Net die regte bril vir Suid-Afrika

bril-brille-strand-reen-reendruppels

Foto: Snapwire/Pexels.com

In Amerika maak hulle nou brille wat 80% van die voorheen kleurblindes kleur laat sien. Baie sien vir die eerste keer dat gras nie die kleur van modder is nie en kan onderskei tussen blou en pers.

Dit laat mens dadelik dink aan die enorme Suid-Afrikaanse mark wat vir die Amerikaners oopgaan. Dink net as hulle brille kan maak wat ‘n kleiner kontras tussen wit en swart wys. Wat mense kan laat sien hoe demokrasie regtig werk. Wat dit duidelik maak hoe korrupsie in al sy gedaantes in aksie lyk. Wat die eerlike en hardwerkende mense sal laat sien hoe die korruptes met die Rolexes en die Mercs werklik lyk.

Die brille sal natuurlik ook in verskillende groottes en sterktes kom. Zuma en Malema s’n sal byvoorbeeld groot moet wees, met baie dik glase.

Dit lyk of pres. Ramaphosa een van die brille op sig gekry het, want hy sien wat verkeerd is in die land en probeer hard om dit reg te stel. Dis nie maklik nie, want sy party is erg verdeel en in die topdrie staan hy alleen. En ons sit nou met ‘n nuwe openbare beskermer teen wie ons beskerm moet word.

Dis moeilik om te verstaan hoe 90% van alles wat deur die vorige bewind tot stand gebring is, vernietig word. O, daar is baie planne en daar word aan baie wette gewerk. Dié wat reeds aanvaar is, word nie uitgevoer nie, en niemand weet waar die geld vir die grandiose planne gevind gaan word nie. Planne vir mediese fondse het nou aangesluit by die voorgestelde gratis tersiêre onderwys (van ‘n lae graad) en grondonteiening (sonder titelaktes) wat nou gestalte moet kry.

Wat het geword van die 93% ontvangers van grond wat geldelike vergoeding verkies en ontvang het? Hoe lank het die geld gehou? Plak hulle nou maar weer soos voorheen? Hoeveel van hulle het hul munisipale skuld gedelg?

‘n Mens word deesdae maklik beskuldig dat jy met ‘n donker bril na die land en sy toekoms kyk. Maar daar is meer as genoeg rede, soos die wanbestuur van Eskom, wat nou weer met kragvoorsiening sukkel. Eskom het gegroei van 80 senior bestuurders ‘n paar jaar gelede tot tussen 400 en 500. Salarisse het in dieselfde tempo die hoogte ingeskiet as wat die kragkrisis toegeneem het. Munisipaliteite – net 13% het skoon oudits – skuld hom R14 miljard, wat seker nie sy skuld is nie.

Oor die naweek het ‘n bom oor VBS Mutual Bank afgegaan, wat R1,5 miljard se munisipale fondse “verloor” het.

Daar gaan haas geen dag verby nie of ‘n nuwe skandaal word ontbloot. Die ou regering het die ANC gelaat met ‘n infrastruktuur van funksionerende hospitale, munisipaliteite, paaie, water en sanitasie. Natuurlik was daar ook tekortkominge, maar wat is oor van al die positiewes? Dis vernietig deur kaders wat nie die kwalifikasies of ondervinding (en eerlikheid?) het nie, maar lojaal aan die party is. Nie aan die land nie: Aan die party. En veral aan hulself deurdat die staatskoffers vir eie gewin gestroop is.

Die regstellers

Gelukkig is daar ook mense aan die swart kant van die spektrum wat met jou saamstem en dinge – teen sterk teenstand vanuit eie geledere – probeer regstel.

Boaan hierdie lys is pres. Ramaphosa en Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings.

Die SAUK kry ‘n nuwe uitvoerende groephoof en ‘n nuwe finansiële bestuurder. Prof. Job Mokgoro (70) word die nuwe premier van Noordwes en sê die partytjie daar is verby. Die SAL probeer sy verliese beperk. Talle ondersoeke word geloods en mense word aangekla, sywaarts gepromoveer of met yslike salarisse en pensioene afgedank terwyl hul hofsake maar net aanhou sloer. Word die geld ooit verhaal? Hoeveel word werklik gestraf?

Hoe smag ons na berigte soos “Hoofbestuurder tronk toe oor korrupsie? Of “Amptenare betaal gesteelde miljarde terug”? Op die oomblik lyk dit of net die prokureurs baat vind.

As magtelose belastingbetaler droom ‘n mens van ‘n politikus – verkieslik vanuit die ANC – wat die meerderheid toelig en konfronteer met wat aan die gebeur is. Die ekonomiese feite. Foto’s van vooruitstrewende plase wat onteien is en in murasies verander het. Voor-en-nou-foto’s van skole, dorpe, stede, hospitale en dies meer wat die agteruitgang toon.

Wat sal hulle antwoord? Dat dit apartheid se skuld is? Of dat dit maar is hoe Afrika is?  Of dat jy net nog ‘n blinde, brillose rassis is?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ww ·

Dit is ‘n korrekte opsomming oor hoe dit gaan in ons land, net jammer dat ons so los staan van mekaar selfs by die stembus

Eish ·

Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.
MATTHÉÜS 15:14 AFR53
Brille gaan nie help nie, hul is blind!

Sam ·

Met doofheid en blindheid geslaan, sodat hul kyk en kyk en nie sien nie, luister maar nie hoor nie … weens ‘n gebrek aan kennis gaan ons mense ten gronde.

Martie ·

Dis nou ñ opinie wat myne perfek verteenwoordig. Gelukkig sterf Hoop nie maklik nie, en alles werk tog uiteindelik ten goede uit. Weet net nie wanneer ‘uiteindelik’ gaan wees nie!

Jerry ·

Jou waarheid is nie sy waarheid nie. Jou pyn is sy vreugde. Jou vreugde is sy pyn. Jou skool, hospitaal, winkel en kerk wat brand en jou grond, eiendom en besittings wat gevat word is sy oorwinning. Verkoop dus alles en bele jou geld in jou kinders se toekoms in die buiteland, want dan kan niks gevat word nie en dan is dit jou oorwinning.

Leon ·

Dit is nie ons wat kleure teen mekaar opweeg nie, dit is die regering met hulle rasdiskriminerende wette en uitlatings wat dit aanblaas.

Koos ·

Ons wil nie meer gedwing word om te meng nie, minderhede se kultuur moet gerespekteer word. Om almal in n smeltpot te gooi en minderhede te dwing om die meerderheid se kultuur aan te neem is gister se dinge. Ons aanvaar dit nie meer nie.

JSG ·

Stem volkome saam. Wens kulture wil mekaar aanvaar en ophou dominerend oor die ander te wees. Die een se kultuur het niks met n ander se kultuur uit te waai, al keur jy dit nie goed. Indien jy nie sekere dinge in n ander kultuur hou, moet dan eenvoudig nie betrokke raak. Indien die mensdom dit in sy klapperdop kan kry, sal ons wêreldvrede hê.

Lerato ·

Baie insig gewende berig Org Potgieter. Praat soos ons wil, maar daar is n historiese stroom wat ons nie kan keer nie. Al blameer ons wie ookal

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.