Netanyahu wen die verkiesing in Israel

Benjamin Netanyahu, die Israeliese eerste minister. (Foto: Abir Sultan, AP)

Uit die pas afgelope parlementsverkiesing in Israel het die langtermyn-eerste minister Benjamin Netanyahu as die oorwinnaar uitgetree. Sy regsgesinde Likoed-party het 35 setels verower (uit 120 setels), maar saam met verskeie kleiner godsdienstige en nasionalistiese partye, wat reeds in die vorige regering sy vennote was, sal hy ʼn meerderheid kan vorm. Dit sal dan sy vyfde termyn wees en sal van hom die langs regerende eerste minister van Israel maak – langer selfs as die legendariese stigter van Israel, David Ben-Gurion. Netanyahu is ʼn gesoute politikus en om in ʼn erg verdeelde land met ʼn magdom partye en belangegroepe (om nie eers van die Joods/Arabiese verdeling te praat nie) te bly regeer, is geen geringe prestasie nie.

Sy grootste teenstander was generaal Benny Gantz, voormalige stafhoof van die weermag. Gantz het ʼn nuwe sentristiese party (Wit-blou, verwysende na Israel se kleure) gestig, maar sy beleid, soos ʼn sterk fokus op veiligheid, verskil weinig van Netanyahu s’n. Anders as Netanyahu, teen wie daar bewerings van korrupsie is, het Gantz ʼn skoon rekord. Hy het goed gevaar en uit die stand 35 setels gekry, maar hy het nie genoeg alliansievennote om ʼn sentrum-linkse koalisie te vorm nie.

Naas die twee groot partye was daar oudergewoonte weer ʼn magdom kleiner partye wat spesifieke groepe verteenwoordig, soos die skakerings van ortodokse Jode, sekulêre nasionaliste en verteenwoordigers van die Arabiese minderheid. Veral die verteenwoordigers van die streng godsdienstige Jode het veld gewen in die verkiesing en sal sorg dat Israel al hoe verder wegbeweeg van sy sekulêre stigtingsgrondslag heen na ʼn godsdienstige en nasionalistiese land.

Die eens magtige sosialistiese Arbeidersparty, waaruit die stigtersgenerasie gekom het en wat vir die grootste deel van die land se geskiedenis die regerende party was, se agteruitgang het ook met hierdie verkiesing voortgegaan. Hulle is nie eens meer die amptelike opposisie nie en het geval tot op die vlak van ʼn splinterparty. Ook die party wat die Arabiese minderheid verteenwoordig, het swakker gevaar.

Netanyahu se oorwinning word wel oorskadu deur ʼn dreigende aanklag van korrupsie. Hy het na bewering allerhande luukse geskenke van buitelandse sakelui ontvang in ruil vir invloed, en ook ʼn mediagroep onreëlmatig bevoordeel in ruil vir positiewe nuusdekking. Hy ontken dit ten sterkste. Dit is denkbaar dat hy voortydig uit sy amp verwyder word, maar die bewerings kan ook verkeerd bewys word. Dit wil voorkom asof verskeie diplomatieke suksesse en sy sterk standpunt teen Arabiese en Iraniese aggressie vir die kiesers, sterker getel het as die beweerde korrupsie. Netanyahu is ʼn bondgenoot van Donald Trump, die Amerikaanse president. Trump se erkenning van Jerusalem as hoofstad van Israel, en die erkenning van die anneksasie van die Golanhoogtes (wat eens deel van Sirië was) was ʼn groot hupstoot vir Netanyahu en gee aan sy land se inwoners die gevoel dat onder sy regering Israel in veilige hande is.

Die hoop dat daar vrede tussen Israel en die Palestyne en ander Arabiese buurstate gaan kom, het met die verkiesing verder vervaag. Dit is egter te begrype dat die kiesers ontnugter is, as ʼn mens kyk na die prestasierekord van sulke vredespogings. Die tweestaatoplossing (ʼn Palestyne langs ʼn Joodse staat) klink goed op papier, maar is nie haalbaar nie, solank die Palestyne nie Israel se bestaansreg erken nie. Nog elke toegewing aan die Palestyne, territoriaal of andersins, is deur hulle gebruik as ʼn vastrapplek om Israel verder te bedreig. Veral vanaf die Gazastrook word Israel gereeld met vuurpyle beskiet en sy grense deur opgesweepte hordes bestorm.

ʼn Meer belowende benadering, wat die geslepe diplomaat Netanyahu toepas, is om ʼn informele, geheime alliansie met pro-Westerse Arabiese lande soos Egipte, Saoedi-Arabië en ander Golfstate, wat self vrees vir Iran en sy bondgenote (soos Sirië, Hisbolla en Hamas) te bou.

Israel is nog steeds geïsoleerd in die streek, maar minder as in die verlede, en die VSA is deesdae, anders as tydens president Obama se bewind, vierkantig aan Israel se sy.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MTSteyn ·

So met ‘n konserwatiewe en nasionalistiese lewenbeskouing aan die toeneem in Israel, word Bybelse professiee vervul en beweeg ons verder in in die laaste dae. Hou dus die wolke dop!

Judge Dredd ·

Die tempel moet eers herbou word – dan kan ons begin praat van die laaste dae.

Charles ·

“Go Bibi!” “Go Bibi!” Hoera!

Nasionalisme is besig om verlore grond terug te neem en pasifistiese paaibeleid sneeuflokkie “libtards” swig by die knieë en dis is ‘n geween, en gekners van tande!

Wanneer is dit ons beurt?

Chrisi ·

… en ons wag in spanning vir die 3e tempel om nou opgerig te word. Ek wonder wat gaan van die Christen Palestyne word?? Golan en Wesbankwas nie deel van die oorspronklike ooreenkoms in 1948 nie.

George in Bloem ·

Dankie tog. Die laaste ding wat Israel nou nodig het is ‘n [email protected] linkse liberale regering.Hulle het ‘n sterk leier nodig so Bibi is die regte leier op die regte tyd.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.