Niekie van den Berg se staatsredetoespraak

Hierdie toespraak, in die staatsrededebat, is volledig in Afrikaans gelewer.

Afrikaans, sal jy my Valentyn wees?

Verhoudings is meestal inherent ingewikkelde konsepte. Jy kan nie van verhoudings ontvlug nie – die hele lewe is deurspek met verhoudings. Vra maar vir enige mens hoe moeilik of maklik dit kan wees.

Verhoudings kan die mens laat blom van geluk of dit kan vernietigend wees as dit misluk. Hoe dit ook al sy – verhoudings verg aandag – dit moet daagliks onderhou word. ’n Goeie verhouding kan ook nie net van een kant af kom nie – beide partye moet elke dag hard werk om die verhouding te laat slaag – mekaar dinge gun wat die ander se menswees laat blom.

Die mens se verhouding met die staat is een van die belangrike verhoudings in sy bestaan.

Die veeltalige multikulturele aard van Suid-Afrika maak eenvoudige ongekompliseerde verhoudings tog moeiliker, maar dit skep ook unieke geleenthede vir versoening.

Mnr die Speaker, die president se toespraak het op belangrike makro-ekonomiese sake gefokus maar Mnr die President u het gefaal om met ons te praat oor sake wat ons harte raak en ons nasie saamsnoer en versoening aanwakker.

Ons is bly die President het ’n versoenende gebaar gerig aan die Khoi-mense en verwys na sekere erfenisgebiede. Ongelukkig net ’n druppel in die emmer. Geagte Speaker, die President moet weet, en ek wil nie die saak onredelik vereenvoudig nie, die gewone mens meet die regering se agting vir hom as mens op grond van die regering se houding teenoor sy taal en kultuur. En die verskillende taal en kultuurgroepe waak jaloers oor die eie en wat die ander kry. Alhoewel ons as individue almal lede is van die wonderlike Suid-Afrikaanse nasie – is ons vanweë natuurlike faktore tog in verskillende taal en kultuurgroepe.

Ons toekoms het genoeg ruimte vir almal

Die groepe is soos die land se kinders – jy kan nie vir die een iets gee en vir die ander nie. Jy kan ook nie iets by die een wegvat en vir die ander gee nie. Die regering kan ook nie iets belowe en dit nie gee nie. Ons moet ook so optree dat dit nie gesonde nasieskap ondergrawe nie. Alhoewel daar groeperinge is, moet ons dit nooit uit die oog verloor dat ons saam ’n toekoms moet bou nie. Die toekoms het genoeg ruimte vir almal. Dit is juis oor die toekomsbeskouing waar apartheid so jammerlik gefaal het – Die DA sien ’n wonderlike gesamentlike toekoms vir almal onder een sambreel. (So ’n mooi bloue)

Die grondwet is ook so geskryf om as versekering te dien dat alle groepe se taal en kultuurerfenis beskerm word. Dit moet ook bevorder en gevier word. Geagte Speaker, die regering moet alles moontlik bydra om Suid-Afrika se kultuurerfenisgebiede te beskerm en te bewaar (en gee tog asseblief die Voortrekkermonument hulle uitstaande subsidiegeld wat in elk geval reeds goedgekeur is). Ons sal beoordeel word oor die wyse waarmee ons met historiese artifakte en die geskiedenis gehandel het.

Dit is nou onverstaanbaar dat die regering onrus en woede saai met die wysigingswetsontwerp oor tale – die “South African Languages Bill”.

In sy huidige vorm is die wysigingswetsontwerp ongrondwetlik en sal die DA alles in sy vermoë doen om elke taal van ons land te beskerm. Taal en kultuur is en bly een van die hoekstene van versoening.

Versoening hou nooit op nie. Ons sal nooit ’n dag in ons land kan hê wat ons sal kan sê versoening is nou bereik nie. Alle verskille is bygelê. Ons moet elke dag onsself afvra: Het ek vandag so opgetree om verdeeldheid en onreg en liefdeloosheid weg te boender. Is ek ’n ware versoener?

Ons moet elkeen elke dag daarna streef om die taal wat ons moeders aan ons gegee het met sorg te praat en dit blink te poets en ’n besondere poging aanwend om onsself meertalig te maak – sodat ons kan deel in die trefkrag en darteling van ons inheemse tale. Gaan lees asseblief een van jou taal se pragtige gedigte en raak van voor af verlief op jou taal. Dit is tog immers Valentynsdag!

Mag jy jou elke dag verkneukel in die prag en praal van jou eie taal.
Soos ons dit hoor in DJ Opperman se “Sproeireën”:

My nooi is in ’n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand … iemand in anys,
daar’s ’n vrou in elke geur!

As ek ’n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.

O my nooi is in ’n nartjie,
My ouma in kaneel,
Daar’s iemand … iemand in anys,
Daar’s ’n vrou in elke geur!

Afrikaans, sal jy my Valentyn wees?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Niekie Van den Berg

Meer oor die skrywer: Niekie Van den Berg

Niekie van den Berg, 'n voormalige radiopersoonlikheid, is tans 'n parlementslid en die DA se skaduminister vir Kuns en Kultuur.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.