Nederlandse verkiesing – moenie teen Wilders-faktor vaskyk

nederlandse-vlag

Foto: Misign/Pixabay.com

Die eerste reaksies op die Nederlandse verkiesingsuitslae was op die oog af hoofsaaklik teleurstelling oor hoe Geert Wilders se Partij voor Vrijheid gevaar het, en ander wat bly is dat die PVV nie so goed gedoen het soos algemeen verwag is nie.

Maar is dit werklik die belangrikste saak op die agenda en kan veel afgelei word met die oog op die latere verkiesings vanjaar in Frankryk en Duitsland?

Verskeie Amerikaanse kenners meen Wilders moet eerder in isolasie beskou word as die breë regspopulistiese beweging in Europa. Die oë word veel meer gerig op Marine le Pen in Frankryk.

Wilders en sy party is immers lank deel van die Nederlandse parlement, en was in ’n stadium met gedoogde steun as’t ware die party wat die regerende koalisie aan bewind gehou het, min of meer soos die EFF nou DA-geleide koalisies in staat stel om die ANC uit verskeie munisipaliteite se regeerampte te hou. Dis ongemaklik, en het ook ingeplof.

Wilders is ook al verskeie kere vir sy uitsprake van ’n vorm van haatspraak aangekla, en onlangs weer toe hy wel skuldig bevind is, maar nie gevonnis is nie.  As leier van die tweede grootste party kan hy nie geïgnoreer word nie.

Sake moet egter ook in perspektief beskou word. Die PVV het wel vyf setels bygekry, maar die Christen-Demokratiese Appèl het ses, en die GroenLinks ’n yslike tien setels bygekry.

Met die hulp van die CDA, die D66 en Partij voor de Arbeid kan premier Mark Rutte se VVD ten spyte van ’n verlies van agt setels maklik ’n koalisieregering vorm.

Sou die Partij voor Arbeid egter besluit om nie deel te neem nie, soos wat wyd bespiegel word nadat die party ’n yslike 29 setels verloor het, kan na die ChristenUnie en die SGP gekyk word.

Miskien selfs belangriker as hoe Wilders en sy party gevaar het, is die knou wat die Partij van de Arbeid ervaar het. Dié party was in die jare van Joop den Uyl aan bewind, en was sedertdien dikwels sterk genoeg om minstens ’n sleutelrolspeler in die koalisiepolitiek te wees. Met net nege setels is hy nou nie eens meer die grootste sosialisteparty nie, met die Sosialisteparty wat 14 setels verower het.

Met die vorige nasionale verkiesing in België kon ook geslaag word om die sosialiste heeltemal uit die koalisie te hou, terwyl die sosialiste die dominante politieke mag in Wallonië is, en selfs die vorige premier vir België opgelewer het. Die uitsluiting van die sosialiste het in daardie geledere ontsteltenis veroorsaak omdat die land toe glo ’n regering sou kry wat nie vir die armes omgee nie.

Barack Obama het die VSA in ’n sosialistiese staat begin omskep, en is nou deur die teenpool, Donald Trump, vervang.

Beleef ons nie nou as eerste dominante wêreldpolitieke faktor ’n voortgesette kwyning van die sosialisme nie – nogal ironies synde dat die ANV hier verder in daardie rigting neig? Dit beteken nie die opkoms van die regspopulisme is onbelangrik nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andries Erwee ·

Dankie vir n intressante artikel. Tog wil ek n paar regstellings of byvoegings maak.

Wilders het effens beter as in 2012 gedoen, maar is 5 setels swakker as in 2010. Ek glo hierdie was in n groot matr sy swnesang.

In Duitland is Mev Merkel se party die enigste regse met noemenswaardige steun. Haar opposisie is haar Demokraties Sosialistiese Party. Die regse teen EU en anti-immigrasie party kompeteer teen die linkse groenes vir die 3 de plek en sukkel om deur die 10% grens te breek.

Marie Le Pen was vir byna 10 jaar n lid van die Franse Parlement en is nou al vir +_5 jaar lid van die Europese parlement. Sy verskil dus in die opsig nie veel van Wilders nie, maar die feit dat sy nie soos Trump, haar pa en Wilders totaal belaglike uitsprake maak nie tel in haar guns.uitsprake

Merkur ·

Andries
Mev Merkel se party het ‘n een man party geword en het die sosiaal “demokratiese” party en die linkse groenes, “links” verby gevat.

Nie relevant nie maar hier ‘n video van Merkel se besoek by Trump verlede Vrydag. Nie vergeet hoe Merkel en haar regering vir Trump beledig het met die verkiesing nie. Direk na die verkiesing het Merkel voorwaardes aan Trump gestel voordat ‘n samewerking sal werk tussen die twee lande. Wat bewys hoe realiteits-vreemd Merkel werklik is.

https://www.youtube.com/watch?v=uLfukuEutIU&feature=youtu.be

Lampies ·

Andries
En daar besorg Trump se balaglike uitsprake hom ‘n oorwinning! Dalk is hy nie so belaglik soos jy dink nie?

Wern ·

ANV in laaste paragraaf dalk ANC bedoel of is ek bietjie stadig vandag? Dankie vir die uitstekende artikel!

Rupert Ashford ·

Verkeerd Herman, GroenLinks is nou die grootste sosialistiese party. Tyd om die waatlemoenbeweging wereldwyd te begin sien vir wat hulle werklik is.

JC ·

Dankie vir die artikel Herman, ons hoop Le Pen kan wen vir orde, konserwatisme en regstelling van die siek hoofstroom links- groen karnallies.

Nico K ·

Ek moet darem net vir Lampies sê dat dit ‘n baie swak argument is om te beweer dat net ondat hy die verkiesing gewen het hy nie belaglik kan wees nie. Zuma het die verkiesing in SA gewen. Verkiesings, veral in die VSA, is maar show bussiness.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.