Naskokke van VSA se onveranderde rentekoers

amerika vlag

Argieffoto.

Ruan Schröder

Soos die meeste mense moontlik gesien het, het die Amerikaanse Reserwebank sy rentekoers Donderdagaand op 0,25% gehou en nie verhoog soos baie kenners verwag het nie. Die verwagting verder was dat ’n verhoging in die rentekoerse ’n daling in wêreldmarkte sou veroorsaak weens die vloei van kapitaal uit ontluikende markte (soos SA) na die VSA. Die rentekoers is nie verhoog nie, maar daar was steeds Vrydag ’n steil daling in wêreldmarkte; hoekom dan?

Vir baie jare was Amerika die wêreld se ekonomieleier. Besluite oor hul koerse sou hoofsaaklik gegrond word op die arbeidsmarkdata in die VSA, inflasie in die VSA, BBP-groei in die VSA en die rentekoerse in die VSA. Verlede week het die Reserwebank met ’n interessante rede vorendag gekom vir sy besluit om nog nie die koers te verhoog nie:

“Recent global economic and financial developments may restrain economic activity somewhat and are likely to put further downward pressure on inflation in the near term.” – Janet Yellen.

Ek noem dit interessant, want me. Yellen van die Reserwebank het buitelandse ekonomiese probleme (veral China) gelys as die hoofrede vir hul besluit. Dit bewys net die groeiende ekonomiese mag wat China het ín die globale ekonomiese landskap en die stelselmatige skuif van hierdie mag vanaf die weste na die ooste.

Die markte het Vrydag negatief reageer, want as Amerika voel dat die wêreld in so ’n slegte situasie is dat hulle nie hul koerse wil lig nie, dan moet die situasie dalk aansienlik slegter lyk as wat die meeste mense vermoed. ’n Koerantopskrif wat dit mooi saamvat, lui: “Shares struggle on global growth concerns”.

Dit is baie duidelik dat die wêreld nie ekonomies gesond is nie, maar is dit so erg dat dit die Amerikaners se besluite sal beïnvloed, ten spyte van al die tekens binne die VSA wat aandui dat hul ekonomie mooi herstel het?

Ook ék het ’n verhoging verwag, asook ’n daaropvolgende negatiewe reaksie in die markte. Eersgenoemde het nie gebeur nie, maar laasgenoemde het wel. Verwag dus nog verdere onstuimigheid in die wêreld vir ’n ruk tot almal kan sin uitmaak van wat werklik aangaan. Die besluit laas week beteken moontlik ook dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank nie ons rentekoers hierdie week behoort te verhoog nie … volgens 18 uit 20 ekonome wat deur Bloomberg gevra was vir ’n mening.

  • Ruan Schröder is ‘n beleggingspesialis van Solidariteit Finansiële Dienste

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Ek is geen ekonoom nie, inteendeel, ek sukkel maar self om kop bo water te hou…..maar alles het reg gewerk toe alle transaksies met kontant gemaak is….Nou word geld deur finansiële instellings digitaal geskep met die druk van ‘n knoppie….maar die rente moet met “regte geld” terug betaal word….en as jy in gebreke bly vat die bank jou eiendom terug. Nie een van hierdie instansies of effekte beurse “skep” enigsens geld nie…..hulle woeker met ander mense s’n, en as hulle wins maak vat hulle die grootste hap, en as hulle ‘n verlies maak is hulle nie verantwoordelik nie. G’n wonder die sogenaamde ekonomie lyk soos wat dit lyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.