Nie alle teorieë is goed vir jou

Deur Johan Nortjé

Foto: (AP Photo/Ng Han Guan)

Ek het onlangs met ’n vriendin gepraat wat na Europa verhuis het. Ons praat oor haar aanpassing en ervarings ver van bekende oewers en teen die agtergrond van hedendaagse gebeure. Na die hele “hierdie plek is fantasties” – en “jy moet kom kuier as jy ooit die kans kry”-geselsery, vis sy half nuuskierig uit oor ’n vriend van my se siening oor die verspreiding van die koronavirus (wetende dat dié vriend in verskeie samesweringsteorieë glo). Ek vryf my hande deur my hare. Ek het drie keuses: veg, vlug of vermy. Dit is nie die eerste keer dat ons oor sulke onderwerpe swaarde kruis nie, maar ons het lanklaas gesels en ek wil die vrede bewaar. Die derde opsie seëvier.

Ons ken teen dié tyd almal die storie. Polsende stede is nou spookdorpe, sommige ondernemings se deure sal dalk permanent moet toe bly, wêreldwyd is gesondheidsorgstelsels op etlike plekke byna uitgeput en Europa, die geboorteplek van die Westerse beskawing, sal die letsel tot in lengte van dae dra. Ons is moeg gelees aan die storie en soek nou die finale hoofstuk, maar nie alle vertellings is op die waarheid gegrond nie.

Prominente gebeure wat op ’n internasionale vlak uitspeel en mense op grondvlak persoonlik of indirek raak, het ’n besonderse aantrekkingskrag vir aanhangers van samesweringsteorieë. Die teorieë is aan die een kant ontstellend en aan die ander kant ook fassinerend. Die sosiale sielkundige Sander van der Linden omskryf dit as ’n poging om die oorsake van ’n sosiale gebeurtenis te verduidelik as deel van ’n geheime komplot deur invloedryke persone of ’n magtige organisasie wat onderduimse bedoelings het.

In die lig van die koronavirus het die samesweringsteorieë amper net so vinnig posgevat soos die virus self. Wêreldwye kommunikasienetwerke en elke persoon met ’n selfoonsein en toegang tot sosiale media kan nou hul hand in die klas opsteek, sonder dat die onderwyser eens die vraag gevra het.

Hierdie sameswerings wissel van die eienaardige dié met ’n politieke konneksie, van dié met ras- en etniesgedrewe agendas tot skadelike, misleidende mediese inligting oor onbeproefde medisinale middele wat die virus kan bekamp. Teorieë oor die koronavirus is al in elkeen van hierdie kategorieë aangeteken. Dink maar aan die teorie dat die verspreiding van die virus op ’n manier gekoppel is aan die oorgang van 4G-netwerke na die volgende geslag 5G-netwerke, of die oortuiging dat die virus óf deur die Amerikaanse staat óf Chinese owerhede as deel van ’n biologiese oorlogvoeringsprogram ontwerp is. Op ’n etniese vlak is Moslems in Indië daarvan beskuldig dat hulle die virus by byeenkomste versprei, en volgens antisemitiese propaganda deur ’n Iranse media-instelling beweer dat lede van die Joodse gemeenskap die virus ontwikkel het as ’n wapen teen Iran.

Hoewel gevestigde nuusorganisasies nie soseer samesweringsteorieë versprei nie, lok hulle wel lesers met boeiende en soms misleidende opskrifte. Een van die opskrifte in die Britse koerant The Mail on Sunday vra byvoorbeeld “Did coronavirus leak from a research lab in Wuhan?” Dit is iets om oor na te dink, gegewe die feit dat een studie al die aanname gemaak het dat misleidende opskrifte mense se vermoë om die kernfeite van ’n artikel te herroep,

Dit is dus nuttig om die negatiewe effek van samesweringsteorieë oor die koronavirus op die gesondheid van die samelewing te verstaan. Persone wat in hierdie teorieë glo en dit versprei, wissel van die naïewe tot die kwaadwillige. Hulle het dikwels kenmerkende sielkundige eienskappe. Luidens die artikel “Why People Believe in Conspiracy Theories” het aanhangers van samesweringsteorieë ’n behoefte om te behoort en sien hulle hulself as eksentriek. En die vermoede dat hulle hulself as spesiaal ag weens hul toegang tot sogenaamde vertroulike inligting, is nie bo verdenking nie. Hulle gebruik teorieë om sin te maak van omstandighede aangesien hulle ’n behoefte het om in beheer te voel. Met ander woorde, mense wat in samesweringsteorieë glo, beskou die wêreld as ’n gevaarlike plek en voel uitgelewer aan onpersoonlike magte buite hulle beheer. Natuurlik het nie almal wat in samesweringsteorieë glo, kwaadwillige bedoelings teenoor mense nie. Maar dit raak wel kommerwekkend as persone jou laat twyfel oor jou eie narratief van gebeure.

Quassim Cassam, ’n professor in filosofie aan die Universiteit van Warwick, reken mense se vermoë om inligting te herroep is gewortel in hul selfvertroue om die inligting te herwin én selfvertroue dat hul weergawe akkuraat is. Hy voer ook aan dat persone wat samesweringsteorieë aanvuur, ander se selfvertroue aftakel deur hulle van hul eie kennis te ontneem en twyfel te saai oor wat hulle geleer het. Die neurowetenskaplike Sam Harris gaan een stap verder deur blatant te verwys na die denkwyse van aanhangers as die “pornografie van twyfel” aangesien mense wat hierdie alternatiewe oorsake vir ’n gebeurtenis voorhou, nooit ’n verenigde siening kan bereik oor wat plaasgevind het nie.

Gevolglik het die verspreiding van samesweringsteorieë ook ’n afbrekende rol op samehorigheid. ’n Studie deur die Britse Centre for Research and Evidence on Security Threats (CREST) het onder meer ontdek dat blootstelling aan samesweringsteorieë ’n blywende effek op mense se houdings teenoor ander gemeenskappe het. In die geval van politieke samesweringsteorieë kan dit lei tot ’n onwilligheid om deel te neem aan politieke prosesse, soos om te stem. Selfs méér onrusbarend is ’n studie in Pole wat bevind het dat samesweringsteorieë – wat seëvier nadat ’n gemeenskap gesamentlike trauma ondergaan het – sosiale samehorigheid ondermyn.

Die pandemie het mense se wêreldbeskouing geskend en ons probeer ’n narratief bou wat vir ons sin maak en kalmte sowel as duidelikheid oplewer. In alle eerlikheid, die meeste regerings en sekere organisasies het tot dusver onbevredigend opgetree deur gebrekkige kommunikasie en onvolledige inligting sporadies vry te stel – half dubbelhartig, aangesien hulle oor die algemeen verslaaf is aan persoonlike inligting van die publiek as aansoekvorms voltooi moet word. Maar samesweringsteorieë floreer in hierdie soort inligtingvakuum en dit is op ’n manier verstaanbaar, omdat mense bang is vir onsekerheid.

Ek verstaan my een vriend se punt, maar keur dit nie goed nie – aangesien die waarheid vir jou ’n gevoel van bevryding sal gee en nie die sade van twyfel plant nie. Ongeag of dit goeie of slegte nuus is.

  • Johan Nortjé is ’n navorser by die AfriForum Navorsingsinstituut.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Strandloper ·

Mmmmm klink meer soos n eensydige opinie…dalk net dalk biekie meer navors…

Marthinus W ·

Jare gelede kon mense met mekaar verskil, en verskeie gedagtes en idees opper en deurtrap. Vandag, as jy verskil van iemand, is dit `n samesweringsteorie. Die woord “samesweringsteorie” is nou beskrywend met: “ek wil nie hoor dat jy van my verskil nie; bly stil en glo alles wat ek sê”.

OW ·

Samesweringsteorieë is so oud soos die wêreld self.’n Onlangse voorbeeld wat ook al eintlik oud is,was die moord van president John F Kennedy van die VSA.Daar was meer as een samesweringsteorie,wie verantwoordelik was vir sy moord en wie agter die beplanning van sy moord was.Samesweringsteorieë sal met ons bly tot die wêreld vergaan.

Autobahn ·

Die studie uit Pole dat samesweringsteorieë sosiale samehorigheid kan ondermyn is pseudowetenskaplik. Net so wel kan beweer word dat sosiale samehorigheid ondermyn word deur mense wat kop in die sand steek.
Die gesegde dat dit moeiliker is om iemand van die waarheid te oortuig as van ´n leun, is vir my meer oortuigend.
In die tweede laaste paragraaf word die skrywer eindelik effens warmder oor moontlike oorsake vir sogenaamde samesweringsteorieë.
Samesweringsteorieë is sekerlik nie ´n groter probleem van ons tyd nie. Buiten dié wat van die heersende klas kom, soos in ´n land soos Duitsland waar die regering die bevolking wantrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.