Nederlandse verkiesings

Mark Rutte

Mark Rutte

Die Nederlandse kieser het gepraat en die Nederlandse politieke landskap het onverwags en dramaties verander.

Die verkiesings van afgelope Woensdag 12 September het iets reggekry wat eintlik baie selde in die gefragmenteerde Nederlandse politieke landskap  gebeur: net twee partye het saam meer as die helfte van die 150 setels van die  Tweede Kamer van die Nederlandse parlement.

Die liberale Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) en die sosiaal-demokratiese Partij van de Arbeid (PvdA) het  byna gelykop geëindig met respektiewelik 41 en 39 setels elk. Dis ’n groot  verrassing, omdat die getal  setels vir elk van die twee partye ongeveer tien setels hoër is as wat die peilings weke lank voorspel het. Maar die  grootste verrassing is die vinnige styging van die PvdA. Aanvanklik is vir daardie party net 15 setels voorspel.

Die boodskap van die kieser was duidelik: hulle het gekies vir ’n groot en sterk midde. Die meer radikale linker- en regterflanke het as gevolg daarvan drasties steun verloor of hul belofte van sterk wins nie verwesenlik nie.

So het die regs-populistiese Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders van 24 na 15 setels gedaal. En het die linkse Socialistische Partij (SP) sy  belofte van sterk groei nie verwesenlik nie en onveranderd op  15 setels gebly.

Die enigste tradisionele midde-party wat ook behoorlik veld verloor het, is die Christen-Democratisch Appèl (CDA) wat van sy 21 setels net 13 oorgehou het. Hierdie verlies moet gesien word teen die agtergrond dat dié party op sy hoogtepunt meer as 50 setels gehad het.

Tog is die kans groot dat die vorming van ’n nuwe kabinet ’n moeisame proses sal  word.  Die opvattings van die VVD en die PvdA oor fundamentele sake soos die rol van die owerheid, die markwerking in die ekonomie en die welsynstaat lê baie ver uiteen.

Maar eers die  belangrikste twee vrae: waarom het die kieser wegbeweeg  van die twee uiterste flanke en na die middel opgeskuif? En waarom het die PvdA so sterk gestyg?

Eerstens was daar die groot verrassing in die persoon van die nuwe leier van die PvdA, Diederik Samsom. Bekend as ’n onstuimige en driftige politikus met ’n verlede as omgewingsaktivis by Greenpeace, het hy in alle opsigte ’n gedaantewisseling ondergaan en in tv-debatte rasioneel, ewewigtig en versoenend oorgekom.  Hy het gelyk soos ’n toekomstige premier.

Die sittende premier, Mark Rutte, leier van die VVD, het nie ver agtergebly nie. Hy is ’n formidabele debatteerder, en die hele verkiesingstryd het vinnig net om hierdie twee gedraai. “Die stryd tussen die twee titane” en “Idols” het die koerantkoppe geskree.  Dit is nou eenmaal die tyd van die soundbites en oneliners.

Dus dit was vinnig duidelik dat daardie twee die ander partye ver agter hulle gelaat het. Die ander leiers het so’n bietjie weggeraak, veral Emile Roemer van die SP wat in die debatte aarselend en te vriendelik oorgekom het. En image is in hierdie visueel ingestelde tye maar al te dikwels deurslaggewend.

Ook interessant is dat Rutte as sittende premier nie gestraf is vir die feit dat sy kabinet binne twee jaar geval het nie. Iemand anders het egter wel die skuld gekry, Geert Wilders van die PVV.

Die vorige kabinet was naamlik ’n minderheidskabinet van CDA en VVD en die PVV van Wilders het belowe om dit te steun – gedoog – sonder om egter formeel deel te wees van die regering.

Die ekonomiese krisis en die probleme  binne die Europese Unie (EU) het  in April van hierdie jaar samesprekings oor ekstra  besuinigings tussen die regeringsvennote en die gedoogvennoot noodsaaklik gemaak.

Na sewe weke van onderhandelings waarby die Nederlanders net elke keer gesien het hoe  ’n glimlaggende , maar swygsame premier op sy fiets die onderhandelingsplek verlaat het, het Wilders die draad uit die kragprop gepluk en uit die onderhandelings weggeloop.

En dit was ’n fundamentele fout. Die PVV – met Wilders as enigste lid en dus sonder ’n normale partystruktuur – het altyd gedy op die onvrede van die Nederlandse kiesers  oor die multikulturele samelewing, die afbraak van die welsynstaat of die verhoging van die aftree-ouderdom.

Die party is eerder bekend om sy negatiewe kritiek as om sy oplosssings. Wilders se taktiek was altyd om ’n  bepaalde doelwit uit te kies. Eers was dit die probleme rondom die Moslems, en tydens hierdie verkiesings was die vyand “Brussel” en die EU.

Maar dit het hierdie keer duidelik nie gewerk nie. Die kiesers het nie daarvoor geval nie; hulle het ook  baie strategies gestem. In peilings het hulle  byvoorbeeld aangegee dat aangesien niemand meer ná die mislukte onderhandelings met Wilders wou saamwerk nie, ’n stem vir hom dus ’n verlore stem sou wees.

Eintlik het hulle vir sekerheid en ’n stewige meerderheidskabinet  gekies en teen onsekere avonture. Paradoksaal genoeg juis gevolg van  hul pessimistiese siening oor die toekoms en ondanks die feit dat hulle nog steeds ontevrede is oor talle sake.

Interessant genoeg, gaan dit minder sleg met Nederland as wat die meeste kiesers dink. Na Luxemburg is Nederland byvoorbeeld die mees welvarende land van die EU met baie spaargeld en ’n flinke uitvoer-oorskot. Ook is die werkloosheid op die een na laagste van al die EU-lande.

Maar die persepsie van die mense is anders. Hulle is bekommerd oor hul pensioene, hul werk, die kostes van die mediese sorg, die omgewing en nog talle ander sake. Na die  bankkrisis wantrou hulle  die banke. Hulle sien “Brussel” as ’n gesigslose  en ondemokratiese burokrasie wat Nederland se soewereiniteit  bedreig en miljarde euro’s vir lande soos Spanje en Griekeland in ’n swart gat laat verdwyn. En hulle wantrou “Die Politiek”.

Reg of verkeerd, die kieser het gepraat en hul boodskap was nog nooit so duidelik nie: ’n sterk en gematigde regering wat moet regéér.

Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op Samson en Rutte om straks saam te werk, ondanks die groot verskille tussen hulle oor hoe die  Nederlandse samelewing oor tien jaar moet lyk.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Ingrid Scholtz

Meer oor die skrywer: Ingrid Scholtz

Ingrid Scholtz was redakteur van WêreldBurger, ʼn bylae van Die Burger. Sy en haar man, Leopold Scholtz, het in 2007 na Brussel verhuis waar hulle ʼn nuwe kantoor vir Media24 geopen het. Ingrid skryf dikwels vir wetenskaplike tydskrifte.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae