Nederlanders verkies ook om eerder self te doen

gereedskap selfdoen

Argieffoto.

Solidariteit se “Plan B”, ʼn private inisiatief om ʼn lewensvatbare kulturele en sosiaal-ekonomiese ruimte vir Afrikaners en ander Afrikaanssprekendes te skep,  het nogal ʼn klomp stof opgeskop.

Allerlei polities korrekte bleeksiele het ag en wee geroep. Tog, teen die sentrale element van die plan, dat die samelewing self die inisiatief moet neem om na sy eie belange te kyk, pleks van om passief en bakhand te staan en wag dat ʼn onbekwame en korrupte staat vir mense sorg, kan daar geen beswaar wees nie.

Teen dié agtergrond is dit buitengewoon interessant dat ʼn inisiatief wat nogal aan dié van Solidariteit herinner, pas in Nederland bekend gemaak is. Dit kan die moeite loon om kortliks kennis daarvan te neem, met inagneming van sowel die ooreenkomste as die verskille.

Die inisiatief heet NL2025 en is die breinkind van ʼn groep van 80 sakelui, akademici, sportmense, kunstenaars en oud-politici. Tans aktiewe politici se name verskyn nie op die lys nie. Hulle word waarskynlik met opset buite die saak gehou, anders sou dit geen inisiatief van die burgerlike samelewing wees nie.

Die inisiatief het vroeër vanjaar spontaan ontstaan tydens die jaarlikse ekonomiese spitsberaad in Davos, Switserland, toe ʼn aantal Nederlandse top-sakelui informeel aan die gesels geraak het. Soos een van hulle, Jacques van den Broek, dit aan die oggendkoerant De Volkskrant gestel het: “Jy sit bymekaar en gesels oor hoe jy van die toekoms iets mooier en beter kan maak. Nie as bestuurders van groot maatskappye nie, maar as vader en moeder en inwoner van Nederland. Dan kan jy wel sê die regering moet dít of dát doen, maar jy kan ook self iets begin.”

En Frans van Houten, wat ook by die oorspronklike gesprek was, het aan die Financieel Dagblad gesê: “As jy saam iets wil bereik, is dit goed om jou kragte saam te snoer.”

Die groep het daarop die konsultasiefirma McKinsey opdrag gegee om ʼn omvattende meningspeiling onder 100 000 Nederlanders te doen oor wat hulle as belangrik vir die toekoms beskou. Op grond van die uitslae is besluit dat NL2025 hom op drie oorkoepelende gebiede gaan toespits, naamlik uitstaande onderwys, duursame ekonomiese groei en ʼn lewenskragtige, gesonde samelewing.

NL2025 is van buite onmiddellik beskryf as ʼn “denktenk” (wat ons op Afrikaanse eerder ʼn dinkskrum noem), maar verkies om na homself te verwys as ʼn “dóéntenk”. Mariëtte Hamer, ʼn oud-politikus, sê juis die doel is om “aan die onderkant saam te werk om goeie inisiatiewe aan die gang te kry”.

Op sy webwerf (www.nl2025.nl) brei die groep uit oor wat hy op elkeen van die geïdentifiseerde terreine wil doen. Op 7 November is ʼn spitsberaad byvoorbeeld vir “skoolleiers” gehou – die eerste keer dat mense binne en buite die onderwys skouers op dié manier geskuur het. Op grond van die insigte wat daar na vore getree het, sal konkrete projekte geïdentifiseer en verder gevoer word. Terselfdertyd sal hulp verleen word aan organisasies wat kinders tussen 8 en 16 oplei om beter in die arbeidsmark in te pas.

NL2025 gaan ook stukrag verleen aan die Oranje-Handelsmissiefonds wat kleiner ondernemings wil help om internasionale handelsbande aan te knoop, asook aan die opleiding van klein sakelui wat hul eie ondernemings – van loodgieter tot advertensieburo – wil begin of uitbou.

Noudat die staat weens finansiële probleme minder geld het om armes en haweloses aan die gang te hou, sal die organisasie voorts hulp verleen aan groepe wat maatskaplike bystand aan die hulpbehoewendes in die samelewing gee.

Dis dikwels bestaande inisiatiewe, wat egter tot dusver op hul eie aangesukkel het. NL2025 wil hulle saambind en koördineer, blyk uit die webwerf. Die sentrale idee is om weg te bly van staatshulp en -bemoeienis en om die krag en vindingrykheid in die burgerlike samelewing in te span.

Die een groot ooreenkoms tussen NL2025 en Solidariteit se Plan B is dat die staat omseil en ʼn beroep op die krag van die burgerlike samelewing gedoen word. Maar daar is natuurlik ook belangrike verskille.

In Nederland is die staat besig om sy voetspoor – as ʼn mens dié begrip kan gebruik – in die burgerlike samelewing te verklein. Die staat bestee steeds minder aan allerlei uitkerings vir armes of werkloses, ouetehuise, ensovoorts. Die kerke is heel bewus hiervan en berei hulself tans aktief voor om van die take, wat voorheen deur die staat behartig is, deels of heeltemal oor te neem.

In Suid-Afrika is iets anders aan die gang. Die regerende ANC is besig met ʼn interessante teenstrydigheid. Aan die een kant is hy steeds daarop uit om meer mag na sy kant toe te hark. Pres. Jacob Zuma se nuutste omstrede uitlating, dat die belange van die ANC bo dié van die land gestel moet word, is maar één voorbeeld.

Terselfdertyd vloei daardie groter mag soos water in woestynsand weg. Dit gebeur weens pure onbekwaamheid, korrupsie en in die geval van armblankes – kom ons noem die kind by sy naam – swart rassisme.

In die geval van NL2025 het die inisiatiefnemers geredeneer jy kan ag en wee roep omdat die staat homself terugtrek, maar dit gaan niks verander nie. Dóén liewer self iets.

In Suid-Afrika se geval geld iets soortgelyks. Ook hier kan ʼn mens skree en skel, maar ons weet almal die ANC gaan nie verander nie – hy wíl nie en hy kán nie.

En dus sal die redding ook in ons geval uit onsself moet kom. Solank ons besef dat dié soort inisiatief nie op ʼn etniese eiland kan floreer nie, dat ons dalk die voortou kan neem, maar dat die voordele vir almal beskikbaar moet wees. Dis gewoon ʼn kwessie van gesonde verstand.

Nederland, soos die res van die Europese vasteland, het ʼn lang geskiedenis van steeds groter staatsbemoeienis met mense se welsyn. Dis in teenstelling tot die Angel-Saksiese liberale tradisie, waar mense meer aan hul eie verantwoordelikheid oorgelaat word.

Dat die staat hom hier nou sodanig terugtrek dat ʼn aantal gemeenskapsleiers meen hulle moet iets doen om die vakuum te vul, is ʼn historiese omwenteling van groot omvang.

Dit wys in elk geval dat, al sou ʼn mens dalk opmerkings oor detailpunte in Solidariteit se plan kon maak, die breë rigting in ooreenstemming is met wat internasionaal gebeur.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

charmaine ·

Hierdie klink na n plan wat kan werk. As ons in SA so projek/te van die grond afkry kan daar meer werksgeleenthede vir ons wees, en die geldkraantjies na BBBEE afsny.
Dit sal wonderlik wees as maatskappy begin om n groter rol te speel. En maastskappy moet self kan besluit waar hulle, hulle geld wil bele. Al wat ons kan doen is hoop!

Mike ·

Hierdie plan is al jare gelede deur Mnr Jaap Kelder op die tafel geplaas met die Belasting Betalers Verenigings en dit werk goed, ek dink almal sal onthou wat in Sannieshof gebeur het. Die beste manier om jou vyand in die bek te ruk is om hom op sy beursie te slaan en dit is bewys deur die BBV’s, so waarom nou die wiel wil herontwerp verstaan ek nie

Gordon Stoltz ·

Daar is so baie arm blankes wat nie meer weet wat om te doen om net aan die lewe te bly nie. Ons wil nie misdadigers word om net voedsel te kan hê nie, ons wil ñ verandering sien gebeur. Ons het hulp nodig van buite af.

chrisp ·

En so begin die klein stroompie wat later ‘n magtige rivier kan word.

Hef aan manne hef aan

Charl Coetzee ·

Ek stem vir plan B. Dit moet ook in buurstate soos Namibia ondersoek word.

Charl Coetzee ·

Hoekom was plan B nie oorspronklik plan A gewees nie?

Mike ·

Jaap Kelder het hierdie plan jare gelede al aan die blankes voorgelê met sy Belasting Betalers Verenigings. Onthou jy Sannieshof, nou vra ek hoekom nie Jaap wat reeds ver gevorder het met sy plan nie ondersteun? Jaap is in beheer van die NBU (Nasionale Belasting Betalers Unie) waaronder die belasting verenigings val. Waarom die wiel herontwerp?

Dewald Alberts ·

Die Nederlanders het nie `n fraksie van die omstandighede in ons land nie, ons pad vorentoe is om in ons eie behoeftes en uitvoer te voorsien en derhalwe invoere te beperk…in die 70`s se sanksies het ons dinge gedoen, dis tyd vir hernuwing…

Leendert van Oostrum ·

Ek hou van Dr Scholtz se ontleding, en ek hou van die idee dat die burgerlike samelewing sy outonomie vis-a-vis die owerheid terugneem.

Ek dink ook dat sy koppeling van Solidariteit se prysenswaardige inisiatiewe daaraan geldig is.

Daar is egter, soos die Skrif sê, geen menslike saak wat sonder sonde is nie. Ek sê dit uit my ervaring van ‘n kwarteeu, om die outonomie van die gesin terug te neem van die staat – eers die ou Nasionale regering en nou die ANC-regime, wat nie minder magsmisbruik pleeg as hul wit voorgangers nie.

Die feit is dat burgerlike inisiatiewe ook sentrums van mag skep, en soos die wyse man gesê het, “power corrupts”. Of dit nou owerheidsmag is of burgerlike mag. Daar is duisende voorbeelde – van kerkrade wat heers in plaas daarvan om te regeer, tot die vryemarkstelsel wat verword tot ‘n korporatiewe feodalisme waar die individu se lot bepaal word in die raadsale van die maghebbers. (Ons het onlangs in die blaaie van Maroelamedia ‘n veldslag gehad tussen tuisskolers en monopoliste.)

Dis pragtig dat Scholtz juis ‘n voorbeeld in Nederland uitsnuffel – daardie mense wat hulle daarop roem dat hulle die middelklas uitgedink het. In ‘n gevestigde burgerlike samelewing bestaan daar ‘n subtiele balans tussen die mag van die burgerlike instellings en die outonomie van mindere instellings en individue – baie van hierdie balans het sy neerslag in die gemenereg gevind, maar baie daarvan is neergelê as “dit is ons gewoonte”.

Ek vrees dat samelewings waar die burgerlike samelewing herleef na ‘n periode van staatsmag (wat in SA veel langer geduur het as in Nederland), hierdie “aanvoeling” en respek ook weer herstel moet word.

Dit beteken dat daar, saam met die herlewing van die burgerlike samelewing ook ‘n herlewing van die regsgevoel van die mense moet wees om die (altyd verskuiwende) balans tussen mag en vryheid te handhaaf.

Aan die begin van die verstaatlikingsproses, in die negetiende eeu, het denkende leiers daarteen gewaarsku en filosofiese modelle daarvan gemaak. In Gereformeerde kring (Nederland) het ons Dooyeweerdt se konsep van soewereiniteit in eie kring gehad. Sy tydgenoot, Pous Leo (moenie my vra die hoeveelste nie – ek dink dis XVI) het ‘n soortgelyke maar veel eenvoudiger en (soos die wiskundiges sê) “eleganter” model daargestel – die subsidiariteitsbeginsel. Die idee dat enige besluit wat die individu raak geneem moet word deur die individu self, of deur die samelewingstruktuur wat die naaste aan die individu is.

Soewereiniteit in eie kring het onder Gereformeerdes uit die mode en in onbruik geraak, ten spyte van wêreldgehalte denkers soos Prof Stoker van Potch wat hul lewens daaraan gewy het.

Die subsidiariteitsbeginsel het egter die ontwikkeling van die “lex ecclesia” van Rome regdeur die twintigste eeu bepaal. Verskeie pouse het die beginsels daarvan uitgewerk in pouslike enkiklusse. In hierdie opsig is Rome vandag meer “gereformeerd” as die Doppers :-)

En die subsidiariteitsbeginsel het ‘n grondbeginsel van die Europese Unie en die Europese reg geword.

Ja, die burgerlike samelewing moet sy ruimte terugneem van die owerheid (my organisasie verwys na privaatskole – of hulle by die owerheid geregistreer is of nie – as “burgerlike onderwysinstellings” en ons veg vir hul behoud).

Maar dit moet ‘n terugneem wees wat nie geskied in ‘n beginselvakuum nie. Daar moet, met die herowering van die burgerlike ruimte ook ‘n herstel van die burgerlike etos wees om gesonde magsverhoudinge te hersel en onderhou.

Frik Mulder ·

Mike, vir ‘n wiel om te werk, moet dit rond en volhaalbaar wees. Hoe lyk dit tans in Sannieshof?

Henry ·

Laas wat ons deur Sannieshof gery het, het die slaggate daarvoor gesorg dat al die wiele wat reeds ontwerp was, pap en onbruikbaar geword het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.