Deur dr. Riaan Eksteen
Wanneer Namibië sy onafhanklikheid op 21 Maart vier, moet ons vir ʼn oomblik stilstaan en twee belangwekkende verwikkelinge in die tyd voor onafhanklikheid in perspektief plaas – met spesifieke klem op hul deurslaggewende rol en impak op Namibië se onafhanklikheidsproses tydens die opstel van ʼn grondwet na die verkiesing van November 1989.
Die Westerse skikplan wat Suid-Afrika en SWAPO in April 1978 aanvaar het, is deur die Veiligheidsraad van die VN met resolusie 431 (1978) onderskryf. Later het daardie Raad resolusie 435 (1978) aanvaar om die implementering van die plan te magtig. Op daardie stadium was SWAPO reeds vir lank – en nog vir baie jare daarna steeds – deur die VN en meeste lidlande aanvaar as die enigste en ware verteenwoordiger van Namibië se mense. Daarby het die skikplan die proses na die verkiesing tot onafhanklikheid in enkele sinne afgemaak.
Onmiddellik nadat die verkiesingsuitslae gesertifiseer is, moes die Grondwetskrywende Vergadering byeenkom om ʼn grondwet vir ʼn onafhanklike Namibië op te stel en te aanvaar. Omdat geen meerderheid waarmee die grondwet aanvaar moes word vermeld is nie, is aanvaar dat dit ʼn blote meerderheid sou wees. Saam met die verhewe en VN-uitverkose posisie wat SWAPO ten koste van alle ander Namibiese politieke partye in die konteks van die VN geniet het, is gevrees dat SWAPO bloot sy konsepgrondwet sou indien en die aanvaarding daarvan sou stoomroller.
Die implementering van die skikplan is om verskeie redes vertraag. Na Ronald Reagan se presidentsaanvaarding in die VSA in Januarie 1981 het twee heel ander dimensies die skikplan op ʼn nuwe en meer lewensvatbare trajek geplaas. Crocker was die VSA se hoofonderhandelaar en het die implementeringsproses in fases hanteer. Die onttrekking van die Kubane uit Angola wat terselfdertyd sy aandag geniet het, het hy op ʼn afsonderlike baan gehou. Toe hy die fases uiteindelik geformuleer het, is twee belangrike veranderinge ingesluit.
Eerstens is ʼn dokument getiteld “Beginsels aangaande die Grondwetgewende Vergadering en die Grondwet vir ʼn Onafhanklike Namibië” aan alle betrokke partye oorhandig. Daarin is verskeie demokratiese beginsels uiteengesit wat alle politieke partye voor ʼn verkiesing moes aanvaar en onderneem om toe te sien dat daardie beginsels in ʼn toekomstige grondwet ingesluit word. Die oorhandiging van die dokument het ʼn kardinale nuwe aspek onderstreep.

Betogers hou ‘n plakkaat van Sam Nujoma, die president van SWAPO by ‘n betoging tydens die besoek van die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal Javier Perez de Cuellar, op 20 Julie 1989 in Ongwediva. (Foto: Walter DHLADHLA / AFP)
Dit is nie net aan SWAPO, wat toe nog steeds sy politieke teenwoordigheid in die buiteland gehandhaaf het, oorhandig nie, maar in Windhoek ook aan elk van die bestaande interne politieke partye wat tot op daardie stadium doodeenvoudig geïgnoreer is. Dit was ʼn groot deurbraak omdat dit gewys het dat hierdie partye op ʼn gelyke basis met SWAPO gestel is. SWAPO het daarmee sy voorkeurstatus, wat hy vir dekades internasionaal en veral in die konteks van die VN geniet het, verloor.
Die grondwetlike beginsels het onlosmaaklik deel geword van die nuwe trajek waarop die oplossing van die Namibië-kwessie deur Crocker met sy gefasseerde benadering geplaas is. Die belangrikheid van hierdie beginsels kan nie genoeg beklemtoon word nie. Pre-Crocker was dit resolusie 435 of niks. Daar was geen kontak met of erkenning van die interne politieke partye nie, slegs SWAPO. Ook was daar geen formule vir dit wat ná die verkiesing moet gebeur nie; net algemeenhede wat die toekomstige grondwet sou moes insluit. Post-Crocker is die VN, Ahtisaari en resolusie 435 nie opsy gestoot nie. Hulle moes sorg dat in die aanloop tot die verkiesing alle politieke partye gelyk en regverdig behandel sou word.
Die speelveld vir al die politieke partye is gelyk gemaak en SWAPO het nou slegs een van die vele politieke partye geword wat aan die verkiesing sou deelneem. Soos al die ander, moes SWAPO hom verbind tot die toepassing van die internasionaal erkende beginsels waarteen geen demokraties-gefundeerde party beswaar kon aanteken, daarmee verskil of probeer omseil nie. SWAPO was nie juis in sy skik met hierdie verwikkelinge nie en het groot bedenkinge oor die beginsels gehad, veral oor die vereiste van ʼn tweederdemeerderheid vir die aanvaarding van ʼn onafhanklikheidsgrondwet.
Die Grondwetkomitee se voorsitter was Hage Geingob wat sedert Maart 2016 die derde president van Namibië is. Nadat die deelnemende partye by die eerste byeenkoms op 7 Desember 1989 hul onderskeie grondwetlike voorstelle ingedien het, het Dirk Mudge, leier van die Demokratiese Turnhalle Alliansie (DTA), die volgende dag daarop gewys dat dit ʼn onbegonne taak sou wees om gelyktydig na ʼn halfdosyn konsepgrondwette te kyk en hulle met mekaar te vergelyk. Vir hom was daar net twee volledige konsepte ter sprake, naamlik die van SWAPO en die van die DTA. Hierdie twee konsepte het al die aspekte bevat waarvoor gewoonlik in grondwette voorsiening gemaak word.
Hy noem in sy memoires (Enduit vir ʼn onafhanklike Namibië, 2015) dat met die bestudering van die SWAPO-konsep hy verbaas was oor hoe radikaal dit verskil het van die grondwette wat hulle oor die jare versprei het. Hy het besef dat indien SWAPO se konsep as besprekingsdokument aanvaar word, die DTA en die ander kleiner partye nie slegs hul bereidwilligheid sou bewys om objektief na SWAPO se voorstelle te kyk nie, maar dat dit ook tot gevolg sou hê dat SWAPO in dieselfde gees objektief en onbevange die DTA en andere se voorstelle vir wysigings sou oorweeg. Mudge se hand van versoening het boekdele gespreek en dadelik die gewenste boodskap beklemtoon.
Om die SWAPO-dokument as besprekingsdokument te gebruik, het regdeur die samesprekings in die komitee deure oopgemaak en kon hy met vrymoedigheid aan die bespreking van elke artikel vir insluiting in die grondwet deelneem. Sy eerste tree tot versoening het inderdaad vrugte afgewerp toe die voorsitter hom versoek het om langs hom plaas te neem tydens sittings. In daardie gees het hulle ʼn modelgrondwet vir Namibië aanvaar. Hieroor meld Mudge voorts in sy memoires dat hy steeds met aangename herinnerings en waardering terugdink aan die wonderlike gees van lojaliteit aan hul gemeenskaplike vaderland waarin voormalige vyande hande gevat en saam oor die toekoms in versoening beraadslaag het.
Die formele bespreking het met die aanhef tot die grondwet begin. Die SWAPO-konsep het in sy aanhef die volgende frase ingesluit: “… will strive to achieve national reconciliation and to foster peace, unity and a common loyalty to a single state”. Met die aanvaarding van die aanhef het die voorsitter opgemerk dat daar nie meer na die verlede gekyk word nie, maar eerder na die toekoms. Die insluiting van daardie sentimente in die uiteindelike grondwet, het die weg gebaan vir die uitleef van nasionale versoening waartoe almal in Namibië hul verbind het.

‘n Lid van die weermag hys die nuwe Namibiese vlag tydens ‘n oefenlopie voor die onafhanklikheidsdag-seremonie by die nasionale stadion, op 21 Maart 1990 in Windhoek. Die Namibiese vlag is vir die eerste keer om middernag op 21 Maart gehys, toe Namibië ná ‘n 23 jaar lange oorlog onafhanklikheid van Suid-Afrika verklaar het. (Foto: Philip LITTLETON / AFP)
Dit was in hierdie gees en wesendheid waarin voormalige vyande hul verskille oorbrug het en die grondslag van nasionale versoening gelê en op ʼn tasbare wyse dit begin uitleef het. Dit is nie gedoen aan die einde van die proses nie, maar as eerste item van beraadslaging. So is nasionale versoening nie iets wat later afgedwing sou word nie, maar het dit spontaan uit die optredes van hul leiers ontstaan wat die voorbeeld van wat bereik kon word wanneer nasionale versoening onbevange ontstaan en groei duidelik gestel het.
By ʼn later geleentheid het Mudge opgemerk dat hy hom nie kon voorstel dat voormalige vyande in ʼn gees van welwillendheid en patriotisme kon hande vat nie. Almal was vasbeslote om ʼn grondwet vir ʼn demokratiese en vreedsame Namibië te skryf. Destydse vyande het feitlik onmiddellik vriende geword, en agterdog en wantroue het plek gemaak vir spangees. Mudge en sy kollegas in die DTA is onvoorwaardelik aanvaar as medeskrywers van die grondwet – een wat rassisme ten sterkste veroordeel, en versoening en rasseharmonie as ʼn hoogste doel stel.
Die grondwet was die produk van ʼn kompromie-ooreenkoms en die letter en gees van daardie ooreenkoms was versoening. Dit het regstellende maatreëls in die vooruitsig gestel, maar nie wraak nie; nie omgekeerde diskriminasie nie; nie die blote verandering van rolle van oortreder en slagoffer nie.
Wat hier ter sprake is, is versoening. Die begrip of woord “amnestie” is nooit gebruik of aanvaar nie, en die strewe na nasionale versoening was en bly meer as ʼn verklaring van voorneme. Dit is ʼn imperatief wat grondwetlik gefundeer is om vergifnis van vorige ongeregtighede te vestig en mekaar se integriteit en goeie trou met die bou van ʼn nuwe republiek kollektief te bevestig.
Die oorheersende gevoel wat geheers het, was die vraag waarop daar ʼn duidelike antwoord was: Waarom moes daar nou na afloop van die vreedsame proses wat voor, tydens en na die verkiesing geheers het, “vervolging” van wandade ingestel word waaroor mense moes bieg? Dit sou geen positiewe bydra lewer nie. Amnestie is as ʼn teenoorgestelde gesien en as ʼn negatiewe begrip en proses beskou. Met Suid-Afrika wat binne maande na Namibië hul eie grondwetlike gesprekke en prosesse moes begin, kon waardevolle lesse uit die Namibiërs se hantering van hul verskille geleer word. Die gees van versoening en verdraagsaamheid waarin die onderhandelinge vir ʼn nuwe grondwetlike bestel gevoer en afgehandel is, was vir almal binne en buite Namibië om daarvan kennis te neem.

Duitse minister van buitelandse sake, Hans-Dietrich Genscher (R) en Sam Nujoma (L), president van die Suidwes-Afrikaanse Volksorganisasie (SWAPO), in Bonn, Duitsland, 23 Oktober 1980. Genscher en Nujoma het gepraat oor die toekoms van Namibië, ‘n voormalige Duitse kolonie. (Foto: PETER POPPDPA dpa Picture-Alliance via AFP)
Toe Suid-Afrika se Waarheids-en-Versoeningskommissie in 1997 versoek het dat verhore in Namibië gehou word, was dit nie vreemd dat die Namibiese regering dit binne enkele dae formeel verwerp het nie. Die rasionaal vir die besluit was dat Namibië se beleid van nasionale versoening bedoel is vir die land om vrede te maak met sy gewelddadige en neerhalende verlede waarin duisende hul lewens, waardigheid en selfrespek verloor het en getraumatiseer is deur opgelegde geweld. Na sewe jaar se positiewe toepassing van die beleid van nasionale versoening was daar geen moontlikheid om met die blote teenwoordigheid van daardie kommissie enige geleentheid te skep om ou wonde oop te krap nie.
Die implementering van die beleid van nasionale versoening het by onafhanklikheid in 1990 Namibië van moontlike bloedige wraakoptredes gered. Stigterspresident Sam Nujoma het die beleid met vasberadenheid bevorder en Namibiërs het dit heelhartig omhels. Kerke het ʼn belangrike rol in die proses gespeel en beide politieke- en kerkleiers het versoening gepredik, wat meer en beter vrugte afgewerp het. Versoening is dus as ʼn positiewe begrip gesien en ervaar, en dit het op sy beurt weer vergifnis beter gedefinieer en sou spontaan verder uit toekomstige optredes voortvloei en groei. In sy openingsrede by die tweede nasionale grondkonferensie op 1 Oktober 2018, het president Geingob daarop gewys dat Namibië oor die afgelope 28 jaar geweldige vordering gemaak het en dat prestasies gemeet is aan die beleid van nasionale versoening wat tot voordeel van almal in Namibië werk.
Versoening het ʼn saambindende faktor geword en is op velerlei terreine gesien en ondervind. Dit is en was nooit bedoel om ʼn eenmalige handeling te wees wat met lippetaal onderskryf moes word nie. Dit is derhalwe die plig van elkeen in Namibië – en baie beslis die van die regering – om die grondwetlike letter en gees van nasionale versoening steeds prakties uit te leef deur verdraagsaamheid, gematigdheid en inklusiwiteit.
- Van die 27 jaar wat dr. Riaan Eksteen lid van Suid-Afrika se Buitelandse Diens was, was hy vir 20 jaar daarvan ten nouste gemoeid met die Namibiese vraagstuk, insluitend twee jaar as Suid-Afrika se eerste ambassadeur, nadat die land in Maart 1990 onafhanklik geword het. Sy memoires, “Beyond Diplomacy”, is in Oktober 2022 gepubliseer. Hy is tans senior navorsingsgenoot in die kantoor van die dekaan van Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is lid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
Dit is waar, dr. Eksteen. Die Namibiërs het ‘n doelbewuste poging aangewend om te vergewe en te versoen. Die resultaat daarvan sien ons vandag. In S.A. egter is daar ‘n Wraak en Vergeldings Kommissie gehou. Gewaande wandade en ou koeie van die verlede word elke jaar afgestof en in ons kele afgedruk. Die sing van “Kill the Boer” word nie eens deur hofbevele gestop nie. Daar is baie lesse wat die NP en ANC destyds by Namibië kon leer.