Nasionale gesondheidsversekering vir almal?

Deur Mariaan du Toit

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Is nasionale gesondheidsversekering (NGV) die wonderkuur vir die verval van staatsgesondheidsorg in Suid-Afrika?

Terwyl die wêreld poog om oplossings vir die Covid-19-krisis te kry en te herstel van die geweldige ekonomiese impak wat die inperkingsmaatreëls tot gevolg gehad het, word die parlementêre proses vir die wetsontwerp op NGV in Suid-Afrika eersdaags voortgesit.

Die voorgestelde wetsontwerp klink – soos wat dit met die meeste van die regering se voorstelle die geval is – te goed om waar te wees. As ’n mens deur die rooskleurige bril van die regering na die fonds kyk, beloof die fonds, onder meer, dat elke Suid-Afrikaanse burger en langtermyninwoner (arm of ryk) toegang tot dieselfde standaard gesondheidsorg gaan kry en mediese koste laer sal wees.

Mediese fondse gaan as ’t ware nie meer nodig wees om gesondheidsorg van gehalte in Suid-Afrika te kry nie, alhoewel dit jou steeds vry staan om jou eie privaat mediese fonds bykomend te kry.

Die groot vraag wat die meeste mense se oë egter laat rek is: Hoe beplan die regering om hierdie ambisieuse plan te befonds? Die antwoord kan nie een van ons verbaas nie en is algemene kennis – die NGV gaan deur jou belastinggeld befonds word en jy gaan op grond van dit wat jy verdien, ook moet bydraes gee wat van jou salaris afgetrek gaan word. Die werkgewer gaan hierdie administratiewe proses van verhaling moet hanteer.

’n Mens kan kies om jouself blind te staar teen die feit dat daar, weens die regering se inperking, ’n verdere styging in die werkloosheidsyfer is, dat die belastingbasis as gevolg hiervan besig is om aansienlik te krimp, dat die NGV nog meer finansiële druk op ’n krimpende klein groepie Suid-Afrikaners gaan plaas en dat mense wat reeds op die broodlyn leef, geld sal moet afstaan van hul salarisse en dat dit hulle net verder gaan verarm.

’n Mens kan kies om die feit te ignoreer dat die meeste staatshospitale nie voldoen aan die vereistes wat die NGV gestel het nie, wat weer meer druk op privaat hospitale gaan plaas wanneer hierdie stelsel in werking tree en dat die NGV inteendeel verswakte diens in privaat- en staatshospitale tot gevolg kan hê. Al sou al hierdie feite geïgnoreer word, kan ’n mens nie ignoreer dat die regering telkens gewys het dat selfverryking en korrupsie aan die orde van die dag is nie.

Wat gaan die NGV-fonds anders maak?

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het onlangs tydens verrigtinge op Wêreldgesondheidsdag die volgende gesê: “Die hervormingsagenda is gegrond daarop om die elemente van universalisme, gelykheid, sosiale solidariteit, strategiese aankope, toegang tot gesondheidsorgdienste van gehalte en finansiële risikobeskerming vas te lê.”

Dis ironies dat risikobeskerming een van die punte is wat geargumenteer word vir hierdie fonds, terwyl korrupsie, wanbesteding en die mate waarin die regering aanspreeklik gehou word vir hierdie wandade, juis ons risiko’s gaan verhoog.

Onlangse voorbeelde hiervan is die grootskaalse ondersoek by die GEMS (Government Employees Medical Scheme) waar ’n bedrag van meer as R300 miljoen ter sprake is, en die toekenning van onregmatige PPT-kontrakte ter waarde van R13 miljard. Die GEMS-ondersoek spreek boekdele as jy in gedagte hou dat GEMS die kandidaat is om moontlik hierdie fonds te administreer. Die rol wat SEB (swart ekonomiese bemagtiging) in die toekenning van kontrakte speel, het ook duidelik na vore gekom tydens die inperking en dit sal ook die mate waarin die privaat sektor kan deelneem aan die proses vir samewerking, ernstig beperk. Wil ons hê dat die huidige regering, met sy geskiedenis van skokkende korrupsie en selfverryking, ’n massiewe fonds soos hierdie moet beheer? Is dit nie hoog tyd dat daar uit foute geleer word nie?

NGV of soortgelyke oplossings kan nie op ’n reeds wankelrige fondasie gebou word nie. Ons kan nie kyk na Eerstewêreldoplossings terwyl weerlose burgers steeds kilometers te voet moet aflê om by die naaste hospitaal of kliniek uit te kom nie. Of dat hierdie kliniek of hospitaal nie aan die nodige standaarde voldoen nie, en dit terwyl die ekonomie in die toestand is wat dit tans is. Dan praat ek nie eens van die uitdagings wat Covid-19 en die regering se fiasko met die staat van inperking gebring het nie.

Nasionale gesondheidsversekering gaan nie binnekort of ooit in Suid-Afrika ’n werkbare oplossing vir die gesondheidskrisis bied nie, en hierdie fonds gaan net ’n verdere versoeking vir lang vingers wees en daar sal nie doeltreffende beheer wees nie.

  • Mariaan du Toit is ’n veldtogbeampte by AfriForum.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Oros Soros ·

Gesondheidsorg gaan ook maar eersdaags lyk soos die plattelandse paaie. Stuukend, vol slaggate en onbruikbaar. Niks wat hierdie regering aanpak is ‘ sukses nie en is bevuil met korrupsie.

Fritz ·

Maklik, ons gaan die volgende doen:
Vreedsame optogte
Petisies
Memorandums
Dit alles terwyl ons die morele hoëgrond handhaaf.

Anoniem ·

Nee dankie, nie as ‘n mens kyk hoe die regering se staatshospitale tans daaruitsien nie. Dis nog net die privaat hospitale en gesondheidsorg wat enigsins vertrou kan word vir goeie diens en behandeling.

Stof ·

Dankie vir die opregte kompliment aan ons wat die voorreg het om in die Staatshospitale te dien. 
Kom werk gerus saam met ons.  Ons het perfekte mense soos jy wat presies weet hoe om die stelsel te bedryf, nodig om ons onbevoegdhede(?) tegemoet te kom.

Anoniem ·

My ondervinding met staatshospitale was minder aangenaam. Dankie nietemin vir jou bydrae, daar is uitsonderings soos jy wat uitstaan in ‘n wanfunksionele omgewing.

quartus ·

Dit is juis hierdie goeie diens en behandeling wat die regering wil bekom deur hierdie nasionale gesondheidsorg droom. Ek sal aanbeveel dat mense nou dadelik mediese prosedures en behandeling wat hulle beoog om te laat doen. More gaan dit dalk te laat wees want die privaathospitale gaan skielik nie meer privaat wees maar wel staatsbeheerde hospitale

Fluisterwind ·

Net ‘n paar vrae: 1) Gaan privaat hospitale ‘n keuse hê om deel te neem al dan nie? Of gaan dit gevorseer word? 2) Gaan ons dan twee fondse hê nl. belasting vir NGV en ‘n “top-up” in terme van ons mediese fondse om die kortval te oorbrug? 3) Sal ons die regering kan dagvaar indien hulle nie hul beloftes nakom interme van goedkoop en standaard mediese sorg? En wat word bedoel met standaard mediese sorg?

Kosie ·

NGV net nog n nuwe afkorting van hier kom n nuwe manier om nog geld te vat, ons wat werk sal in elk geval nog ons eie medies moet he want n werkende mens sal nie saam met mense wat nie wil werk of kan werk kry nie in n ry gaan sit om te wag om soos gemors behandel te word vir iets wat jy bevonds nie, dan besluit hulle jy moet op n ander tyd weer terugkom en weer in daai ry inval wat jou op die einde van die dag net uit jou werk gaan hou, jy gaan net nog meer siek word want jy gaan heeltyd nuwe siektes optel op die vuil stoele waarop jy moet sit en by al die ander mense met al daai siektes wat in daai rye en rye sit.

Dirk Mostert ·

Netsoos sy voorganger het die minister nie ‘n saak met waar die geld vandaan gaan kom nie. Daar sal maar weer op die handvol belastingbetalers geteer word. Die ANC onder Ramaphosa het baie ambisieuse planne en wil hoog vlieg op skuld. Dat die Rand tans bestendig is teen die Dollar, is net omdat die VSA ook in ‘n piesang-republiek ontaard. Ek voorsien egter dieselfde wisselkoers-lot as Zimbabwe.

Heinrich ·

Die regering het mos vir ons gewys hoe uitstekend publieke hospitale bestuur word en allle privaat hospitale kan daar gaan leer…o wag, toe nou nie….alles waarin die regening ‘n hand kry word verwoes. Daar is geen bewyse dat hulle al iets kon maak werk nie, hoekom sal hierdie anders wees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.