdie soort van aanname.  Die debat oor die onderwerp is reeds
voor jou geboorte snuif getrap en afgehandel.  Jy kan nooit, nooit hierdie dwangbuis
vir Afrikaners aantrek nie.  Dis bloot ‘n partypolitieke begrip of ‘n fantasie gebore in die
parogie.  Die hele nosie is, soos die Bybel, wyd vatbaar vir vertolking en die uitbuiting daarvan is so oud soos die Christendom self. 

As jy dit tot sy volle konsekwensies deurvoer, om maar een voorbeeld te noem, is
misoginie  – vrouehaat – ‘n normale eienskap van ons identiteit.  Lees maar wat in
Genesis en in die Nuwe Testament geskryf staan. 

‘n Staat wat daarop geskoei is sou die volste reg kon opeis om vroue tot die huis te
beperk, hulle enige opvoeding te verbied en ten volle aan mans te onderwerp.  Laat
staan nog hulle toelaat om bikinis op die strand of panties op skool te dra! 

Dis net so ‘n drogbeeld soos die idee dat alle Afrikaners noodwendig Christene MOET wees.  Ek is nie ‘n Christen nie, ek is nie konserwatief nie, so wat gemaak met my
in die voorgestelde Afrikaner-utopie?  ‘n Spesiale tuislandjie vir ongelowiges en
libertyne?  

Jessica ·

“..soos voorgeskryf deur ons konserwatiewe identiteit..” (!)  Ai tog Jaco, jy verraai
jou ouderdom met hierdie soort van aanname.  Die debat oor die onderwerp is reeds
voor jou geboorte snuif getrap en afgehandel.  Jy kan nooit, nooit hierdie dwangbuis
vir Afrikaners aantrek nie.  Dis bloot ‘n partypolitieke begrip of ‘n fantasie gebore in die
parogie.  Die hele nosie is, soos die Bybel, wyd vatbaar vir vertolking en die uitbuiting daarvan is so oud soos die Christendom self. 

As jy dit tot sy volle konsekwensies deurvoer, om maar een voorbeeld te noem, is
misoginie  – vrouehaat – ‘n normale eienskap van ons identiteit.  Lees maar wat in
Genesis en in die Nuwe Testament geskryf staan. 

‘n Staat wat daarop geskoei is sou die volste reg kon opeis om vroue tot die huis te
beperk, hulle enige opvoeding te verbied en ten volle aan mans te onderwerp.  Laat
staan nog hulle toelaat om bikinis op die strand of panties op skool te dra! 

Dis net so ‘n drogbeeld soos die idee dat alle Afrikaners noodwendig Christene MOET wees.  Ek is nie ‘n Christen nie, ek is nie konserwatief nie, so wat gemaak met my
in die voorgestelde Afrikaner-utopie?  ‘n Spesiale tuislandjie vir ongelowiges en
libertyne?  

Anoniem ·

Haai Jessica,

Jy is reg, die begrip konserwatisme is wyd vatbaar vir vertolking.  Ek vermoed die vertolking wat Jaco aanhang, stem ooreen met die inhoud wat Danie Goosen in sy bydrae oor konserwatiewe realisme aan die begrip gee.  Verwys gerus na hierdie skakel en Jaco se kommentaar daarop: http://maroelamedia.co.za/blog/die-groot-debat/afrikaners-veral-regs-kort-konserwatiewe-realisme/

Ek dink daar is genoeg ongelowiges in die kerk, terwyl groepsvryheid bloot ‘n verlenging van individuele vryheid is, vir ongelowige libertyne om ook tuis te kan voel in Orania.

Anoniem ·

Jessica,
Ek het natuurlik glad nie gesê dat mense gedwing moet word om in Orania te woon of dit te ondersteun nie. So jy hoef nie bekommerd te wees dat ons jou dalk hierheen gaan laat deporteer nie.
Tweedens: Gemsbok is heeltemal reg hieronder. My begrip van konserwatisme is presies gebaseer op Danie Goosen se rubriek anders as jou begrip daarvan wat op die verlede gebaseer is. Ek is oortuig daarvan dat jy konserwatief en regs verwar – presies dit waarteen Danie waarsku!
Terloop: Jy het nie ‘n tuislandjie vir ongelowiges en libertyne nodig nie – behalwe natuurlik as Suid-Afrika nie goedgenoeg vir julle is nie!

Piet le Roux ·

“soos voorgeskryf deur ons konserwatiewe identiteit,” … sê Danie Goosen nie juis die konserwatiewe tradisie – in terme van sy definisie – is juis nie kenmerkend van Afrikaners nie?

Anoniem ·

Piet. Dit is nie hoe ek Danie se rubriek gelees het nie. Hoewel hy ‘n beroep doen dat Afrikaners meer konserwatief as regs moet wees en hy daarop wys dat baie pogings uit Afrikanerkringe juis die voortbestaan van die Afrikaner te verseker eerder regs was, sien ek nie dat hy sê dat daar glad nie ‘n konserwatiewe tradisie deur die Afrikaner se geskiedenis loop nie. Dalk is dit ‘n punt waar ek en hy mag verskil, maar ek dink tog daar daar só ‘n goue draad deur ons geskiedenis loop.

Louis du Plessis ·

Jessica ~

1   Jy dring deur tot die kern:  Wat ons saambind is nie dat ons óf konserwatief óf liberaal is nie.  Wat ons saambind is net so min dat óf vir die WP óf vir die Bloue Bulle óf vir die Cheetahs skree. 

2   Wat ons saambind is selfs nie dat ons óf Christene óf Moslems óf Boeddiste óf agnostici is nie.  Trouens, ons sou ‘n geldige argument kon uitmaak dat die Engelse Christene van Houghton innerlik veel verder van ons af is as die Afrikaanse Moslems van Skotse Kloof:  dis dié Maleiers wat ons taal intens bevorder met byvoorbeeld die Maleierkore, en wat onverskrokke hulle taal praat terwyl familie van ons hulle kinders dikwels in Engelse skole sit.  Hierteenoor bedreig die Engelse Christene dikwels ons taal!  Dalk staan Afrikaanse Moslems inderdaad nader aan ons Engelse Christene. 

3   Jessica, wat ons almal onlosmaaklike aan mekaar bind, vir altyd sal bind waar ons mekaar ook al raakloop, is ons moedertaal:  Afrikaans in die bloed in ons are.

4   Dankie vir jou bevrydende, selfs rewolusionêre, bydrae.

Hannodb ·

Louis, ek kan nie help om van jou te verskil nie.

Taal is beslis nie die grondbeginsel van ‘n persoon se bestaan nie. Veel eerder is dit sy metafisiese uitkyk op die lewe. Almal het ‘n metafisika, of jy nou agnosties, boedisties of Ateisties is. Metafisika is die grondliggende aannames wat jy het van wat Werklikheid is, en waardeur jy na die wêreld kyk en sin maak daarvan. 

Daarom, jammer genoeg, kan ‘n mens nie Afrikaner wees sonder die Christelike geloof nie. Selfs al is jy Afrikaansprekend, die samebindende krag van die taal is net eenvoudig nie so sterk dat ek ‘n gemene band met Moslem maleiers kan hê nie. Selfs in Engeland kon ek makliker assosieer met Christen swartes uit Afrika, as met die plaaslike New Age blankes. 

Daarom, die eerste en mees belangrikste samebindende faktor van die Afrikaner is in die eerste plek sy Christelike geloof, die geloof wat hom JUIS deur al die baie swaartye gedra het. Afrikaans staan twede hiertoe, en natuurlik derdens die gemeenskaplike geskiedenis. Die Christelike geloof is so verweef met die Afrikaner, dat daar amper niks van die Afrikaner identiteit oorbly as jy dit daar uithaal nie. 

Daarom is dit ook merkwaardig dat Orania gestig en gebou is uit mense met ‘n sterk Christelike oortuiging, en is dit bemoedigend om te weet dat die enigste volhoubare oplossing vir die Afrikaner se bestaanskrisis op die vaste fondament van Jesus Christus gebou is. As ons maar blood gestreef het na ‘n sekulere staat, kon ek maar net so wel Australie toe emigreer.

Louis du Plessis ·

Hannodb ~

1  Wat jou en my saambind, is eerstens ons taal.  Selfs al skakel ek en jy met iemand wat ‘n ander sportspan steun, ‘n ander kleur het byvoorbeeld bruin is, van ander musiek hou, of ander godsdienstige persepsies huldig, en hy of sy praat steeds Afrikaans, bind ‘n ontsaglike band ons aan mekaar.  Op daardie oomblik egter wat die taal verskil – sê byvoorbeeld jy het te doen met ‘n Xhosasprekende christen – kan hy of sy al die ander kenmerke met jou deel, maar hy of sy vorm nie meer ‘n lid van jou volk nie. 

2  Hoe langer jy hieroor dink, deste meer sal jy besef:  Afrikaners is eerstens ‘n volk, dit is, ‘n taalgemeenskap.  Die bykomstighede verskil van lid tot lid. 

3   As jou broer of suster se kinders Engels as huistaal praat, selfs al huldig hulle ‘n christelike opvatting van een of ander aard, is hulle nie meer deel van jou volk nie.  Afrikaans is ons onderskeidende kenmerk. 

Afrikanergroete

Louis

Anoniem ·

Geagte prof Du Plessis,

‘n Gedeelde taal is wel ‘n uitsluitende voorwaarde vir gedeelde volkskap, dit gee ek graag toe.  Sonder ‘n gemeenskaplike taal kan mense nie eens kommunikeer nie, watwou ander ervarings deel.

Maar ‘n taalgemeenskap verteenwoordig nie ‘n volk nie.  Indien dit die geval was, sou die inwoners van Trinidad en Tobago, Liberië, VSA, Kanada, Engeland en Skotland as behorende tot dieselfde volk gesien moes word en dit kan tog nie.

Dit beteken nie dat ek nie nouer bande en groter samewerking tussen die verskeidenheid volke wat tot die Afrikaanse taalgemeenskap hoort voorstaan nie. Tewens, ek dink dit is ‘n vereiste vir ons en ons taal se voortbestaan.

Gaan nouer samewerking uiteindelik van ons een volk maak?  Ek weet nie, slegs die tyd sal leer, maar ons sal in so ‘n proses waarskynlik meer van ons kosbare verskeidenheid verloor as wat ons sal wen.  As dit egter die prys is wat oorlewing vra, is dit nie iets wat ons by voorbaat kan verwerp nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.