Natuurlik wil ons kommunisme beveg. Hoe dan anders?

Ons by AfriForum is tans landwyd besig met ’n padskou oor die voorgestelde mosie ten gunste van onteiening sonder vergoeding. Dit is ’n mosie wat vanjaar deur die EFF, ANC en kleiner partye in die parlement aanvaar is en poog om private grond (eintlik eiendom) onder staatsbesit te bring. ’n Aangestelde parlementêre kommissie het tot 30 Augustus om terugvoering te gee oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet (wat met eiendomsreg te doen het) en intussen is daar ’n proses van openbare deelname. Laasgenoemde is tewens waarmee AfriForum ook nou besig is en daar volg nog.

Ons vertel belanghebbendes en gemeenskappe van die gevare van so ’n stap en wat dit aan die ekonomie en die land kan doen. Ons bied ook oplossings en moedig mense aan om ook aan die ander openbaredeelnameprosesse deel te neem. Ander stappe sluit, onder meer, ’n internasionale veldtog, verdere navorsing en selfs ’n rolprent oor hierdie tema in.

Daar moet in gedagte gehou word dat private eiendomsbesit gelukkig nog gehandhaaf word in Suid-Afrika en daarom die norm is. Pieter du Toit, redakteur van HuffPost SA, het een van die Gautengse sittings bygewoon en daarna ’n snedige artikel oor ons pogings geskryf. Volgens hom is ons boodskap dat ons op ’n kruisvaart is om die debat oor hierdie kwessie as ’n poging om ’n kommunistiese staat te skep, uit te beeld. Eerder as wat ek met Pieter oor ander dele van sy artikel gaan stry, gaan ek hom bloot gelyk gee hierop: Natuurlik wil ons keer dat volskaalse kommunisme posvat in Suid-Afrika! Daar is reeds ’n kruipende sosialisme aan die gang in Suid-Afrika en onteiening sonder vergoeding sal ’n katastrofale stap wees. Hoe kan ons nié daarteen baklei nie? En hoe kan ons nie hierdie verwikkelinge ernstig opneem nie? Daar is immers ’n rede hoekom eiendomsreg in die Handves van Regte in die Grondwet ingesluit is.

huis-sleutels-huiseienaar-eiendomsreg

Foto: Mastersenaiper/Pixabay.com

Eiendomsreg is alle regte

Daar is ’n sterk korrelasie tussen enersyds die handhawing van eiendomsreg en andersyds die verwesenliking van vele ander regte, asook die algehele welstand van lande en mense. Jy kan nie ’n vrye mark- (of darem taamlik vrye) ekonomie hê sonder eiendomsreg nie. Dis so eenvoudig soos dit. Dit is eintlik heel logies: Sonder eiendomsreg kan iemand nie iets koop, dit verbeter, daarin belê en handel dryf nie. Mense verloor hul outonomie en die staat het ’n lewenslange houvas op jou.

Die gesaghebbende Internasionale Eiendomsreg-indeks van 2017 (en feitlik elke uitgawe voor dit) wys onteenseglik aan hoe eiendomsreg aan welstand gekoppel is. Die boonste 20% op hierdie indeks bestaan uit ryk en suksesvolle lande soos Nieu-Seeland, Finland, Japan, Singapoer, Kanada en Luxemburg. Suid-Afrika is buite die top 20%, maar val genadiglik nog in die volgende 20% saam met lande soos die Verenigde Koninkryk, Spanje, Italië en Estland. Dis goeie geselskap om in te wees en ons by AfriForum wil graag hê ons moet daar bly en selfs verbeter. Die onderste 20% vertel ook ’n verhaal van hul eie. Dit sluit lande soos Zimbabwe, Venezuela, Jemen en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in. Die vermelding van hierdie lande se name behoef amper geen verdere ontleding nie omdat hulle mislukkings oorbekend is.

Waar jy op hierdie indeks lê, hou sterk verband met waar jy op ander belangrike indekse lê. In Freedom House, ’n prominente Amerikaanse nieregeringsorganisasie, se Freedom of the World 2018-verslag kry die onderskeie lande tellings uit 7 vir onderskeidelik burgerregte en politieke vryhede – en ook ’n gesamentlike telling – met 7 wat op die minste vryheid dui en 1 op die meeste vryheid. Die DRK se telling vir politieke vryhede is 7 en vir burgerregte is dit 6 terwyl die land se gesamentlike telling 6.5 uit 7 is. Venezuela s’n is onderskeidelik 6, 5 en 5,5 en Noord-Korea, ’n volslae kommunistiese staat, se tellings op al drie gebiede is 7. Kommunistiese Kuba se tellings is ook almal 7. Daarenteen is al drie tellings by Nieu-Seeland en Finland 1.

Die Fragile State Index is ook veelseggend. Dit is ’n indeks wat in wese die sukses (al dan nie) van state meet op grond van ’n reeks faktore, soos staatsvermoë om dienste te lewer, die etnifisering van die regering, die prestasie van die ekonomie en demografiese druk. Hoe hoër ’n betrokke staat op die indeks voorkom, hoe verder is jou land van mislukking af. Finland is byvoorbeeld heel onder op nr. 178. Daarenteen is die DRK 7de en Zimbabwe is 13de.

Die interessante deel is Suid-Afrika se status op hierdie indekse. Terwyl die land steeds allerweë as vry bestempel word, spreek al hierdie indekse kommer uit. Op die Fragile State State Index was Suid-Afrika tydens die laaste ronde van meting een van die state wat die grootste agteruitgang getoon het. Die opsomming lui as volg (verskoon maar die Engels, maar ek wil nie enigiets tydens vertaling laat verlore gaan nie): “South Africa’s trend is particularly alarming. As the economic engine – and in many respects, the political giant – of Africa, the Fragile State Index has tracked a rapid decline in the country over the past decade, with only Libya, Syria, Yemen, Mali, and Senegal having worsened more in the past ten years.” Is hierdie nie eerder die stories waarop HuffPost moet fokus as om mense te kritiseer wat hierdie agteruitgang en kruipende sosialisme wil stopsit nie?

Nog ’n verdoemende feit is dat mense nie vlug na lande waar eiendomsreg onder druk is of nie bestaan nie. Die teenoorgestelde is waar en dis hoekom mense hul lewens waag om uit Noord-Korea te ontsnap en van Kuba na Amerika te roei.

eiendomregte-grondbesit-privaat

Foto: Aitoff/Pixabay.com

Laat ons nooit vergeet

Du Toit kan straks dink ons oordryf oor die gevare van hierdie mosie, maar die ANC en EFF se bedoelinge is daar vir almal om te lees – as jy net bereid is om dit te doen. Die EFF verklaar op sy webwerf dat dit inspirasie put uit die Marxisme-Leninisme. Dit glo ook, onder meer, in die onteiening van grond sonder vergoeding en die gelyke verspreiding daarvan, asook in die nasionalisering van die myne, banke en strategiese sektore (ook sonder vergoeding). Dis breedweg wat die ANC se doelwitte ingevolge sy Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) bepleit en prominente ANC-lede eggo dit deurgaans. Maar vergewis jouself gerus self van die feite deur hul dokumente te lees en te luister na wat hulle sê.

Alle kommunistiese rewolusies gebeur nie skielik nie, maar baie word inkrementeel deur middel van een sosialistiese beleid op ’n slag voltrek. Die breë publiek dink eers dis net die ongewilde minderheid wat hul verdiende loon kry, maar regte is onverdeelbaar en skade aan een groep kring noodwendig uit na almal. Dis wat in Zimbabwe en verskeie lande gebeur het.

Die kommunisme het nie met die Koue Oorlog gesterf nie en is ver van dood af – veral in plekke wat dit nog nooit beleef het nie. Hierdie skynbaar egalitariese ideologie se gruwels, ellende en mislukking is besig om vergeet te word en dit blyk steeds ’n maklike en skynbaar gewilde oplossing vir populiste te wees.

Ek sal eerder ’n alarmis (wat ek nie is nie) genoem word en voorberei op iets verwoestends wat ’n groot mate van waarskynlikheid het om waar te word as om in ’n Orwelliaanse, kommunistiese distopie wakker te word. Ronald Reagan het eenkeer gewaarsku dat vryheid nooit meer as ’n geslag weg is van vernietiging nie. Dit is nie iets wat geneties oorgedra word nie, maar moet voortdurend verdedig word. Paraatheid is daarom noodwendig die voorvereiste vir vryheid – al dink sommige nie so nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jerry ·

Stem saam dat ons nie ons paraatheid vir n oomblik kan verslap nie en daarmee saam en ter wille van oorlewing moet die DA en die VF- hande vat in n gesamentlike poging teen grondonteiening sonder vergoeding. Eendrag maak mag! Al is dit net tov hierdie een baie belangrike belang.

Willem ·

En tov van Flip wat 5 blokke van jou af woon, daar in die woonbuurt waar julle by dieselfde winkel koop.

Rupert Ashford ·

Huffpost? Vat dit van wie dit kom. Baie goeie stuk, Eugene.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.