Nie die beste rugbynaweek nie…

Baie beslis nie die beste rugbynaweek vir die Suid Afrikaanse spanne nie. Net twee van die vyf kon as oorwinnaars van die veld afstap.

Die Bulls het hulself te blameer vir die nederlaag teen die Highlanders. Tydens die ruspouse moes daar iets in die Bulle se drankies gekom het, want van die span wat die eerste helfte met gemak oorheers het, was daar weinig sprake van in die tweede helfte. Die Bulls wat bykans perfekte rugby gespeel het in die eerste helfte, het nou die een fout na die ander begin maak en die dringendheid op verdediging was afwesig. Voeg daarby nog twee faktore nl. die swakker skopwerk van Morné Steyn en die soms twyfelagtige interpretasie van die reëls deur die Aussie-blaser Ian Smith en die verloor is amper selfverduidelikend. Voeg daarby ook die feit dat Dean Greyling vir 10 minute in die koelkas was en jy het die resep om nie jou bestande ligapunte te verhoog nie.

Byna het die Bulls weer soos verlede week daarin geslaag om die oorwinning in die doodsnikke te behaal. Dean Greyling het na ʼn verwoede dryfslag deur die Bulle die bal oor die doellyn te verloor wat beslis die oorwinning aan die Bulle sou besorg het. Dit is egter nog nie neusie verby vir die voormalige kampioene nie.

Soos vantevore gesê is die Sharks besig om hulself weer in die prentjie in te speel. Om op die Vrystaat-stadion ʼn volle vyf punte teen die Cheetahs in te palm wil gedoen wees. Nou moet ek egter byvoeg dat die Cheetahs hul eie grootste vyand was. Swak spelerbeslissings en die swak uitoefening van opsies was kenmerkend van die Cheetahs se spel. Dit neem egter niks weg van die Sharks se goeie dryfspel en die vermoeë om doele aan te teken nie.

Die Stormers het weereens met rotsvaste verdediging die wedstryd gewen teen die Warathas, en twee drieë in die proses gedruk: een deur die heelagter en toe deur die haker, maar in die vleuelposisie. Die weersomstandighede het ook ʼn rol gespeel in die feit dat dit geen skouspel was nie, maar slegs doodgewone harde uitmergelende Super 15-rugby.

ʼn Paar interessante wedstryde lê nog voor veral dié waarin die Stormers met wegwedstryde teen die Bulle op Loftus en die Sharks in Durban moet gaan kragte meet. Die uitslae van die wedstryde sal ʼn groot rol speel om die top 6 te bepaal en dit kan groot geld beteken as jy ʼn tuis halfeindstryd kan aanbied.

Die aankondiging dat eksperimentele reëls en meer magte aan die TV skeidsregter toegeken gaan word, is verwelkom deur die kenners. Die groter magte aan die TV skeidsregter sal reeds tydens die komende Curriebekerseisoen ter plaatse in werking gestel word.

Die Lions was die week in aksie en het verbasend genoeg met slegs 14 punte teen die snel verbeterende Reds verloor.

Die drama oor die Kings se deelname aan die Super 15 sal die week (as ons die rugbybase kan glo) op die spits gedryf word. Dit sal interessant wees om te sien watter besluit hulle sal neem oor die spanne aangesien die Kings belowe is dat hulle volgende jaar aan die reeks sal kan deelneem. Een van die alternatiewe wat voorgestel is, is dat die huidige vyf spanne weer moet aansoek doen om in die Super 15 te speel. As die Kings saam met die huidige vyf aansoek doen, is die probleem nog nie opgelos nie. Dit wil vir my al meer lyk of die Lions en die Kings sal moet saamsmelt want logika sê vir my die laaste span in die Suid-Afrikaanse opset moet sy status verloor. Dit sal egter weer ʼn rits ander probleme veroorsaak.

Wat sal die rugbygrootbase doen as een van die top drie spanne nie aansoek doen nie maar wel aansoek doen om in die Heineken Cup te gaan deelneem, waar – ek dink – die inkomste dubbeld die huidige sal wees?

Ek wonder maar net.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.