Nederland se geskiedenis is ook ons geskiedenis

Charles_Bell_-_Jan_van_Riebeeck_se_aankoms_aan_die_Kaap

Jan van Riebeeck land in Tafelbaai in April 1652 Grafika:
Charles Davidson Bell (1813–1882)

Die persepsie bestaan by baie Afrikaners dat ons geskiedenis op 6 April 1652 met Jan van Riebeeck se aankoms in Tafelbaai begin het. Hoewel Van Riebeeck se aankoms in Tafelbaai en die ontwikkeling van ʼn nedersetting in die Kaap die begin van die volksplanting was, strek die Afrikaner se geskiedenis veel verder terug en is dit nodig dat ons veral die geskiedenis van Wes-Europa van die sestiende en sewentiende eeu, en veral die gebeure in die hedendaagse Nederland en Vlaandere, begryp.

Die Afrikaner se geskiedenis lê dus nie net in die vroeë Kaapse nedersetting van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), die Kaapkolonie, die Oosgrens, die Groot Trek, die Boererepublieke, die Unie van Suid-Afrika en die Republiek van Suid-Afrika nie, maar ons geskiedenis, en selfs ons wese, kan gevind word in belangrike gebeure in die Lae Lande in die sestiende en sewentiende eeu.

Aan die begin van die sestiende eeu was die Lae Lande, vandag se Nederland, België en Luxemburg, deel van die Huis van Boergondië wat onder die mag van keiser Karel V geval het. Keiser Karel het in daardie stadium die Habsburgse Nederlande (soos wat die Nederlandse provinsies toe bekend gestaan het) beheer en was ook keiser van die Romeinse Ryk en koning van Spanje.

Pogings in die vroeë sestiende eeu om die bestuur van die provinsies van die Lae Lande te sentraliseer het baie teenstand gekry. Die inwoners van die provinsies het geen band met ander lande en streke in keiser Karel se ryk gehad nie. Hul band was direk met hul stad of streek.

In dieselfde tyd het die Hervorming groot aanklank in die noordelike Nederlande gevind. Die onderdrukking van Protestantisme deur die Spanjaarde en selfs die vervolging wat vanaf 1540 vererger het, het tot heelwat onrustigheid in die provinsies in die Lae Lande gelei. Vanaf 1540 het wesenlike ekonomiese agteruitgang ook in Wes-Europa ingetree en dit het tot verdere onrustigheid in die Lae Lande aanleiding gegee.

In 1555 tree keiser Karel V uit en verdeel sy enorme ryk tussen sy seun Filips II en sy broer Ferdinand. Spanje en die Lae Lande kom onder die beheer van koning Filips. Onder Filips word die vervolging van Protestante in die Lae Lande verskerp. Daarmee saam vind toenemende sentralisasie van mag, burokratisering en ekonomiese agteruitgang plaas. ʼn Klimaat wat ryp is vir opstand ontstaan in die Lae Lande.

In 1559 vertrek Filips na Spanje en laat die beheer van die Nederlande oor aan sy halfsuster Margaretha van Parma. In 1566 begin ʼn opstand in die Lae Lande wat veral gekenmerk is deur die beeldebestorming waartydens Protestantse beelde in kerke afgebreek en verwyder is. Toe Filips II van die beeldebestorming verneem, stuur hy die Hertog van Alva met 10 000 manskappe om die opstande in die Lae Lande te gaan beëindig. Hertog Alva (Fernando Álvarez de Toledo) volg Margaretha as landvoog van die Lae Lande op en onder sy bewind word 8 950 mense in hegtenis geneem. Verskeie leiers van die opstande word ter dood veroordeel, onder meer Willem van Oranje. Willem was egter op daardie tydstip in Duitsland, maar sy seun Filips Willem van Oranje is na Spanje ontvoer.

Die standbeeld van prins Willem van Oranje. Foto: Donar Reiskoffer/Wikipedia

Teen 1566 begin die Tagtigjarige Oorlog, een van die langdurigste vryheidstryde wat ooit in Europa plaasgevind het. Prins Willem van Oranje het ʼn belangrike rol in die stryd gespeel en sy standbeeld pryk vandag nog op die plein voor die Nederlandse parlement in Den Haag.

Willem het reeds in 1544 op 18-jarige ouderdom die prinsdom van Orange van sy neef René van Chalon geërf. Hiermee saam erf Willem belangrike voorregte en eiendom in die Nederlande. Keiser Karel V gaan hiermee akkoord op voorwaarde dat Willem die Katolieke geloof aanneem en in Brussel skoolgaan. In Brussel leer die Duitstalige Willem Latyn, Frans, Spaans, Italiaans en Nederlands, wat in daardie stadium die spreektaal in Brussel was.

Willem word ʼn raadgewer van keiser Karel en later ook van sy seun koning Filips II. Die onderdrukking van die Nederlanders lei egter tot ʼn breuk tussen Filips en Willem. Die sentralisasie van besluitneming was vir Willem een te veel en teen 1565 was Willem deel van die opstand in Nederland. In April 1567 vlug hy na Duitsland waar hy tot 1572 sou bly.

Die vroeë 1570’s was ʼn droewige tyd in die Lae Lande. Hertog Alva voer nuwe belastings in en die Swart Dood (ʼn siektetoestand wat van die veertiende tot die negentiende eeu in Europa teenwoordig was) lei tot die dood van miljoene mense. Tienduisende Protestante vlug uit die Nederlandse provinsies uit vrees vir vervolging deur Alva en sy manskappe.

Die jaar 1572 was ʼn bloedige jaar in die Lae Lande. Willem van Oranje wou die Nederlandse provinsies vanuit Duitsland binneval en Alva se manskappe verdryf. Die sogenaamde Watergeuzen, ʼn losse groepering van vissermanne en ander seevaarders, verower op 1 April Den Briel en daarna Roermond waar ʼn groot aantal Katolieke monnike vermoor word.

Prins Willem hoop op steun van die Franse Hugenote, maar die Bartholomeusnag, waartydens duisende Protestantse Hugenote op 24 en 25 Augustus in Frankryk vermoor is, verswak die Protestantse beweging in Frankryk sodanig dat hulle nie hul Protestantse broers in die Lae Lande te hulp kon snel nie.

Die res van 1570 word deur veldslae gekenmerk. Die grootste deel van die suidelike Nederlande (die hedendaagse Vlaandere) word deur Spaanse troepe teruggeneem. Op 15 Maart 1580 word prins Willem deur sy eertydse vriend en werkgewer, keiser Filips II van Spanje, voëlvry verklaar. Die Spanjaarde wou die Prins van Oranje nou tot elke prys om die lewe bring.

Plakkaat van Verlatinghe. Foto: Wikimedia

Willem neem in 1580 die inisiatief om die hertog van Anjou uit Frankryk na Nederland te laat reis met die idee dat die Nederlande ʼn bondgenootskap met Frankryk teen hul gemeenskaplike vyand, Spanje, kan sluit. Ook hiervan kom min en op 26 Julie 1581 word een van die belangrikste dokumente in die geskiedenis van Nederland opgestel. Die Plakkaat van Verlatinghe verklaar amptelik dat die Nederlandse provinsies nie langer onderdanig aan koning Filips II sal wees nie.

Die Plakkaat word die geboortesertifikaat van die moderne Nederland, net soos die Onafhanklikheidsverklaring byna twee eeue later in die Verenigde State van Amerika. Tydens die meer as ses dekades se vryheidstryd wat daarop sou volg, sou die Plakkaat van Verlatinghe altyd ʼn belangrike rigtingwyser vir die Nederlanders bly.

Nadat Prins Willem van Oranje voëlvry verklaar is, was daar verskeie pogings om hom om die lewe te bring. Op 18 Maart 1582 was daar ʼn aanslag op sy lewe in Antwerpen. Op 10 Julie 1584 vermoor die Fransman Balthasar Gérard vir Willem van Oranje nadat die prins middagete saam met die burgemeester van Leeuwarden in die Prinsenhof in Delft geniet het.

Met die dood van prins Willem het die Nederlanders die leier van hul opstand verloor. Dit was egter nie die einde van hul stryd om vryheid nie. In 1586 stem Engeland in om die Nederlandse provinsies te help en daarna breek ʼn oorlog tussen Engeland en Spanje uit. Uiteindelik sou die Nederlandse opstand uitkring en sou die Dertigjarige Oorlog ook in Europa uitbreek.

In 1648 begin die vredesonderhandelinge in die Duitse stad Münster en in 1648 word die verdrae van Osnabrück en Münster as deel van die groter Vrede van Wesfale gesluit. Die einde van die Dertigjarige Oorlog beteken ook die einde van die Tagtigjarige Oorlog en die Nederlanders se stryd om vryheid.

Op 15 Mei 1648 het Spanje die soewereiniteit van die Nederlandse republiek erken. Die Nederlandse provinsies was vry om oor hulself te regeer en ʼn tyd van ongekende voorspoed het vir Nederland voorgelê.

Die sewentiende eeu staan vandag nog as die Goue Eeu in Nederland bekend. Dit was die eeu van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en Nederland se ontwikkeling tot wêreldhandelsreus. Ook op die gebied van tegnologie en kuns het Nederland ʼn bloeityd beleef. Welvaart het toegeneem en pragstede het reg oor Nederland ontwikkel.

(Foto: pixabay)

Dit was ook in dié Goue Eeu dat die volksplanting aan die suidpunt van Afrika plaasgevind het. Om die volksplanting te verstaan, is dit egter nodig om die dinamika in die Nederlandse provinsies van die sestiende eeu te verstaan, te wete die drang na die reg om oor eie sake self te beslis. Dit is belangrik om die reformasie en hoe dit in die Lae Lande uitgespeel het, te verstaan.

Die mense wat die opstand teen die magtige Spaanse ryk gelei het, is óns voorouers. Die arm Nederlanders wat manmoedig vir agt dekades lank ʼn vryheidstryd gevoer het, is óns voorouers. Die Tagtigjarige Oorlog is óns oorlog. Die Plakkaat van Verlatinghe is ook óns vryheidsverklaring.

Soveel van die karakter van die Afrikaner kan teruggevoer word na die geskiedenis van die Lae Lande in die sestiende en sewentiende eeu. Verlede week was dit 439 jaar sedert die publikasie van die Plakkaat van Verlatinghe. Met dié verklaring het die Nederlanders die gesag van die koning van Spanje verwerp met die argument dat die volk ʼn reg het om te rebelleer wanneer die heerser nie meer sy pligte teenoor die volk nakom nie en soos ʼn tiran optree.

Ons kan vandag gerus uit hierdie vroeë geskiedenis leer oor hoe om ons toekoms aan te pak. Die huidige Suid-Afrikaanse regering kom nie meer sy pligte teenoor ons na nie. Ons het ʼn nuwe Plakkaat van Verlatinghe nodig. Die strewe na vryheid soos die strewe na vrede is ʼn nimmereindigende stryd.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jsgroen ·

In die Weskaap is alreeds so iets aan die gang. Hoop hulle slaag.

Ou gees ·

Ek voel al lankal dat my identiteit as Duitser, ouer is as my identiteit as Afrikaner. Ek sal wat wil gee om terug te keer na my wortels. Die eksperiment: “Diversity is strength” is die ouer van die doodgebore baba “Rainbow Nation”.

Hannes ·

Baie interessante geskiedenis vir die deel van ons wat wel van Nederland afkomstig is. Daar is egter ook Duitsers en Franse wat na Suid-Afrika getrek het, wie almal bygedra het tot die vorming van die Afrikaner, wat ‘n eie Afrika karakter ontwikkel het. Hierdie eiesoortige Afrika karakter is verder ontwikkel deur “wegtrekke”:
1) Wegtrek van die Kaaps Nederlandse owerhede as Vryburgers;
2) Wegtrek van die oosgrens en Britse owerhede as Voortrekkers;
3) Wegtrek van Europese tale na Afrikaans – anders as die afdwing van Engels, Portegees en Frans in ander Afrika lande; en
3) Wegtrek van Britse heerskapy deur die Vrybeidsoorloë.
Hierdie optrede het ‘n ryk eiesoortige Afrikageskiedenis gevorm, waartoe Europa eintlik baie min tot bygedra het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.