Nié die einde van ANC-vuilspel

shaka-sisulu-twitter

Shaka Sisulu het sy betrokkenheid by die ANC se sogenaamde oorlogskamer ontken. Foto: Twitter.

Deur Peet Bothma

Die jongste onthullings oor die ANC se beplande verkiesingstruuks tydens die 2016 plaaslikebestuursverkiesing behoort ʼn mens eintlik glad nie te verras nie.

Komende van ʼn regeringsparty wie se betrokkenheid by die Gupta-koerant, The New Age, die Inligtingskandaal van 1978 soos ʼn piekniek laat lyk het, is die beweringe oor ʼn vuilspel-projek wat tydens die verkiesing teen die DA en EFF beplan is, te wagte.

Dit is tipies van die ANC om sodra hulle aan die korste ent trek te begin modder gooi – én dit na die tyd te ontken.

Van die projekte wat aan die lig gekom het, is vals verkiesingsplakkate vir die EFF, ʼn reuse-sosialemediaveldtog teen die DA en die gebruik van streekskoerante om halwe waarhede of sogenaamde fop-nuus te versprei.

Daar is ook ʼn nuwe ANC-beheerde nuus-tuisblad bekend as “The New South African” gestig om joernaliste te mislei en ʼn televisieprogram met die onskuldige naam “The Right to Vote with Pearl Thusi”, is vir plaaslike televisiekanale opgeneem.

Die advertensiemaatskappy Ogilvy & Mather in Bryanston is gekontrakteer om dié projek, waarvoor R50 miljoen begroot is, te help bestuur.

Net so tipies aan die ANC is dat dit nou aan die lig gekom het dat daar feitlik niks gekom het van al die planne wat agter toe deure in donker kamers gesmee is nie. Voorts het die party se propaganda-kryger, Shaka Sisulu, wat glo aan die hoof van die sogenaamde oorlogskamer, later bekend as die “Media Advisory Team”, gestaan het, heftig ontken dat hy ooit by so ʼn projek betrokke was.

Die ANC se woordvoerder, Zizi Kodwa, was ewe verontwaardig oor die beweringe. Kodwa het gesê die ANC was nog altyd, sedert 1994, verbind tot skoon verkiesingsveldtogte. Hy swyg egter nou, ná die jongste onthullings, soos die graf.

Soos met talle vorige ANC-planne het die party nagelaat om diegene wat hulle gekontrakteer het te betaal, want al het die projek uit die staanspoor misluk, is daar steeds koste aangegaan. En dit was ʼn groot fout, want só kom die hele sak patats toe op die lappe. ʼn Vooraanstaande bemarkingskundige en lid van die oorlogskamer, Sihle Bolani, het vandeesweek die ANC vir sowat R2,2 miljoen gedagvaar.

Oor die naweek het die binnekring van die geheime projek verder uitgebrei toe dit uit Bolani se hofdokumente aan die lig gekom het dat die ANC se hoofbestuurder, Ignatius Jacobs, teenwoordig was op vergaderings sedert die projek van stapel gestuur is.

Die onthullings bevraagteken die ANC se respek vir demokratiese prosesse in die land en moet nou reeds rooi ligte laat flikker in aanloop tot die algemene verkiesing oor twee jaar. Dit het egter ook ʼn ander boodskap en dit is dat die regerende party in baie groot moeilikheid is en dat hy enigiets sal doen om te oorleef.

En dít is die belangrikste boodskap – die ANC gaan weer en weer probeer om deur politieke vuilspel aan bewind te bly. Die land se kwynende joernaliskorps wat nog ruggraat het sal hierop bedag moet wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CAV ·

Geen verrassing, en natuurlik – wie het daarvoor, of gaan daarvoor betaal op die ou einde

Alida ·

Ag hemel tog kom ons hoop maar Adv Nel sal ‘n stokkie voor enige verdere korrupsie steek. Alle oë is nou op Afriforum.

Mr P ·

Maak nie saak watse advokaat jy aanstel nie. Die anc verander die grondwet en doen net wat hulle wil. Niemand kan dan n vinger le nie.

vermeende ·

Nee dis nie vuilspel nie, dit is die resultaat van die mees liberale grondwet in die wereld en die resultaat van elke Ja stemmer wat soos n dwaas agter de klerk aan gepraat het en ons volk aan gejaag het tot by hierdie politieke galg.

Verbaas ·

Ek stem volmondig saam met “Vermeende” hierbo. Die hoofrolspelers (de Klerk, Meyer en Wessels) in die katastrofale drama wat na 1994 gevolg het, is nou doodstil. Blykbaar het al die “Ja” stemmers van destyds die land verlaat of is intussen oorlede, want nêrens kry ek van hulle wat ek kan vra of hulle nou tevrede is met die chaos wat hulle help skep het?. Engiemand wat destyds in sy goedgelowigheid gedink het dat de Klerk se “wigte en teenwigte” in die Grondwet enige positiewe gevolg in die nuwe bedeling sou hê, kry nou waarvoor hulle gestem het. Dit het nooit by hierdie “onderhandelaars” opgekom dat die teenparty van destyds tot enigiets sou instem nie. Sodra die nuwe bewindhebbers dan in beheeer is, klap hulle eenvoudig hierdie ooreenkoms van die tafel af en stel hulle eie modifikasies aan die ooreengekome grondwet op. Dit is dan ook presies wat gebeur het! Die oorhoofse tragedie is dat mense van alle groepe en wat destyds nog nie eers gebore was nie, nou onder die sothede van die voorvaders ly, wat so na-ief onskuldig die snert wat ‘n politikus kwytgeraak het geglo het. Ek huil oor my land en AL sy mense!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.