New Hampshire bevestig revolusie in VSA-politiek

Donald-Trump

Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Commons.wikimedia.org

Ons is vandag steeds geneig om politieke revolusie aan die hand van historiese revolusies te identifiseer en beoordeel. Daarvolgens beskou ons ʼn revolusie as ʼn geweldadige opmars teen ʼn regering en die omverwerping van ʼn hele bedeling. Die Arabiese Lente was ʼn onlangse voorbeeld van so ʼn revolusie wat in verskeie Arabiese lande afgespeel het, maar in ʼn moderne wêreld is hierdie vorm van revolusie hoofsaaklik tot die Derde Wêreld beperk.

ʼn Ander vorm van politieke revolusie het die afgelope paar jaar in Westerse lande sy kop begin uitsteek. Populistiese bewegings in Europa het sterk vertonings in verkiesings begin lewer, met die linkse populistiese Syriza-party in Griekeland wat in Januarie 2015 die parlementêre verkiesing kon wen en so op demokratiese wyse hul revolusie kon deurvoer.

Ook in talle ander Europese lande groei die populisties-demokratiese revolusie. Front National in Frankryk, Partij voor de Vrijheid in Nederland (PVV), die Vryheidsparty in Oostenryk en Lega Nord in Italië is enkele regs-populistiese partye wat die afgelope tyd sterk steun geniet.

Ook enkele links-populistiese partye doen tans goed in Europa. Die beste voorbeeld hiervan is Podemos in Spanje wat besig is om sterk veld te wen. Al hierdie populistiese Europese partye beskik oor die vermoë om in die toekoms regerings oor te neem en daardeur hul revolusie teen die bestaande politieke bedelings te voltrek.

Hierdie populistiese opswaai in Europa is natuurlik teweeggebring deur die groot skeiding wat tussen die politieke orde en gewone burgers ontstaan het. Dieselfde tendens van burgerlike ontevredenheid wat nog altyd revolusies regdeur die wêreld gedryf het, is nou in die meeste Westerse lande teenwoodig. Daarom behoort die uitslag van die Amerikaanse voorverkiesing in New Hampshire geen verrassing te wees nie.

Volgens alle erkende politieke spelreëls moes Bernie Sanders en Donald Trump nie Dinsdag in New Hampshire gewen het nie. Maar netso moes Syriza ook nie in Januarie 2015 in Griekeland gewen het nie en is dit volgens hierdie uitgediende reëls onverstaanbaar hoe Geert Wilders se PVV tans gemaklik in alle peilings in Nederland voorloop.

Wat die voorverkiesing in New Hampshire betref, het alle peilings voorspel dat Sanders en Trump moes wen. Die meeste mense was dus nie verbaas toe presies dit gebeur het nie. Omdat hierdie twee populiste se oorwinning voorspel is, het die meeste politieke kommentators die impak van hul oorwinnings onderskat. Bernie Sanders, die enigste selferkende sosialis in die Amerikaanse senaat, was nie veronderstel om in New Hampshire, wat ʼn sterk vryemarkingesteldheid het, te wen nie.

New Hampshire is die soort staat waar Hillary Clinton maklik moes wen. Sy het immers in 2008 na Barack Obama se skokoorwinning in Iowa daarin geslaag om terug te kom en maklik in New Hampshire te wen.

Donald Trump was ook glad nie veronderstel om in New Hampshire te wen nie. Trump se teikenmark is armer blanke kiesers wat meestal nie oor ʼn naskoolse kwalifikasie beskik nie. Republikeinse kiesers in New Hampshire is meestal ryker as kiesers in die res van die land en is heelwat meer geskoold as Republikeinie in byvoorbeeld die suide en die weste van die VSA.

Trump se meer proteksionistiese handelsbeleid was ook nie veronderstel om by Republikeine in New Hampshire aanklank te vind nie. Eerder Jeb Bush, Marco Rubio of Chris Christie sou hier moes wen. Tog het Sanders en Trump daarin geslaag om hul onderskeie verkiesings gemaklik te wen. Beide kandidate het meer as 20% meer stemme as hul naaste teenstander gekry.

Wat is dus besig om in die VSA te gebeur? Die antwoord is eenvoudig dat gewone burgers moeg is vir die regerende klas. Die Kongres wat uit die Senaat en Huis van Verteenwoordigers bestaan, is tans een van die ongewildste instellings in die VSA, met minder as 15% van landsburgers wat met hierdie politieke leiers tevrede is.

President Obama, wat die onmoontlike sou vermag toe hy met groot verwagtinge in 2008 as president verkies is, is ook nie juis gewild nie. Enigiemand wat dus uit hierdie gevestigde orde van leierskap kom, of wat sterk bande met die huidige leierskap in beide politieke partye het, word maklik deur die gewone burgers verwerp.

Sanders was tot onlangs nog ʼn onafhanklike senator en het dus byna geen bande binne die Demokratiese Party nie. Trump word deur elke leier binne die Republikeinse Party verwerp. Dit is dus geen wonder dat hierdie twee ekstreme populiste deur die woedende burgers aan die linkse en regse pole van die politieke spektrum aangegryp word nie.

Wat tans in Amerika afspeel en wat Dinsdag pragtig in New Hampshire bewys is, is dat die populisties-demokratiese revolusie wat in Europa in opmars is, nou ook in die VSA teenwoordig is. Moet dus glad nie verbaas wees as Sanders of Trump as hul onderskeie partye se kandidate aangewys word of selfs in November tot president van die magtigste land in wêreld verkies word nie.

Die vraag wat politieke kenners hulself solank kan begin afvra, is wat op die populistiese oorname gaan volg? In Griekeland sukkel Syriza om doeltreffend te regeer en lyk ʼn soort konserwatiewe stabilisering na die populistiese revolusie toenemend moontlik. Populisme is goed om revolusies te laat plaasvind, maar glad nie goed om stabiele regerings te help vestig nie. Net die tyd sal leer tot watter mate revolusie en daarna stabiliteit in Westerse regerings moontlik sal wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Boerekryger ·

Doen gerus bietjie navorsing oor die verband tussen Goldman Sachs en Ted Cruz; asook die agtergrond van die top sewe individue wat geld geskenk het aan Hillary Clinton se veldtog…

Josef du Toit ·

Enige poging om Ted Cruz swart te smeer val te pletter teen die feit dat die hoofstroom Republikeine ‘n kleintjiedood in hom het – dit sou eenvoudig nie die geval gewees het as hy handkneg van die duistere geldmagte was nie, hoe ookal sy vrou se beroep as beleggingsbankier en sy banklening vir ‘n Senaatveldtog (met hul familie-huis as sekuriteit) vir allerhande bogpraatjies as rugsteun misbruik word.

Josef du Toit ·

Die politieke rewolusies wat genoem word blyk simptomaties van ‘n denklose grootpraat-kultuur in die Weste te wees.
Syriza het na haar oorname in Griekeland gevind dat sy geen ander keuse het as om presies dieselfde besparingsbeleid te volg as dit wat die vorige Griekse regering uit die kussings gelig het nie.
In Amerika, is Sanders Senator van New Hampshire se buurstaat Vermont, en was die voorverkiesing daar dus altyd verwag om sy sterkste vertoning te wees. Trouens, tot dusver het hierdie verlinkse ideoloog blykbaar onnoemenswaardige ondersteuning in die Swart en Spaanstalige bevolkingsgroepe wat die volgende aantal voorverkiesings in die Demokratiese Party se nominasie-stryd sal oorheers. Wat Hillary kan kelder is ‘n voortslepende FBI-ondersoek teen haar.
By die Republikeinse Party is dit nie heeltemal onverwags om te sien nie hoe die party se Groot Indoenas geleidelik tot die besef kom dat die inhoudlose Trump van liberale New York se deursigtiggevoelige echo maklik gemanupileer kan word. In skrille kontras teen sy enigste geloofwaardige teenstander, Ted Cruz. ‘n Beginselgedrewe oortuigde gelowige en grondwetomarmende jong Senator uit die veel meer regdenkende staat van Texas. Dat ‘n nie onbeduidende minderheid behoudende Christene eerder agter die bulderstem van die ooglopend immorele Trump aanploeter wys die mate waartoe vele gelowiges opgegee het om ‘n Christelike kandidaat te vind en morele inbors nie meer as faktor beskou nie.

Herman ·

‘n Konservatiewe Amerikaanse komentator, Tucker Carlson het ‘n baie interessante artikel in Politico geskryf oor Donald Trump. Basies se hy die meeste Trump ondersteuners weet hy is redelik, of heeltemal immoreel en baie kras, maar hulle is siek en sat vir die politieke klas wat nie vir hulle luister nie. O.a. se hy dat hulle voel Trump is die engiste ou wat hulle kan beskerm teen ISIS (sy moslem immigrasie tydelikke verbod), onwettige immigrasie wat Amerikaners se ongeskoolde loone afdruk (sy muur wat Mexico glo gaan betaal voor) en “job offshoring” deur tariewe in te stel. In sy artikel se hy ook dat Trump het baie steun van wedergelowiges in Amerika, wat weet hy is nie een van hulle nie (i.t.v. geloof), maar hulle voel dat hulle het ‘n wedergelowige (George Bush) ‘n kans gegee en hy het dit opgeneuk.

Die 2 verkiesings so ver is maar ‘n baie klein gedeelte van die totale Amerikaanse kiesers, maar die “anti-establishment” kanidate – Trump, Cruz & Ben Carlson, saam vat die meerderheid stemme. Ek dink op die einde gaan die Republikeine se keuse neerkom tussen Trump, Cruz en of Rubio of Bush.

Ek twyvel of Hillery president gaan word, sy lieg erger as ‘n tandetrekker en die meeste Amerikaners weet dit.

Hendrik ·

Trump is die VSA se Julius Malema. Ek eet my hoed op as hy die republikeinse kandidaat word. Sanders sal ook nie deurgaan vir die demokrate nie. Met sy sosialitiese uitkyk het hy nie n kat se kans om teen enige republikein te wen nie, en Amerikaners weet dit.

Trolle ·

Hendrik daai liegbek Clinton gaan inkom dis al lankal beplan.Haar gesig gaan ook op die dollar noot ook kom,sy moet oorlog maak vir die USA.

John ·

Die VSA se buitelandse beleid is krities vir wereldvrede. Hulle glo hulle beheer die aardbol sedert die 2e Wereldoorlog agv die land se ‘magtige’ aksies met atoombomme en wil daarom die enigste land wees wat sulke bomme mag gebruik. Die wereld is vandag chaoties en godsdiens speel ‘n groter rol as ooit in wrywings tussen nasies. ‘n President in die VSA wat die heeltyd wonder wie of waar mense op hul plek gesit moet word, is die verkeerde persoon, so ook iemand wat oorloe wil gebruik as verskansing vir die eie gewin van VSA- maatskappye. Niks het in hierdie opsig verander sedert Europese moonthede eeue gelede met seilskepe die see ingevaar het op soek na minerale en skaars bronne nie. Die VSA se ‘1984’-handboek is ‘n groot probleem. Dis ongelooflik hoe hulle bly hunker na slegte verhoudinge met die Oosblok en om Rusland steeds, soos in James Bond-films, as die skurk voor te hou en sodoende Westerse volke bang en onderdanig.

Piete ·

Jaco,
Verduidelik asseblief die term populistiese. Beteken dit burgerlike?

Jaco Kleynhans ·

Wat ek met populisties bedoel, is die vermoë van meestal ‘n charismatiese individu om sterk steun teen die bestaande politieke orde te monster deur eenvoudige uitsprake en idees wat sterk teen die huidige stroom op is. Hierdie persoon en sy/haar idees moet wesenlik steun monster om as populisties beskou te word. Verder steun hierdie persone gewoonlik buite regering en is hul idees baie kripties en sonder definitiewe planne. Populistiese bewegings kan ook die oorgang na hoofstroom maak – Syriza in Griekeland is ‘n voorbeeld daarvan.

merk ·

Is sulke nuwe burger-na partye in USA en Europa automaties populisties? Of kan dit wees dat hulle as populisties gebrandmerk word om hulle bedreiging vir die ou burger-vreemde politieke orde so klein as moontlik te hou?
´n Mens kan net hoop dat die ´Populistiese’ revolusies die mag van die finansiële sektor en industrie kan breek want die parlamente regeer al lankal nie meer nie. Maar wie het dít nog nie geweet nie?

Clinton is vir my die een wat populisties is. Haar menings swank soos die wind waai.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.