Nobelprys hierdie keer nie polities gelaai

Die Wêreldvoedselprogram waarsku dat ‘n gebrek aan geld sy bedrywighede tot stilstand kan dwing. (Foto: WFP)

Vanjaar se Nobelprys vir Vrede is aan die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WVP) toegeken.

Dit het as ’n taamlike verrassing gekom, maar was per slot van sake ’n veilige en redelik onomstrede keuse gewees. In die aanloop tot die toekenning is daar verwag dat die omgewingsaktivis Greta Thunberg of die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), ook ’n onderorganisasie van die VN, die prys sal ontvang.

Die media-aandag is al die afgelope jare baie sterk op klimaatsverandering, met Thunberg as die voorbladgesig, en hierdie jaar is die koronapandemie die hoofonderwerp en daarby speel die WGO ’n prominente rol (ten goede of ten kwade).

Dit was goed dat die Nobelkomitee hulle nie dié keer deur mediagolwe laat meesleur het nie, soos wat al in die verlede gebeur het (die bekendste voorbeeld was die toekenning aan president Barack Obama in die eerste jaar van sy presidentskap). Dit is ook ’n keuse wat nie polities gelaai is nie. Die werk van die WVP is om kos aan mense in oorlog- en rampgeteisterde gebiede te voorsien, en om die ergste nood te verlig en mense van hongerdood te bewaar. Die organisasie poog sekondêr ook om vrede en stabiliteit in die rampgebiede te bewerkstellig. Dit geskied ook in samewerking met verskeie nieregeringsorganisasies wat eweneens op hulpverlening ingestel is.

Ten spyte van die groot, miskien oordrewe fokus op die koronapandemie, bly wêreldwye hongersnood ’n blywende probleem en dit is goed dat die aandag weer daarop gevestig word. Tans heers talle burgeroorloë en krisisse wat nie juis veel aandag trek nie, soos die amper vergete oorloë in Jemen, Suid-Soedan, die Demokratiese Republiek van die Kongo en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. Hongerte as gevolg van oorlog, maar ook weens natuurrampe bly, ’n groot probleem en die WVP help hier, met die fokus eerder op noodhulp as op langtermynhulp, alhoewel daar ook projekte is om boere met voedselverbouing te ondersteun.

’n Punt van kritiek (wat vir enige nood- en ontwikkelingshulp in arm lande geld), is dat die massiewe hulpverlening die plaaslike strukture ontwrig en aanleiding tot misbruik kan gee, soos wanneer gratis voedsel deur groepe in die betrokke lande gevat en verkoop word, of as magsmiddel deur korrupte regerings misbruik word. Geen internasionale organisasie kan egter sonder die betrokke land se regering werk nie, en dit open altyd die deur vir korrupsie en is ’n amper onvermydelike newe-effek van hulpverlening.

Die WVP is ʼn onderorganisasie van die Verenigde Nasies en is in 1961 in Rome, waar ook die Wêreld-landbouorganisasie sy setel het, gestig. Sedertdien het dit geweldig uitgebrei en verleen in 88 lande voedselhulp aan amper 100 miljoen mense. Die organisasie word deur vrywillige bydraes van die regerings van state befonds, met die VSA as die grootste enkele bydraer, gevolg deur Duitsland en ander lande van die Europese Unie. Die VSA speel ook andersins ’n prominente rol in die WVP. Die huidige uitvoerende direkteur, David Beasley, is ’n voormalige goewerneur van Suid-Carolina en alle uitvoerende direkteurs sedert 1992 kom uit die VSA.

Die medalje wat Nobelpryswenners ontvang. Foto: AP Photo/Fernando Vergara, FILE

Die Nobelprys vir Vrede word in die meeste gevalle aan persone toegeken, sowel politieke leiers as minder bekende aktiviste, maar dit is ook al ’n paar kere aan organisasies toegeken, soos die Europese Unie, die Verenigde Nasies en verskeie van sy onderorganisasies, die Internasionale Komitee van die Rooikruis, die Internasionale Veldtog teen Kernwapens, Dokters Sonder Grense, en ander.

Die Nobelprys vir Vrede word as die belangrikste internasionale toekenning beskou en is deel van die reeks Nobelpryse vir prestasies op verskeie gebiede soos fisika, chemie, geneeskunde, ekonomie en literatuur. Die Nobelprys vir Vrede is die “politieke” Nobelprys en trek daarom die wydste aandag en word as hoogtepunt laaste toegeken. Die bekendmaking vind elke jaar, gewoonlik in Oktober, en al sedert 1901 plaas.

Die prys is gestig deur die Sweedse chemikus en nyweraar Alfred Nobel, wat deur die ontdekking van plofstof ’n fortuin gemaak het, maar wat ’n gewetenswroeging gekry het weens die aanwending van plofstof vir oorlogvoering. Daarom wou hy met sy fortuin ná sy afsterwe in 1896 bydra tot ’n beter wêreld.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

‘n Biehlie van ‘n hoop dat politiek en ideologie nie betrokke is nie. Sou die ANC of ‘n ander party kospakkies of ander geskenkies uitdeel dan weet ons dat op stemme of onderdanigheid gereken word, maar hierdie groep is bo verdenking. Ons bly steeds op ‘n plat aarde.

Carolina

Die wenners van ‘n “vrede” prys aan ‘n voedsel instansie wat van ons belasting af kom en deel van die useless en korupte WHO kom is on van siek te word!!! Hoeveel mag het Bill Gates ??? Lag wekkend!

Therese

Interessant, soos altyd, maar die Nobelprys vir Vrede is m.i. hierdie keer júís polities gelaai.

Marthinus

Die Nobelprys het bietjie aansien verloor, weens “verkeerde” keuses, en die media wat onbeskaamd die prys aan vernietigers wou gee. Byvoorbeeld die Wit Helms, wat eintlik IS (Islamitiese Staat) se “public relations’ afdeling is, en hulle voorhou as engeltjies. Toe Wladimir Poetin aan bewind gekom het, het honderde Sowjet kernduikbote in hawens gele en roes; `n ramp erger as 1000 Tjernobils wat wag om te gebeur. Hy het buitelanders ingestuur om dit te help opruim. Daarvoor, en sy bemiddeling met Angela Merkel en Francois Hollande vir die Minsk-ooreenkoms, maak hulle ook geregtig daarop. Maar, hierdie jaar se keuse is dalk… Lees meer »