Navo word 70: Groot suksesse en groot uitdagings

Die Franse president Emmanuel Macron wys na ’n diagram van Navo (Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie) se Europese en Kanadese verdedigingsuitgawes gedurende ’n nuuskonferensie in 2017 met Jens Stoltenberg, Navo se sekretaris-generaal, by die Elysee Paleis in Parys, Frankryk. (Foto: Philippe Wojaze, AP)

Navo, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, se ontstaan lê in die Koue Oorlog, wat bykans onmiddellik ná die geallieerde oorwinning oor Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog gevolg het. Met Hitler en Duitsland as gemeenskaplike vyand uit die pad, het die Weste (VSA, Brittanje, Frankryk en ander) en die Ooste (Sowjetunie) gebots. Veral die aggressie van die Sowjetunie, wat Oos-Europa met geweld onder sy invloed gekry het, en die pogings om ook Wes-Berlyn in te palm, het gemaak dat die Westerse state moes saamstaan en aan mekaar wedersydse militêre bystand bied in die geval van ’n aanval deur die Sowjet-Unie.

Die stigtingsverdrag van Navo is op 4 April 1949 onderteken en die magtige VSA het die leiding geneem. Die stigterslede was die VSA, Brittanje, Kanada, Frankryk, Nederland, Noorweë, Ysland, België, Luxemburg, Portugal, Denemarke en Italië. In 1952 het Griekeland en Turkye, wat albei deur die Sowjetunie bedreig is, lede geword. Wes-Duitsland het in 1955 lid geword as deel van sy pogings om onomwonde deel van die Weste te word. Spanje het in 1982 lid geword, maar reeds tydens die Franco-bewind was daar militêre samewerking met die VSA. Die lidmaatskap van Navo as militêre alliansie het dikwels parallel geloop met die lidmaatskap van die Europese Gemeenskap (later Europese Unie) as politieke en ekonomiese alliansie. Die Oostelike teenstuk van Navo was die Warskou Pakt onder leiding van die Sowjetunie, wat in 1955 gestig is.

Aanvanklik het Navo op groot skaal troepe en kernwapens gestasioneer om ’n moontlike aanval deur die Sowjetunie massief teen te gaan. Soos wat die Sowjetunie egter ook kernwapens ontwikkel het, moes Navo werk in die rigting van ’n verstandhouding en dialoog, omdat ’n militêre konfrontasie wedersydse totale vernietiging sou beteken het. Gelyktydig moes egter met die militêre opbou van die Oosblok tred gehou word en die blokke het gedurig hul militêre mag uitgebrei. Terwyl die Weste dit kon bekostig weens sy veel sterker ekonomie, kon die Oosblok nie. Daar is goeie rede om te glo dat die militêre uitgawes om by Navo by te hou, die ware rede is hoekom die Sowjetunie geknak het. Onder leiding van Michail Gorbatsjof moes hulle van aggressie na vredesonderhandelings beweeg en beide kante het hul kernwapens drasties verminder. Uiteindelik is die Koue Oorlog in 1990, wat saamgeval het met die hereniging van Duitsland, beëindig.

Navo was die militêre bondgenootskap wat as oorwinnaar uit die Koue Oorlog getree het. Terwyl die Warskou Pakt in 1991 ontbind is, het Navo voortbestaan. Meer nog, Navo het sy ledetal geweldig uitgebrei deur talle voormalige kommunistiese lande in veral Oos-Europa, soos Pole, die Baltiese state, Hongarye, Roemenië, Bulgarye en ander as lede by te kry, tot irritasie van Rusland.

Navo was in ’n sekere sin die slagoffer van sy eie sukses: aangesien die Koue Oorlog nou verby was en Rusland nie meer die vyand was nie, was die groot vraag teen wie Navo nou eintlik gerig was. Party kommentators het gemeen dat Navo nou ook behoort te ontbind, veral in die opgewondenheid oor die aanbreek van ’n nuwe era van vrede en die dikwels aangehaalde “einde van die geskiedenis”. Die Navo-troepe en militêre basisse in Duitsland en ander Europese lande kon aansienlik verminder word soos wat die bedreiging afgeneem het, die sogenaamde vredesdividend.

Baie gou het dit egter duidelik geword dat oorloë hoegenaamd nie iets van die verlede was nie. Navo het sy fokus verskuif na maatreëls om vrede te bewaar of af te dwing. Die konflikte van die post-Koue Oorlogtyd was egter baie minder konvensionele oorloë en ook nie maklik in die vriend-vyand-skema indeelbaar nie. Die eerste nuwe uitdaging vir Navo was die oorlog in die voormalige Joegoslawië, waar die organisasie lank getalm het om beslissend op te tree, nadat reeds talle mense, dikwels onder volksmoordagtige omstandighede, gedood is. Islam-terreur het veral in die dekade ná 2000 as nuwe bedreiging na vore gekom en was nog moeiliker om konvensioneel te beveg. Die spanning met Rusland het weer toegeneem en daar word selfs van ’n nuwe Koue Oorlog gepraat, veral as Navo sy lede ooswaarts uitbrei en gelyktydig die toenadering tussen China en Rusland voortgaan.

As ’n mens terugkyk, dan kan gesê word dat sonder Navo en sonder ’n VSA wat bereid was om ter wille van Europa se veiligheid groot uitgawes aan te gaan, die Sowjetunie waarskynlik sy veroweringstog tot in Wes-Europa sou voortgesit het. Navo verdien eintlik die Nobelprys vir Vrede, al is dit veral in die laaste dekade van die Koue Oorlog dikwels deur linkse aktiviste as die aggressor uitgemaak wat in die pad van vrede staan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

… ja, sonder die verbeelde droomgogga, Rusland, is Navo niks, maar hierdie 007-sit-in-army moet ‘n vyand hè om ‘n bestaan te kan maak. Ons vergeet dit was die einste Duitsland wat die moeilikheidmaker was en vandag met die EU as front, Europa beheer ~ slinks verby ~ met Brittanje wat sweet om uit die web te kom. Die VSA het destyds net belang gestel in sy atoomkragtoetse en sit vandag met die meeste troepe in die res van die wèreld.

Gerhard ·

En Rusland is nie ‘n moeilikheidmaker nie? Hulle was (en is) selfs erger as Nazi-Duitsland.

Stephan de S ·

Dankie vir die goeie inligtende artikel. Die laaste brokkie oor aktiviste is veral interessant omdat mense hul so maklik laat mislei deur filosofiese gedagtes met min perspektief daarin. Dit herinner my aan die Brit wat in sy boek oor die Angola-oorlog die volgende oor Afrikaners gesê het: (my eie woorde)….n mens kan baie oor die hul beleid (apartheid) sê,maar hulle was ‘levelheaded’. Hy het bedoel hulle het perspektief behou in n tyd toe die Weste verlam was deur n warboel filosofiese (en akademiese) idees en nie kon besluit wat reg en verkeerd was in die internasionale politiek en dit deur kommunistiese leiers uitgebuit is. Artikels soos hierdie…..gegrond op historiese feite……help n mens om te kies tussen al die markplein idees.

Hans Richardt ·

Ek koop nie hierdie “pro weste” vs aanslag van Russiese Federasie en China nie. NAVO is in volksmoord betrokke in Afghanistan en Irak, net soos in Sirië, vir regime verandering. Dit maak NAVO gevaarlike organisasie verby die vervaldatum.

Hans Richardt ·

Kalingrad is in EU en is deel van Russiese Federasie.
Sedert Soviet unie ontbind is, is NAVO ekspasionisme nou oral op Russiese Federasie grense, soos in Ukraïene. Nee wat, halfgebakte artikel.

Sebastiaan ·

Van wanneer af is Kaliningrad in die EU? Dis wel ‘n enklawe omring deur EU- en Navo-lede maar is deel van Rusland en dus nie deel van enige van die organisasies nie.

Merkur ·

Die Nobelprys vir Vrede is presies dié toekenning wat die NAVO verdien.
(In die gekkewêreld.)

gatiep ·

Dis baie snaaks dat Rusland kleiner geraak het en NATO nou op hulle grens is.
In Ukrania het NATO gese Rusland val hulle aan maar terselfde tyd vlug Ukrania mense na Rusland toe.
Hoe op aarde vlug jy na die land wat jou aanval? NATO is n gevaar vir die hele wereld wat vrede soek.
Daai mense voel niks vir mense lewens nie.

Hans Richardt ·

Duitsland kan nie funksioneer sonder NORD stream 2 gaspyplyn vanaf Russiese Federasie nie. Waarvan praat sommige in hul duidelike media gemotiveerde “rooi Russe” maak wit Afrikaners bang? Russiese Federasie het geen voetspoor in BRICS vennoot SA nie, want dis te groot risiko. Selfs Lada het onttrek uit SA! Verder, vergeet hul dat 200 Russe dood is aan Boere kant in ABO en dat Moskouse Staatsuniversiteit enigste volwaardige Afrikaanse taaldepartement buite SA het.
As daar empatie is vir wit Afrikaners, is dit in Russiese Federasie en spesifiek Rusland.

Sebastiaan ·

Rusland bedryf realpolitiek, dit beteken suiwer op sy eie voordeel gerig. Daar is nie fout met so ‘n benadering nie, maar die Afrikaners kom glad nie daarin voor nie en ons moenie dink dat Putin ons maatjie is omdat hy anti-liberaal en nasionalisties ingesteld is. Dit mag wees dat enkelinge in Rusland ons simpatiek gesind is, soos enkelinge in bykans elke land op aarde. Rusland se regering het egter nog nooit vir Suid-Afrika gekritiseer nie omdat hulle graag vriende wil bly met hulle Brics-maatjie en ‘n houvas op Afrika via Suid-Afrika wil he. Dieselfde geld vir Sjina. Uit die VSA (by name pres. Trump) en Australie was daar darem al kritiek op die situasie hier mbt plaasaanvalle en onteienings. Terloops, daar was vrywilligers uit bykans elke Westerse land in klein getalle aan Boerekant betrokke, maar daaruit kan ‘n mens nie aflei dat Rusland, Frankryk, Duitsland of wie ook al aan ons kant is nie.

gatiep ·

Hans daar is tot n Russiese volksliedjie wat gaan oor die boere oorlog.
Jy kan dit kry op UTUBE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.