Nie links of regs maar gematig of ekstremisties

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Die Russiese inval in Oekraïne is in verskeie opsigte ʼn waterskeiding in die politiek. Dit geld uiteraard veral vir die internasionale politiek, maar dit het ook implikasies vir Suid-Afrika.

Dit gaan hier vandag veral oor die skeidslyn tussen links en regs, ʼn skeidslyn waarmee alle Suid-Afrikaners van my ouderdom (ek is 73) grootgeword het. In my jong jare was jy links as jy teen apartheid was (ʼn afkeurenswaardige houding), en regs as jy ten gunste van apartheid, Afrikanernasionalisme, ensovoorts (positiewe sake) was.

Die begrip liberaal is met links geïdentifiseer, en konserwatief met regs.

In Europa was daar ook ʼn duidelike grens tussen links en regs, al was dit nie heeltemal op dieselfde manier as in Suid-Afrika nie. Jou houding teenoor die ekonomie was die bepalende faktor. As jy ten gunste was van owerheidsinmenging in die ekonomie om die ongelykheid tussen ryk en arm te beperk, was jy links. As jy groter klem op die vrye mark en ʼn laissez faire-houding gelê het, was jy regs.

Interessant genoeg, links is in Europa nie met liberaal geïdentifiseer nie; wel met sosialisties. Die begrip liberaal is juis deur regses toegeëien, mense wat die ekonomie sonder te veel owerheidsbeperkings sy gang wou laat gaan.

In Amerika was sake wéér anders. Net soos in Suid-Afrika is liberaal met links geïdentifiseer en konserwatief met regs. Die ekonomie het feitlik geen rol gespeel nie; ʼn minimum owerheidsinmenging is regoor die politieke spektrum bepleit.

Die verskillende inhoud wat aan die begrippe links en regs, aan liberaal en konserwatief gegee is, het aanleiding gegee tot eindelose misverstande, onder meer in Suid-Afrika. Veral die oorgang in die jare 1990 tot 1994 en die bewindsoorname van die ANC het hierin ʼn rol gespeel.

Voor 1990 is die ANC grotendeels deur die SAKP oorheers, en dié het gevolg waar Moskou gelei het. Ná 1994 het die ANC sy harde kommunistiese benadering taamlik laat vaar, maar ʼn aansienlike deel daarvan het behoue gebly. Dit het veral op ekonomiese terrein tot uiting gekom, maar ook op die gebied van regstellende aksie en die uitwissing van maatskaplike ongelykheid tussen wit en swart.

Die ANC-beleid kan dus met reg as links beskryf word. Maar wat nou veral interessant is, is dat die ANC se grootste teenstander die DA is, ʼn party wat die regstreekse afstammeling van die destydse oer-liberale Progressiewe Federale Party (PFP) is.

Hier sien jy dus al hoe die begrippe links en regs hul ou betekenis begin verloor, of, beter gestel, hoe die betekenis verander word. Die liberale DA is in die huidige Suid-Afrikaanse politieke konteks éíntlik regserig en konserwatief, en die sosialistiese ANC is linkserig.

Jy sien iets soortgelyks ook op internasionale gebied. Wat tans uiteraard baie aktueel is, is dié vraag: Waar op die politieke spektrum moet jy president Wladimir Poetin van Rusland plaas? En sy politieke vriende elders in die wêreld?

Poetin het sy loopbaan begin as luitenant-kolonel in die ou Sowjetunie se geheime polisie, die KGB. Jy kon geen offisier in die KGB word as jy nie die Marxisme-Leninisme minstens met die mond bely het nie – jy móés ʼn kommunis (links-ekstremisties dus) wees.

Maar nadat hy die Russiese leier geword het, het Poetin hom ontpop as ʼn ouderwetse Russiese nasionalis wat Rusland weer groot wou maak, wat sy status as supermoondheid wou herwin, wat die gebiede wat in 1991 van die Sowjetunie weggebreek het, weer onder Russiese gesag wou herstel.

Bowendien het hy geen enkele poging aangewend om die kommunisme weer terug te bring nie. Inteendeel, daar is talle aanduidings dat hy hom persoonlik aan erge korrupsie skuldig maak en dat hy ʼn ouderwets-kapitalistiese klimaat in stand hou om sy miljoenêr-vriende in staat te stel om miljarde in hul bankrekenings in te betaal.

Daarby kom ook nog sy onverdraagsaamheid teenoor alle menings wat van sýne afwyk. Om tans in Rusland na die Oekraïense “oorlog” te verwys, pleks van die voorgeskrewe “spesiale militêre operasie”, kan jou ʼn yslike boete op die hals haal. En as jy Poetin – soos die “liberale” politikus Aleksei Nawalni – aktief teenstaan, verdwyn jy sommer vir jare der jare agter die tralies.

Met ander woorde, Poetin is volgens alle maatstawe eerder regs as links. Trouens, ʼn mens sou ʼn saak daarvoor kon maak dat sy optrede en gedagtes ooreenkomste met die fascisme vertoon.

As ʼn mens ewenwel kyk na wie Poetin se inval in Oekraïne op die internasionale toneel steun en wie nie, word sake régtig interessant.

Uiteraard het die Weste – Amerika, Navo, die Europese Unie en hul bondgenote – die inval skerp veroordeel. Maar daar was een belangrike regering wie se naam ontbreek het: Suid-Afrika, wat deur die (linkse) ANC/ SAKP geregeer word.

Hoe werk dit? ʼn Linkse regering in Suid-Afrika wat nie die ongevraagde aggressie van ʼn regse Russiese regering wil veroordeel nie?

Aan die een kant het dit natuurlik met sentiment te make. Die Kremlin was voor 1990 die ANC/ SAKP se belangrikste internasionale steunpunt, en dus kan die huidige Suid-Afrikaanse regeringsoptrede minstens deels aan dankbaarheid daarvoor gewyt word.

Maar dit illustreer terselfdertyd iets anders. Tradisioneel word die spektrum links-regs as ʼn reguit lyn voorgestel, met ekstreem links baie ver van ekstreem regs verwyder. Inhoudelik, as jy slegs na die ideologie kyk, is dit dalk korrek. Maar as jy die mentaliteit en die praktiese optrede as maatstaf neem, is dit anders.

Dan kan jy die saak eerder as ʼn hoefyster sien, waar die uiterstes taamlik naby aan mekaar is. Dit lyk na ʼn akkurater manier om die verhouding tussen linkse en regse ekstremisme te sien.

Met ander woorde, die égte skeidslyn is nie (meer) tussen links en regs nie, nie (meer) tussen konserwatief en liberaal nie, maar tussen gematig en ekstremisties. Dit beteken dat samewerking tussen gematig-linkse en gematig-regse mense baie moontlik moet wees, soos dit inderdaad daagliks in Europa gebeur.

Maar daarvoor is terselfdertyd ʼn volwasse houding nodig, een wat bereid is tot kompromieë, een wat nie teen elke prys wil polariseer nie, een wat nie noodwendig álle teenstand wil plattrap nie. Dit beteken dat die egte vyande van die demokrasie te vinde is in die linkervleuel van die ANC/SAKP, die regtervleuel van die Amerikaanse Republikeinse Party, ensovoorts.

Die politiek bly fassinerend en interessant.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

johan ·

Ai LS..die tyd het jou ingehaal en jou oordeelsvermoe bevlek. Die grootste bedreiging van demokrasie in die wereld is die ver linkse demokratiese party in die VSA wat hom agter die globaliste skaar. Vir hulle gaan dit om ‘n een wereld regering te skep waar GEEN demokrasie hoegenaamd sal wees nie. Die groep Republikeine in Amerika wat jy ver regs noem, is eerder die enigste hoop vir demokrasie om staande te bly.

Nettie ·

Dit is die probleem. Meeste mense beskou almal wat meer regs of konserwatief van hulself is, as “ver-regs”, en dus ekstreem.

Albert Kruger ·

…. en die ekstreem regse ou dink weer dat diegene wat net gematig regs is, is eintlik ‘n bietjie links. Dit bly maar ‘n subjektiewe speletjie en elke mens glo mos van maar homself dat hy net mooi reg is waar hy is en dat dinge daar reg is.

Treurwilger ·

Die regtervleuel van die Amerikaanse Republikeinse Party word “egte vyande van die demokrasie” genoem?

Dis nou die mense wat o.a. ‘stemgeregtigdes met gesigte en adresse’ en ‘n land met beveiligde landsgrense wil hê.

Ek probeer, maar verstaan selde dr. Scholtz se uitgangspunt.

Andrew ·

Europa as kultuur, buite sy groot metropole, is eensoortig en kan dus makliker saamleef. Dat die oostelike gedeeltes van europa anders is is dan ook so en dan kom daar heelwat meer verskille in hoe verder oos jy beweeg.
In Amerika word extreme konservatiewe klomp nou verkies in teenvoeter teen die “gematigde linkses en regses” wat volgens die linkse ekstremes se poppe dans (wat hopelik na Twitter “takeove”r bietjie gestop gaan word)
In SA bestaan daar nie n middelweg nie en is ons hoofstroom poletiek ras gebaseerd. Net die klomp klassieke liberale wat glo dat gematig regs en gematig links enige plasing oor het op SA politiek.

Andrew ·

Op die ou end is die resep diedelfde as wat in Afrika toegepas was, en die resultaat gaan dieselfde wees. Bou maar oor as als bebreek en gevreet is maar bou n muur om dit die keer, en hou die klassike liberaal daar uit. Hy kan met die res gaan saam die toring van babel herbou in hullle kniegbuig paradys.

Nettie ·

Nou hoekom sou hierdie “samewerking” tussen “gematigde” posisies nodig en moontlik wees in die politieke wereld, maar toe ons dit tydens die pandemie vra, is ons deur die ekstrimiste (o.a. ook hierdie skrywer) plat geloop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.