Nelson Mandela en die laaste Afrikaner-leiers: ’n Herbesinning oor politieke mag gedurende die apartheidsera

Herman Giliomee

Herman Giliomee

ʼn Openbare lesing deur Hermann Giliomee ter ere van Richard Elphick by die Wesleyan-universiteit in Middletown, Connecticut, VSA, 4 Mei 2015

Inleiding

Een van die groot veralgemenings onder politieke ontleders en kommentators is dat ’n regering wat op etniese, rasse- of godsdienstige groep gebaseer is nie van mag afstand doen nie tensy die regering militêr verslaan word of die geld opdroog. ’n Peiling wat in 1988 onderneem is onder wit mense in die Witwatersrand-gebied, die grootste stedelike konglomerasie, bevestig dit.

In die peiling is vyf politieke voorkeure vir ’n nuwe grondwet gelys. Slegs 3% van die Afrikaners en 11% van die wit Engelssprekendes het die opsie van “’n enkele gemengde parlement waar die meerderheid in beheer is” onderskryf. [1] Sedert die middel-1960’s het die regering ’n weermag tot stand gebring wat as die gedugste in Afrika beskou is. Maar op die ou end het die Suid-Afrika onder wit bewind nie militêre oorwinnings nie, maar ’n politieke oplossing nodig gehad.

Die belangrikste sosiale gegewe van die apartheidtydperk is die viervoudige toename in die swart bevolking van net oor die 8 miljoen tot oor die 31 miljoen. Gedurende dieselfde tydperk het die wit bevolking van twee en ’n halfmiljoen tot ’n skamele vier en ’n halfmiljoen gegroei. Deur slegs die demografiese faktor in ag te neem was die einde van wit oorheersing onafwendbaar; tog was daar in 1990 geen rede om die skielike verkrummeling van die regering se vasbeslotenheid om op magsdeling aan te dring, te voorsien nie.

Die behoefte aan ’n politieke oplossing is beklemtoon in ’n merkwaardige artikel deur die historikus Arnold Toynbee wat in 1959 in Optima, ’n tydskrif wat deur Anglo American Corporation uitgegee is, verskyn het. In daardie stadium was Toynbee een van die mees aangehaalde historici in die wêreld. In sy A Study of History, wat 12 volumes beslaan, het hy aangevoer dat die wyse waarop minderhede onder kreatiewe leiers op uitdagings reageer van kritieke belang was in die opkoms en ondergang van die ongeveer 26 beskawings wat in die wêreldgeskiedenis onderskei kan word. Hoewel hy deesdae nie meer veel aangehaal word nie, het Toynbee ’n merkwaardige visionêre voorspelling oor Suid-Afrika in die Optima-artikel gemaak.

Die artikel begin met Toynbee se waarskuwing oor die onafwendbare gevolge indien die regering in Suid-Afrika sou versuim om betyds kreatief op sy politieke uitdagings te reageer. Vervolgens word die veranderende aard van die ANC se uitdaging van wit mag, waarin Nelson Mandela so ’n groot rol gespeel het, ontleed. Die belangrikste vrae wat hanteer word, is: Waarom het die wit regering nagelaat om die ANC te betrek toe die ekonomie nog lewendig en die politieke stelsel redelik stabiel was? Watter geleenthede is verbeur? Hoe kon sake anders verloop het?

Die waarskuwing van die geskiedenis

Toynbee se Optima-artikel is geskryf teen die agtergrond van die snelle dekolonisasie van Afrika deur die Europese koloniale magte wat twee jaar tevore begin het. Hy het gewys op die kontras tussen die ryke wat die Spanjaarde en die Portugese op die Suid-Amerikaanse vasteland tot stand gebring het en dié wat deur die Britte en die Hollanders in Afrika gevestig is. Die Spanjaarde het ook die inheemse mense uitgebuit, maar hier het die verdeling tussen eersteklas- en tweedeklasburgers, nie op ’n rassegrondslag geskied nie, en versperrings boontoe was nie op ras gegrond nie en dus nie ondeurdringbaar nie. Die gevolg was dat die Spanjaarde die botoon bly voer het, selfs ná onafhanklikwording. Dit geld ook vir mense van Europese afkoms (of hoofsaaklik Europese afkoms) in die voormalige Portugese kolonie Brasilië.

Die kolonies wat die Hollanders en die Britte in Afrika gestig het (en ’n mens sou ook dié wat die Britte in Noord-Amerika gestig het daarby kon voeg), staan in skerp teenstelling hiermee. Politieke opgang en materiële vordering was baie moeilik vir talentvolle en ondernemende mense uit die onderworpe rasse en ondertrouery was bykans ongehoord. Toynbee het die skerp waarneming gemaak dat daar in die Suid-Afrika van die 1950’s geen maklike weg was vir ’n bekwame en aanpasbare swart persoon om die dominante kaste te betree nie. [2]

Toynbee het die belangrikheid van demografie beklemtoon. As die dominante minderheid tegnologies en kultureel voor was, sou die stryd langer uitgerek en moreel meer kompleks wees as in die geval van ’n duidelik omlynde militêre stryd. Maar, skryf hy, “die dénouement kon tragieser wees.” Volgens Toynbee sou die minderheid verplig word om vroeër of later die status te aanvaar van “’n onbevoorregte minderheid” onder ’n meerderheid wat hulle as kultureel minderwaardig beskou het. Die alternatief was om te midde van ’n stygende gety van opstand met louter mag aan hul opperheerskappy vas te klou.

Toynbee het gewaarsku dat dit noodlottig vir ’n minderheid is om teen die gety te probeer uithou. “Selfs wanneer sy geloof in sy eie kulturele meerderwaardigheid geregverdig is, sal getalle uiteindelik die deurslag gee, in ag genome dat kultuur oordraaglik is en dat gesag gebaseer op kulturele meerderwaardigheid dus ’n kwynende bate is.” Hy het simpatie gehad met die dilemma van minderhede: Vrywillige abdikasie ten gunste van ’n meerderheid “wat jy as jou mindere beskou, is ’n baie moeilike alternatief vir menslike trots om te aanvaar”.[3]

Ken ons ‘vyande’

Ná die onverwagte oorwinning van die Nasionale Party in die 1948-verkiesing was daar in die geledere van die seëvierende Afrikanernasionaliste uiteenlopende perspektiewe oor die toekoms. Eben Dönges, wat as minister van binnelandse sake die meeste van die apartheidswette sou instel, het in sy private hoedanigheid aan ’n buitelandse joernalis gesê dat die beleid van apartheid vir hom en sy kollegas die bedoeling gehad het om die huidige en die volgende twee geslagte teen die gevare van ’n groeiende swart en bruin bevolking te beskerm. [4] Daarteenoor het die NP-leier, D.F. Malan, gesê: “Vandag behoort Suid-Afrika weer aan ons. Suid-Afrika is ons eie vir die eerste keer sedert die Unie van Suid-Afrika. Mag God gee dat dit altyd ons eie bly.”[5] Daarmee het hy bedoel die land is die Afrikanernasionaliste s’n.

Gemengde gevoelens oor die 1948-verkiesingsuitslag het ook geheers onder die leiers van die African National Congress, die oudste en toonaangewendste swart organisasie. Albert Luthuli, ’n toekomstige wenner van die Nobelprys vir vrede, het gesê dat dit vir swart mense,  as blote toeskouers van die politieke spel, irrelevant was watter wit party gewen het. Oliver Tambo en Nelson Mandela, toekomstige ANC-leiers, het van hom verskil. Mandela vertel dat Tambo gesê het: “Ek hou hiervan. Nou weet ons presies wie ons vyande is en waar ons staan.”[6]

In 1950 het Hendrik Verwoerd, ’n voormalige professor in sosiologie, minister van naturelle sake in die Nasionale Party-regering geword. Hy was later, van 1958 tot 1966, die eerste minister. Hy sou dit sy taak maak om swart mense presies te laat verstaan waar hulle staan.

Kort nadat hy ’n kabinetminister geword het, het Verwoerd ’n vergadering met sekere lede van die Naturelle Verteenwoordigende Raad gehou. Van die raad se lede was ANC-ringkoppe. Hy het regstreekse verteenwoordiging van swart mense in die parlement of in provinsiale rade uitgeskakel, maar het dit wat hy as “die grootste mate van selfregering” in stedelike swart gebiede bestempel het, aangebied. Ten einde self dienste aan stedelike woonbuurte te kan lewer, sou swart mense in Verwoerd se woorde opgelei moes word om in baie sfere bekwaam genoeg te wees.

Die swart leiers wat die vergadering bygewoon het, het die voorstel verwerp en het aangedring op verteenwoordiging op alle regeringsvlakke. Dit was ’n keerpunt waar Suid-Afrika die kans verspeel het om ’n ommekeer te maak. Sou die leiers die aanbod van swart plaaslike regerings aanvaar het, kon hulle dit op dieselfde wyse aangewend het as wat swart vakbonde in die 1980’s aangewend is. Hulle het doeltreffend, en op maniere wat die regering nooit voorsien het nie, van hul gewettigde status gebruik gemaak om ’n politieke hefboom te bekom.

Verwoerd het hierna begin met die toepassing van ’n streng beleid om swart politieke regte te beperk tot die agt swart reservate, wat later in die apartheid-ideologie as nasionale tuislande voorgehou is. Hierdie reservate het in totaal 13% van Suid-Afrika se oppervlakte beslaan. Om selfs stedelike swart mense polities met hul onderskeie tuislande te verbind, was die regeringsbeleid totdat onderhandelinge vir ’n demokrasie in die laat 1980’s ’n aanvang geneem het. Die NP-regering het die noodlottige fout begaan om stedelike swart mense, die mees ontwikkelde en vooruitstrewende laag van swart mense, van enige beduidende verteenwoordiging uit te sluit.

Mandela, wat reeds in die vroeë 1950’s ’n uitsonderlike leier was, het gehelp om die ANC in ’n aktivistiese, maar nie-gewelddadige vorm van politiek, te stuur. Dit het ingesluit boikotte, wegblyaksies, lydelike verset en protesoptogte. Die staat het die beweging uiteindelik onderdruk deur 157 van sy leiers, insluitend Mandela, van hoogverraad aan te kla. Die verhoor, wat in 1956 begin het, het vyf jaar lank geduur voordat al die beskuldigdes vrygespreek is.

Terselfdertyd het die jakkalsstreke wat die geskiedenis kan uithaal, hulself ook hier laat geld. Daar was geen segregasie van beskuldigdes in die howe nie. Die 157 beskuldigdes het in alfabetiese volgorde gesit en daar was gereeld geleentheid om tydens pouses te gesels. Daar was voorheen min kontak op leierskapvlak tussen die ANC, wat uitsluitlik swart was, en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, wie se leiers feitlik uitsluitlik wit was.  Mandela het voorheen daarop gestaan dat die ANC ’n eksklusief swart organisasie moes wees en het afstand van die wit kommuniste gehandhaaf.

Die ondervinding in die hof het ’n verandering by hom teweeggebring. Hier het hy vir die eerste keer wit mense teëgekom wat net so verbind was tot ’n demokratiese Suid-Afrika as wat swart mense was. Hy het vir die res van sy loopbaan lojaal gebly teenoor sy kommunistiese bondgenote. Hy was inderdaad ook vir ’n wyle self ’n kommunis.

Beroepe op die regering

Mandela het van die begin van sy loopbaan ’n bewondering gehad vir Britse politieke instellings, veral die Britse parlement. Hy het daardie instellings as die hoeksteen van ’n nuwe politieke orde in ’n vrye Suid-Afrika beskou. In 1960, terwyl Mandela tereggestaan het op hoogverraad, het hy voorgestel dat die swart bevolking toegelaat word om 60 verteenwoordigers in die Suid-Afrikaanse parlement te verkies, wat net minder as ’n derde van die totale getal setels in daardie stadium was. Hy het ook voorgestel dat dié maatreël elke vyf jaar hersien kon word. [7]

Dit was presies die soort maatreël wat Toynbee in gedagte gehad het om ’n situasie in die toekoms te vermy waarin die regerende elite gedwing sou word om sonder mag en sonder eer te kapituleer. Afgesien daarvan dat die wit kieserskorps tot ’n groot mate nie daarop voorbereid was nie, was daar nog ’n probleem. Die dominante wit groep was verdeel tussen die Afrikaners, wat 55% van die kieserskorps gevorm het, en die Engelse gemeenskap wat ekonomies en kultureel die botoon gevoer het.

Die “wenner-neem-alles”-stelsel, wat vandag nog in sowel Brittanje as in die Verenigde State geld, is nie geskik vir ’n diep verdeelde samelewing soos Suid-Afrika nie. Dit beloon nie gematigdheid nie, maar moedig die grootste etniese groep aan om afsonderlik te mobiliseer en om toenemend radikaal te raak in sy stryd om sy mag te verdedig.

In Suid-Afrika was daar nie alleen ’n skerp verdeling tussen wit en swart nie maar ook tussen die twee wit gemeenskappe. As Mandela se voorstel van 60 swart verteenwoordigers in die parlement aanvaar is, sou dit ongetwyfeld ’n swart-Engelse-alliansie teweeggebring het, wat die Afrikaner se politieke einde sou beteken.

Die dood van 70 swart Suid-Afrikaners wat op 21 Maart 1960 deur die polisie by Sharpeville geskiet is en wat deur betogings in verskeie stede en ’n uitvloei van kapitaal gevolg is, het die eerste ernstige krisis vir die wit bewind veroorsaak.

In April 1960 het die regering die ANC en ander organisasies verban en talle aktiviste is in die tronk opgesluit. ’n Referendum oor republiekwording is uitgeroep waaraan slegs wit mense, wat net een vyfde van die bevolking uitgemaak het, sou deelneem. Nadat ’n ja-stem verkry is, het die regering besluit om die Republiek op 31 Mei 1961 uit te roep.

Mandela het op 20 April 1961 namens verskeie swart organisasies aan Verwoerd geskryf dat sy regering, wat slegs ’n minderheid verteenwoordig, nie daarop geregtig was om so ’n besluit te neem sonder om die uitdruklike toestemming van die swart mense te verkry nie. Swart mense het die voorgestelde republiek onder ’n regering wat, in Mandela se woorde, “reeds wêreldwyd berug was oor sy aanstootlike beleid,” gevrees. Die gevaar het bestaan, het hy geskryf, dat die regering nou “selfs wreder aanvalle op die regte en lewensomstandighede van swart mense sou loods. Die situasie kon, volgens Mandela, slegs afgeweer word deur ’n soewereine nasionale konvensie, wat verteenwoordigend is van alle Suid-Afrikaners, saam te roep om ’n nuwe, nie-rassige en demokratiese grondwet te skryf.”[8]

Drie weke nadat die republiek aangekondig is, het Mandela weer ’n brief aan Verwoerd gestuur. Hy het gesê dat geen besluit geneem kon word oor enige grondwet of vorm van regering sonder die deelname van die swart mense wat die volstrekte meerderheid van die bevolking vorm nie. Hy het gevra vir ’n nasionale konvensie van verkose verteenwoordigers van alle volwasse mans en vroue. Die liggaam moes soewereine magte hê om ’n nie-rassige, demokratiese grondwet te bepaal.[9]

Verwoerd se kantoor het nie Mandela se twee briewe beantwoord nie. Later, tydens sy verhoor het Mandela druk op Verwoerd se private sekretaris uitgeoefen om te erken dat die versuim om sy briewe te beantwoord in “enige beskaafde land” as “skandalig” gereken sou word. Die sekretaris het geantwoord dat die briewe nie beantwoord is nie omdat die toon aggressief en onhoflik was. Mandela het later opgemerk “daar kan iets daarin steek”.[10] Die versoek om ’n nasionale konvensie byeen te roep, was egter ook vanuit ’n wit oogpunt problematies. Die swart meerderheid sou stellig die grondwet kon skryf.

Nadat die ANC op 30 Maart 1960 verbied is het Mandela saam met ander leidende figure besluit om ’n gewapende organisasie, later bekend as Umkhonto we Sizwe, te vorm om ’n sabotasieveldtog en ’n gewapende stryd aan te pak ten einde die regering na die onderhandelingstafel te dwing.

Hulle moes daarmee rekening hou dat Albert Luthuli, die ANC-president in daardie stadium, ferm gekant was daarteen dat die ANC hom in ’n gewapende stryd begeef. ’n Vergadering het tussen Mandela en Luthuli plaasgevind om die kwessie op te los. In sy gepubliseerde outobiografie erken Mandela dat die uitslag van sy botsing met Luthuli uiters morsig was omdat laasgenoemde by sy verbintenis tot pasifisme bly staan het. Volgens Mandela het Luthuli daartoe ingestem dat “die militêre liggaam ’n aparte en onafhanklike instelling moes wees, wat by die ANC inskakel en onder die oorhoofse beheer van die ANC val, maar wat fundamenteel outonoom is”. Mandela meld verder dat hy sommige lede van die “wit Kommunistiese Party, wat reeds besluit het oor die weg van geweld en wat sabotasiedade gepleeg het”, gewerf het. [11]

Die vraag of dit die ANC of die SAKP was wat die besluit geneem het om tot die gewapende stryd oor te gaan en Mandela se rol daarin, was tot Mandela se dood toe op 5 Desember 2013 sluimerend. Toe het dit ’n opskudding veroorsaak. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het ’n verklaring uitgereik waarin gemeld word dat Mandela in ’n stadium ’n lid van die party se sentrale komitee was. Op dieselfde tydstip het twee belangrike publikasies deur professionele historici verskyn. Die een is deur die Britse historikus, Stephen Ellis, ’n bekleër van die Desmond Tutu-leerstoel aan die Universiteit van Amsterdam, getiteld External Mission: The ANC in Exile, 1960-1990 (Jonathan Ball). Die ander werk is deur twee Russiese historici, Irina Filatova en Apollon Davidson, The Hidden Thread: Russia and South Africa in the Soviet Era (Jonathan Ball).

Volgens Ellis het die SAKP-konferensie waar die besluit geneem is om die wapen op te neem in ’n welgestelde wit voorstad plaasgevind en slegs agt of nege van die 25 afgevaardigdes wat dit bygewoon het, was swart Afrikane. [12] Filatova en Davidson skryf dat Mandela as lid van die SAKP se sentrale komitee teenwoordig was. Op grond van die onderskeid wat die ANC tref tussen lede van die SAKP (dit wil sê kommuniste) en lede van die eintlike ANC (oftewel nasionaliste) kom die twee geskiedkundiges tot die gevolgtrekking dat geen nasionalis teenwoordig was toe die SAKP die besluit geneem het om hom in die gewapende stryd te begeef nie. Die twee geskiedkundiges voeg by: “Die feit dat die gewapende stryd oorspronklik ’n besluit van die SAKP, en nie van die ANC was nie, word bevestig deur dokumente in Moskouse argiewe.”

’n Studie, getiteld “The Road to Democracy” onder voorsitterskap van Essop Pahad, ’n ANC-minister, het ook verskyn wat dit duidelik stel dat die oorspronklike besluit om die gewapende stryd te begin, geneem is deur die dagbestuur van die klein, feitlik eksklusief wit sentrale komitee van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party.

Die omstredenheid het verskerp toe die Mandela-stigting die oorspronklike manuskrip van 629 bladsye van Mandela se weergawe van sy lewe, wat uit die tronk gesmokkel is, uitgereik het. Dit blyk nou dat sommige opspraakwekkende gedeeltes in die tronkmanuskrip nie opgeneem is in die gepubliseerde weergawe van Mandela se outobiografie A Long Walk to Freedom (1994) nie.

Ná al hierdie verwikkelinge bestaan min twyfel dat Mandela in die tydperk 1960-’62 ’n lid van die SAKP se sentrale komitee was. Tydens sy toer deur Afrika in 1962, net voor sy tronkstraf, het hy heelwat leiers van Afrikastate ontmoet. Hy het ontdek die meeste van hulle verwerp kommunisme. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het Mandela homself as ’n nasionalis geprojekteer. Joe Slovo, die SAKP-leier het dit bekla: “Ons het Nelson as ’n kommunis Afrika toe gestuur en hy het as ’n Afrika-nasionalis teruggekeer.” [14]

Vanaf die vroeë 1960’s tot die vroeë 1990’s was sowel die ANC as die SAKP grootliks afhanklik van steun vanaf die Sowjet-unie. In 1965-’66 het die ANC $560 000 en die SAKP $112 000 uit hierdie bron ontvang. [15]

Mandela het op Robbeneiland nooit enige aanduiding van kommunistiese neigings laat blyk nie. ’n Medegevangene, Neville Alexander, wat dikwels met hom oor kwessies in gesprek getree het, was daarvan oortuig dat Mandela nie die sogenaamde Nasionale Demokratiese Revolusie, die deurslaggewende SAKP-doktrine, onderskryf het nie. Dit sit die party se plan uiteen om ’n sosialistiese samelewing onder ANC-bewind deur ’n tweestadiumrevolusie te vestig. Volgens Alexander se siening het die ANC se hoofsaaklik bourgeois leierskap geen ander voorneme gehad as om die belange van die kapitalistiese klas te dien nie. [16]

Mandela se ongeredigeerde tronkmanuskrip is gedurende die middel-1970’s voltooi en uitgesmokkel. In daardie stadium het hy hom van sommige van die SAKP-lede op Robbeneiland gedistansieer. Die verskille – wat gedeeltelik persoonlik was, veral met Govan Mbeki, ’n hardgebakte Stalinis – het veral gehandel oor watter benadering die ANC teenoor die Bantoestans moes volg.

Mandela kom egter nie as ’n liberale demokraat in die tronkmanuskrip oor nie. Hy het dit gestel dat hy in dialektiese materialisme glo en het antikommunisme uitgebeeld as ’n siektetoestand wat opgedoen is deur na sendingskole te gaan en na regeringspropaganda te luister. Hy voer aan dat mag aangewend kan word in die stryd teen die regering selfs al was die swart meerderheid daarteen gekant.

Die staat se veiligheidsagentskappe het sedert die vroeë 1960’s intelligensie ontvang dat die SAKP daarin geslaag het om die ANC te infiltreer en dat Mandela van 1960 tot 1962 ’n lid van sy sentrale komitee was. Die vraag is watter invloed dit op die behandeling gehad het wat gevangenes wat hulle by die ANC of SAKP geskaar het, ontvang het. Mandela self het in sy onverwerkte memoires hierop kommentaar gelewer:

In comparison with the wave of detentions since 1963 that in 1960 was like a picnic. To the best of my knowledge and belief no individuals were then isolated, forced to give information, beaten up, tortured, crippled and killed as has been happening since 1963. Speaking comparatively, the security police still had a number of men who carried out their duties according to the law and who resisted the temptation of abusing their powers. Apart from keeping us in confinement, withholding newspapers so as to prevent us from knowing what was happening outside, the atmosphere was generally free of the brutalities and acute tensions that characterize the subsequent detentions. [17]

Piet Swanepoel, ’n senior veiligheidspolisieman wat Mandela in hierdie konteks wel in ’n gunstige lig gestel het, het onlangs verklaar dat kennis van kommunistiese invloed op die ANC ’n “groter mate van brutaliteit” aan die kant van veiligheidspersoneel ontketen het in hul poging om hierdie invloed te verdryf. [18] Marteling van aangehoudenes en sterftes in aanhouding het algemeen geraak.

Mandela se vrylating onder oorweging

John Vorster (1966-1978) was die tweede eerste minister terwyl Mandela in die tronk was. Net soos die ander NP-leiers het Vorster geglo dat Mandela ’n kommunis was en dat die ANC, asook die SAKP ’n gelastigde van die Sowjet-unie was. Die Vorster-regering het aanvanklik soveel vrye teuels gehad dat min aandag geskenk is aan hervorming of die vrylating van Mandela en sommige van sy kollegas. Die ekonomie het ’n opbloei beleef. Gedurende die 1960’s het dit teen ’n gemiddelde koers van 5,9% per jaar gegroei.

Vanaf die middel van die 1970’s het die gety teen wit bewinde in Suider-Afrika gedraai. Die ekonomie is aan bande gelê deur die skielike styging in die olieprys tesame met ’n insinking in kommoditeitspryse en ’n meer selfgeldende swart arbeidsmag.

Die ineenstorting van die diktatorskap in Portugal was die begin van ’n haastige onttrekking deur Portugal uit sy kolonies in Suider-Afrika. In Mosambiek en Angola het regerings met Sowjet-bande aan bewind gekom. ’n Poging deur Suid-Afrika om in Angola in te gryp, het sleg misluk. Die Sowjet-regering het 30 000 of neer Kubaanse troepe na die land toe gevlieg. Henry Kissinger, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Vorster gewaarsku dat die Ford-administrasie weens teenkanting in die Amerikaanse kongres nie in staat sou wees om verdere Sowjet-inmenging in Suider-Afrika teen te werk nie.

In Junie 1976 het ’n groot opstand in Soweto naby Johannesburg uitgebreek wat vinnig na ander swart woonbuurte reg deur die land versprei het. Die wit gemeenskap se politieke isolasie was totaal ontbloot. Die situasie was so ernstig dat die Vorster-kabinet die kwessie van die vrylating van Nelson Mandela, wat toe al 12 jaar in die tronk was, op sy agenda van 8 Augustus 1976 gehad het. [19] Geen rekord bestaan van die besluit nie.

Wat sou gebeur het as Mandela inderdaad in 1976 vrygelaat was? Neville Alexander vermeld dat hy en Mandela in 1971 oor die gebruikmaking van apartheidskanale, hoe gebrekkig ook al, beraadslaag het. [20] In 1974 het Mandela ’n geheime memorandum, getiteld “Clear the obstacles and confront the enemy” geskryf wat uitgesmokkel is.

In hierdie dokument het Mandela die feit gekonfronteer dat die regering van Transkei, die gewaande tuisland van die meeste van die Xhosas, die keuse uitgeoefen het om in 1976 apartheid-styl onafhanklikheid te aanvaar. Ingevolge ’n wet van 1971 sou Mandela, wat in die Transkei gebore is, sy Suid-Afrikaanse burgerskap verloor.

’n Onverskrokke Mandela het in sy 1974-memorandum geskryf dat die ANC ’n heel nuwe ontwikkeling in die gesig gestaar het: die onafhanklikwording van Transkei, wat sekerlik deur ander Bantoestans gevolg sou word. Mandela het geskryf: “Transkei sal ’n onafhanklike wetgewer, regbank en uitvoerende gesag hê en beheer oor sy buitelandse betrekkinge hê,” en het toe bygevoeg:

For the first time since conquest the people will run their own affairs. Now Africans will be able to be judges, magistrates, attorneys-general, inspectors of education, postmasters, army and police officers, and they will occupy other top positions in the civil service. Would it not be far better to consider independence as an accomplished fact and then call upon the people in these so-called free territories to help in the fight for a democratic South Africa? [21]

Wat sou gebeur het as Mandela hierdie koers gekies het? Erkenning van Transkei se onafhanklikheid, al was dit net ’n taktiese skuif om die ANC se stryd vir vryheid te bevorder, sou groot spanning in ANC-geledere, veral onder die bannelinge, veroorsaak het. Die spanning in die ANC kon dalk te groot geraak het om in toom gehou te word. ’n Grootskaalse skeuring kon wel in die beweging plaasgevind het, wat Suid-Afrika in ’n heel ander koers kon stuur as die een wat tussen 1976 en 1990 ingeslaan is.

PW Botha se voorstelle

Vorster het in 1978 bedank. Hy is opgevolg deur PW Botha, wat die Suid-Afrikaanse weerwag in ’n gedugte mag omskep het. Botha het geglo dat Suid-Afrika ’n sogenaamde “totale aanslag” in die gesig gestaar het. Die doel was om die wit bewind te ondermyn en uiteindelik omver te werp. Hierin sou die ANC, wat Botha ook as ’n Sowjet-gelastigde gesien het, ’n belangrike rol vervul.

Botha het vas geglo Mandela was steeds ’n kommunis. [22] Hy het egter ontvanklik geraak vir die advies van die Nasionale Intelligensiediens dat Mandela besig was om wêreldwyd die belangrikste ikoon van die wêreldwye anti-apartheidstryd te word het en dat dit teenproduktief was om hom in die tronk te hou.

Botha het in 1985 aangebied om Mandela vry te laat mits hy geweld as politieke instrument onvoorwaardelik sou afsweer. Dit was die sesde sodanige aanbod sedert hy opgesluit is. Mandela het, soos tevore, geweier. Hy het nie geglo dat die ANC in staat was om die staat omver te werp nie, maar hy was seker daarvan dat die regering uiteindelik verplig sou wees om te onderhandel vir die eenvoudige rede dat swartes ’n groeiende demokratiese meerderheid gevorm het. Soos wat Toynbee 25 jaar tevore voorspel het, het hy gemeen dat die regering slegs met groot huiwering met onderhandelinge sou begin. Hy het hom voorgeneem om alles moontlik te doen om die regering in dié rigting aan te por.

Een manier waarop dit vir die regering makliker gemaak kon word om oor ’n demokrasie te onderhandel, was om die totale aantal stemgeregtigde swart mense te verminder. Teen die vroeë 1980’s was daar reeds 8 miljoen uit die ongeveer 22 miljoen swart mense wat as burgers van sogenaamde onafhanklike state geag is en wie se stemreg as sodanig ontneem is. Vroeg in 1986 het Mandela aan die joernalis Benjamin Pogrund gesê dat hy bereid was om dit te oorweeg om die onafhanklikheid van die Bantoestans te erken. Dit was, soos Pogrund dit stel, “’n ongewone en beduidende siening wat teenstrydig was met dié van die ANC in ballingskap”. Toe Pogrund gevra het of hy dit aan ’n kabinetslid kon oordra, het Mandela ja gesê. [23]

Mandela het aanvanklik ook inskiklik geblyk te wees oor ’n omstrede kwessie soos minderheidsregte. Net soos die Bantoestan-opsie het die ANC in ballingskap, wat nie sou kopgee oor die kiesstelsel van eerste oor die wenstreep gepaardgaande met die wenner-neem-alles-reël, dit verfoei. Tog het Mandela pas ná sy vrylating gesê dat hy inskiklik was oor al die fundamentele kwessies, insluitend minderheidsregte. [24]

Ernstige oproer

Ernstige oproer het in 1984 uitgebreek en die onrus het eers tot bedaring gekom toe die regering ’n landswye noodtoestand in 1986 afgekondig het. Derduisende is sonder verhoor aangehou. In sy rampspoedige Rubicon-toespraak, wat hy op 16 Augustus 1985 gelewer het, het Botha die onvoorwaardelike vrylating van Nelson Mandela, wat die fokuspunt van die wêreldwye veldtog teen apartheid geword het, verwerp. Hy het dit laat lyk asof Mandela en sy kamerade in die vroeë 1960’s uitsluitlik deur kommunistiese oortuigings gemotiveer was. Geen gewag is gemaak van griewe wat wyd as gegrond erken is nie en hy het geen bewyse gelewer dat Mandela wel ’n kommunis was nie. Hierdie toespraak en die verwerping van die eis om Mandela vry te laat het die regering se geloofwaardigheid as ’n agent van wesenlike hervorming vernietig.

Botha moes aanvaar dat die staat nie langer in staat was om swartes in die instellings, wat eensydig deur die regering geskep is, in te dwing nie. Dit het nodig geword om met die ANC-leierskap te praat wat, volgens opnames wat die regering in die geheim onderneem het, die steun van ten minste 60% van die bevolking geniet het.

Mandela het sedert die vroeë 1960’s geweet dat dit onmoontlik was om die wit bewind deur middel van opstand omver te werp en dat wit mense slegs deur onderhandelinge oorreed sou kon word om die mag oor te gee en om in ’n demokratiese stelsel waarin hul regte gewaarborg was, te leef. Ter voorbereiding van sulke onderhandelinge het hy Afrikaans in die tronk aangeleer en die Afrikanergeskiedenis bestudeer. Aan sy Afrikaner-ondervraers in die tronk het hy gesê dat hy ’n ooreenkoms sien tussen die Afrikaner se stryd om vryheid teen ’n oorweldigende oormag tydens die beginjare van die 20ste eeu en die swart stryd om vryheid.

In 1988 het Botha dr. Niël Barnard, die hoof van die Nasionale Intelligensiediens (NI), bygestaan deur drie ander senior staatsamptenare (Mike Louw, Fanie van der Merwe en Willie Willemse) opdrag te gee om die moontlikheid van ’n onderhandelde skikking met Mandela te bespreek. Altesaam 48 sulke ontmoetings het plaasgevind. Barnard het ná afloop van elke ontmoeting aan Botha verslag gedoen.

Toe Barnard se span die kwessie geopper het van Mandela se beweerde simpatie jeens kommunisme en sy weiering om met die Kommunistiese Party te breek, het Mandela geantwoord dat hoewel sekere aspekte van kommunisme by hom byval gevind het in sy jeug, hy nie ’n kommunis is nie. Hy het nogtans geweier om sy bande met die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party, die ANC se vernaamste bondgenoot, te verbreek. “If I desert them now, who have been in the struggle with me all these years, what sort of ally would I be to you or to the government?” Hy het sy eie vraag beantwoord: “[People] would say that Mandela is a man who turns the way the wind blows; he is not to be trusted.” [25] Dit was ’n uitgeslape antwoord wat nie maklik weerlê kon word nie. [26]

Die amptenare het ook ander kwessies verken. Was die ANC opreg oor ’n vreedsame skikking? Mandela het dit duidelik gestel dat meerderheidsregering ononderhandelbaar was, maar het bygevoeg dat die nuwe stelsel gebalanseerd moes wees en moes verseker dat wit oorheersing nie deur swart oorheersing vervang word nie. “Minorities have a legitimate interest in security,” het hy gesê. [27]

Mandela het bly aandring op ’n ontmoeting met die president en Botha het uiteindelik daartoe ingestem. Die vergadering het op 5 Junie 1989 in die president se kantoor plaasgevind. Voor die ontmoeting het Mandela aan Botha geskryf dat een van die grootse knelpunte in toekomstige onderhandelinge “die [ANC se] eis vir meerderheidsregering in ’n eenheidstaat en die kommer van wit Suid-Afrika oor hierdie eis sou wees, asook die aandrang op strukturele waarborge dat meerderheidsregering nie sal neerkom op oorheersing van die wit minderheid deur swart mense nie … Die beslissendste taak waarvoor die regering en die ANC te staan gaan kom, was, volgens Mandela, om die twee posisies met mekaar te versoen. Sodanige versoening kan net bereik word indien albei partye bereid is om kompromieë aan te gaan.” [28]

Botha het ’n paar maande tevore ’n beroerte gehad. Volgens alle aanduidings was hy nie meer dieselfde mens as tevore nie. Deur Mandela te ontmoet wou Botha duidelik aan sy kabinet toon dat hy steeds in beheer was.

In sy outobiografie skryf Mandela oor die ontmoeting met Botha: “He completely disarmed me. He was unfailingly courteous, deferential and friendly.” Toe ek vroeg in 1992 ’n onderhoud met Mandela gevoer het, het hy my meegedeel dat ’n vreemdeling nie sou kon sê wie die gevangene en wie die president was nie. “Ons het as gelykes ontmoet,” het hy gesê. [29]

Mandela het aan my genoem dat dit een van die grootste teleurstellings in sy lewe was om met De Klerk eerder as met Botha te onderhandel. Mandela het ná 1994 steeds met groot lof van Botha bly praat, terwyl hy De Klerk dikwels gekritiseer het, soms onregverdig. Die belangrikste rede hiervoor was dat Mandela en De Klerk mededingers vir kiesersteun en die internasionale kalklig was.

Nog ’n rede was die verskil in ouderdom. Mandela en Botha was ewe oud, terwyl De Klerk byna twintig jaar jonger was. Voordat hy die leier geword het, was Botha minister van verdediging en het hy militêre taaiheid en dissipline verpersoonlik. Daarteenoor kon De Klerk maklik met ’n regsprofessor, wat hy amper wel was, of ’n hedendaagse burokraat verwar word.

Ons sal nooit weet wat alles tydens die ontmoeting tussen Botha en Mandela gesê is nie, want Barnard het opdrag gegee dat die opnames van die ontmoeting vernietig word. Botha was woedend toe hy dit uitgevind het, maar dit was duidelik verstandig om dit te doen aangesien Mandela nie ingelig was dat die gesprek opgeneem word nie. Barnard se weergawe van die ontmoeting, wat op sy aantekeninge gebaseer is, dui daarop dat die ontmoeting in ’n gemoedelike gees plaasgevind het en dat geen wesenlike kwessie aangeroer is nie behalwe die vrylating van Mandela se medegevangenes. [30]

Botha het nie sy oorspronklike sienings oor die planne vir gewapende opstand wat Mandela in 1960 gesmee het, oorboord gegooi nie. In ’n onderhoud in 1995 het hy gesê Mandela “is deur die kommuniste en internasionale magte hierin aangepor”. Dit blyk of hy wou suggereer dat Mandela deur hierdie magte gemanipuleer was. Hy het die onderhoudvoerder meegedeel dat hy Mandela by twee geleenthede – die eerste keer toe Mandela in die tronk was en die tweede keer toe Mandela hom by sy huis in Wildernis besoek het – teen die gevare van internasionale Marxisme en kommunisme gewaarsku het. [31]

De Klerk se magsoorgawe

In Augustus 1989 het die Nasionale Party die algemene verkiesing gewen en De Klerk is tot president verkies. Twee maande later, op 9 November 1989, het die Berlynse Muur geval. De Klerk het later geskryf dat hy dit dadelik as ’n gulde geleentheid beskou het om dit wat hy as ’n gebalanseerde skikking beskou het, met die ANC te onderhandel. Hy het gereken dat die ANC sonder die aansienlike Sowjet-steun wat hy sedert die vroeë 1960’s geniet het, vir ’n geruime tyd van balans af sou wees en daartoe gedwing sou wees om sy eis vir meerderheidsregering aansienlik te wysig.

Toe hy Mandela in Desember 1989 vir die eerste keer ontmoet het, het De Klerk opgemerk dat die insluiting van groepsregte in ’n nuwe grondwet die besorgdheid wat minderhede oor meerderheidsregering ervaar, sou paai. Dit was egter nou ’n heel nuwe situasie en Mandela het nou baie sterker stelling ingeneem. Hy het De Klerk meegedeel dat die ANC nie vir 75 jaar teen apartheid geveg het om ’n verbloemde vorm daarvan te aanvaar nie. [32] Mandela het geweet dat magsdeling sowel as minderheids- of groepsregte vir die ANC in ballingskap taboe was en dat hulle nie maklik sou toegee oor groepsregte nie.

Toe De Klerk met onderhandelinge begin het, was hy nie van plan om sy aandrang op groepsregte te laat vaar nie. Robin Renwick, die Britse ambassadeur in Suid-Afrika, wat dikwels ontmoetings met De Klerk gehad het, beskryf sy standpunt van die vroeë 1990 tot die middel van 1992 soos volg: “He talked about some form of power-sharing, and was, he said, in a hurry in his search for a solution. The ship he had launched would never be turned around, but he insisted that he was not about to commit suicide.” De Klerk het ook die idee verwerp dat individuele regte wat in ’n grondwet verskans is voldoende beskerming bied. [33]

In September 1991 het die NP op ’n federale kongres bepaalde voorstelle aanvaar wat hy aan die veelpartykonferensie wou voorlê. Die parlement moes uit twee huise bestaan. Die eerste huis moes deur universele stemreg volgens proporsionele verteenwoordiging verkies word. Nege streke moes in die tweede huis verteenwoordig word. Hulle moes elk ’n gelyke aantal setels hê wat deur streeksverkiesings gevul moes word. Elke party wat ’n bepaalde minimum aantal stemme in ’n streeksverkiesing gekry het, moes ’n gelyke aantal setels kry. Die tweede huis moes op ’n ongespesifiseerde geweegde meerderheid stem oor sake wat die streke en minderhede raak.

Vir die uitvoerende vlak het die NP ’n presidensie voorgestel wat uit die leiers van die drie grootste partye en ’n roterende voorsitterskap moes bestaan. Besluite, insluitende die aanstelling van kabinetslede, moes op konsensusgrondslag geneem word.

’n Paar maande nadat die NP ’n referendum gehou het oor die opstel van ’n grondwet, het Colin Eglin later gesê dit was ‘baie stout’ van De Klerk om te beweer dat hy by sy beloftes gehou het. In die referendum, het hy gesê, het De Klerk na die party se September 1991-voorstelle verwys en ‘hulle aangebied terwyl hy sê: Ek vra nie vir ’n blanko tjek nie, ek vra hiervoor’.

Oproer het intussen weer opgevlam en die land was gou in ’n akute staat van onstabiliteit wat ’n hoër dodetal as in die 1980’s tot gevolg gehad het. In die dubbelrol wat hy aanvaar het deur die leiding te neem wat die oorgang betref en deur die Nasionale Party in die onderhandelinge te lei, het De Klerk homself in ’n baie moeilike posisie geplaas.

Gedurende die 1980’s was hy gegrief oor die manier waarop hy en sommige ander ministers op die kantlyn geskuif was toe besprekings oor die staat se reaksie op die oproer gevoer is. Hy het aan Barnard, hoof van die NI gesê: “Ek is van plan om burgerlike regering in sy volle glorie te herstel.” Hy het opgetree asof dit dadelik gedoen kon word.

Dit lyk nie asof De Klerk hom verlaat het op die taksering van die situasie en advies van die hoofde van die veiligheidsdienste en intelligensie-agentskappe nie. Barnard glo De Klerk was van mening dat hy genoeg politieke vernuf gehad het om alles self te hanteer. Dit was ’n groot oordeelsfout. In 2007 het genl. Chris Thirion, die voormalige adjunkhoof van Militêre Intelligensie, ’n ope brief aan De Klerk gerig. “As ek aan De Klerk dink, dink ek aan ’n president wat nie sy veiligheidsmagte vertrou het nie.” [34]

Mandela se volgehoue bewerings dat regeringsmagte verantwoordelik was vir die meeste van die geweld word nie ondersteun deur Anthea Jeffery se omvattende studie en die hofrekords waarop sy die studie gebaseer het nie. [35] Daar was ’n sekere betrokkenheid van elemente van die veiligheidsmagte, maar die ANC saam met Inkatha, hoofsaaklik ’n Zoeloe-organisasie, was verantwoordelik vir die meer as 20 000 sterftes wat in die geweld tussen 1984 en 1994 voorgekom het.

In Maart 1992 het die De Klerk-regering ’n referendum onder wit kiesers oor die voortsetting van onderhandelinge gehou. Die regering het kiesers aangespoor om ja te stem as hulle die ANC se eis vir meerderheidsregering verwerp. Tog is dit presies wat dié regering ses maande later aanvaar het.

In Mei 1992 het die ANC uit die onderhandelinge gestap en met ’n program van uitgebreide massa-aksie begin. Toe De Klerk en Mandela weer in September 1992 ontmoet het, het Mandela feitlik al die ANC se doelwitte bereik. Daar is ooreengekom dat die finale grondwet geskryf sou word deur ’n liggaam wat op grond van universele stemreg verkies is, wat gewis deur die ANC gedomineer sou word.

Afgesien van die vereiste om ’n paar basiese menseregte te erken was daar ’n paar ander geringer kontroles in dít wat basies ’n meerderheidsregeringstelsel behels het. Een daarvan was die nodigheid om by sekere vaag bewoorde beginsels te hou wat geformuleer is deur ’n onverkose liggaam wat die tussentydse grondwet sou opstel. Die ander was die plaasvervanging van parlementêre soewereiniteit deur konstitusionele soewereiniteit.

Selfs die konstitusionele beskerming was beperk omdat die parlementêre meerderheid die finale sê sou hê oor die aanstelling van regters wat op die geregtelike dienskomitee dien en wat aanbevelings na die uitvoerende gesag sou maak. Toe dit die laaste keer getel is, was die lede wat hulle by die ANC skaar dubbel soveel as dié wat hulle nie by die ANC skaar nie.

De Klerk het gepoog om Mandela te laat instem tot ’n stelsel van gedeelde besluitneming in ’n regering van nasionale eenheid wat vir ’n minimum van vyf jaar ingestel sou word, maar hy het dit ferm van die hand gewys. Hy het gesê dat verteenwoordigers van minderheidspartye in die kabinet gedurende die eerste vyf jaar geraadpleeg sou word maar dat die meerderheid die finale sê sou hê.

Daar was ook die kwessie van NP-beloftes wat aan wit kiesers gemaak is. In die 1989-verkiesingsveldtog het die NP-leierskap belowe dat hulle vir enige ooreenkoms wat radikaal van die NP se 1989-verkiesingsplatform afwyk goedkeuring van die kiesers sou inwin. Hulle het belowe om ’n inklusiewe demokrasie, waarin “groepe” as die basiese komponente van die stelsel erken sou word, in te voer. Daar sou magsdeling onder die groepe wees sonder dat een groep die ander domineer en elke groep sou selfbeskikking hê wat sy eie sake betref.

De Klerk het ook ’n referendum belowe. In Maart 1990 het hy belowe: As die onderhandelinge afgehandel is, sal die grondwetlike voorstelle op ’n grondwetlike wyse onder die kiesers getoets word. Net met hul steun sal ’n nuwe grondwetlike bedeling ingevoer word. [36] In die referendum wat in Maart 1992 gehou is, is kiesers bloot gevra om die onderhandelingsproses te onderskryf, maar in die veldtog het NP-sprekers dit benadruk dat ’n ja-stem die verwerping van meerderheidsregering verteenwoordig.

Die kiesers het basies nie geweet vir watter soort grondwet hulle stem nie. Meningspeilings ses maande ná die referendum het dit duidelik gemaak dat, soos Lawrence Schlemmer dit gestel het, “wit mense basies ja gestem het omdat hulle die gevolge van ’n nee-stem vir die ekonomie gevrees het, maar hul verbintenis tot die onderhandelinge was weinig meer as dit”. Hy het bygevoeg: “Hulle het basies gestem om [De Klerk] ’n mandaat te gee omdat hulle hom in ’n baie hoë mate vertrou het om hulle nie uit te verkoop nie.’[2] In skrille kontras hiermee het ’n referendum in Noord-Ierland in 1998 plaasgevind slegs nadat die grondwet onderhandel is.

’n Regse uitdaging

Die veiligheidsmagte was oorbluf deur De Klerk se skuiwe. Getrou aan die tradisie van militêre ondergeskiktheid aan die gesag van ’n verkose regering het die gewapende magte nie weerstand gebied teen die politieke leierskap nie. ’n Voormalige hoof van die weermag, genl. Constand Viljoen, was egter ’n groot onbekende faktor. Hy was oortuig daarvan dat die ANC steeds ’n revolusionêre agenda nagestreef het en dat De Klerk voor hul eise geswig het.

Viljoen het beplan om die verkiesing te ontwrig, De Klerk as leier te verwyder en om van voor af te begin onderhandel. Sommige mense het gemeen hy sou 50 000 man uit die burgermag en ook sommige weermageenhede op die been kon bring. [37] Tydens ’n voorlegging het genl. George Meiring, die hoof van die weermag, die regering en die ANC ingelig oor die ernstige gevolge as Viljoen weerstand teen die verkiesing sou bied. Meiring het Viljoen, vir wie hy “die hoogste agting” gehad het, verskeie kere ontmoet om hom te probeer oorreed om sy planne te laat vaar. By een van hierdie ontmoetings het Viljoen gesê: “Ek en jy kan hierdie land in ’n middag vat,” waarop Meiring geantwoord het: “Ja, dit is so, maar wat doen ons die oggend ná die magsoorname? Die demografiese balans tussen wit en swart, interne en buitelandse druk en al die ander halsstarrige probleme sal steeds daar wees.” [38]

Hoewel De Klerk en Viljoen vir die grootste deel van hul onderskeie loopbane ’n konserwatiewe politieke uitkyk gedeel het, het hulle mekaar in die onderhandelinge sterk geopponeer. De Klerk het Viljoen se eis verwerp om ’n volkstaat vir die Afrikaners binne die grense van die staat uit te kerf, terwyl Viljoen geglo het De Klerk het uitverkoop.

Dit was Mandela wat die noodsaak ingesien het om Viljoen te betrek en om ’n simboliese toegewing aan hom en sy regse volgelinge te maak. Dit sou die vorm aanneem van ’n artikel in die grondwet wat selfbeskikking aan ’n kulturele groep verleen. Viljoen het ’n politieke party, die Vryheidsfront, gestig wat by die halfmiljoen stemme in die eerste verkiesing gewen het. Toe die parlement vir die eerste keer in ’n vrye Suid-Afrika byeengekom het, het Mandela uit die prosessie getree om Viljoen te gaan groet en vir hom te sê hoe bly hy is dat hulle mekaar kon vind. Viljoen het onlangs aan sy biograaf gesê dat hy spyt is dat Mandela nie vir meer as een termyn as president gedien het nie. As hy sou, sou die Afrikaners vandag beter daaraan toe gewees het. [39]

Die SAKP en bevryding

Dit sou onwys wees om Botha se waarskuwing aan Mandela oor die kommunistiese invloed in die ANC-alliansie te beskryf as dié van ’n anachronistiese strydros van die Koue Oorlog. ’n Skerpsinnige waarnemer soos Barnard het vroeër vanjaar gesê: “Mandela het die invloed van die SAKP totaal onderskat,” en soos hy opgemerk het, “hulle was geslepe genoeg om te wag tot sy verdwyning voordat hulle hul ystergreep verstewig het”. [40]  Die SAKP veg nog steeds geen verkiesing onder sy eie vaandel nie, maar geniet tans die soort invloed op die kabinet waarvan hulle vroeër maar net kon droom, maar die gehalte van leierskap is by ver minderwaardig teenoor dit wat dit onder Joe Slovo was. Hulle het finansieel afhanklik geraak van Cosatu. R.W. Johnson bestempel die SAKP-leierskap as “’n roofsugtige elite wat die heerskappy voer en Suid-Afrika plunder”. [41]

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, die oudste en mees gesiene liberale organisasie in Suid-Afrika Africa, het sy bevinding bekendgemaak dat 40% van die kabinet uit lede van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party bestaan. Nie een kabinetslid het die verslag bevraagteken nie. Die uitvoerende direkteur van die instituut het onlangs ’n rubriek getiteld “So word SA tree vir tree na sosialisme gelei” gepubliseer. [42]

Die steun vir sosialisme in ANC-geledere is nie vreemd nie. Swart Suid-Afrikaners was die laaste beduidende gemeenskap in die wêreld om hul vryheid te verwerf, die Sowjet-unie was vir ’n geruime tyd die enigste ANC-borg, en die kommuniste was die enigste ANC-bondgenote in Suid-Afrika toe die stryd teen wit oorheersing ’n nuwe fase in die 1950’s betree het. In hierdie stadium is die regering in ’n ernstige verknorsing. ’n Invloedryke ekonoom som die situasie goed op: “The government is in a cleft between trying to pursue market-friendly policies on the one hand and appeasing socialist and left wing elements on the other, who see the private sector as the enemy.”[43]

Mag en bewindsverandering

Die geskiedenis is in baie opsigte ’n weergawe en interpretasie van mag – hoe dit gewen word en hoe en hoekom dit verloor word. Tog, ’n goeie begrip van wat die basiese eienskappe van mag is, bly ’n mens ontwyk. In die laaste hoofstuk van sy roman War and Peace maak Leo Tolstoy die opmerking: “The new history is like a deaf man replying to questions which nobody puts to him.” Die “primêre vraag”, vervolg Tolstoy, is: “What is the power that moves the destinies of peoples?” Hy twyfel of “this power, which different historians understand in different ways”, inderdaad “so completely familiar to everyone” is.

Geskiedenis behoort ’n mens krities te laat staan teenoor die oortuiging dat meerdere politieke of militêre mag altyd op deurslaggewende wyse die uiteinde van konflikte bepaal. In ’n artikel wat in die uitgawe van 21 November 2013 van die New York Review of Books verskyn het, verwys die bekende fisikus Freeman Dyson na ’n studie wat in die vroeë 1970’s onderneem is oor hoe om die oorlog in Viëtnam waarin die Verenigde State gewikkel was, te beëindig. Die studie is in opdrag van die RAND Corporation gedoen wie se kundiges hulself beskou het as die breinsentrum van die militêre orde in die VSA.

Twee groepe, die een bestaande uit twee ekonome en die ander uit verskeie historici, wat afsonderlik van mekaar gewerk het, het tot totaal uiteenlopende gevolgtrekkings gekom. Die ekonome het besluit dat wat saak maak in ’n stryd om ’n opstand te onderdruk nie ’n simpatieke begrip is van hul stryd nie, “maar eerder ’n beter begrip is van die koste en voordele wat dit vir die groep of indiwidu inhou, en hoe dit bereken word”. Om te parafraseer: As die koste van ’n opstand vir die opstandelinge te duur raak, sal hulle swig en ’n onderdrukkende regime toelaat om te seëvier.[44]

’n Groep historici wat aan die RAND Corporation se projek gewerk het, het met ’n totaal ander antwoord vorendag gekom. Hulle het talle gevalle van insurgensie en asimmetriese oorloë, veral die Franse koloniale oorloë in Algerië en Viëtnam, en die Britse koloniale oorloë in Afrika en Maleisië ondersoek. In ’n studie wat ses volumes beslaan kom hulle tot die gevolgtrekking dat die meeste van die oorloë vyf tot sewe jaar geduur het en beëindig is toe die koloniale owerhede die wilskrag om te bly veg, verloor het. Dit is ’n geweldige belangrike insig maar is nie tot die wêreld se beskikking nie omdat die weermag tot vandag toe nog die historici se verslag stilhou.

Teen die einde van die 1980’s was die Suid-Afrikaanse regering nie desperaat om te begin onderhandel nie. Dit was eerder die val van die Berlynse Muur wat as aansporing vir De Klerk gedien het om ’n skikking met die ANC te bereik terwyl die hoofbron van sy finansiële steun, die Sowjet-unie, besig was om die aftog te blaas. Die veiligheidsmagte was lojaal en bereid om die staat te verdedig. Die sake-elite was besorg maar die oproep uit daardie oord vir ’n bewindsverandering was flou.

Die ekonomie was aan die stagneer weens sanksies, maar daar was nie ’n werklike fiskale krisis nie. Derek Keys, die besturende direkteur van General Mining, wat later die laaste NP-minister van finansies was, het in 2010 gesê: “Vanuit ’n finansiële oogpunt was dit nie in 1990 vir Suid-Afrika nodig om te onderhandel nie, maar die toestand was besig om te verswak … [Die] situasie was ernstig, maar dit was nog nie asof ons oor die afgrond gestort het nie. Die ekonomie kon voortgaan.” [45] Vyftien jaar tevore het Barend du Plessis, wat deur Keys vervang is, tot dieselfde slotsom gekom.

Chris Heunis, wat tot 1989 Botha se minister van konstitusionele sake was, het die volgende sober evaluering gebied: Sanksies het dit nodig gemaak dat die regering ’n skikking beding, maar “daar was geen nodigheid om net oor die oorhandiging van mag te onderhandel nie”. [46] Niël Barnard, die enigste persoon wat gedurende die laat tagtigerjare Botha sowel as Mandela gereeld ontmoet het, is van mening dat Botha nie meerderheidsregering sou aanvaar nie, maar aan Mandela sou gesê het: “Kom ons regeer vir tien jaar saam en kyk hoe dit gaan.” Barnard meen die kanse was goed dat Mandela dit sou aanvaar het. [47]

Nadat De Klerk sy geloof in apartheid in die laat 1980’s laat vaar het, het hy moraliteit ’n sleutelvereiste vir ’n onderhandelde skikking gemaak. In ’n onderhoud wat ek twee maande ná sy monumentale toespraak op 2 Februarie met hom gevoer het, het hy gesê dit sou immoreel wees om aan mag te bly vasklou. [48] In ’n televisieprogram wat in 2002 uitgesaai is, het hy met Van Zyl Slabbert, voormalige leier van die liberale opposisie, saamgestem dat hy vir ten minste ’n verdere tien jaar aan bewind kon bly. Die grootste probleem wat hy daarmee gehad het was dat “dit van alle moraliteit gestroop sou wees”. [49]

PW Botha het nie hierdie siening van moraliteit gehuldig nie en dit is uiters onwaarskynlik dat ’n duidelike meerderheid van die wit kieserskorps ’n ja-stem aan De Klerk en sy party in die referendum van Maart 1992 sou gegee het as hulle geweet het dat die onderhandelinge uiteindelik op meerderheidsregering sou uitloop.

Waarom het die Afrikaner-gemeenskap nietemin saamgegaan met die ooreenkoms wat die ANC en die regering in September 1992 bereik het? Een antwoord sou wees dat die band tussen die regering en sy tradisionele kieserskorps geskeur het. Daar was niks wat enige wit groep kiesers kon doen om die proses te stop nie.

Maar daar was ook ’n dieperliggende rede.

In sy doktorale proefskrif wat in 1999 voltooi is het die politieke ontleder en meningspeiler, Lawrence Schlemmer, meningsopnames van die voorafgaande 30 jaar in oënskou geneem. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaners, veel meer as wit Engelssprekendes, begin het om hul godsdienstige identifikasie eerder as hul klas- of etniese identifikasie hoër te ag. Dit het belangriker geraak om ’n eervolle morele lewe te lei as om die Afrikaner-gemeenskap te dien. [50]

Die morele sanksies van die Westerse wêreld, veel meer as die ekonomiese sanksies, het die wil om aan mag te bly vasklou van talle lede in die wit gemeenskap gedreineer. Soos Toynbee aangedui het, was hulle nou bereid om, hoe teensinnig ook al, die status van ’n minderheid te aanvaar al was dit onder die gesag van ’n meerderheid wat hulle eens as kultureel minderwaardig beskou het.

Slotsom

Mandela het vir meer as 50 jaar, van sy toesprake vanuit die beskuldigdebank tydens die hoogverraadverhoor (1956-1961) en sy briewe aan Hendrik Verwoerd (1961) tot sy presidentskap (1994-1999) ’n groot skadu oor wit politiek gewerp. Mandela was, tot ’n groot mate in ooreenstemming met wat Arnold Toynbee in 1959 voorspel het, daarvan oortuig dat groeiende swart getalle, wat tussen 1946 en 1977 verdubbel het, en weer tussen 1970 en 1996 verdubbel het, wit oorheersing noodlottig sou ondermyn. Tog het hy ook geweet dat wit vrese vir swart mag groot was.

Om die dooiepunt op te los het Mandela gedurende die middel-70’s kompromisvoorstelle gemaak wat ANC-eenheid onder geweldige druk sou bring. Met die voordeel wat terugskouing bied is dit duidelik dat Afrikaner-leiers, deels omdat hulle geglo het dat hy steeds ’n kommunis was, dwaas was om hierdie geleenthede te verspeel. Tydens die veelpartyonderhandelinge (1991-1993) het Mandela ’n kompromis aangegaan deur die ANC se eis vir nasionalisasie te laat vaar, maar hy het onwrikbaar bly staan by meerderheidsregering.

Die NP onder De Klerk het ’n sterk begin gemaak in die onderhandelinge, maar het in September 1992 die meeste van sy politieke eise laat vaar in die hoop om ’n stabiele koalisie met die ANC te bewerkstellig. Wit mense het aanvanklik ook die vertroue gehad dat die grondwet hul belange sou beskerm. Sommige waarnemers voer aan dat die onderhandelde ooreenkoms daarop neerkom dat swart mense die politieke mag gewen en wit mense hul eiendom behou het, maar soos wat onlangse verwikkelinge aantoon, gaan die behoud van eiendom in die afwesigheid van politieke mag nie ’n maklike taak wees nie. Mandela was slegs vir een ampstermyn president. Dit is moontlik dat hy in ’n tweede termyn sou kon help om ’n liberale demokrasie te konsolideer deur die groeiende aanslag op eiendomsreg, waarsonder ’n lewendige demokrasie nie moontlik is nie, te verwerp. Die koms van Mandela was te laat en sy vertrek te gou.

Voetnote:

[1] Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, From Apartheid to Nation-building (Cape Town: Oxford University Press, 1989), p.156.

[2] Arnold Toynbee, “History’s Warning to Africa”, Optima, 9, 2, 1959, pp. 56-59.

[3] Toynbee, “History’s Warning to Africa”, pp. 55-56.

[4] John Hatch, The Dilemma of South Africa (London: Dennis Dobson, 1953), p. 93.

[5] J. Robertson, Liberalism in South Africa, 1948-1963 (Oxford: Oxford University Press, 1971), p. x.

[6] Nelson Mandela, Long Walk to Freedom: The Autobiography of Nelson Mandela (MacDonald/Purnell, 1994), p.105.

[7] Tom Lodge, Mandela: A Critical Life (Oxford: Oxford University Press, 2006), pp. 68-70.

[8] www.nelsonmandela.org., Brief van Nelson Mandela aan Hendrik Verwoerd, 20 April 1961.

[9] www.nelsonmandela.org., Nelson Mandela aan Hendrik Verwoerd, 26 Junie 1961.

[10] Lodge, Mandela, pp.104-05.

[11] Mandela, Long Walk to Freedom, p. 260.

[12] Ellis, External Mission, pp.16-17; Rian Malan, “The Real Story of Nelson Mandela and the Communists”, The Spectator blogs 10 Desember 2013.

[13] Aangehaal deur Filatova en Davidson, The Hidden Thread, p.299.

[14] Ellis, External Mission, p.33.

[15] R.W. Johnson, The First Man, The Last Nation (Johannesburg: Jonathan Ball, 2004), p. 109.

[16] Neville Alexander, (Pietermaritzburg: University of Natal Press, pp.46-49. An Ordinary Country

[17] www.nelsonmandela.org, manuskrip van Nelson Mandela se outobiografie, p.302

[18] Onderhoud met Piet Swanepoel, gevoer deur die outeur op 29 January 2014,

[19] E-posboodskap vanaf Jamie Miller, 7 Februarie 2015.

[20] Alexander, An Ordinary Country, p. 47.

[21] www.politicsweb.co.za  “Nelson Mandela and the Bantustans”, 14 May 2012 re-publication of Nelson Mandela, “Clear the obstacles and confront the enemy”, ca 1974.

[22] E-posboodskap vanaf Niël Barnard, 26 Februarie 2015.

[23] Brief vanaf Benjamin Pogrund aan die redakteur, Mail & Guardian, 13 Februarie 2015.

[24] Weekly Mail, 16 Februarie 1990.

[25] Onderhoud met Mike Louw, gevoer deur Patti Waldmeir, 29 Mei 1995, manuskripversameling, Universiteit van Stellenbosch.

[26] Vir ’n weergawe van hierdie samesprekings, kyk Niël Barnard, Geheime revolusie: Memoires van ’n spioenbaas (Cape Town: Tafelberg, 2015), pp.176-84.

[27] Niël Barnard, “NIS wou sonder middelman na ANC gaan”, Die Burger, 18 Februarie 1992.

[28] Hassen Ebrahim, The Soul of a Nation: Constitution-making in South Africa (Cape Town: Oxford University Press. 1998), p.447.

[29] Onderhoud met Nelson Mandela gevoer deur outeur, 1 Maart, 1992.

[30] Barnard, Geheime revolusie, pp. 215 -20.

[31] Nelson Mandela in ’n onderhoud met Patti Waldmeir, 1 Maart 1995

[32] Patti Waldmeir, Anatomy of a Miracle: The End of Apartheid and the Birth of a New South Africa (New York: Norton and Co., 1997), p. 148.

[33] Robin Renwick, Mission to South Africa: Diary of Revolution (Johannesburg: Jonathan Ball, 2015), p.127.

[34] Hermann Giliomee, The Last Afrikaner Leaders: A Supreme Test of Power (Charlottesville: University of Virginia Press, 2012), p. 368.

[35] Anthea Jeffery, People’s War: New Light on the Struggle for South Africa (Johannesburg: Jonathan Ball, 2009).

[36] Die Burger, 31 Maart 1990.

[37] Johann van Rooyen, Hard Right: The New White Power in South Africa (London: I.B. Tauris 1994) David Welsh, ‘Right wing terrorism in South Africa’, Terrorism and Political violence, 7,1 (1995), pp. 239-64.

[38] Onderhoud met George Meiring, gevoer deur outeur 11 November 2002.

[39] Dennis Cruywagen, Brothers in War and Peace: Constand and Braam Viljoen and the Birth of a New South Africa ((Cape Town: Zebra Press, 2014), pp.224-25.

[40] E-posboodskap vanaf Niël Barnard aan outeur, 26 Februarie 2015.

[41] R.W. Johnson, How Long Will South Africa Survive? The Looming Crisis (Johannesburg: Jonathan Ball, 2015) pp. 72-73.

[42] Rapport, 29 Maart 2015.

[43] Azar Jammine aangehaal in “Business Times”, Sunday Times, 10 Mei 2015.

[44] Malcolm Gladwell, David and Goliath: Underdogs, Misfits and the Art of Battling Giants (London: Allen Lane, 2013), pp.197-213.

[45]  Onderhoud met Derek Keys, gevoer deur outeur & Oktober 2010.

[46] Onderhoud met Chris Heunis, gevoer deur outeur 15 Desember 2002

[47]  Onderhoud met Niël Barnard, gevoer deur outeur 25 Februarie 2015

[48] Onderhoud met F.W. de Klerk, gevoer deur outeur

[49] Hermann Giliomee, The Afrikaners: Biography of a People (Charlottesville: Virginia University Press, 2003), p.635.

[50]  Lawrence Schlemmer, Factors in the persistence or decline of ethnic group mobilisation: A conceptual Review and Case Study of Cultural Group Responses among Afrikaners in Post-Apartheid South Africa”. Doctoral dissertation, University of Cape Town, 1999.

[1] O’Malley Archives, Onderhoud met Colin Eglin, 3 Augustus, 1992.

[2] O’Malley Archives, Onderhoud met Lawrence Schlemmer, 2 Oktober 1992.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Hermann Giliomee

Meer oor die skrywer: Hermann Giliomee

Hermann Giliomee was 'n professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Kaapstad. Hy skryf gereeld oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en kontemporêre politiek. Hy woon tans in Stellenbosch.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Ant ·

Dit is gaaf om die histiriese uitleg te lees, en mens leer nogal wat die liberale siening is. Ek is bevrees nietemin dat dit nie veel doen vir die huidige en toekomstige besluite vir ons minderheid nie, anders as om weer afgode te maak. Wat wel vir my uitstaan in hierdie studie, is dat aand en oggend praatjies gereeld verskil het, en die “leiers” aan beide kante nie net hul besluite verander het nie maar beperkte insig en beginsels gehad het, veral met die toename in liberale druk. Jy weet mos die “wat wil die ander he ek moet doen” druk, eerder as beginsels en wysheid. Na my mening is die afrikaner so vasgevang in hierdie politiese korrektheid dat ons nie meer weet wat ons wil he nie. As die ANC regering ons more vra wat ons wil he vir ons mense, is ek seker ons gaan nie eers hieroor kan saamstem nie. Toenemend is ons Afrikaner aanslag een van “elkeen vir homself” ek sien hierdie stand van sake nie verander voor daar nie ‘n groter, meer betekenisvolle en dieper doel is waaroor ons saam stem nie. Die vraag is eenvoudig; is ons nog ‘n volk/nasie wat uniek gaan bly, of gaan ons afwater tot niks oorbly, terwyl ons polities korrek bly? Dis of die een of die ander.

Johan 2 ·

Dankie Ant. Baie liberale stuk, hul vergeet dat ons nog n BRITSE kolonie was toe onafhanklike ontwikkeling begin is “aparheid” is n britse stelsel nie Afrikaans nie. Hul maak of ons net nog Europeurs is maar ons is werklik net nog n Afrika minderheid wat der die Britte gekoloniseer is. Wie het swartes geskuif om te kom werk op die myne? Daar was altyd n wedersydse respek vir mekaar tussen Boer en Hul buure…Engelse inmenging het dit nog altyd negatief beinvloed en doen dit vandag nog.

Ampie ·

Ja Prof, as is eintlik verbrande hout. Die Afrikaner leiers van die era was vasgevang in die Koue Oorlog: dieselfde “Weste” wat SA nie in kommunistiese hande wou laat val nie. het die meeste druk op die Afrikaner leiers uitgevoer om te hervorm. Eers het PW Botha hervorm, met katastrofiese gevolge, en daarna het FW de Klerk eenvoudig die mag opgegee. Hier kan ook ‘n klomp asse bygevoeg word. Feit van saak is dat FW heel moontlik nie die insig gehad het dat mag in Afrika jou heerskappy bevestig nie. Hy was ‘n tweede generasie NP leier wat nie die ontmagtigde pyn van die Afrikaners voor die 1948 verkiesing beleef of verstaan het nie. PW Botha het dit verstaan. Vandag is dit water onder die brug. Die kommuniste, wat in net nog ‘n teenstelling wat SA kenmerk verknog is aan status en weelde, is nou so sterk gevestig dat geen sogenaamde “demokratiese” verkiesing ooit hulle van die stoele sal lig nie. Daarvoor is mag te belangrik. Mag word natuurlik hier eerstens aan selfgewin en tweedens aan dominasie oor die blanke minderheid gekoppel. Soos die res van Afrika sal die ANC regeer totdat hulle met geweld uitgeforseer word. Dan vat ‘n nuwe heersersklas met sy eie eiegewin doelwitte oor.

Braam ·

Met die waters wat verby is sal jou. meule nooit mee maal nie-was een van oorlede Pa se geliefde aanhalings.

Daar kom ook interessante feite vorendag. Ek glo die keuse in die referendum was geld en rugby op die keper beskou.

Nou heers geld aan beide kante.(Magshebbers en Afrikaans sprekendes-ek kon nog nie uitkom by wie nou eintlik Afrikaners is)

‘n Feit tussen ons Afrikaanssprekendes is dat ons inderdaad maar vir ons self bevorder en dat die Afrikaner saak in die huidige agterwee sal bly tot ons die laaste sent verloor het-(het iemand nie lank gelede al gesê die geskiedenis bewys dat die Afrikaner eers als moet verloor voor hy probeer om weer saam te staan?)en selfs dan sukkel dit maar.

In Afrika is dit ook maar so-Zim is steeds op dieselfde pad en ek wonder of dit sal omkeer die dag wanneer Mugabe nie meer in stoel is?Kyk maar na die geskiedenis van Zim oor vyf jaar inkrimente en dit lyk of ons ‘n bloudruk van Zim is.

Is ons ”Mugabe” nog in die pyplyn?

johan ·

Doe skrywer oorskat soos al die westerse liberales Nelson se mag en deelname heeltemal, hy was inderdaad net n ikoon niks meer nie.

Rupert Ashford ·

Baie waar. Nelson is ironies genoeg deur die “exciles ” met Mbeki aan die voorpunt na een termyn verplig om plek te maak vir “die manne wat weet”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.