NGV: Is minister van gesondheid self die vlieg in die salf?

Deur Natasha Venter

Natasha Venter, AfriForum se NGV-woordvoerder. (Foto: Reint Dykema)

Die onlangse nuus dat Zweli Mkhize, minister van gesondheid, die dogter van ’n bloedverwant as die gesondheidsdepartement se personeelhoof aangestel het, het weer eens die rooi ligte laat flikker oor die regering se beplande nasionale gesondheidsversekering (NGV) – veral omdat daar reeds ernstige bewerings van korrupsie teen Sibusisiwe Ngubane Zulu was toe sy in die direksie van die Openbare Beleggingskorporasie gedien het.

Hierdie nuus het bekend geword kort ná president Ramaphosa se aankondiging by die ANC se lekgotla dat die party strenger gaan optree wanneer dit kom by die keuringsproses vir comrades wat in regeringsposisies aangestel word.

Duidelik gaan Cyril se mooi beloftes nie die status quo in die ANC verander nie.

Regeringsinstellings en entiteite in staatsbeheer is sprekende voorbeelde van watter skade die aanstel van onbekwame kaders kan aanrig. Die feit dat die minister van gesondheid sy familielid (wat na bewering korrup is) in só ’n hoë pos in sy departement aanstel, en boonop volhou dat hy daardeur niks verkeerds doen nie, is kommerwekkend – veral wanneer mens kyk na die NGV-wetsontwerp en die mag wat dit vir Mkhize sal gee.

Die ANC se beoogde gesondheidsversekering kan potensieel die grootste staatsbeheerde entiteit in die land se geskiedenis wees met miljarde rande van belastingbetalers se geld wat jaarliks daarin gestort sal moet word. Volgens hoofstuk 4 van die Wetsontwerp sal die mag om die raad van hierdie fonds aan te stel, byna uitsluitlik by die minister van gesondheid lê.

Die minister sal ’n raad van tot 11 persone aanstel wat nie in diens van die fonds is nie, en een lid wat die minister verteenwoordig. Die ad hoc-adviespaneel wat sy aanbevelings vir die samestelling van die raad aan die minister moet stuur, word egter óók deur die minister aangewys.

Artikel 10 van die Wetsontwerp bepaal dat die fonds, onder meer, die volgende funksies sal hê:

  • Om hulpbronne saam te voeg om gesondheidsorgdienste, medisyne, ensovoorts aan te skaf;
  • Die aankoop van gesondheidsorgdienste namens lede van die fonds (dus elke burger van die land);
  • Die aangaan van kontrakte met geakkrediteerde gesondheidsorgverskaffers;
  • Die monitering van die registrasie-, lisensie- of akkreditasiestatus van gesondheidsorgverskaffers;
  • Die vasstel van jaarlikse tariewe vir, onder meer, gesondheidsorgverskaffers; en
  • Die prioritisering van die tydige terugbetaling van gesondheidsorgdienste om billikheid te bereik.

Dit kom dus daarop neer dat die minister en sy raad die sal mag hê om medisyne en gesondheidsorgdienste aan te skaf teen ’n prys wat hulle self bepaal – van entiteite of persone oor wie hulle self die mag het om kontrakte aan te gaan en as gesondheidsdiensverskaffers te akkrediteer. Dít terwyl die raad kan besluit watter verskaffers prioriteit geniet en die wetsontwerp nie duidelikheid bied oor die konsep van “gelykheid” nie …

Teenkanting teen die NGV word eenvoudig deur die regering afgemaak as komende van mense wat teen gehaltegesondheidsorg vir almal gekant is.

Die werklike rede waarom organisasies en lede van die publiek die NGV teenstaan, is juis omdat die ANC-regering en hul kaders onbekwaam is om gehaltegesondheidsorg aan almal in die land te lewer. Die burgery behoort verder minder afhanklik van die staat te word, nie méér afhanklik nie, en die NGV sal in werklikheid mense se gesondheid en lewens in die hande van die staat plaas.

Die ouditeur-generaal het in sy 2018/’19-oudituitkomste vir die nasionale en provinsiale regerings bevind dat byna R67 miljard in een jaar deur die regering vermors is, waarvan R4,16 miljard vrugteloos en verkwistend was. Volgens die ANC se voorlegging oor die NGV hoef die publiek egter nie bekommerd te wees oor korrupsie en wanbesteding nie, want die NGV-fonds sal:

  1. jaarliks aan die parlement rapporteer;
  2. bedrieglike aktiwiteite hokslaan deur die daarstelling van ’n risiko-enjin; en
  3. aan toesig deur die teenkorrupsieforum vir die gesondheidsektor onderworpe wees.

Hierdie karige “voorsorgmaatreëls” is allermins gerusstellend. Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) moet byvoorbeeld ook jaarliks verslae aan die parlement stuur en dit het niks gehelp om grootskaalse korrupsie en kaderontplooiing in hierdie staatsentiteit te verhoed nie.

Dit is dus ondenkbaar dat een persoon, prakties gesproke, die mag sal hê oor die gesondheid van ’n hele land se mense. Sê nou net daar word in die toekoms weer ’n minister van gesondheid aangestel wat beweer dat knoffel en beet beter geneesmiddels vir vigs is as antiretrovirale middels?

  • Natasha Venter is ’n veldtogbeampte by AfriForum en die organisasie se woordvoerder oor die NGV.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kiewiet

Ek is nie eers verbaas oor die nuus nie. Dit se niks goeds vie Cyril se leierskap nie. Hemel meneer, Jy is die President van die land, nie die ANC nie, Raak ontslae van die Corona Virus in jou parlement, en BASTA!

SomeOne

cyril sal aanstel die wie hom getrou ondersteun en verkondig, nie “mense” met kundigheid nie, al is daar sake van korrupsie by die een wat hy aanstel