Nee, nee, duisend maal nee!

Solidariteit lê klag teen SA regering by VN en Europese parlemente oor rasmalheid

Dirk Hermann.

Ras, ras oral ras, ras net waar jy kyk en hoor. As ʼn laerskoolmeisie vir ʼn netbalspan gekies moet word, is dit ras. As ʼn matrikulant aansoek doen vir universiteitstoelating, is dit ras. As aansoek gedoen word vir studiefondse, is dit ras. Vir ʼn werkaansoek gaan dit oor ras. Vir bevordering, ras. As jy dan eerder ʼn eie onderneming wil begin, is dit steeds ras. As jy iemand dissiplinêr moet aankla, word jý die rassis. As ʼn minister droogmaak, speel hy of sy die rassekaart. As hulp in ʼn pandemie gegee word, kom dit neer op ras.

Ras, ras, ras. Suid-Afrika het rasmal geword. En ek sê: Nee, duisend maal nee!

Ons mag net nooit daaraan gewoond raak of dit as normaal begin aanvaar nie. Ons durf nie geduld hê met die rasse-abnormaliteite in Suid-Afrika nie. As ʼn onreg so dikwels plaasvind, word dit maklik as normaal aanvaar en mense begin om dit te verduur. Ons durf dit nie verduur om op grond van hoe ons lyk, beoordeel te word nie. Ek sê nee, duisende maal nee!

Suid-Afrika het die mees rasgereguleerde land in die wêreld geword. Die regering dink ras is die hoogste gesag in die land. Ras troef selfs die reg. Suid-Afrika word as ʼn rassestaat hanteer en die Grondwet is skynbaar daar om dit te ondersteun. Ongelykheid word as gelykheid aangebied, rassigheid as nierassigheid, eksklusiwiteit as inklusiwiteit, en rasseoorheersing word as verteenwoordigendheid aangebied.

ʼn Nuwe laagtepunt in Suid-Afrika se rasse-ideologie is bereik toe hulp tydens ʼn pandemie op grond van ras toegeken is. Die pandemie en inperkings het nie op grond van ras gediskrimineer nie, maar die hulp het wel. Daar is nie gekyk na jou nood om jou te help nie, maar na hoe jy lyk. Dit is daarvoor wat ons moet nee sê en weer nee sê en dit ʼn duisend maal doen.

N.P. van Wyk Louw het geskryf oor die gevaar daarvan as ʼn hele geslag sonder protes sou verbygaan. Hy skryf dat protes selfs belangriker is as dat die stryd gewen moet word. Enige geveg kan gewen word, maar oorgawe beteken altyd die stryd is verloor. In die leeftyd van elke geslag kom daar ʼn tyd vir protes. Doen ʼn geslag dit nie, is dit nie net verraad teenoor die huidige geslag nie, maar ook teenoor die volgende geslag.

Die regering se rasmalheid smeek om protes. Dit vra nie vir berusting nie. Daarvoor moet ons nee sê, ʼn duisend maal nee!

Solidariteit staan aan die voorpunt van protes teen dié rasmalheid. Ons gaan nie die protes laat vaar nie. Ons verskyn gereeld in Suid-Afrikaanse howe, het al in die strate protes aangeteken oor Sasol se rassistiese praktyke, en het al met sukses vertoë tot die Verenigde Nasies gerig. Ons moet aanhou en bly aanhou. Die kuns is deursettingsvermoë. Ons moet meer en meer stry teen dít wat verkeerd is.

Ek sê nee, ʼn duisend maal nee vir die rasmalheid!

Die volgende fase van hierdie protes is om die internasionale druk nog sterker te maak. Ons moet die regering hier plaaslik aankla, maar ook internasionaal. Suid-Afrika het ʼn oop ekonomie. Al wil die regering dit dalk doen, kan die internasionale mening nie geïgnoreer word nie. Internasionale druk moet deel van ons strategie wees.

Solidariteit gaan die regering by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) aankla en mosies by verskeie Europese parlemente indien oor die land se rasmalheid. ʼn Omvattende klag is deur Suid-Afrika se topregskenners opgestel om as ʼn formele klag by dié VN-komitee ingedien te word.

Dit volg op die sukses wat Solidariteit in 2016 by die VN behaal het. Nadat Solidariteit voor die CERD verskyn het, het die komitee kritiek teen die regering se rasseklassifikasie uitgespreek en gevra dat die regering aan die komitee moet verduidelik waarom rasseklassifikasie steeds gebruik word.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het in 2018 ʼn verslag uitgebring waarin gesê word dat die regering die land se regstellendeaksiewetgewing moet aanpas om aan die VN se aanbevelings te voldoen, spesifiek wat rasseklassifikasie en ʼn meer genuanseerde benadering ten opsigte van regstellende aksie betref.

Die regering het nie aan die aanbevelings van óf die Verenigde Nasies óf die SAMRK voldoen nie. Dit plaas Solidariteit nou in ʼn baie sterk posisie om ʼn formele klag teen die Suid-Afrikaanse regering by internasionale platforms, insluitende die VN en Europese parlemente, te lê.

Twee aspekte is belangrik sodat ʼn klag of mosie suksesvol kan wees. Die eerste is ʼn sterk klag met goeie inhoud. Dit het ons: Suid-Afrika oortree die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie. Die land was ʼn ondertekenaar van die konvensie en moet dit gevolglik gehoorsaam. Ons kan dus ʼn uitspraak teen die regering kry.

Die tweede aspek is dat plaaslike steun bewys moet word. Duisende en duisende mense moet saam nee sê teen rasmalheid. Die saak van tien mense wat kla is swak; die saak van 500 000 mense wat nee sê, is ongelooflik sterk. Om voor die Verenigde Nasies te verskyn of ʼn mosie by Europese parlemente in te dien met 500 000 mense wat ons steun, maak ons saak baie, baie sterk.

Dit tyd vir saamstaan is nou. Die volgende stap is om groot internasionale druk op die regering uit te oefen. Dit is nou ons geslag se tyd om in ons massas teen rasmalheid te protesteer. Ons durf nie toelaat dat dit genormaliseer word nie. Ons moet in ons massas die internasionale massaklag ondersteun.

Dit is nou tyd vir nee, ʼn duisend maal nee!

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

DANKIE!

Rian

Dis n minderwaardigheidsgevoel wat nooit oorkom gaan word nie.

Baardman

Dankie AfriForum, hou ASB aan met julle goeie werk. Intussen betaal ek my ledegeld met n SMILE elke maand en probeer my bes om nuwe lede vir julle te werf.

Marianna

Dirk, waar steun mens dit?

Groen Ghoen

In die kol, mnr. Hermann! En al die paddas in President Paddakoker se pot sê “Kwaak…. kwaak…!” Al wat nog effektief weerstand bied is julle. Om die 500 000+ kwakende paddas tot aksie te oorreed voordat die water kook, is beslis haalbaar. “Eendrag maak mag!”