Neem Lesufi se beloftes oor Afrikaanse onderrig met knippie sout

Onderwys__4

Foto: www.stockvault.net

Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, het tydens die openbare debat wat ons onlangs in Tembisa gevoer het, plegtig belowe Afrikaans in Afrikaanse skole is veilig solank as wat hy LUR is. Volgens Lesufi sal hy geen skool dwing om van Afrikaans as onderrigmedium afstand te doen nie.

Onder normale omstandighede sou ʼn mens baie opgewonde oor dié onderneming kon wees. Die probleem is egter dat baie mense in leiersposisies voorheen ook soortgelyke beloftes gemaak het – wat uiteindelik geblyk het niks meer as leë beloftes te wees nie. Afrikaanssprekendes moet daarom nie naïef wees en hierdie beloftes weereens vir soetkoek opeet nie. Indien Lesufi dink ons glo hom dié keer, onderskat hy die intelligensie van Afrikaanssprekendes.

Lesufi se uitgesproke plan is om Afrikaanse skole in Gauteng ná die eerste rondte van plasings te dwing om ook Engelse klasse te begin aanbied. Natuurlik gaan skole aanvanklik dan steeds oor Afrikaanse klasse beskik. Die geskiedenis van die afgelope 20 jaar wys egter dat die invoer van Engels by ʼn onderriginstelling bloot ʼn tussenstap tot algehele verengelsing is.

Die pad na algehele verengelsing is daar vir almal om te sien in gevalle soos die Randse Afrikaanse Universiteit (wat nou die Universiteit van Johannesburg (UJ) heet), waar Engelse klasse aaanvanklik saam met die bestaande Afrikaanse klasse ingevoer is met die belofte dat dit Afrikaans nie sal benadeel nie.

Vandag is UJ eentalig Engels. Dieselfde pad is met die Universiteit van die Vrystaat geloop: die universiteit het eers as parallelmediumuniversiteit in Afrikaans en Engels gefunksioneer, maar het nou besluit om Engels as enigste voertaal te gebruik. Dieselfde verengelsingsproses is reeds in ʼn gevorderde stadium by die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch aan die gang.

Lesufi wil nou hê Gautengse skole moet dieselfde pad loop. Die aantal Afrikaanse skole het landwyd reeds dramaties afgeneem. In die tydperk 2008-2012 was die afname 15% en sedertdien stoomroller die proses voort. Afrikaanse skole word tans deur slegs 5,8% van Suid-Afrika se meer as 24 500 skole verteenwoordig. Die voormalige Afrikaanse model C-skole, wat tans deur Lesufi geteiken word, maak slegs 2,5% van die land se totale aantal skole uit. Selfs al sou elkeen van dié handjievol skole verengels, sou die oorgrote meerderheid swart leerders dus steeds nie toegang tot gehalte-onderrig hê nie.

Die werklike hindernis tot gehalte-onderrig is die feit dat 80% van Suid-Afrikaanse skole volgens Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, disfunksioneel is. Dié feit is later met navorsing deur Africa Check bevestig. Disfunksionele skole is skole wat nie daartoe in staat is om kennis op suksesvolle wyse aan kinders oor te dra nie.

Die groot probleem is dat een van die regerende party se alliansievennote, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU), ʼn wurggreep op die oorwegend swart skole uitoefen, wat verhoed dat onderwysers van dié skole wat nie hulle werk doen nie, gedissiplineer word. Die resultaat is dat onderwysers in sogenaamde swart skole skaars meer as drie ure per dag klasgee.

ʼn Mens sou verwag dat Lesufi se grootste prioriteit sou wees om disfunksionele skole reg te ruk. Hy het skynbaar nie die politieke wil om SADOU aan te vat nie en kies nou Afrikaanse skole as “sagte” teiken. Met sy aanslag om minderhede te teiken, bevind Lesufi homself in slegte geselskap. Adolf Hitler het juis ook as deel van sy opgang die Joodse minderheidsgemeenskap as probleem en hindernis uitgesonder.

Afrikaanse ouers en studente het dus meer as genoeg rede om sterk standpunt vir die behoud van Afrikaanse enkelmediumonderwysinstellings in te neem.

Daar rus dus ʼn verpligting op elkeen van ons om in die komende maande die aksies van instellings te ondersteun wat vir die behoud van Afrikaanse onderwys veg. Dit mag selfs vereis dat ons aan massa-protesaksies deelneem om die behoud van Afrikaanse instellings te eis. Baie Afrikaanssprekendes is egter nog sku vir protesaksies; dit sal oorkom moet word, aangesien dit die moeite werd is om vir sekere dinge te veg – en  Afrikaanse onderrig is een daarvan.

Gelyklopend met die geveg om Afrikaanse instellings te behou, moet ons ook enkelmedium- privaat skole en tersiêre instellings soos Akademia en SolTech ondersteun. Soos sake tans verloop, sal Afrikaners in die toekoms al meer op privaat instellings moet steun om hulle kinders te onderrig.

Afrikaners het Lord Alfred Milner se aanslag oorleef toe hy Afrikaanse onderrig meer as 100 jaar gelede ook wou vernietig. Ons kan dit weer doen en ook hierdie keer Lesufi se aanslag oorleef. Dit sal egter, soos tydens die vorige verengelsingspoging, harde werk, goeie planne en die deursettingsvermoë van Afrikaanssprekendes vereis.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Kallie Kriel

Kallie Kriel is die Uitvoerende Hoof van AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Basson ·

As ek die Twitter boodskap uit die debat reg verstaan het, het hy gesê bygevoeg dat geen ‘Slegs Afrikaanse’ skole geduld sal word nie?

JC ·

Ja nee, neem dit beslis met ‘n knippie sout asb! ONS BOU, ONS BOU!! Ons bou ons eie Afrikaanse, Suid-Afrikaanse skole, net hier aan die suidpunt van Afrika! ONS BOU!

Oupa ·

Jy is reg ONS BOU, maar wat is die realiteit. Beheerliggame bou al vir jare op die staat se grond!! kan jy glo binne in woonbuurte waar die ander tale instroom!
Kallie Kriel maak asb die mense bewus dat hulle besig is om aan te jaag. Dit is prag en praal, kleuterskole, Graad R skole, nog klaskamers, winkels, restaurante. Nou koop hulle al aangrensend grond binne versadigde infrastruktuur vir nog klaskamer en ander goed.
Kallie Kriel help dat hulle die geld gebruik om onafhanklike Afrikaanse skole op eie grond – nie staatsgrond te bou. Ons kon al baie skole bou met die geld. Nou in die einde se die LUR :”mine” want die afrikaanse leerlinge gaan nou na Afrikaanse privaatskole.

Disselboom ·

Nou die dag in ‘n artikel (“Privaatskole noodsaaklik vir onderwys se toekoms”) gelees dat daar meer as ‘n kwarteeu, m a w meer as ‘n geslag gelede, ‘n nuwe openbare skool in Centurion gebou is, maar dat die stad heelwat uitgebrei het. Lesufi moet maar ‘n slag nog skole daar gaan bou – selfs die Engelssprekendes sukkel blykbaar om genoeg skoolplekke te vind daar.
Daar is mos ‘n sterk konsentrasie van groot Afrikaans-enkelmediumskole daar – kan ‘n goeie geleentheid wees as mense betyds wil inklim vir ‘n groot Afrikaanse privaatskool in Centurion. Dalk kan van die klein pogings begin konsolideer; dit hoef nie noodwendig alles van nuuts af begin te word nie.

Basson ·

Daar word glo eersdaags begin met die bou van ‘n engelse skool h/v Blinkblaar en Bottlebrush – die grond le al gereserveer vir ‘n skool vir maklik 25j +.

Leonard van der Dussen ·

Erf 1171 in Zwartkop, 3,99ha – uitstekende ligging wat uitkyk na Midrand se kant. Departement het na twee jaar se pogings in 2003 al vir my laat weet nie te koop nie, hulle gaan self skool bou. Hoop dis hierdie keer minstens waar. Gun die Engelssprekendes ‘n skool, want dis ook nodig. Hoop net dit word ‘n beter gehalte-ontwikkeling as die een in Wierdapark wat so 18 maande gelede (uiteindelik) gebou is.

Voordeel as daar nog Engelse skool kom: minder druk op Afrikaanse skole. Maar dis jammer dat Afrikaners nie betyds hande kon vat vir ‘n Afrikaanse skool op hierdie mooi erf nie. Dit moet ons wakker skud. Daar is gelukkig aksies aan die gang.

Elmarie ·

Ek voorsien groot moeilikheid hier. Alle kinders het die reg om onderrig te word, ongeag of die ouers kan betaal aldanie. Wat nou gaan gebeur, is dat ouers kinders by skole gaan inskryf, volle kwytskelding van betaling gaan kry omdat hulle byvoorbeeld ‘n “child support grant” kry (en daarop aan te dring wat hulle mag) en dat die onderrigkoste deur ander ouers betaal moet word wat nog altyd net betaal het. Dit gaan lei tot groot verhogings in skoolgeld van betalende ouers.

Oupa ·

In Nambie het die Afrikaanssprekendes al lankal die Afrikaanse skole vir die staat gegee en hulle eie gebou. Baie daarvan residensieel wat in ons stedelike gebiede nie so vergesog is nie. Bereken bietjie gemiddelde tyd van Mamma se taxi op die pad per dag – onthou die kind sit helfte daarvan ook in die motor.
Wat by ons gebeur is dat Afrikaanse skole naby mekaar is en spandeer beheerliggame negatiewe energie om leerling rond te skuif tussen en af te rokkel van die ander skool. En dit terwyl wwonbuurtes leeg loop aan afrikaans sprekendes, Belaglik vir eie egos nie. Onderwysers en beheerliggaam onderwysers se werk moet ook beskerm word en die gemeenskap betaal ten koste van langer termyn denke. n Ouer se lang termyn strategie is net 7 of 5 jaar

Koos ·

Dit is wat ons in Suid-Afrika moet doen gee hulle skole terug die ouers finansier die skole in elk geval hoekom dan bevele vat van ‘n persoon soos Lesufi wat openlik ‘n probleem het met Afrikaans sprekende burgers……Bou saam

Dell ·

Elmarie, ek kan getuig, ons betaal al lankal vir die minder bevoregtes in ons afrikaanse skole. My dogter in gr 7 is saam met vriendin se huishulp se dogter. Selfde skool. Ek betaal skoolfonds al vir 7 jaar. Sy nie ‘n sent. Ek kan my dogter nie aan koor, trompoppies ens laat deelneem nie, want ek werk voltyds en dis vir my te duur. Sy neem aan alles deel, verniet en word deur almal rondgery. Toere word alles gedek. Sy het vir amper 7 jaar nou baie meer voordele ontvang in my kind se afrikaanse skool. ( Moet ook net noem, die skool is top 10 in Gauteng.

Sandra ·

Ja jong, as hulle “goeie more” sê, moet mens eens gaan kyk of die son skyn. Hulle praat nou so, en netnou -netnou anders.

Wonder maar net ·

Daars n gesegte: “TALK IS CHEAP, ITS THE MONEY THAT BUY THE WISCKY” Daai ou sal moet bewys dit wat hy se,hy sal doen. ANC regering het bewys,dis nie n regering wat vertrou kan word nie. So jammer. Ons sal moet saamstaan,petisies teken, toy toy, nie afbreek en hulle goed afbrand nie en hof toe. Al hierdie Afrikaans must fall, die brand stigtings,afbreek,haat,moord,en en en,is net van die EFF en ongelukkig val die regering daarvoor.

Lance ·

Praat so maar doen anders …n sak sout is meer gepas in die geval !

Johann Marx ·

Ek verstaan nie? In 1990-1992 het ons alles wat die ANC en FW gesê het opgevreet vir njannies-koepêla…….Nou word alles met ‘n “knippie sout” geneem? Waarom? Wat het gebeur?

Poplap ·

Ons het intussen geleer dat mense soos jy wat in die verlede leef, bloot verduur kan word. Sonder om ‘n knippie sout te vermors.
Daar is belangriker mense en onderwerpe wat ons knippies sout verdien.

Christo ·

Ek merk ‘n seker tendens in die kommentare. Wanneer ‘n persoon nie van ‘n plasing hou nie, word sarkastiese en neerhalende kritiek gelewer wat meestal kwetsend is en glad nie betrekking het op die onderwerp nie.
Is dit so moeilik om eerlike kommentaar te aanvaar vir wat dit is, sonder om die persoon aan te val.
Is dit wat Maroela sien as gesonde dialoog?
Geen wonder die algemene siening bestaan dat Afrikaners altyd dwarstrekkerig is nie. A nee a, leer eers die reels van dialoog voering op openbare platforms alvorens julle deelneem.
En nee, ek is nie die omie van wie niemand hou nie.

Jaco Snyman ·

ek glo nie Lesufi het die IK wat Lord Milner gehad het nie. Dit het groot invloed op sy eie mense wanneer hulle met ‘n karige inkomste moet ver ry omrede daar nie plek in skole naby hulle is nie. Verder doen hy Afrikaners ‘n groot guns. Privaat Afrikaanse skole gaan die enigste behoorlik onderlegte en opgevoedes voort bring wat beteken hulle wat die man ondersteun altyd agter sal bly. Arme man is eintlik so onbeholpe.

MC Horak ·

Kan ons nie maar net n bietjie Ubuntu uitleef nie. Skole word halfdag benut. Deel die dag in twee en laat Afrikaans die oggendskof vat en Engels die middagskof. Buitemuurs word ook rondom die program aangebied. Minstens het ons produktiwiteit van benutting van geriewe in die proses met 100% verbeter. Paar personeellede meer kan met goeie beplanning, dissipline en wilskrag die ding maak werk. Grenade tog, moet ons altyd later trek as onse goeters bedreig word? Verseker sal daar iets positiefs uitkom wanneer die goeie en welwillendheid afskuur.

Henry ·

Miskien moet jy jou Oeboentoe oplossing aan mnr Lesufi voorstel.

Ek is net ‘n bietjie skrikkerig dat die Afrikaanse skole wat hul geriewe met soveel wellewendheid en Oeboenterigheid beskikbaar sou stel, gevaar mag loop dat hulle geriewe verbrand word wanneer sommige siele op ‘n dag sou besluit dat die Oeboentoe belewenis met afbrand en breek vervang moet word. Veral wanneer dit naby eksamentye sou kom…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.