Navo-spitsberaad: Bal Russe vuis of nie?

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Aanstaande Vrydag en Saterdag kom die regeringsleiers van die 28 Navo-lidlande vir hul jaarlikse spitsberaad byeen, dié keer in Warschau. Die belangrikste item op die agenda is hoe om wat ervaar word as die Russiese bedreiging te beantwoord.

Die afgelope weke kon duisende troepe uit 19 Navo-lande, met tenks, pantservoertuie, kanonne en ander wapentuig, in lang konvooie op paaie in Pole en die Baltiese state gesien word. Die scenario waarop dié oefening berus, is ’n Russiese inval.

Dit berus op ’n militêre waardering wat die wyd gerespekteerde RAND Corporation onlangs vir Navo gedoen het. Die gevolgtrekking was dat die drie klein Baltiese state – Estland, Letland en Litaue – feitlik weerloos is teen ’n Russiese inval, en dat die Russe binne 60 uur in die buitewyke van Riga en Tallinn, die hawestede aan die Baltiese See, sal staan.

Die waardering was gegrond op die teoretiese aanname dat pres. Wladimir Poetin sy weermag oor die grens stuur, maar het geensins beweer dat hy dit sál doen nie. Die groot vraag is inderdaad: Wat is sy voornemens?

In die Oos-Europese Navo-lidlande – die Baltiese state, Pole, Hongarye, Tsjeggië, Slowakye, Slowenië en Roemenië – word inderdaad vir Russiese aggressie gevrees. Veral ná wat hulle ervaar het as die Russiese aggressie in die Krim en die Oos-Oekraïne.

In Navo-kringe speel ’n artikel wat die hoof van die Russiese weermag, genl. Waleri Gerasimof, vroeg in 2013 geskryf het, ’n belangrike rol. Daarin het hy denkbeelde wat reeds van die Sowjet-tyd dateer, verder ontwikkel.

Gerasimof het geskryf moderne oorloë vind nie meer net met swaar wapens op die slagveld plaas nie, maar gebruik ook misleiding en niemilitêre middele (in die Sowjet-tyd is dit maskirowka genoem). In die Weste is dit onmiddellik getipeer as hibriede oorlogvoering.

Die takties briljante wyse waarop die Russe die Krim beset en ’n opstand in die Oos-Oekraïne aangestook het, het die Westerse vertolking van Gerasimof se artikel verder versterk. Die Russe het die Krim oorstroom met soldate in ongemerkte uniforms wat eenvoudig alle sleutelpunte beset en die wêreld voor ’n voldonge feit gestel het. Aanvanklik is kategories ontken dat hulle Russiese troepe was, en Poetin het dit eers maande later toegegee.

In die Oos-Oekraïne is ook deurgaans ontken dat Russiese troepe die rebelle versterk het. Poetin se dekmantel was dat hulle vrywilligers was, maar verskeie gesaghebbende studies in die Weste het gewys dat dit ’n misleidende leuen was.

Dié optrede voed die argwaan in Navo-kringe, veral in die Sentraal- en Oos-Europese lidlande, dat Poetin se beweerde doel om die ou Sowjetunie minstens gedeeltelik te herstel nie tot die Krim en die Oekraïne beperk gaan wees nie.

Dis teen dié agtergrond dat die spitsberaad in Warschau plaasvind. Ingeligte waarnemers meen daar sal besluit word om ’n roterende brigade van 4 000 Navo-troepe in Pole en die Baltiese state te vestig om as ’n soort waarskuwingsdraad te dien en Poetin van aggressie af te skrik.

Daar is genoeg Poetin-aanbidders in Europa (en Suid-Afrika) wat enige negatiewe bewering oor hul held met groot verontwaardiging verwerp. Anders as hulle, vertrou Poetin nie sy planne en beweegredes aan my toe nie, en ek wil dus nie tot kategoriese gevolgtrekkings kom nie.

Wat enige onbetrokke waarnemer wel moet raaksien, is dat ’n gevaarlike situasie – met ’n reeks wedersydse misverstande – klaarblyklik hier aan die ontstaan is. Wie iets van die internasionale geskiedenis weet, sal begryp dat dergelike wedersydse misverstande eerder die reël as die uitsondering is, en dat dit reeds herhaaldelik tot oorlog of byna tot oorlog gelei het.

Om mee te begin: Gerasimof se artikel sê nie heeltemal wat in die Weste daaronder verstaan word nie. Die “hibriede oorlogvoering” waarvan hy volgens die Navo-vertolking praat, skryf hy nie aan Rusland toe nie, maar juis aan die Weste.

Hy impliseer wel dat Rusland dit ook kan doen. En inderdaad, die verloop van sake in die Krim en die Oekraïne is tipies van dié “hibriede oorlogvoering”.

In die tweede plek sien ’n mens tans die soort spiraal van eskalering wat maklik handuit kan ruk.

Aan die een kant beskuldig Rusland die Weste daarvan dat die uitbreiding van Navo na Sentraal- en Oos-Europa ná die Koue Oorlog sy eie veiligheid bedreig. Op die keper beskou, is dit oordrewe, maar as jy sake vanuit Moskou bekyk en agterdogtig is, is dit baie verleidelik om sake wel deeglik só te sien.

Rusland se strategie oor dekades heen was om ’n breë veiligheidsgordel tussen hom en Navo te vestig. In die Koue Oorlog het dit ’n brute, wrede verdrukking van die Sowjet-satellietstate meegebring, maar dit was wel deels ’n verdedigende strategie.

Terselfdertyd het dit die Russe in ’n uitstekende aanvalsposisie geplaas vir wanneer dit nodig kon word. Uitgelekte krygsplanne van die jare tagtig wys dat hulle uit die bloute met ’n massiewe reeks kernbom-aanvalle sou begin om Navo se kop af te kap deur die vernietiging van Londen, Parys, Brussel, Amsterdam, Den Haag, Hamburg, Bonn, Frankfurt, München, Kopenhagen en Oslo, waarna hulle beplan het om binne ’n week aan die Ryn te staan.

Maar daardie uitgestrekte veiligheidsgordel bestaan nie meer nie. Die militêre grens het honderde kilometers nader aan Moskou geskuif, en Navo grens nou direk aan Rusland – iets wat paranoia in Moskou kan voed.

Op sy beurt versterk Rusland sy troepemagte aan die grense tans dramaties. Is dit – soos Moskou sê – in reaksie op Navo se reeks oefeninge, of is dit iets meer? Niemand weet werklik nie, maar dit kan eweneens paranoia in Westerse hoofstede voed.

Dit het byvoorbeeld vandeesweek bekend geword dat Navo se vorige opperbevelvoerder in Europa, genl. Philip Breedlove, in 2014 druk op pres. Barack Obama uitgeoefen het om die Oekraïense regering met “dodelike mag” (bedoelende troepe en wapens?) by te staan. Die versigtige Obama het tereg geweier uit vrees dat dit die rusie met Rusland kan eskaleer verby ’n punt waar terugkeer nie meer moontlik was nie.

Die punt is dat sowel Navo as Poetin mekaar met groot en toenemende argwaan bekyk. Alles wat die ander kant doen, word in mindere of meerdere mate deur die bril van dié argwaan vertolk, waardeur misverstande steeds moontliker word.

Só ’n situasie het hom byvoorbeeld in Augustus 1914 ná die moord op aartshertog Franz Ferdinand, die Oostenryks-Hongaarse troonopvolger, voorgedoen. Die gevolg was ’n vier jaar lange hel op aarde en 10 miljoen gesneuwelde soldate.

Laat dit ’n les vir die mensdom wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

John ·

Rusland is weer eens die groot ‘bedreiger’ van wereldvrede a la 1984. Hiersonder is die VSA se groot wapenbedryf , Navo en die EU futloos. 007 reken ook op moeiikheid vanuit Moskou anders kan hy nie die Oscars bywoon nie. Die atoombomgooier, die VSA, kry dalk ook binnekort sy droomleier, Oumie Clinton, wat glo sedert graad 1 die president wou word. Koes Rusland en koes almal van hier tot by Pluto… en verder…

Stokies ·

Stem saam, Amurica en sy suster genote is die agressors, dit is al hoe hulle ekonomies kan voortleef. Wys my waar is Rusland oral op die planeet in verskillende lande besig om alles omver te werp. Nee wat, hierdie ou leuns van die NWO raak nou vervelig. Orals waar Nato en die weste in beweeg is in chaos. Nie een voorbeeld van hulle sogenaamde Demokrasie nie. Russia for ever.

chrisp ·

Ja John stem saam.
Amerika is die bedrieging vir vrede so getuig al hulle “hulp” aan baie lande nou onlangs
Hierdie is net ‘n paar van my logiese vrae wat niemand beantwoord nie.
Hoekom wil NAVO uitbrei en wie bedreig hulle? Dit nog teen hulle eie woord aan die Russe met die val van die USSR.
Hoekom is NAVO en die VSA verantwoordelik vir bykans al die oorloe nou onlangs?
Hoekom is demokrasie net belangrik waar geld gemaak kan word?
Hoekom word die weste maar veral Britanje en Amerika geglo nadat hulle so veel keer gelieg het(wapens van massa vernieteging ens)? Maar ons moet aanhou glo dit is Rusland?
Waar het Rusland hom gewys as die muishond van die wereld, wat die weste hom so graag wil voorgee om te wees?Bewyse dat die weste en veral Britanje en die VSA so ‘n reukie afgee kan ek met gemak plaas .Ek dink egter Maroela lesers is goed genoeg ingelig om dit te besef.

Ek dink persoonlik dit gaan oor BRICKS dws geld en as hulle Rusland kan uithaal is dit weet besigheid soos voorheen.Om die rede is hulle ook besig met China en dit sal oorspoel na die ander.

Dit het absuluut niks met al die “buzz” woordjies(demokrasie, menseregte) te doen nie.

My opinie is dat hierdie gaan oorvloei in ‘n geweldige oorlog waarvan Navo en die VSA spesifiek die argitekte van is.Rusland het nie die gemors begin nie Navo en die VSA het.

Elisabeth ·

Ongelukkig stem ek nie saam met baie van die kommetaar wat hier gelewer word nie.
Moenie vergeet dat van of liewer 2008 het RSA uitgeval deur stil te bly oor ZUMA. Tweede 11.9.2016 en die daarop volgende besluite. Toe die besluite geneem is kon ‘n mes chaos gekleef het. As daar vingers gewys moet word dan is dit Bush, Blair, Putin, Assad en Zuma.

vermeende ·

Amerika was voor 94 teen apartheid en teen ons, Rusland het die ANC van wapens en opleiding voorsien.
Hulle gaan maai wat hulle hier kom saai het.

Gemsbok ·

Waarom het NAVO nie ook ontbind toe die Warschau-pakt reeds in 1991 ontbind het nie? Hoeveel het NAVO se voortbestaan en sy inlywing van voormalige Warschau-pakt lande bygedra tot die steun wat Putin in Rusland geniet?

Arak ·

Ek deel meeste van die kommentators se sentiment.

Navo stuur troepe uit 19 lande na die grens van Rusland, hou militêre oefening op die grens met Rusland en beplan om 4000 troepe op ‘n permanente grondslag op die grens van Rusland te hou, maar om een of ander rede is Rusland en Poetin in besonder die aggressor. Die feit dat ek dit so sien maak dan ook waarskynlik van my ‘n Poetin-aanbidder.

Maar kom ek probeer die res van die argumente verstaan. ‘n “Gesaghebbende studie” (wat waarskynlik sy oorsprong gehad het in Langley of die SIS gebou in London) sowel as ‘n obskure artikel in 2013 en oorlogsplanne van die 1980’s is duidelik ‘n bewys dat Rusland en in die besonder die fanatikus Poetin Oos-Europa enige oomblik kan binneval.

Gelukkig is die groot vredemaker, Obama (hy het darem na alles reeds die Nobel prys vir vrede gekry) nog daar; net jammer dat hy en sy bewind die hele middeooste totaal gestabiliseer het, dat hy met sy hommeltuie die wêreld vol vlieg en onskuldiges vermoor as hulle nie hospitale plat skiet nie. Hy en sy bewind is direk verantwoordelik vir die vlugteling krisis in Europa, maar ons moet bekommerd wees oor Poetin???

chrisp ·

ARAK.

He he he goed gese.
Dit blyk dat die meeste sover Poetin aanbidders is.

gatiep ·

Putin het reg opgetree deur sy mense in Oekrania te gaan beskerm wat onder helse gevaar was van uitwissing.Verstaan regtig nie hoe Putin die agressor is nie.Dink NATO regtig nog mense glo hulle.Ek het so gehoop Trump gaan presedent word maar ek kan sie daai clinton vrou is al lankal gekies vir presedent nog voor die verkiesing begin het,so die oorlog sal voortgaan.
Al wat ek weet is daar gaan nie keer aan Russia wees as hulle die dag regtig gaan aanval nie.

marianna ·

Amerika is die vyand van die wereld!!! Jammer Europa laat hulle gebruik en doen die vuilwerk vir amerika .Viva Rusland!! Kyk RT. op internet en lees bietjie alternatiewe nuus
nie net mainstream media nie want hulle is soos die sauk. Russia Insider is ook iets m na te kyk.

Tiaan ·

Die mense het demokraties gestem om deel te word van Rusland, hulle het die reg om so te besluit.

Danie ·

Ai al die mense wat die Russe vertrou. Vergeet julle dat kommunisme geen erkenning gee vir individuele regte nie en hoe kan n demokrasie bestaan sonder individuele regte. Poetin en die Russe se poging om terug te keer na die ou grense is n duidelike teken dat hul nie kommunisme wil prysgee vir demokrasie nie. Wat my aan betref is die reaksie van die Weste presies dit dat hierdie ordes moet beskerm word. Dit sal sinneloos wees om die lande wat nie so lank terug deur Rusland geroof is weer in hierdie gevaar te stel. Die Weste sal sy plig versaak indien hy dit toelaat.
Moet ook nie vergeet dat die NP se versagting teenoor die ANC direk verband hou met die aftakeling van kommunisme en die val van die Berlynse muur. Glasnost en Peristroika was die interne aftakeling van kommunisme. Daar is ook n direkte verwantskap tussen die Russe se poging om weer na die ou orde terug te keer soos ook die ANC dit moeilik vind om te hou by die oorgang na n demokrasie. Hulle net soos die Russe is nie opgewasse om met hierdie omskakeling voort te gaan nie.
Besef julle nie wat se bedreiging dit vir demokrasie en gevolglik ook vir die vrye mark stelsel inhou nie.

gatiep ·

Danie Russia is lankal nie meer kommunisties nie.
Die Russe het vreeslik swaar gekry onder hulle kommunistiese stelsel en baie bloed opgeoffer daarvoor dink nie hulle sal weer terug gaan onder daai stelsel nie glo my.Putin kyk mooi na sy mense ek wens die Russe wil hier oorvat ek is bereid om hulle taal ook te leer, die weste voel niks vir jou nie Danie sien jy dit nie raak nie?

Heinrich ·

Danie, jy gaan uit van die veronderstelling dat die Weste hoegenaamd demokraties is, wat die Weste nie is nie. Vryheid, stemreg, gelykheid….dis opium vir die volk. Dis slegs demokraties in naam. Die spanning tussen die weste en Rusland/Sjina gaan nie oor politieke ideologie nie, dit gaan oor absolute mag. Die weste het na die koue oorlog absolute mag gehad, hulle het gemaak en gebreek soos hulle wil. Rusland weier om in te val by die westerse hegemonie van korrupte kapitalisme. Dis hoekom Rusland as die vyand uitgebeeld word. Hoe anders kan dit verduidelik word dat despote soos Saddam en Gadafi verwyder moet word in die naam van vryheid en demokrasie, maar despote soos die Saudi en Qatari Koninklikes word lustig mee geheul? Dan praat ek nie eers van Sirie, Turkye, Israel en ISIS nie.
Die weste is netso korrup en magsbehep, as wat hulle Rusland van beskuldig.

Henry ·

gatiep
Kan jy miskien vertel of daar ooit ‘n staat was, wat iets meer as niks (zero, nada…) vir ons Afrikaners gevoel het.
O ja. Ek weet nie hoe oud jy is nie, maar weet jy dat die ANC se grootste ondersteuner, geldskieter, wapenvoorsiener, MK gewapende opleier en nog ‘n hele sak vol ander dinge – Rusland is/was???
Het Putin wat ‘n voormalige Kolonel in die Russe se KGB is, ewe skielik van ANC hulpverlener tot ondersteuner van Afrikaners geword?

Heinrich ·

Henry, moenie vergeet hoeveel geld en wapens die Weste in MK ingeprop het nie. Die geliefde Brittanje het geen geheim daarvan gemaak nie, so ook nie Skandinawiers nie. Wie het die sanksies so lekker ondersteun al die jare? Die Weste. My vraag is, waar is die weste nou wanneer ons regte as minderheid vertrap word? Het enige westerse leier vir ons in die bresse getree toe die ANC geskree het “kill the boer”? Wat van die rassekwotas in sport? Tydens apartheid het hulle oor hulle voete geval om ons eerste te boikot, maar nou is hulle tjoepstil….hulle geliefde vryheidsvegters doen nou dieselfde. Watter een het iets gese nou dat Afrikaans uit die universiteite geban is? Niemand nie.

Die Weste voel ook vir ons vere.

Henry ·

Heinrich ek weet nie of jy namens gatiep optree nie, maar wat is die antwoord op my vraag rakende die Russe en ‘n aantal van die Warschau verdragstate asook Kuba, se volgehoue ondersteuning aan die ANC tydens en na die “bevrydingsoorlog”?
Ondersteuning, opleiding, militêre hulpverlening ens is sonder voorbehoud vanaf die vroeë vyftiger jare deur Rusland asook die destydse Roemenië en DDR verskaf.
Afgesien van humanitêre steun deur veral Swede, Denemarke en Holland, is geen hulp op militêre gebied aan die ANC deur Westerse state verleen nie. Afgesien van enkele wilde en onbewese bewerings deur onbekende bronne, is ek nie van enige militêre hulp bewus wat die Weste aan die ANC verskaf het nie. Kan jy miskien nadere besonderhede verskaf?
Het die Russe iets te sê gehad oor kwotas, Afrikaans, ‘kill the boer’ ensovoorts? Vertel asb want ek is nie bewus van sulke steun wat vanaf Rusland of die ander ou vriende van die ANC gekom het nie.

Henry ·

Soos Kobus vind ek dit onmoontlik om langer kommentaar op hierdie werf te lewer, weens ‘n absurde stelsel wat alewig ‘n mens se antwoorde en pogings vertraag of gladnie plaas nie. Veral wanneer dit nie in ooreenstemming met ‘n sensorstel is wat weier om standpunte te plaas wat nie presies met MM se benepe standpunte ooreenstem nie.
MM durf werklik nie enige klippe in die rigting van die SAUK of sy leiers te gooi nie.
Is jammer, maar gelukkig is daar talle ander opsies wanneer daar daaglikse nuus gesoek word.

Theuns ·

Leopold vir jou rasionele berig. Ek stem ook grootliks saam met Danie se kommentaar. Kom ons kyk na die heer Putin en sy voorsate en besluit dan! Rusland is nie die voorbeeld van ‘n demokrasie nie. Hy en Medvedef regeer alternatiewelik. Die verkiesings is vry en regverdig solank jy vir die twee here stem! Putin is Zuma en baie Afrika leiers se IDOOL en jy kan seker wees hy adviseer hulle net soos wat hy gedoen het in die Apartheids jare. Putin was die hoof van die KGB! Putin en Zuma is groot vrinde! Hou julle van Zuma? Pasop julle gaan julle vingers lelik verbrand!!

Henry ·

Vir wat dit werd is, Putin was nooit die hoof van die destydse KGB nie.
Hy was ‘n Lt Kol in die Eerste Direktoraat, gemoeid met buitelndse intelligensie en het kort na die val van die DDR berdank en hom op die politieke terrein begeef.

Danie ·

Gatiep ek dink jy mis my punt. Ek verkies die Amerikaners en Weste se stelsels. Daar is nie plek vir magsmisbruik of leegleers nie. Daar is wel plek vir individele regte, hardwerkende mense en wigte en teenwigte vir magsmisbruik. Moet nie vir my se dat jy nog nie hierdie verskille kon raaksien nie. Ek verwag nie dat Amerika vir my iets sal doen nie, maar ek weet as ek my kant bring sal hulle stelsel vir my werk.

gatiep ·

Aai Danie wens ek kon jou reg help maar ek kan nie op Maroela dit doen nie my post sal nooit opgaan nie.
Al wat ek sal se is dat die weste is op n duiwelse pad gaan doen self n studie op die USA en jy sal sien waarvan ek praat.

Cobus ·

Ons moet nie vergeet dat NAVO deel van die “establishment” is nie. Hulle moet ‘n “vyand” hê om hulle magsbehebhied te regverdig. Onthou Rusland het hulle rooi gesigte gegee in Syria met die weste se sogenaamde geveg teen ISIS. Rusland het in ‘n baie kort tydtjie meer verig as hulle almal saam. Die Establishment is nie op soek na wat reg is vir die samelewing nie, hulle jaag na wêreld oorheersing maw een orde

Danie ·

Heinrich dit is ou nuus dat niks 100% is nie, almal weet dit. Dit is ook ou nuus dat daar n magstryd in die wereld orde is, was en vir altyd sal wees. Kom asseblief tot die punt. Verkies jy dat jou regeerdes moet koester vir wereldmag en in diesefde asem hulle eie mense met hul stelsel laat kripeer en onderdruk of dat hulle hul eie mense se welvaart en vryheid in dieselfde asem sal koester.
Gatiep ek kan nie verder op jou opmerking reageer nie. Daar is nie meer skietgoed nie.

chrisp ·

Danie.
Wat jy se is baie waar onthou egter dat die wereld baie verander het sedert die 80’s ,plaaslik sowel as internasionaal. Dit was meer ‘n kommunisme en kapitaliste ding. Ek sal self verder gaan en se sou die weste as n’ blok die ANC en SWAPO gesteun het die USSR weer aan ons kant sou wees.
Net vir interessantheids onhalwe het ek in Zambie vir ‘n paar dae lank met ‘n voormalige Russiese ofisier gepraat en dit baie geniet en insiggewend gevind. Ons het in dieselfde plek gebly.
Dit was ‘n man uit een stuk en ek kon my meer met hom vereenselwig as baie van my mede Afrikaners.
Demokrasie werk net in ‘n homogene land verder is dit ‘n stelsel waar die minderheid altyd onderdruk sal word, soms in ‘n mindere mate maar altyd. Dit is nou as dit toegepas word wat nie die geval altyd is in “demokratiese”Europa” en die VSA waar lg. slegs twee partye ‘n platvorm gegun word nie.Ook dat geld en veral geld vanaf die groot maatskapye eintlik die wenner bepaal.

Volgens my is dit juis die weste veral die VSA wat wereldmag na-jaag.Hulle besit die geld wat prys bepaal en met die sterkste en by verre die duurste weermag wat lande omdompel en vernietig.
Demokrasie werk vir sekere kulture en vir ander glad nie daarvan is Afrika en die Midde-Ooste duidelike voorbeelde.

Leopold Scholtz ·

Ek het al die vriende se kommentaar na alkante toe geniet. Ek het net een vraag: Hoekom lê soveel regse vriende in hul aanbidding van Poetin so lekker lepel met ene Jacob Zuma? Let wel, ek verdedig Navo nie; ek probeer die saak analiseer so nugter as wat ek kan. Maar dis wel ‘n feit dat die Sentraal- en Oos-Europese lande bang is vir Poetin. Ek dink nie jy kan hierdie vrees sommerso ignoreer nie. En nogmaals, dis interessant wie saam met Zuma en Poetin in dieselfde bed klim. Lekker debat!

chrisp ·

Leopold.
Ja voorwaar interessant wie sy maatjies is. Ek is oortuig die hele gemors gaan oor BRICKS(my opinie en ek het geen bewyse nie). Ook dat die Weste dit vir hom(Rusland) moeilik gemaak het om in te skakel.Dit het hom in sy ou vyand, China se arms laat beland en die BRICKS is ‘n uitvloeisel daarvan.
Verder as jy aan jou maats geken word is hy virseker nie ‘n hoofseun nie. In dieselfde asem is daar weinig westerse lande wat goeie maats uitmaak en ek dink dieselfde reel geld.
Dat Poetin die bedreiging(militer) is bo NAVO en spesifiek die VSA glo ek glad nie en die bewyse hiervan le in talle van die reaksies op jou skrywe. Poetin en Shina dalk Indie ook is wel ‘n ekenomiese bedreiging op die beste vir die weste en spesifiek die VSA. Daarom is ek van mening dat dit die weste en veral doe VSA (met NAVO as sy sterkman) se motifering is om Rusland aan te vat.Die dollar as maatstok word bedreig en die finansiele inpak op veral die VSA gaan enorm wees as die doller sy status verloor.

Die vrees wat van die lande vir Poetin het is baie interessant vir my en ook nuus. Kan dit dalk wees omrede hulle vir dekades onder die Russe gely het in die ou USSR?

Moet saamstem met jou ek geniet die komentaar geweldig.

chrisp ·

Sien asb die spelfoute oor ek sien daar is ‘n paar, ek tik maar haastig.

Theuns ·

Leopold ek het die Debat net soveel geniet en ek moet se die Russiese Offisier het ‘n uitstekende Job op Chrisp gedoen! Hy is definitief op pad na die Russiese Gulag toe en hy sien blykbaar uit na die trip. Miskien moet ek ‘n paar boeke van die skrywer Solsenitshin vir hom stuur? Groete.

gatiep ·

Henry moenie Putin en Zuma met mekaar vergelyk nie die verskil is soos dag en nag.hulle is net besigheid vriende omdat hulle almal aan Briks behoort en moet lag vir mekaar.
Het jy gesien wat het gebeur op lughawe toe Putin die SA besoek het.Was nie n vriendelike ontvangs gewees van lughawe se personeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.