Neem deel, dit is hoe ’n mens ’n verskil maak

Deelnemers aan die openbare voorleggings oor grondonteiening sonder vergoeding by die Heartfelt Arena in Pretoria. Foto: Reint Dykema

Deelname aan die tipe openbare raadplegingsprosesse wat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie ondervang, kan soms baie moeilik en frustrerend wees. Die huidige verloop en die jongste verwikkelings in die openbare deelnameproses oor onteiening sonder vergoeding wys egter ook dat dit die moeite werd kan wees.

Baie mense wat die openbare voorleggings oor onteiening sonder vergoeding bygewoon het, was ’n bietjie geskok oor wat hulle gehoor en ervaar het. Op party plekke is daar selfs gepraat van haat, en is mense uitgejou.

Maar die wiel draai. Die aktivistiese voorstaanders van onteiening sonder vergoeding wat aan die begin van die proses gelyk het of hulle die oorhand het, moes opnuut die waarheid leer van die Kaap-Verdiese rewolusionêr Amilcar Cabral se stelling: “Vertel geen leuens nie en maak nie aanspraak op maklike oorwinnings nie.”

Hoewel dit inderdaad te vroeg is vir enigeen om aanspraak te maak op oorwinnings in hierdie taai, ingewikkelde en belangrike debat, is dit duidelik dat die gety tans inloop ten gunste van ’n meer gematigde oplossing. Die ANC-regering, wat ’n volstrekte meerderheid het in die parlementêre ruimte waar hierdie kwessie besleg sal word, is al minder lus om substantief of omvattend aan die Grondwet se eiendomsklousule (artikel 25) te torring, en die EFF is duidelik besig om hul verwagtings af te skaal. ’n Tipies Suid-Afrikaanse kompromis blyk in aantog te wees.

Hiertoe het baie mense bygedra. Elke gewone Suid-Afrikaner wat die moed geopenbaar het om ’n openbare voorleggingsessie by te woon (sowat 32 000 Suid-Afrikaners het dit gedoen) en elke Suid-Afrikaner wat ’n skriftelike voorlegging aan die parlement gestuur het (daar was sowat 489 000 van hulle, wat ’n rekord is), het sy of haar bydrae ter verbetering van die land gelewer.

Dit was vir baie van hulle nie maklik nie. Sommiges moes vir die eerste keer hoor hoe sterk landgenote voel oor grond wat van familie of voorgeslagte afgeneem is. Ander moes leer verstaan dat ekonomiese werklikhede nie toelaat dat grond net huitjie en muitjie oorgedra word aan onopgeleide begunstigdes nie.

Organisasies en kundiges het hul insette gelewer. Binnelandse en buitelandse druk is besig om hul bydraes te lewer. ’n Gematigde kompromis neem vorm aan, wat dalk ook vir die mees vertrapte mense van ons land – landelike inwoners van gebiede onder die heerskappy van tradisionele leiers – ’n beter lewe kan beteken.

Wat is die les hieruit te leer en wat staan ons dus te doen?

Die les en die waarheid is dat die grondwetlike weg tans die enigste manier is om doelwitte te bereik, en dat daardie weg vereis dat mens nie te gou moed opgee wanneer dit lyk asof die gety teen jou is nie. Voorts, dat die meerderheid van die mense van ons land daardie grondwetlike weg vertrou en bereid is om hulle by die afloop van daardie proses neer te lê – al is dit dalk nie presies wat hulle wou gehad het nie. En laastens, dat dit beter is om betrokke te bly as om jou te onttrek en soos ’n uil op ’n kluit te bly sit.

Betrokkenheid is die beste manier om verandering te beïnvloed, ook in ons land.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Eish ·

Goeie, geballanseerde en selfs inspirerende artikel.
Mag die hoop nie beskaam nie.

DC ·

Grond is nie n maklike uitweg na rykdom nie. Daarom is dit nou minder aantreklik om die grondwet te wysig. Dat die oefening negatief is vir die land en beleggingsekuriteit is gewis so. Daarom sal dit goed wees as alle politici se voordele met 50 persent gesny word die volgende 10 jr. Die mense doen onbesonne dinge, waarvoor hulle geen aanspreeklikheid aanvaar nie.

Gerhard ·

Ek dink wat vir my uitstaan uit hierdie artikel is dat ons weereens by ‘n punt is waar absurde gedrag aanvaarbaar word of selfs as oorwinning gesien word net omdat dit minder ekstremisties is as iets wat dit vervang.

Jerry ·

Die skrywer slaan die spyker op die kop. Deur betrokke te wees en beleefd met mekaar in gesprek te tree het n besliste invloed op die uitkoms van onafwendbare verandering in die breer Suid Afrikaanse samelewing, dis Virseker! Die uitkoms is nie altyd heeltemal waarvoor ons hoop nie, maar ten minste bied dit tog iets wat verdere verblyf steeds die moeite werd kan maak! Deur nie betrokke te wees nie en jouself uit te sluit uit die prosesse kan egter onafwendbaar lei tot isolasie waar jy opeindig soos n uil op n kluit daar doer onder of soos n kneg op jou kniee voor die koning van Zululand! Hoe dit ookal sy, betrokke of uitgesluit, as dit jou gelukkig maak dan is dit goed so, solank jy dit net beleefd en met oorgawe doen!

John ·

Oorloe geskied nooit beleefd nie, oorgawes dikwels in die hoop op vergifnis of ten minste oorlewing. Baie eise is op wanpersepsies gebaseer en baie mense sal trane stort in die hoop dat iemand sy droom sal realiseer. By Afrika is toneelspel tweede-natuur. Prekery vir Afrikaners so asof hulle altyd onbeskof teenoor anderskleuriges is, is wensdenkery… en dat net liberales maniere het, is twak. Soos die skrywer se, nog is dit het einde niet. Afrika wil altyd sy sin he, en sommiges wil dit maar gee en dan kruip vir oorlewing; alles blindweg aanvaar. Jan2 glo/hoop miskien die behoud van die wet is die behoud van die status quo. Daar is baie maniere om ‘n wit kat te slag. Vra vir pres Paul Kruger.

Kryger ·

Ek dink die skrywer sit die pot mis as hy dink daar gaan ‘n meer gematigte oplossing wees. Die “meer gematigte” oplossing was van die begin af die doel. As jy nou nog nie die strategie van die ANC vanaf Codesa se dae af verstaan nie, dan is jy of onnosel of aspris.
Dit is immers dieselfde strategie wat mense vir eeue al doen wannner jy onderhandel. Eis te veel en “skik” op iets minder sodat die ander kant voel hulle het gewen, terwyl jy inderdaad net die skikkings ooreenkoms se voorwaardes eintlik wou he.
In elk geval het die openbare verhore se uitkoms geen verandering teweeg gebring nie, siende dat die ANC nog steeds die resultate beheer. Die (ANC gesinde) massa media het gese meeste mense was vir grond vergrype, terwyl die mense wat daar was en die syfers die teenoorgestelde getuig het. As dit nie vir Pres Donald Trump se tweet was nie, wat deur Afriform en ander se harde werk in die buiteland teweeg gebring was, sou ons nog steeds vandag gedink het die meerderheid steun grond vergrype.

JC ·

Baie dankie Kryger – jy slaan die spyker op sy kop !Die felt dat daar gedwonge verskuiwings was van swartes vanaf 1913 IS JUIS die rede waarom die staat NOOIT WEER TOEGELAAT MAG WORD om sulke arbitrere optrede uit te voer nie!!(wat al te maklik sou wees sonder die verpligting van vergoeding). Verder kan jy nie holderstebolder ideologie bo werklikhede en rasionalisme stel nie wat nl. IS dat grond NIKS GAAN HELP AS JY NIE KAN OF WIL BOER NIE. Danksy pres Trump en veral afriforum het ons grotendeels die aanslag vir nou afgeweer EN HET DIT ONS STERKER GEMAAK DANKSY GOD SE WAKENDE HAND OOR ONS!! SOOS ONS VADERS VAN WELEER OOK VERTROU HET

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.