Nederland: Rutte lag al die pad stembus toe

mark-rutte-vvd-nederland-facebook

Mark Rutte van die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) in Nederland. Foto: Facebook.

As ’n mens die Nederlandse verkiesingsuitslag in ’n enkele sin kan saamvat, is dit ’n verwerping van ekstremisme en terselfdertyd ’n matige verskuiwing na gematig regs.

In ’n land soos dié, waar 28 partye aan die verkiesing deelgeneem het, is dit nogal moeilik om ’n verkiesingsuitslag te vertolk, aangesien dit vele fasette omvat. Tog is die belangrikste nuusitem waarskynlik dat die populistiese Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders wel ietwat gevorder het (van 15 tot 20 setels), maar ver van ’n deurbraak is.

Voor die verkiesing het dit soms gelyk of die PVV die grootste enkele party kon word. Trouens, peilings het die party maande lank laat voorloop.

Uiteindelik het die liberale Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) van premier Mark Rutte 33 setels gewen. Dis ’n verlies van 8, maar hy het die PVV nietemin sleg ondergesit.

Die VVD is in die vorige paragraaf as “liberaal” beskryf, wat vir Suid-Afrikaanse lesers verwarrend kan wees. Wat op die Europese vasteland onder dié begrip verstaan word, is iets anders as wat die meeste lesers van dié artikel moontlik dink.

Liberaal beteken in Europa pro- vrye mark, die antitese van sosialisties. En dus is dit in sommige opsigte eerder konserwatief.

Dis terselfdertyd moeilik om die PVV onomwonde as regs te beskryf. As dit gaan oor sake soos etniese identiteit, nasionalisme en die binnekoms van Moslem-immigrante, is hy onbeskaamd regs; sosiaal-ekonomies is sy beleid eweneens onbeskaamd links-sosialisties.

Vir die res is dit juis partye in of rondom die politieke sentrum – die Christen-Demokrate, die Demokrate 66 (só genoem omdat die party in 1966 gestig is) en GroenLinks – wat beduidend steun gewen het. Die gematig-linkse Partij van de Arbeid (PvdA), wat die afgelope vier jaar saam met die VVD in ’n koalisie geregeer het, is dramaties gestraf: Sy seteltal het van 38 tot net 9 gedaal.

Dat die PVV die tweede grootste party geword het, sal hom op kort termyn nie help nie. Geeneen van die ander groot partye wil met ’n tang aan hom raak nie; almal het die PVV reeds voor die stemmery as potensiële koalisiegenoot uitgesluit.

Wat beteken dat die PVV gedoem is om weer langs die kantlyn te gaan staan en toe te kyk hoe ánder partye regeer.

Maar daar is nog ’n aspek van die uitslag wat vir Suid-Afrikaners interessant kan wees. Dit is die feit dat ’n nuwe party met die naam Denk drie setels gewen het.

Denk is interessant omdat dit ’n onbeskaamd etniese appèl tot sy natuurlike aanhangers gerig het. Dit is die Turke en in mindere mate die Marokkane wat hulle sedert die jare sestig as “gasarbeiders” in Nederland gevestig het.

Tradisioneel stem die Turke en Marokkane wat Nederlandse burgerskap verkry het vir die PvdA. Maar dié keer het hulle dié party massaal die rug toegekeer. Talle het vir Denk gestem, ’n party wat eksplisiet onderneem om die Turke se belange in die politiek te behartig.

Enersyds is dit ’n terugslag vir diegene wat hoop dat die Turke naatloos in die Nederlandse samelewing geïntegreer kan word, en dat etnisiteit geen rol in die politiek moet speel nie. Feit is egter dat die Turke (en Marokkane) – reg of verkeerd – op talle terreine diskriminasie teen hulle ervaar, en dat hulle nooit regtig deur die Nederlanders as volwaardige burgers aanvaar word nie.

Talle mense van Turkse en Marokkaanse afkoms het dubbele paspoorte, en voel hulself steeds intens betrokke by dié lande. (Trouens, nes ek, synde ’n Afrikaner en Suid-Afrikaner, nooit my identiteit sal kan afweer nie, al sou ek ook hoe hard probeer.)

Die verwydering tussen Europa en Turkye, waar pres. Reçep Tayyip Erdogan ’n referendumveldtog voer om hom diktatoriale magte te gee, help ook nie juis nie. Dat Mark Rutte in die jongste tyd ruggraat gewys het deur Turkse ministers te verbied om hier steun vir die Turkse ja-stem te werf, is vandeesweek by die stembus deur die kiesers beloon.

Erdogan het die Rutte-regering as die “oorblyfsels van die Nazi’s” bestempel, waaroor Rutte ongetwyfeld baie bly was. Jy moet ’n Hollander nie ’n Nazi noem nie; dis by wyse van spreke ’n erger belediging as ’n pedofiel. En dus het Rutte al die pad stembus toe gelag.

Die onmiddellike toekoms is nou dat die voorsitter van die Tweede Kamer van die State-Generaal – die laer huis van die parlement – ’n “verkenner” sal aanstel wat moontlike koalisiekombinasies sal ondersoek. Daaruit gaan langdurige onderhandelings en uiteindelik ’n nuwe koalisie voortspruit.

In dié stadium lyk ’n sentrum-regse koalisie met vyf partye die mees logiese. ’n Sentrum-linkse koalisie is ook moontlik, maar dit sal dan sés partye moet bevat, wat veel moeiliker gaan wees om saam te stel en die volle termyn van vier jaar bymekaar te hou.

Hoe ook al, die PVV sal nie deel van enige koalisie wees nie. Dit beteken dus ook dat die Nederlandse demokrasie vir die afsienbare tyd buite gevaar is.

In die laaste leiersdebat voor die verkiesing op televisie was daar ’n tweegeveg tussen Wilders en Gert-Jan Segers, leier van die veel kleiner ChristenUnie, ’n uitgesproke Christelike party. Segers, wat ses jaar as sendeling in Egipte deurgebring het en die Islam baie goed ken, het die punt gemaak dat jy nie die bedreiging van die Islam kan neutraliseer deur die vryheid en regstaat in Nederland af te skaf nie.

Wilders se antwoord was veelseggend. Die Islam vorm ’n eksistensiële bedreiging vir Nederland. Dus moet jy nie alleen die grense vir alle Moslems sluit nie, jy moet moskees afbreek en die besit van die Koran verbied.

Belangriker nog: Daar is “geen ander keuse” as om die regstaat af te breek nie. Waarmee Wilders dit duidelik gemaak het dat die demokrasie met hom as premier nie moet verwag om ongeskonde te bly nie.

Op die keper beskou, was daar ’n netto swaai na regs in die verkiesing. Maar Wilders se soort regs het nie die deurbraak behaal waarop hy gehoop het nie.

Nederland bly in die geheel beskou ’n taamlik gematigde land waar ekstremiste moeilik ’n behoorlike vastrapplek kry.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

46 Kommentare

jongste oudste gewildste
gerda

Ek is jammer Geert het nie gewen nie.Die imigrante hoort in hul eie lande. Nerens anders nie. Europa gaan nie soontoe nie en hulle hoef nie Europa toe te kom nie.

adriana

‘n Duitser hoort in Duitsland en ‘n Nederlander in Nederland, ens, anders sou hulle nie Duitsers of Nederlanders of wat ook al genoem geword het nie. Die imigrante hoort in hulle eie lande waar hulle Arabieers genoem word of Siriers of Nigeriers of wat ook al. Ek is ‘n Suid-Afrikaner en hoort in Suid -Afrika. Nie op ‘n ander plek nie. Hierdie imigrante hoort in hulle eie lande.
Ek hoop Wilders probeer weer en dat hy ‘n volgende keer meer stemme kry.

Gerhard

Nietemin ‘n skuif na regs.

Jan Jooste

Geluk Leopold. Jy maak die punt dat links en regs heeltemal verskillende betekenis het in Europa as in SA. Jou vorige hoefyster analogie (ekstremis – gematigd – ekstremis) geld ook. Verder moet ons almal oppas om nie die volle Wilders gifbredie te sluk net omdat hy teen immigrante is nie. Hy is duidelik geen Christen. Sou hy vandag die Koran verbied, gaan die Bybel volg sodra dit ook problematies word. Voorspoed.

Verwonderd

Solank as wat daar meer seuns met die naam Mohamed as Johan in Nederland gebore word, stuur hulle tog wel af op islamietiese staat met sharia reg as medium in die toekoms. Al wil Nederland hoe gematig vandag wees. Wat kan ‘n mens dan nou anders sê as?: sterkte ouens, hoop dinge werk vir julle uit…