Nauurse borgtog: Wat is my regte?

hein-gonzales

Hein Gonzales is bestuurder van risiko en ondersteuning by AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid.Foto: Verskaf.

Deur Hein Gonzales

Luidens art 50(1)(b) van die Strafprosesregwet word bepaal ʼn beskuldigde wat in aanhouding is ná inhegtenisneming moet so spoedig moontlik ingelig word van sy reg om aansoek te doen om borgtog en vrylating. Laasgenoemde is nie ʼn keuse nie, maar ʼn direkte bevel en opdrag vir uitvoering deur SAPD.

Inhegtenisneming en die gepaardgaande gevangesetting op ʼn Vrydagaand is nie die beste manier om ʼn naweek af te skop nie. Daar is dikwels verwarring oor nauurse borgtog wat buite die hof toegestaan kan word, en aan die ander kant borgtog toegestaan deur ʼn hof. Deel 1 van hierdie bespreking handel oor nauurse borgtog, waarna Deel 2 en 3, wat in die komende weke op Maroela geplaas sal word, gaan handel oor borgtog wat toegestaan word deur ʼn hof.

Die vertrekpunt in hierdie proses gaan wees om vas te stel op welke klagte jy in hegtenis geneem en aangekla is. Laasgenoemde gaan die bepalende faktor wees of jy in aanmerking sal kom vir nauurse borgtog, al dan nie. Die Strafprosesregwet, wet 51 van 1977 (hierna genoem die “Wet”), het verskeie skedules waarin die betrokke misdrywe verdeel word en borgtog word dienooreenkomstig hierdie skedules toegestaan. Gaan lees gerus die skedules by Justice.gov.za en maak seker jy weet wat jou regte is.

Waar begin ons?

Borgtog toegestaan deur SAPD

Kragtens art 59 van die Wet kan borgtog toegestaan word aan jou as beskuldigde voor jou eerste verskyning in die hof indien jy aangekla word van ʼn misdryf wat nie in Deel II en Deel III van Skedule 2 val nie. Borgtog kan slegs deur ʼn lid van SAPD met rang van onderoffisier of hoër rang toegestaan word, op voorwaarde dat daar oorlegpleging met die ondersoekbeampte moet wees oor die meriete. By die oorweging van die borgtogaansoek moet die SAPD-beampte billikheid aan die dag lê deur oorweging van alle tersaaklike feite. Indien die SAPD-beampte kwaadwillig die borgtog weier of weier om sy diskresie uit te oefen, kan dit lei tot siviele eise teen die betrokke beampte.

Faktore wat oorweeg moet word, is of jy ʼn vaste adres het en of jy jou verhoor sal bywoon sonder om te vlug.

Hoe gaan die proses lyk?

  • Jy word in hegtenis geneem en tree in verbinding met jou prokureur kragtens jou grondwetlike reg soos verskans in art 35 van die Grondwet.
  • Jou prokureur daag op by die polisiestasie en gesels met die ondersoekbeampte en stel vas wat die aanklag is.
  • Jou prokureur sal dan met die SAPD-beampte en ondersoekbeampte gesels en onderhandel vir borgtog indien dit ʼn misdryf is wat nie in Deel II en Deel III van Skedule 2 val nie.
  • Borgtog word vasgestel deur SAPD.
  • Jy betaal die borgtogbedrag en word vrygelaat.

Nadat hierdie borgtog toegestaan is, sal jy die volgende oggend in die hof moet verskyn op die aanklagte teen jou. Die SAPD-beampte sal vir jou ʼn J398-borgtogakte oorhandig wat al die nodige inligting vervat soos hofdatum, tyd, plek en klagte teen jou.

Voorbeeld: Daar breek ʼn woordewisseling uit tussen jou en die karwag by ʼn parkeerterrein oor ʼn fooi. Die karwag val jou aan uit woede en jy weer die aanval af deur hom te slaan ter selfverdediging. Die karwag gaan dien kwaadwillig ʼn klagte van aanranding teen jou in waarna jy in hegtenis geneem word. Kan die polisie vir jou borgtog toestaan? Ja, jy kan borgtog toegestaan word deur SAPD aangesien dit nie ʼn misdryf is wat val binne Deel II of Deel III van Skedule 2 nie.

Borgtog toegestaan deur ʼn staatsaanklaer

Kragtens art 59A van die Wet kan ʼn staatsaanklaer vir jou as beskuldigde borgtog toestaan voor jou eerste verskyning in die hof, op voorwaarde dat jy aangekla is van ʼn misdryf soos verskans in skedule 7 van die Wet. Hierdie soort borgtog kan slegs verleen word deur ʼn staatsaanklaer wat daartoe gemagtig is deur die direkteur van openbare vervolging, asook ná oorlegpleging met die betrokke ondersoekbeampte. Die staatsaanklaer kan ook sekere voorwaardes oplê ten opsigte van die verlening van borgtog soos dat jy geen kontak mag hê met getuies nie en/of jou elke dag aanmeld by die plaaslike polisiestasie, of selfs moet aanmeld vir ʼn uitkenningsparade.

Hoe gaan die proses lyk?

  • Jy word in hegtenis geneem en tree in verbinding met jou prokureur kragtens jou grondwetlike reg soos verskans in art 35 van die Grondwet.
  • Jou prokureur daag op by die polisiestasie en gesels met die ondersoekbeampte en/of inhegtenisnemende beampte en stel vas wat die aanklag is.
  • Jou prokureur nader die nauurse staatsaanklaer aan diens en versoek hom om na die polisiekantoor te kom vir onderhandelings.
  • Jou prokureur sal dan met die SAPD-beampte, ondersoekbeampte en staatsaanklaer gesels en onderhandel vir borgtog indien die misdryf binne skedule 7 van die Wet val.
  • Borgtog word vasgestel deur die staatsaanklaer.
  • Jy betaal die borgtogbedrag en word vrygelaat.

Hierdie soort borgtog kan toegestaan word onderhewig aan die volgende voorwaardes:

  • Hierdie soort borgtog kan slegs verleen word voor jou eerste hofverskyning die volgende dag.
  • Hierdie soort borgtog is slegs van krag tot jou eerste hofverskyning, waarna die hof kan besluit om die borgtog te verleng, wysig, besluit om die aansoek om borgtog te heroorweeg of selfs ʼn nuwe aansoek kragtens art 60 van die Wet aan te hoor.

Voorbeeld: Jy is in ʼn motorongeluk betrokke waartydens een persoon oorlede is. Die staat beweer dat jy nalatig was en jy word aangekla van strafbare manslag. Kan ʼn staatsaanklaer vir jou borgtog toestaan? Ja, aangesien die misdryf binne skedule 7 van die Wet val.

Wat as SAPD en die staatsaanklaer nie borgtog kan of wil toestaan nie?

Indien jy nie binne die bestek van die raamwerk hierbo val nie, sal jou aangeleentheid na die hof verwys word vir ʼn formele borgtogaansoek kragtens art 60 van die Wet en wel binne 48 uur ná jou inhegtenisneming. Hierdie soort borgtog sal in Deel 2 van hierdie reeks hanteer word.

Die ondersoekbeampte en staatsaanklaer kan moontlik borgtog weier op die volgende gronde:

  • Daar is vorige veroordelings en skuldigbevindings van ander misdrywe en/of van dieselfde misdrywe.
  • Daar is hangende sake van dieselfde soort en/of ander misdrywe.
  • Daar bestaan kommer dat jy geen vaste adres het nie en dus ʼn vlugrisiko is.
  • Daar bestaan kommer dat jy jou heel moontlik kan inmeng in die ondersoek en/of getuies.
  • Daar is goeie gronde dat jy ʼn gevaar vir die publiek en/of klaer inhou.

Jou vier wenke vir nauurse borgtog

  • Maak seker dat jy bewus is van jou regte kragtens wetgewing en die Grondwet.
  • Tree altyd binne die raamwerk van wetgewing op (geen cowboys!).
  • Moet nooit wetgewing probeer omseil nie, maar verseker dat jy standpunt inneem en verseker dat geregtigheid geskied.
  • Met sekere regte kom daar ook verantwoordelikhede. Verseker die sinergie tussen die twee aangesien hulle in wisselwerking is.

Vir nog veiligheidswenke gaan kyk gerus na AfriForum se jongste video oor jou grondwetlike reg om jouself en jou familie te beskerm tydens ʼn aanval op jouself, meer spesifiek jou regte en verantwoordelikhede.

  • Hein Gonzales is bestuurder van risiko en ondersteuning by AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid.

Bykomende bronne:

  • Toegepaste Reg vir Polisiebeamptes, 3de uitgawe, C Joubert, Juta
  • Strafprosesregwet, wet 51 van 1977

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa ·

Dankie – dis nodig dat Suid-Afrikaners genoegsame kennis het omtrent enige iets wat hul kan raak. Lees graag meer.

DMC de Koker ·

Bylae 7
(Artikel 59A)
[Bylae 7 bygevoeg by a. 10 van Wet 85 van 1997, gewysig by a. 10 van Wet 34 van 1998 en by a. 16 van Wet 62 van 2000 en vervang by a. 68 van Wet 32 van 2007.]
Openbare geweld.
Strafbare Manslag.
Bestialiteit soos beoog in artikel 13 van die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2007.
Aanranding, waarby die toediening van ernstige liggaamlike leed betrokke is.
Brandstigting.
Huisbraak, hetsy ingevolge die gemene reg of ‘n statutêre bepaling, met die opset om ‘n misdryf te pleeg.
Opsetlike saakbeskadiging.
Roof, behalwe roof met verswarende omstandighede, indien die bedrag betrokke by die misdryf nie R20 000,00 oorskry nie.
Diefstal en ‘n misdryf bedoel in artikel 264 (1) (a), (b) en (c), indien die bedrag betrokke by die misdryf nie R20 000,00 oorskry nie.
‘n Misdryf ingevolge ‘n wet betreffende die onwettige besit van afhanklikheidsvormende medisyne.
‘n Misdryf wat verband hou met afpersing, bedrog, vervalsing of uitgifte indien die bedrae betrokke nie R20 000,00 oorskry nie.
‘n Sameswering, uitlokking of poging om ‘n in hierdie Bylae bedoelde misdryf te pleeg.

Jan Nel ·

Jy kan dit self ook reël met die polisie, maar dit gaan dalk bietjie moeiliker gaan. In die praktyk sorteer die prokureur gewoonlik sommer die ding telefonies uit, sonder om polisiestasie toe te gaan.

Werner Pretorius ·

Middag. moet daar nie met enige borg vrylaating ‘n adres bevestiging gedoen word nie…en so doende word die proses baie langer uitgerek…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.