Neem beheer oor jou eie

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Dat dinge in Suid-Afrika nie goed gaan nie, is ’n stelling soos om te sê “as dit reën, word jy nat”. Almal weet dit, maar wat word daaraan gedóén?

Op amptelike vlak gaan Afrikaans die kreeftegang. Dis waar; die Afrikaans-haters het ’n skop van agter gekry van regter Steven Majiedt insake die taal se gebruik in die onderrig by Unisa, maar dis nie naastenby genoeg om die skade wat reeds berokken is te herstel nie.

Blade Nzimande, een van die mees verbete vyande van Afrikaners en sy sprekers, storm eenvoudig voort in sy poging om Afrikaans by te kom. Sy eintlike teiken is die wit Afrikaners, synde die groep wat apartheid gesteun het, maar die feit dat hy honderdduisende bruines en selfs swartes daarmee benadeel, kan hom in sy ideologiese drif nie skeel nie.

Op Stellenbosch word paaiend mooi woordjies gepraat oor hoe Afrikaans darem ’n inheemse taal is, maar in die praktyk duur die verengelsingsproses voort. Sikhulekile Duma, leier van die beweging Open Stellenbosch, is pas (nogal onbestrede) tot die universiteit se Institusionele Forum verkies.

Sy prioriteite, het hy verklaar, is onder meer “die beskerming van die vooruitgang wat gemaak word met die implementering van ’n inklusiewe taalbeleid” – waarmee hy eintlik maar die verengelsingsproses bedoel.

Die agteruitgang is ook op ander terreine te sien. Ek praat nou die dag met ’n goeie vriend, ’n gerespekteerde man van Pretoria wat ’n leiersrol in die samelewing vervul, en hy vertel my hoe dinge veral op die platteland degenereer – kragonderbrekings, gate in die paaie, watertenks aan die rand van die townships waar swart mense boewe moet betáál om hul emmers vol te maak omdat die watertoevoer afgesny is – noem maar op.

Die vraag is: Wat kan daaraan gedoen word? Dit is immers die ANC wat regeer. In my boek, wat teen Maart aanstaande jaar oor die geskiedenis van die ANC/SAKP in ballingskap gepubliseer word, gaan ek diep op die tradisie van korrupsie, nepotisme en magsmisbruik in, wat tóé al kenmerke van dié alliansie was.

Wat in Suid-Afrika ná die ANC/SAKP se bewindsoorname in 1994 gebeur het, vind sy wortels in die voorafgaande tydperk; dit het nie uit die lug geval nie.

Solank die ANC regeer, sal die ellende voortduur. Dis waar, president Cyril Ramaphosa is nie so erg soos Jacob Zuma nie, maar sy magsposisie in die ANC is nie sterk genoeg sodat hy kan maak en breek soos hy wil nie, selfs al sou hy die agteruitgang wou omkeer.

’n Mens kan seker emigreer. Ek het dit gedoen, weliswaar nie omdat ek weier om onder ’n swart regering te leef nie, maar wel agter die liefde aan – my (Nederlandse) vrou het meer as 30 jaar vir my in Suid-Afrika gewoon, en noudat ek afgetree is, is ek hiér vir haar. Dit terwyl ek as Afrikaner en Suid-Afrikaner ten diepste aan my land en mense verbonde bly en ook só sal sterf.

Juis daarom weet ek emigrasie kan dinge vir die emigrant dálk op individuele vlak verbeter, maar dis geen oplossing vir die land nie. Dít sal ’n mens in ’n ander rigting moet soek.

Ek lees toevallig vanoggend in die koerante van ’n groep, “boere, taxi-eienaars, werkloses, sakelui, professionele mense en ander keelvol inwoners” van Ficksburg in die Vrystaat wat besluit het om hande te vat en aan die munisipale verkiesing van 1 November deel te neem. Senekal, Marquard en Clocolan is ook betrokke.

Die groep noem homself “Setsoto Service Delivery Forum” (SSDF). Volgens die filmmaker Frans Cronjé, wat in Ficksburg woon, is die groep waarlik veelrassig. “Daar bestaan nêrens in die land só ’n politieke party nie.”

Waarop die inisiatief neerkom, is dat mense op voetsoolvlak nie langer wil terugsit en afhanklik bly van ’n party en regering wat van bo tot onder onbekwaam en korrup is nie. Hulle wil hul eie toekoms bepaal.

In beginsel is dit presies dieselfde idee wat die Solidariteit- en AfriForum-familie al ’n hele klompie jare toepas. Hulle beveg misdaad en wetteloosheid (weliswaar in samewerking met die polisie), maak slaggate in die paaie reg, herstel water- en elektrisiteitsvoorsiening – jy kan maar verder opnoem. Hulle het selfs hul eie – onbeskaamd – Afrikaanstalige universiteit (Akademia) en beroepsopleidingskollege (Sol-Tech) gestig waar studente sonder hindernis van hul eerste jaar tot graduering in Afrikaans kan studeer.

Teoreties kan ’n mens ook aan die geografiese afstigting van ’n streek dink, maar ’n praktiese oplossing is dit nie. Welke streek? Die Wes-Kaap? Die Karoo? Pretoria? Nie een van hulle is “etnies suiwer” nie; álmal bevat meerderhede wat nie Afrikaners is nie en geeneen kan ekonomies selfstandig bestaan nie.

Die alternatief is ’n “virtuele” afstigting, soos Solidariteit en die mense van Ficksburg en omliggende dorpies maak. Neem sélf jou toekoms in jou hande, vir sover dit moontlik is.

Daar is ewenwel een vereiste wat nagekom moet word, en dis een waaroor regse ekstremiste my sal wil braai.

Énige inisiatief is vantevore ten dode opgeskryf as dit openlik slegs vir blankes of wit Afrikaners bedoel word. Dit móét op die allerminste vir enige persoon onder die son oop wees, ongeag sy etniese agtergrond, huistaal of velkleur.

Anders herhaal ons eenvoudig die foute van die verlede wat ons gebring het waar ons nou is.

Jy kán ’n universiteit of kollege kry wat tegelykertyd Afrikaans én veelrassig is. Studente wat verkies om aan só ’n instelling te studeer wéét vooraf dat hul lesings in Afrikaans gaan wees – en as hulle daarteen beswaar het, kan hulle na een van die vele verengelste of verengelsende plekke (soos Stellenbosch) gaan.

Dit is ook die werkswyse op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit, ’n instelling waarmee ek akademiese bande as buitengewone professor handhaaf. Dis die rede waarom ek my verbintenis met Stellenbosch, my almal mater, prysgegee het.

Uiteindelik kom dit hiérop neer: Ten eerste, moenie in ’n hoekie gaan sit en sê “Berge val op my en heuwels bedek my” nie. Tweedens, moenie die rassisme van die verlede probeer voortsit of herstel nie. Ten slotte, neem beheer oor jou eie – of jou gemeenskap se – lewe en staak jou afhanklikheid van die ANC en sy misdadige kliek.

Die pad is lank en swaar, sê die liedjie. Maar wie weet, dalk staan die koffie al klaar!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anoniem ·

Vandag stem ek 100% saam met jou Leopold. Suid-Afrikaners moet beheer uit die ANC se hande neem en hulle stadigaan versmoor deur belastings te weerhou en dinge self te doen met die geld wat ons aan hulle toevertou. Finansiële versmoring deur diegene wat daartoe in staat is, is al manier hoe ons hierdie regering op sy knieë kan dwing, want dit gaan nie by die stembus gebeur nie.

JohanCzu ·

Vir mense wie ‘n lewe in ‘n beskaafde land verlang is die enigste oplossing emigrasie. In Suid Afrika mag daar dalk opflikkeringe voorkom, soos by Ficksburg, maar die doodsengel wag reeds vorentoe vir Suid Afrika.

Snowball ·

Om te hoop dat die paar enklawe waar die gemeenskap iets regruk en beter laat funksioneer, die verval sal stopsit of ons lewenskwaliteit gaan verbeter is wensdenkery. Uiteindelik lei werkloosheid, misdaad en ekonomiese verval tot almal se ondergang. Die langtermyn prentjie is ongelukkig “gloom and doom”. Ek kan in ‘n sekuriteitskompleks bly, maar een of ander tyd moet ek dit buite waag – waar die stukkende paaie, kragonderbrekings en misdaad my ook raak; dieselfde geld vir die samelewing. Die nuwe ‘dysfunctional’ SA is hier om te bly; ‘n ‘gangster state’ – orchestrated BY the criminal FOR the criminal; hier is nie plek vir ‘n ordentlike siel nie. Vat jou geld en jou goed uit hierdie hool as jy kan anders bly dáárvan ook niks oor nie – die kommuniste slyp klaar hulle tande vir grond en pensioene. Kyk die feite in die gesig en emigreer.

Vrijburger ·

“…. maar wat word daaraan gedóén?” – Baie goeie vraag.
Tans kry ons baie raad en slimmigheid vanuit die veilige vreemde.
Maar hier waar die ‘tekkie-die-teer-slaan’ is ons op ons eie en sal ons self besluit, baie dankie.

Net as ‘n terloopsheid, gee asb ‘n definisie van jou “regse ekstremiste” ? Beter nog, identifiseer hulle vir my dat ek ook kan weet? Of moet ek maar aanvaar dat dit bloot mense is wat durf van jou verskil?

annie ·

Leopold kan gerus lees wat die skrywer hierbo sê. Ná 30 jaar se verbintenis met SA is sy lewensmaat steeds knus verbonde aan haar tuisland en is hul sak-en- pak daarheen, terwyl hy duidelik betrokke bly by sy moederland se wel en weë. Wat aandui dat ‘n mens se diepste wese nooit breek met die ingebedde eie nie. Om beheer te neem oor ‘n onbeheerbare is dus effe moeilik; om ‘saam’ te predik maar duidelik te sê dat dit net tot ‘n sekere mate bevrediging bied. Wie is dan eerlik, die sg Afrikaner- ekstremiste of diegene op die soustrein genaamd ‘Ons’. Wie baat en wie moet opoffer?

Rupert Ashford ·

Met die inligting oor die korrupte geskiedenis van die ANC/SAKP wat in die opkomende boek gepubliseer gaan word, wonder ek of ons dalk erens ‘n verskoning sal sien van die mense wat ons “beinvloed” het om in sekere rigtings te dink en te stem met die referendum en die opeenvolgende verkiesing. Daar was ‘n beduidende aanbod van ‘n groepering wat selfbeskikking voorgestaan het daardie tyd en hulle is ondermyn en gemarginaliseer deur die manne en vroue wat die penne rondgestoot het in daardie dae.

Anna-marie ·

Moeg vir sy beterweterigheid uit die veilige Nederland.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die afdwing van die raskwotas op die privaatsektor, welke raskwotas die land se nasionale bevolkingssamestelling moet weerspieël, gaan die doodsklok vir die Suid-Afrikaanse ekonomie beteken. Die ANC en EFFse strategie het kommunisme as dryfmotief. Die ANC se beoogde kommunistiese staat Mzansi National “Democratic” Society Corrup Animal Farm gaan wetgewing, die belastingstelsel en die raskwotastelsel gebruik om die privaatsektor te vernietig. Solank die staat die belastings en wetgewing kan afdwing, sal die burgery duur betaal vir die kommunistiese dwingelary en die kommunistiese elite se onversadigde drang na gierigheid. Bestudeer gerus verwikkelinge in alle huidige kommunistiese state: totalitêre beheer, beperking van spraakvryheid, sentrale beheer, vrot ryk elite en kreperende gepeupel. Die ANC gedrewe staatsbestel beteken beheer oor alle magshefbome, kapitaal en inkomste skeppende bronne.

Martie Smartie ·

Hoe ironies. Die Nederlandse regering was destyds een vd VOORBOKKE om die ANC aan bewind te kry. Want hulle ken nie Afrika nie en weet nou nog nie dat die Westerse demokrasie net werk wanneer een rassegroep nie ‘n ander in getalle totaal oordonder nie. Hulle ken ook nie die wese en vesel van Afrika nie. En nou sit prof Scholtz knus daar anderkant en raad uitdeel. Nou ja toe. Sal hy nog so slim wees as daar oornag 50 miljoen Afrikane gaan woon in Nederland? Daar sal niks oorbly nie, hulle brand, breek en plunder als oornag. Die beste bootsman staan mos altyd aan wal.

FrikkievV ·

Ek stem heelhartig saam, ons moet geen waarde heg aan enige ANC hubris nie. Ons eie lewe leef ja!
MAAR hoe gemaak as hul net maak soos hul wil en bv die grendel tydperk verleng en ons dwing om dit maar net te aanvaar? Hulle swak en pateties kortsigtige besluite raak elkeen van ons ongelukkig direk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.