Navo slaag nie daarin om oor toekoms te herbesin

Die Amerikaanse president, Donald Trump, spreek die media toe tydens ’n konferensie na aanleiding van ’n beraad vir staatshoofde en regeringshoofde by die Navo-hoofkantoor in Brussel. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Gedurende die Amerikaanse verkiesingsveldtog van 2016 het Donald Trump die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie as ’n uitgediende instelling beskryf. Sy uitspraak het oë laat rek, maar het ook hernude fokus op die voortdurende koste om Navo drie dekades ná die einde van die Sowjetunie, lewendig te hou, geplaas.

Verlede week se Navo-beraad en Trump se benadering tot die toekoms van Navo staan in skrille kontras met die realisme waarmee hy tydens die verkiesingsveldtog in 2016 die Navo-vraagstuk benader het.

Toe Navo op 4 April 1949 onder leiding van die VSA tot stand gekom het, was die organisasie se doel om Westerse magte in een militêre alliansie te koördineer ten einde lidlande gesamentlik teen enige aggressie van die Sowjetunie te verdedig.

Navo se blote bestaan kan as een van die hoofredes waarom die Weste die Koue Oorlog gewen het, bestempel word. Vandag is die Sowjetunie egter geskiedenis en bied die baie kleiner en swakker Rusland geen wesenlike bedreiging vir Westerse lande nie.

Wat egter oor die afgelope paar jaar, veral sedert die val van die Sowjetunie, gebeur het, is dat Navo sy fokus vanaf verdediging na ’n baie meer aggressiewe benadering verskuif het. Navo se betrokkenheid in Oos-Europa is al herhaaldelik deur Rusland as aggressie beskryf en die betrokkenheid van Navo in die Midde-Ooste het onlangs tot spanning tussen twee lidlande, Amerika en Turkye, aanleiding gegee.

Verder is Navo voortdurend besig om sy lidmaatskap uit te brei. Verlede jaar is die piepklein landjie, Montenegro, as lid toegelaat en op verlede week se beraad is die aansoeke om lidmaatskap van Georgië en die Oekraïne bespreek en beide lande het die versekering gekry dat hul aansoeke moontlik in die toekoms kan slaag. Lande soos Georgië, die Oekraïne, Montenegro en daarby al die ander Balkan-lande wat ook graag lid van Navo wil word, is binne die ou invloedsfere van Rusland. Indien al hierdie lande lid van NAVO moet word sal Amerikaanse soldate letterlik op groot dele van die westelike en suidelike grens van Rusland gestasioneer wees. Dit kan nie in belang van vrede tussen Rusland en die Weste wees nie.

Veronderstel ’n militêre alliansie tussen Rusland, Mexiko en lande uit Sentraal-Amerika. Dit is ’n feit dat die VSA so ’n alliansie as ’n teken van Russiese aggressie sal bestempel. Dat Rusland se optrede oor die afgelope paar jaar in die Oekraïne kommerwekkend is, is ’n feit, maar baie dinge in baie lande wêreldwyd is tans kommerwekkend. Die VSA en Navo kan tog nie die wêreld se probleme alles oplos nie?

Waar President Trump heeltemal korrek is, is dat Europese lande groter verantwoordelikheid vir hul eie verdediging moet neem. Dit was die Amerikaanse president Ronald Reagan wat met ’n kragdadige uitbou van militêre mag Amerika se vyande so bevrees gemaak het, dat oorlog nooit nodig was nie. Europese lande moet meer op die uitbou van hul eie militêre vermoë spandeer.

Navo sal egter oor sy doelwitte moet herbesin, iets wat verlede week se beraad in Brussel nie gedoen het nie. Presies waar Trump en Amerika staan, is onduidelik. Intussen bly die verhouding tussen Rusland en NAVO onnodig gespanne.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Merkur ·

Die wilde en onbeheerde immigrasie in Noord Amerika en Europa moet byvoorbeeld ´n dringende doelwit van Navo wees wat nog steeds heeltemal veronagsaam word.

JAN ·

En skielik kry die Jode vir hulle ‘n volkstaat vir hulle selfbeskikking.
En een ding van die Jode – hulle weet wat ‘n goeie belegging is.
Die einde van globalisatie en oop grense het aangebreek. Die Jode maak nie fout met besigheid nie.
Die sake model begin die politieke model van regering vervang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.