NGV-beleid gegrond op bedrieglike studie

Deur Martin van Staden

(Foto: pixabay)

Impakstudies is belangrike kenmerke van weldeurdagte openbare beleid. Sonder sulke studies mag regeringsbeleid grillig en gegrond in fantasie wees, sonder dat die publiek dit so waardeer.

Maar impakstudies kan sélf gebruik word om te mislei, veral wanneer dit intellektueel oneerlik en eensydig is. Dit is presies waarop die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering en sy onderliggende beleid gegrond is: ʼn Swak saamgestelde impakstudie besmet met eensydigheid, vol ongesubstansieerde bewerings, en opvallende weglatings.

Met so ʼn nalatige fondasie blyk dit duidelik dat die Nasionale Gesondheidsversekering-skema nie redelik en getuienis-gebaseerd is nie, en moet dus tersyde gestel word.

Beide die Grondwet, in verskeie voorsienings, en die departement van beplanning, erken dat nuwe openbare beleid in redelike argumente en getuienis gegrond moet wees. Openbare beleid mag dus nie arbitrêr wees, of aangeneem word om temporêre populistiese eise te bevredig nie. Hierdie redelike argumente en getuienis moet gemanifesteer word deur middel van onpartydige en intellektueel eerlike impakstudies, wat bekend staan in Suid-Afrika as ʼn sosio-ekonomiese impakassessering (SEIA).

Die vlagskip SEIA waarop die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gegrond is, was in 2017 gedoen op die NGV se Witskrif. Die departement van gesondheid, ondanks die feit dat dit vereis word, het nie ʼn SEIA op sy onlangse NVG-wetsontwerp bekendgemaak nie. Die witskrif-SEIA is in baie opsigte gebrekkig en het min verlossende eienskappe.

Die eerste, en waarskynlik die mees relevante fout – wat al die ander probleme deurdring en dalk veroorsaak – is dat die SEIA eensydig is. Dit is uitgevoer deur die kantoor van die direkteur-generaal van gesondheid, wat deel is van die departement van gesondheid, wat die NGV voorstel. Hierdie partydigheid het tot bevooroordeelheid gelei, wat van die impakstudie ʼn advertensie vir die NGV gemaak het, pleks van ʼn behoorlike evaluering. Dié fout is alhoewel nie die skuld van die departement van gesondheid nie, aangesien dit in ooreenstemming is met die (kortsigtige) beplanningsdepartement-beleid dat die regeringsdepartement wat ʼn openbare beleid voorstel, beide die aanvanklike en finale SEIA moet uitvoer.

Die ander twee belangrikste gebreke in die SEIA – wanbalans en intellektuele oneerlikheid – is nietemin die gevolge van die SEIA se partydigheid. Die SEIA is duidelik ongebalanseerd aangesien dit die voorleggings van diegene wat tereg teen die NGV beswaar gemaak het, effektief geïgnoreer het.

Waar nasionale en provinsiale tesourieë kommer uitgespreek het oor die koste van die NGV en die implikasies daarvan vir die grondwetlik-gewaarborgde outonomie van provinsiale regerings, stel die SEIA die besware tersyde sonder veel verduideliking. Waar die privaat sektor en burgerlike samelewing beswaar gemaak het – en meer bekostigbare en rasionele alternatiewe aanbeveel het – is dit op ʼn soortgelyke wyse verwerp, omdat hulle nie die gesondheidsdepartement se ideologiese oortuigings (soos sentralisasie) as vertrekpunte gebruik het nie. Die SEIA moes die besware in ag geneem het, en in detail verduidelik het hoekom hulle verwerp was, maar het nie.

Nêrens is die SEIA se intellektuele oneerlikheid meer sigbaar as waar die bekostigbaarheid van die NGV “beoordeel” word nie. Die regering het self nog nie duidelikheid geskep oor hoeveel die NGV die belastingbetaler gaan kos nie. Die voormalige minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, het eenmaal, toe hy die vraag probeer vermy het, gesê dat ons nie moet boekhou ten koste van gesondheidsdienslewering nie. Die SEIA moes die departement van gesondheid tugtig vir sy versuim om die NGV te kosteer, maar het eerder tot sy verdediging gekom, en beweer dat die publiek nie op kostes moet fokus nie, maar op implementasie. Met ander woorde, ons moet konsentreer op die regering se edele intensies in stede van die werklike, rampspoedige implikasies wat sal volg op die NGV.

Laastens, ʼn dodelike gebrek wat die integriteit van die SEIA verdoem, is dat geen alternatiewe – buiten staatsgedrewe nasionale gesondheidsversekering – oorweeg word nie. Elke SEIA-bestepraktykriglyn beklemtoon die noodsaaklikheid om na alternatiewe te kyk. Dit stel die publiek in staat om die voor- en nadele van elke potensiële publieke beleid langs mekaar te oorweeg.

Dié gebreke is slegs ʼn voorsmakie van die ramp wat hierdie impakstudie is. Dit is nie te vergesog om te sê dat die SEIA, ten beste, neerkom op ʼn nalatige wanvoorstelling van die ware impak van die NGV en, in die ergste geval, op ʼn bedrieglike misleiding van die Suid-Afrikaanse publiek nie.

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Artikel 27(1)(a) van die Grondwet waarborg aan elkeen die reg op toegang tot gesondheidsorg. Volgens presedent van die konstitusionele hof, wat in die Grootboom-saak gestel is, is hierdie reg nie bloot ʼn sogenaamde “positiewe” of welvaartsreg waardeur die regering die betrokke diens moet lewer nie. Dit is óók ʼn “negatiewe” of vryheidsreg, wat beteken dat die regering nie toegang tot gesondheid (of in Grootboom se saak, behuising) mag belemmer nie. Tog is dit presies wat die NGV doen.

Die departement van gesondheid erken, met die SEIA se goedkeuring, dat die NGV die private gesondheidsektor sal “saamsmelt”  met die ineengestorte publieke gesondheidstelsel, onder die “stewardship” van die minister van gesondheid.

Talle Suid-Afrikaners sal hul mediese skema-voordele verloor en op regeringswaglyste gedwing word. Die NGV-wetsontwerp vereis selfs dat almal by die NGV-fonds moet registreer en hul registrasiedokumente moet saamneem as hulle dokter toe gaan – inderdaad ʼn ware “gesondheidspas”.

Ons verwelkom die NGV dus tot ons eie ondergang.

Demokrasie het nog nooit beteken dat ʼn regering wat regtens verkies is, ʼn mandaat het om te doen nes hy wil nie. Die verkryging en behoud van ʼn mandaat van die publiek is ʼn voortdurende en moeilike proses. Soos dit tans staan, het, en kan die regering, nie ʼn mandaat hê om voort te gaan met die NGV nie, gegewe die wankelrige grondslag waarop die pro-NGV narratief gebou is.

Suid-Afrikaners moet daarop aandring dat ʼn behoorlike, onafhanklike studie gedoen moet word op die NGV, met inagneming van ons swak ekonomiese omstandighede, die krimpende aantal belastingbetalers, en ʼn hopelose korrupte en ondoeltreffende regering. So ʼn studie sal aandui of ʼn fantasie soos die NGV werkbaar en bekostigbaar in Suid-Afrika is.

Die volle verslag, opgestel vir AfriForum, oor die tekortkominge van die Nasionale Gesondheidsversekering se sosio-ekonomiese impakstudie is hier beskikbaar.

  • Martin van Staden is ʼn regs- en openbare beleid-ontleder. Hy studeer tans aan ʼn LLM-graad aan die Universiteit van Pretoria en is die outeur van The Constitution and the Rule of Law: An Introduction (2019).

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elsa ·

Ek kan nie sien hoe kan 18 000 000m mense betaal vir 58 000 000m mense so 40 000 000m wat nie bydra nie, moet ons dan betaal vir al die werkloses en mense wat sosial grands kry en buitelanders wat dit nie kan bekostig nie. Dit kan nie werk nie

Johan Venter ·

Mens betaal ook gewone belasting, vir dienste wat die regering verskaf, ook vir diegene wat dit gratis kry. Uit jou belasitng word bv universiteitstudente finansier. 15 miloen mense ontvang regeringstoelaes. Mens betaal vir munisipale dienste, ook vir daardie in die omgewing en vir dienste aan townships wat aan die groter munisipaliteit toegesê is, ens ens ens. Aan die einde van die dag het jy 10X bygedra om die ANC se sorg te finansier.

Feite ·

Bedrieglike sosialistiese impak studies soos met die NGV is rewolusioner strategies en word dit deur die regerende party en die se bondgenote geag n rewolusionere sukses te wees indien dit sou slaag. Dit wat ons in westerse terme ag as n “failed state” is dus in wese n suksesvolle sosialistiese/welsynstaat. Dit wat ons sien as ANC mislukkings word deur die ANC gesien as rewolusionere suksesse, omrede die ANC deur mislukkings (rewolusionere suksesse) weerstand/teenstand laat verkrummel en wat hulle sterk op koers hou na gelykmaking van alle Suid Afrikaners, uitgesluit n bevoordeelde ANC elite met die mag wat alles beheer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.