Nasiebou: Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog

hande-in-sirkel

Argieffoto.

Weens die aktualiteit van die begrip “nasiebou” in die Suid-Afrikaanse konteks, word binne die volgende paar maande ’n reeks artikels op Nou Pra’ Jy geplaas wat hieroor handel. Die skrywer is prof. Elirea Bornman wat met haar intreerede by Unisa hierop gefokus het. In 2013 is die inhoud van haar intreerede in ’n FAK-publikasie onder die titel Die Reënboognasie versus die kleure van die reënboog uitgegee. In die eerste twee artikels word gefokus op teorieë en benaderings tot nasiebou. Daar word na twee modelle in dié verband gekyk en nasiebou in postkoloniale Afrika word van nader bekyk. In die artikels wat daarna sal volg, sal groter klem gelê word op nasiebou in Suid-Afrika en watter suksesse en uitdagings daar op die pad vorentoe in dié verband bestaan.

Teorieë oor en benaderings tot nasiebou

Sosiale ontleders stem saam dat – weens die objektivering van verdelende en uitsluitende identiteite tydens die apartheidsera – Suid-Afrika by die aanvang van ’n nuwe politieke bedeling gebreke gegaan het aan ’n algemeen aanvaarde nasionale identiteit en ’n gevoel van nasieskap. ’n Proses van nasiebou is gevolglik beskou as die logiese stap om die leemtes te vul wat deur die apartheidsbestel gelaat is en om ’n verenigde en harmonieuse Suid-Afrikaanse nasie uit die verdeeldheid van apartheid te skep. Maar ten spyte van die oorweldigende nasieboudiskoers en ’n oorvloed inisiatiewe om die verdelings van die verlede te bowe te kom, word die Suid-Afrikaanse regering steeds deur die probleem van nasionale eenheid – of die gebrek daaraan – gekonfronteer en in baie opsigte is die Suid-Afrikaanse samelewing steeds op rasse en etniese gebied versplinter.

Suid-Afrika is nie die enigste land wat hom op die weg van nasiebou begeef het nie. In die onlangse geskiedenis het baie Afrika- en Oos-Europese lande hierdie roete gevolg. Ten einde ’n beter begrip van nasiebou in die hedendaagse wêreld te kry, asook die manier waarop dit in Afrika beoefen word, moet ons oor huidige teoretisering en diskoerse oor nasiebou en die ontwikkeling van ’n nasionale identiteit besin.

Die konsep “nasiebou” is ’n normatiewe konsep wat dikwels verskillende dinge vir verskillende mense beteken. Gedurende die 1950’s en 1960’s het histories georiënteerde politieke wetenskaplikes soos Karl Deutsch en William Foltz, Charles Tilly en Reinhard Bendix die term begin gebruik. Hierdie teoretici het hoofsaaklik gefokus op prosesse van nasionale integrasie en konsolidasie wat tot die vestiging van die moderne staat bydra (“nation-building”). Nasiebou word dus beskou as ’n proses van sosiale transformasie waardeur onderontwikkelde, arm en bekrompe groepe in ’n moderne staat byeengebring word – ’n staat wat gekenmerk word deur vrede, gelyke geleenthede en ekonomiese geleenthede.

Die tradisionele, premoderne staat het gewoonlik bestaan uit geïsoleerde groepe met insulêre kulture aan die onderpunt van die samelewing en ’n afgeleë en afsydige staat of vors aan die bo-punt. Volgens nasiebouteorie word hierdie twee sfere deur middel van nasiebouprosesse in nouer kontak met mekaar gebring. Diverse groepe word deur opvoeding en politieke deelname by die groter samelewing ingetrek.

Daarteenoor brei die staat sy verpligtinge jeens die groter samelewing uit deur ’n uitgebreide reeks dienste en geïntegreerde netwerke te bied. Sodoende word die onderdane van byvoorbeeld ’n monarg aktiewe en deelnemende burgers van die nasiestaat. Veral belangrik is dat lojaliteit jeens en identifisering met substaat- of subnasionale groepe (byvoorbeeld etniese of kulturele groepe) minder belangrik word en hul politieke relevansie verloor. Sodanige subnasionale identiteite word vervang deur lojaliteit jeens en identifisering met die groter entiteit, naamlik die staat of nasiestaat.

Ontleders soos Deutsch en Foltz redeneer dat modernisering – met ander woorde die uitbreiding van kommunikasie- en vervoernetwerke, asook toenemende verstedeliking en industrialisasie – lei tot die assimilasie van burgers van afgeleë streke en parogiale groepe in die hoofstroom van die nasionale lewe, die ontbinding van etnisiteit en die verskuiwing van lojaliteite van diverse etniese groepe na die staat. Gevolglik sou alle groepe uiteindelik in ’n homogene en verenigde nasie versmelt.

Die kern van konseptualiserings van nasiebou is die vorming van ’n oorkoepelende nasionale identiteit wat parogiale, etniese en kulturele en rasse-identiteit vervang. Derhalwe word nasionale identifisering – as vorm van sosiale identifisering – beskou as sou dit ’n gevoel van samehorigheid en lojaliteit aan die nasie wat deur nasiebou geskep is, weerspieël. ’n Nasionale identiteit word voorts deur die bevordering en gebruik van nasionale simbole versterk.

Daar was egter ook groot kritiek op modernistiese nasiebou. Gedurende die middel sewentigerjare het Walker Connor gemeld dat die nasiebouliteratuur kulturele diversiteit of die moontlikheid van die voortgesette bestaan van etniese groepe binne ’n nasiestaat, byna volkome negeer.

Modernistiese teorieë neem dikwels nie in ag dat die vroegste konseptualiserings van die term “nasie” na ’n groep mense verwys wat ’n gemeenskaplike geskiedenis, tradisies en kultuur, dit wil sê ’n gemeenskaplike etnisiteit, deel nie. Connor wys daarop dat slegs 9% van die ledestate van die Verenigde Nasies as ware nasiestate wat etnies homogeen is, beskou kan word. Aangesien nasiebou gewoonlik assimilasie in die groter samelewing en die ontkenning en/of uitwissing van etniese diversiteit impliseer, is Connor van mening dat die sosiale ingenieurswese wat met nasiebou verband hou, die uitwissing van etniese diversiteit en derhalwe die vernietiging – eerder as die vorming – van nasies kan beteken. Verskeie ontleders wys voorts daarop dat die doeltreffendheid van die sosiale manipulasie wat met nasiebou geassosieer word dikwels oorskat word. Dit is byvoorbeeld nie vanselfsprekend dat modernisering tot die verdwyning van etniese identiteite sal lei nie. Sosiale ingenieurswese om nasiebou te bevorder, is eerder dikwels teenproduktief en lei tot ’n teenreaksie in die vorm van etniese herlewing. Boonop is pogings wêreldwyd om etnisiteit en ander vorme van diversiteit uit te roei, grootliks onsuksesvol.

Connor wys op nog ’n fundamentele gebrek in nasiebouteorie, naamlik die terminologiese verwarring weens die onderskeie betekenisse wat aan die woord “nasie” gekoppel word. Die term word soms gebruik om na selfbewuste kulturele groepe en mense te verwys, terwyl ander ontleders dit gebruik om politieke entiteite soos in die naam “Verenigde Nasies” en “internasionale politiek” te beskryf. Selfs meer verwarrend is die gebruik van die term “nasie” om na die totale bevolking van ’n bepaalde staat te verwys sonder om in ag te neem of hierdie bevolking etnies divers is of nie.

’n Nuwe generasie ontleders soos Anthony Smith en Kymlicka verkies om die term nasie te gebruik wanneer hulle na etniese of kulturele groepe eerder as na die totale bevolking van ’n land verwys. Hulle beklemtoon derhalwe die etniese aspekte van ’n nasie. Smith en Kymlicka koppel ’n “neoprimordiale” dimensie aan die konsep nasie deur dit met kulturele, simboliese en miteskeppende aspekte van etniese groepe te verbind. Binne hierdie standpunt is etniese homogeniteit en kulturele eenheid ’n belangrike oorweging wat in nasiebou in gedagte gehou behoort te word.

In heterogene samelewings behoort nasiebou gevolglik met ’n ideologiese verbintenis tot pluralisme, kulturele verdraagsaamheid en die logika van die etniese situasie toegepas te word.

  • In ’n volgende artikel sal verwys word na bestaande modelle van nasiebou en hoe postkoloniale Afrika nasiebou probeer hanteer het. Die artikels word met die toestemming van die skrywer deur die FAK verwerk om te voldoen aan die vereistes vir plasing. Die boek is te koop by die FAK teen R50.00 (posgeld uitgesluit) en bestellings kan geplaas word deur op die woord ‘bestellings’ hier te klik.
  • Prof. Elirea Bornman is verbonde aan die departement kommunikasiewetenskap aan Unisa.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Jerry ·

Jy kan slegs nasiebou deur hande te vat en gesprekke vriendskaplik en ter goeder trou te voer en deur verskille met geduld en verdraagsaamheid te benader. Alles hang af van jou ingesteldheid en benadering tot nasiebou en strewe om lewensvatbare oplossings te vind. In die ideologiese klimaat waarin Suid Afrikaners hulself bevind moet ons nederig wees en met respek teenoor mekaar optree en dankbaarheid wys. In die huidige situasie en met die onsekere politieke vooruitsigte kan ons dit net eenvoudig nie langer bekostig om vyande te maak nie!

Judge Dredd ·

Die ANC was nooit geïnteresseerd in nasie bou – hulle wou mag bekom en dit ten alle koste behou.
Dit is gerieflik vir hulle om die wit minderheid/Afrikaners beide as melkkoeie vir die ekonomie te gebruik, asook “scapegoats” om steun by stembus te wen, te maak.

IK ·

Die subtiele afdwing van ‘nasiebou’ deur adverteerders is aan die orde vd dag. Daar is ‘n motoradvertensie wat dit duidelik en ondubbelsinnig doen.

Gerhard ·

Nasiebou in ANC-taal beteken die minderheid assimileer in die groter sameleweing en gee ALLES wat hulle het op, taal, kulteer, eie geskiedenis en ook hul welvaart.

Liberaal ·

Nasiebou beteken julle moet julle taal, kultuur, opgegaarde wealth en sakebelange oordra aan die nuwe wereldorde, dan moet julle inkrimp. Lees die liberale massamedia om julle te vertel dis nie so erg nie, dit sal julle beter daaroor laat voel.

Hanno ·

Bou ‘n eie land vir ons, dit is die enigste vorm van nasiebou wat nog kan werk.

John ·

Hoeveel professore woon nie reeds in droomland nie, die FAK en Unisa is twee hoofstede waar hogere teoriee in die fakulteit-toneelspel bedryf, aangedryf en oordryf word. Om na 5 jaar steeds dieselfde ou lesings aan ons op te dring is nogal… effens snaaks. Ons ken almal die spreekwoord, soort soek soort, en dat die Nuwe Wereldorde juis dit wil omkeer vir hul oorheersing van die wereld: Skep mulatto’s en dwing eendersheid af en gee vir almal wat depressief reageer cannabis of valium of laat hulle vinnig verdwyn. Selfs in die VSA boer soortgelykes saam en praat net met anderstes in besighede indien dit noodsaaklik is. Sodra mense wil domineer, kom die ou storie van rassisme ter sprake. Die feit dat kulture verskillend ontwikkel, is genoeg bewys dat daar genetiese drywers is. Selfs robotte sal verskillend optree afhangende van waar hulle gefabriseer word. Wat wou die prof eintlik se of sal deel 2 aandui? Sy moet gou verduidelik waar die goue pot staan want baie waens word gepak.

Eish ·

Uitekende realisme in die kommentaar!
Ek dink tog ons moet maar afstap van die term integrasie aangesien geen land ter wêreld dit ooit suksesvol kon bestuur nie. Dit is soos om n vierkantige skroef in n ronde gat in te dwing. Jy kan dit onmoontlik doen sonder om skade te veroorsaak.
Die alternatief is verdraagsaamheid.
Verdraagsaamheid is n begrip wat nie die opoffering van taal, kultuur, geloof en geskiedenis opeis nie, dus haalbaar binne elke bevolkingsgroep se oortuigings. Dit vra egter ook n gelyke speelveld ten einde effektief te wees.
Hou op karring aan wie ons is.

Lizl ·

Die reënboog ideologie kon nog nooit werk nie. Nie met die groot kultuur verskille, wat nog te sè van waarde stelsels wat nie ooreenstem nie

Boerseun ·

Ek stem 100% saam met Connor. ‘n Nasie is nie die geheel van ‘n populasie nie. ‘n Nasie is ‘n gemeenskap wat etnies, kultureel en histories iets in gemeen het. Dis wat hulle die trots en samehorigheid gee. Suid Afrika is ‘n goeie voorbeeld van so ‘n eksperiment wat gefaal het. Jy sien dit duidelik in ons sport, politiek ens. Patriotisme bestaan nie meer nie. Dit is 1 rede hoekom ‘n rugby span van Japan ‘n Suid Afrikaanse rugbyspan met emmers meer talent kan klop. Hulle speel vir hulle land, ons speel vir die geld. Ditto Argentina, New Zeeland ens.

Kiss ·

Liewe ouers, ek het lanklaas so verhewe lot twak gelees. Die narratief (haha) raak verlore in die akademiekaans. Ek is seker mens kan dit kort en kragtig stel, iets soos ‘Eenheid in Diversiteit’ dalk?

Her ·

En die mense wat aandring op SELFBESKIKKING! Dink julle rerig hulle gaan die Goue Gans met vrede laat???

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.